Die Bybelse beskouing
Op wie se leiding kan jy vertrou?
“DIS tyd om te gaan!” sê die vader vir sy vyfjarige seuntjie. Die vader steek sy hand uit, en sonder huiwering reik die seuntjie uit en vou sy handjie om sy vader se vingers. Waarheen die reis ook al mag wees, die kind vertrou op die leiding van sy ouer en volg hom met vertroue. Wat ook al gebeur, die kind laat nie sy ferm greep los nie.
Sou jy nie ook, in hierdie dae van ekonomiese, politieke en persoonlike onsekerheid waarin ons lewe, ’n leidende hand verwelkom uit ’n bron wat jy volkome kan vertrou nie? Maar ons lewe in ’n tyd waarin gewetenlose mense misbruik maak van dié wat onervare is. Daar bestaan dus gegronde redes om versigtig te wees wie ons vertrou. Jy is miskien in die verlede al diep teleurgestel toe iemand op wie jy staatgemaak het vir leiding jou in die steek gelaat het.
Die Bybel moedig ons nietemin aan om ons vertroue in God te stel. “Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou”, het die profeet Jesaja geskryf (Jesaja 41:13). En die apostel Petrus het hierdie raad gegee: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy is besorg oor julle.”—1 Petrus 5:6, 7.
Jy vra miskien nogtans: ‘Watter rede het ek om my vertroue in God te stel vir leiding?’ Ons vind die volgende grondige redes in die verslag van die eertydse Israeliete.
God se hand rig sy volk
Die reeks gebeure wat op die aand van 14 Nisan 1513 v.G.J. ’n hoogtepunt bereik het, het die despotiese onderdrukker Farao en die Egiptenaars se wil gebreek, sodat hulle God se volk, die Israeliete, uit slawerny vrygelaat het (Exodus 1:11-13; 12:29-32). Op 15 Nisan het die jubelende nasie Israel uitgetrek na die woestyn onderweg na die Beloofde Land. Die direkste roete was ten noorde van Memfis al langs die kus van die Middellandse See, naby die land waar die gevreesde Filistyne gewoon het, tot in die Beloofde Land. Maar God het ’n ander roete in gedagte gehad.—Exodus 13:17, 18; Numeri 33:1-6.
God het ’n sigbare gids vir die eertydse nasie Israel voorsien wat as ’n wolkkolom gedurende die dag en ’n vuurkolom gedurende die nag gesien kon word (Exodus 13:21, 22). Buiten hierdie bonatuurlike verskynsel het Jehovah as sy aardse verteenwoordiger die getroue man Moses gebruik (Exodus 4:28-31). Daar was derhalwe onweerlegbare bewys dat God se hand die Israeliete gelei het.
By hulle tweede kampplek, Etam, “aan die kant van die woestyn”, het Jehovah Moses beveel om terug te draai en laer op te slaan op die oewer van die Rooi See, by Pi-Hagirot (Exodus 13:20). Hierdie skynbaar onverklaarbare handeling het Farao tot die gevolgtrekking laat kom dat die Israeliete ‘verdwaal is in die land’. Dit het Farao met nuwe moed besiel en sy gesindheid laat verander. Vasbeslote om die Israeliete weer tot slawe te maak, het hy nou sy leër bymekaargemaak en hulle agternagesit.—Exodus 14:1-9.
Deur die nasie in ’n ander rigting te neem, na wat klaarblyklik ’n dal was wat na die Rooi See afgelei het, het dit gelyk of Moses die Israeliete in ’n hoek gaan laat beland, vasgekeer tussen die berge aan weerskante van die laer by Pi-Hagirot, die Rooi See en Farao se aankomende leër. Dit het gelyk of die Israeliete ’n maklike teiken geword het om vinnig te onderwerp of uit te wis.
Watter uitwerking het dit op hulle gehad? Sou hulle vertroue in Jehovah se leiding openbaar? Die situasie was op die oog af hopeloos. Party het dus paniekerig geraak. Ander weer het teen Moses begin murmureer. Party was selfs bereid om tou op te gooi en na slawerny in Egipte terug te keer!—Exodus 14:10-12.
Hou vas aan God se hand!
In hierdie situasie moes die Israeliete ’n kinderlike vertroue in die Almagtige geopenbaar het. Wat die volk in die geheel nie geweet het nie, was dat Jehovah ’n grondige rede gehad het vir sy bevel aan Moses om die Rooi See by Pi-Hagirot oor te steek. Deur die Israeliete se reis na die Beloofde Land suid van die land van die Filistyne te laat begin, het Jehovah liefdevolle insig getoon. Ná 215 jaar in Egipte was die Israeliete sonder twyfel onvoorbereid op ’n oorlog teen ’n nasie wat uit wreedaardige krygsmanne bestaan het. Daarom het Jehovah ’n roete gekies wat so ’n konfrontasie sou vermy.a—Exodus 13:17, 18.
Die verlossing van die nasie en die nederlaag van Farao en sy leër by die Rooi See is ’n wonderlike getuienis van God se reddende krag. En hoe dankbaar was die Israeliete tog, wat, al het hulle nie verstaan waarom God hulle op ’n spesifieke manier gelei het nie, nogtans nie God se hand laat los het nie! Hulle het vasgehou en die wonderdadige skeiding van die Rooi See gesien asook die vernietiging van hulle vyande. Hulle vertroue in Jehovah se leiding is beloon.—Exodus 14:19-31.
Laat ons weer kyk na die voorbeeld van ’n kind wat ’n ouer se hand vashou. Hoe reageer ’n kind wanneer hy bang raak? Die kind sal eerder sy ouer se hand stywer vashou as wat hy dit sal laat los of sy greep sal verslap. Deur dit te doen, openbaar hy onwrikbare vertroue dat die ouer gewisse leiding en krag gedurende moeilike tye sal voorsien.
Wanneer ons angs in ons lewe ondervind, moet ons eweneens ons greep versterk en selfs meer op God se leiding vertrou! Sy Woord, die Bybel, kan ’n lig word om ons te lei (Psalm 119:105). Onthou ook dat vertroue met geduld gepaardgaan. Daarom moet ons Jehovah tyd gee om sake op te los, selfs al verstaan ons miskien ’n ruk lank nie heeltemal waarom hy ons op ’n sekere weg lei nie. Ja, ons kán op God se leiding vertrou.—Exodus 15:2, 6; Deuteronomium 13:4; Jesaja 41:13.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 638-9, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting oor Pi-Hagirot.