Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/8 bl. 11-13
  • Die herstelproses

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die herstelproses
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Herstel
  • Geen eensame harte nie
  • Gesinne het ondersteuning nodig
  • Herken die simptome en reageer daarop
    Ontwaak!—1996
  • Wen die stryd teen depressie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jy kan vreugde vind in ’n wêreld vol depressie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/8 bl. 11-13

Die herstelproses

NADAT iemand ’n hartaanval gehad het, is dit normaal dat hy bevrees en besorgd sal voel. Sal ek nog ’n aanval kry? Sal ek gestrem wees of deur pyn en ’n verlies aan krag en lewenslus beperk word?

John, wat in ons tweede artikel genoem is, het gehoop dat die daaglikse ongemak en borspyn mettertyd sal afneem. Maar ná ’n paar maande het hy gesê: “Tot dusver het dit nie. As gevolg hiervan, en tesame met die feit dat ek gou moeg word en dat my hart soms onreëlmatig klop, vra ek my voortdurend af: ‘Staan ek op die punt om nog ’n aanval te kry?’”

Jane, van die Verenigde State, wat ’n jong weduwee was toe sy ’n hartaanval gehad het, het erken: “Ek het gedink dat ek nie sal bly leef nie of dat ek nog ’n aanval sal kry en sal sterf. Ek het paniekerig geraak, aangesien ek drie kinders gehad het om voor te sorg.”

Hirosji, van Japan, het vertel: “Ek was geskok om te hoor dat my hart nie meer soos voorheen kan funksioneer nie; my hart se pompvermoë het met 50 persent afgeneem. Ek was byna seker dat ek van my bedrywighede as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies sou moes inkort, want ek kon nie die helfte doen van wat ek voorheen gedoen het nie.”

Wanneer ’n mens se krag beperk is, kan dit neerslagtigheid en ’n gevoel van nutteloosheid tot gevolg hê. Marie, ’n 83-jarige Australiese vrou wat haar voltyds aan die predikingswerk van Jehovah se Getuies gewy het, het gesê: “My onvermoë om so bedrywig soos voorheen te wees, het my ongelukkig gemaak. In plaas van ander te help, het ek nou hulp nodig gehad.” Harold, van Suid-Afrika, het gesê: “Ek kon drie maande lank nie werk nie. Die meeste wat ek toe kon doen, was om net in die tuin rond te stap. Dit was frustrerend!”

’n Omleidingsoperasie was nodig nadat Thomas, van Australië, sy tweede hartaanval gehad het. Hy het gesê: “Ek kan pyn nie verduur nie, en om ’n groot operasie te ondergaan, was byna te veel om aan te dink.” Jorge, van Brasilië, het gesê wat hom ná sy hartoperasie bekommer het: “Aangesien ek finansieel gesukkel het, was ek bang dat ek my vrou alleen en sonder bystand sou agterlaat. Ek het gedink dat ek nie veel langer sou leef nie.”

Herstel

Wat het talle gehelp om te herstel en hulle emosionele ewewig te herwin? Jane het gesê: “Wanneer ek paniekerig gevoel het, het ek Jehovah altyd in gebed genader en my sorge op hom gewerp en dit daar gelaat” (Psalm 55:23). Gebed help ’n mens om die krag en die gemoedsrus te verkry wat noodsaaklik is wanneer jy voor bekommernisse te staan kom.—Filippense 4:6, 7.

John en Hirosji het aan rehabilitasieprogramme deelgeneem. ’n Goeie dieet en oefening het hulle harte versterk sodat hulle albei hulle werk hervat het. En hulle het hulle verstandelike en emosionele herstel aan die ondersteunende krag van God se gees toegeskryf.

Danksy die onderskraging van sy Christenbroers het Thomas die moed bymekaargeskraap om sy operasie te ondergaan. Hy het gesê: “Voor die operasie het ’n opsiener my kom besoek en saam met my gebid. In ’n vurige gebed het hy Jehovah gevra om my te versterk. Daardie aand het ek op sy gebed gekonsentreer en baie geseënd gevoel om ouer manne soos hy te hê wie se empatie gedurende emosionele tye op sigself ’n deel van die genesingsproses is.”

Anna, van Italië, het neerslagtigheid soos volg verwerk: “Wanneer ek ontmoedig voel, dink ek aan al die seëninge wat ek reeds as een van God se knegte ontvang het en aan die toekomstige seëninge onder God se Koninkryk. Dit help my om my kalmte te herwin.”

Marie is dankbaar vir Jehovah se hulp. Haar gesin staan haar by, en sy sê: “My geestelike broers en susters, wat elkeen sy eie vrag het om te dra, het tyd ingeruim om my te besoek, my te bel of om kaartjies te stuur. Hoe kon ek bedroef bly met al hierdie liefde wat aan my betoon is?”

Geen eensame harte nie

Daar is al gesê dat die hart wat besig is om te genees nie ’n eensame hart moet wees nie. Die ondersteuning van familie en vriende speel ’n groot, positiewe rol in die herstel van diegene wie se harte letterlik en figuurlik moet genees.

Michael, van Suid-Afrika, het gesê: “Dit is moeilik om vir ander te verduidelik hoe dit voel om moedeloos te wees. Maar wanneer ek by die Koninkryksaal instap, is die besorgdheid wat die broers betoon baie hartverblydend en bemoedigend vir my.” Henry, van Australië, is ook versterk deur die innige liefde en begrip wat sy gemeente betoon het. Hy het gesê: “Ek het daardie tere woorde van aanmoediging werklik nodig gehad.”

Jorge het die diepe besorgdheid waardeer wat ander betoon het deur sy gesin finansieel te help totdat hy kon werk. Olga, van Swede, het insgelyks die praktiese hulp waardeer wat sy en haar gesin van talle geestelike broers en susters ontvang het. Party het haar inkopies gedoen, terwyl ander haar huis skoongemaak het.

Hartpasiënte moet dikwels hulle deelname aan bedrywighede beperk wat baie vir hulle beteken het. Sven, van Swede, het vertel: “Soms kan ek nie aan die bediening deelneem wanneer dit te winderig of koud is nie, aangesien dit ’n vaskulêre spasma veroorsaak. Ek waardeer die begrip wat baie van my mede-Getuies in hierdie opsig aan die dag lê.” En wanneer Sven in die bed moet bly, kan hy na die vergaderinge luister omdat die broers dit weens hulle liefde vir hom op band opneem. “Hulle hou my op hoogte van wat in die gemeente aangaan, en ek voel dan nie uitgesluit nie.”

Marie, wat bedlêend is, meen dat sy geseën is omdat diegene met wie sy die Bybel studeer na haar toe kom. Op hierdie manier kan sy voortgaan om die wonderlike toekoms waarna sy uitsien met ander te bespreek. Thomas is dankbaar vir die besorgdheid wat aan hom betoon word: “Die ouer manne is baie bedagsaam en het vir my minder toewysings gegee.”

Gesinne het ondersteuning nodig

Die herstelproses kan net so moeilik vir gesinslede wees as vir die slagoffer. Hulle is aan baie spanning en vrees onderhewig. Alfred, van Suid-Afrika, het aangaande sy vrou se kommer gesê: “Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het my vrou my baie keer in die nag wakker gemaak om seker te maak dat ek niks makeer nie, en sy het daarop aangedring dat ek elke drie maande dokter toe gaan vir ’n ondersoek.”

Spreuke 12:25 sê dat ‘bekommernis in die hart van ’n mens dit neerdruk’. Carlo, van Italië, sê dat sy liefdevolle en ondersteunende vrou sedert sy hartaanval “aan depressie ly”. Lawrence, van Australië, het gesê: “Een van die dinge waarop ’n mens moet let, is dat daar na jou huweliksmaat omgesien word. Die druk op jou maat kan baie groot wees.” Ons moet dus die behoeftes van almal in die gesin, met inbegrip van die kinders, in gedagte hou. Die situasie kan hulle emosioneel en fisies uitput.

James, wat in ons tweede artikel genoem is, het ná sy vader se hartaanval in sy dop gekruip. Hy het gesê: “Ek het gemeen dat ek nie meer pret kon hê nie omdat ek gedink het dat iets slegs juis dan sou gebeur.” Nadat hy sy vrese met sy vader bespreek het en hom daarop toegelê het om goeie kommunikasie met ander op te bou, het dit sy kommer help verlig. Gedurende daardie tyd het James nog iets gedoen wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het. Hy het gesê: “Ek het meer persoonlike Bybelstudie en voorbereiding vir ons Christelike vergaderinge begin doen.” Drie maande later het hy sy lewe aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. “Sedertdien”, sê hy, “het ek ’n baie intieme verhouding met Jehovah ontwikkel. Ek het werklik baie om hom voor te bedank.”

Ná ’n hartaanval het ’n mens tyd om die lewe te herondersoek. John se perspektief het byvoorbeeld verander. Hy het gesê: “Jy sien die nietigheid van wêreldse strewes en besef hoe belangrik die liefde van familie en vriende is en hoeveel ons vir Jehovah beteken. My verhouding met Jehovah, my gesin en my geestelike broers en susters is nou selfs belangriker as voorheen.” Hy het teruggedink aan die trauma van sy ondervinding en bygevoeg: “Ek kan my nie voorstel hoe ek die mas sou opgekom het sonder ons hoop op ’n tyd wanneer hierdie dinge reggestel sal word nie. Wanneer dinge my onderkry, dink ek aan die toekoms, en dan lyk dit wat nou gebeur minder belangrik.”

Gedurende die herstelproses, waartydens hulle goeie en slegte tye ondervind, is die hoop van hierdie mense wat ’n hartaanval oorleef het stewig geanker in die Koninkryk waarvoor Jesus Christus ons leer bid het (Matteus 6:9, 10). Die Koninkryk van God sal die ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde vir mense moontlik maak. Dan sal hartsiekte en alle ander gebreke vir ewig verwyder wees. Die nuwe wêreld is voor die deur. Ja, die beste van die lewe lê nog voor!—Job 33:25; Jesaja 35:5, 6; Openbaring 21:3-5.

[Prent op bladsy 13]

Die ondersteuning van familie en vriende speel ’n positiewe rol in die herstelproses

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel