Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/22 bl. 4-7
  • Kredietkaarte—Sal hulle jou dien of van jou ’n slaaf maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kredietkaarte—Sal hulle jou dien of van jou ’n slaaf maak?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die soorte kredietkaarte
  • Bankkoste—Hoe hoog?
  • ’n Strik wat van jou ’n slaaf kan maak
  • Moet jy kredietkaarte hê?
  • Plastiekgeld—Moet jý dit gebruik?
    Ontwaak!—1993
  • Moet ek ’n kredietkaart hê?
    Ontwaak!—1999
  • Maak jy goed gebruik van die JW.ORG-kontakkaartjies?
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
  • Kredietkaarte en salaristjeks—Eg of vervalsings?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/22 bl. 4-7

Kredietkaarte—Sal hulle jou dien of van jou ’n slaaf maak?

“WANNEER ek elke maand my kredietkaartstate oopmaak, is dit ’n belaglike katastrofe”, sê ’n Engelse onderwyser in die Verenigde State. “Ek staar met ongeloof na die saldo, asof ’n ander persoonlikheid in my op ’n maniese stormloop deur speelgoedwinkels, kettingwinkels, supermarkte en vulstasies gegaan het.”

Dolores vind dit ook maklik om skuld te maak. Sy sê: “Dit is nie pynlik om kredietkaarte te gebruik nie. Ek sal nie regte geld so uitgee nie. Maar dit is anders om met kredietkaarte inkopies te doen. Jy sien nooit die geld nie. Jy gee net jou kaart, en die kaart kom terug na jou toe.”

Dit is geen wonder dat kredietkaartskuld in die Verenigde State in Junie 1995 altesaam $195,2 miljard (R849,1 miljard) beloop het nie—’n gemiddeld van meer as $1000 (R4350) vir elke kredietkaarthouer! Maar kredietkaartmaatskappye gaan steeds voort om nuwe klante te lok met aanbiedinge soos lae aanvangsrentekoerse en geen jaarlikse koste nie. Hoeveel kredietkaartaansoekvorms het jy in die afgelope maande ontvang? Die gemiddelde Amerikaanse huishouding ontvang elke jaar 24! ’n Tipiese kredietkaarthouer in die Verenigde State het in 1994 tien kredietkaarte gebruik om 25 persent meer kredietaankope te doen as wat hy die vorige jaar gedoen het.

In Japan is daar meer kredietkaarte as telefone; daar is gemiddeld twee kaarte vir elke Japannees ouer as 20. In die res van Asië word meer as 120 miljoen kredietkaarte uitgereik, ongeveer 1 vir elke 12 inwoners. James Cassin, van MasterCard International, sê: “Asië is verreweg die gebied waar kredietkaarttransaksies die vinnigste toeneem.” Die president van Visa International, Edmund P. Jensen, voorspel: “Ons gaan nog lank ’n samelewing wees wat om kredietkaarte draai.”

Die gebruik van kredietkaarte sal ongetwyfeld al hoe dieper in mense se lewens ingewortel raak. Wanneer dit behoorlik gebruik word, kan dit ’n bate wees. Die misbruik daarvan kan egter baie pyn veroorsaak. ’n Basiese kennis van kredietkaarte kan jou help om hierdie finansiële uitvinding tot jou voordeel te gebruik.

Die soorte kredietkaarte

Die kaarte wat die meeste erken en aanvaar word, is bankkaarte soos Visa en MasterCard. Hierdie kaarte word deur finansiële instellings uitgereik en ’n jaarlikse koste word gehef, wat gewoonlik van R65 tot R110 per jaar beloop. Partykeer word hierdie koste opgehef, na gelang van die klant se kredietrekord en sy gebruik van die kaart. Die verskuldigde bedrag kan elke maand ten volle betaal word, gewoonlik sonder dat rente gehef word, of dit kan in maandelikse paaiemente afbetaal word wat hoë renteheffings insluit. Daar word ’n limiet gestel op grond van die aansoeker se kredietrekord. As die klant sy rekening getrou betaal, word die limiet dikwels verhoog.

By bankkaarte is daar ook die voorsiening om kontantvoorskotte te verkry deur outomatiese tellermasjiene te gebruik of deur tjeks te gebruik wat deur die uitreiker voorsien word. Maar dit is ’n duur manier om kontant te bekom. Dit kos ’n mens gewoonlik tussen R2 en R5 vir elke R100 wat geleen word. En rente op hierdie kontantvoorskotte word gehef van die dag wat die geld getrek word.

Benewens banke reik baie winkels en nasionale kettingwinkels kredietkaarte uit wat by hulle eie ondernemings gebruik kan word. Daar is gewoonlik geen jaarlikse koste aan sulke kaarte verbonde nie. As die verskuldigde bedrag egter nie ten volle betaal word nie, kan die rente hoër wees as rente op bankkaarte.

Brandstofmaatskappye reik ook kredietkaarte uit wat geen jaarlikse koste het nie. Hierdie kaarte word gewoonlik net by die maatskappye se eie diensstasies en partykeer by sekere hotelle aanvaar. Soos met die kaarte wat deur winkels uitgereik word, kan die verskuldigde bedrag ten volle betaal word sonder rente of oor ’n tydperk afbetaal word met rente.

Daar is ook reis- en vermaaklikheidskaarte, soos Diners Club en American Express. Hierdie soort kaart het ’n jaarlikse koste maar geen rente word gehef nie, aangesien die volle bedrag betaalbaar is wanneer jy jou maandelikse rekening ontvang. Daar is egter nie ’n groot verskil tussen hierdie kaarte en bankkaarte nie. American Express bied byvoorbeeld ook die Optima-kaart aan, wat rente hef en soortgelyk aan ’n bankkaart is.

’n Ander soort kaart wat op die Amerikaanse mark verskyn, is die slimkaart, wat so genoem word vanweë ’n geheuevlokkie wat daarin is. Dit kan gebruik word om kontant te verkry, aangesien die gebruiker die vlokkie vir ’n bepaalde bedrag geld kan laat programmeer. Die prys van aankope kan hiervan afgetrek word deur ’n handelaar wat by die stelsel ingeskakel is. Teen verlede jaar het die Franse reeds 23 miljoen slimkaarte gebruik en die Japannese 11 miljoen. Daar is voorspel dat die getal van hierdie kaarte regoor die wêreld die hoogte sal inskiet sodat daar teen die jaar 2000 meer as ’n miljard sal wees.

Voordat ’n mens ’n kaart aanskaf, sal dit verstandig wees om na die kredietvoorwaardes te kyk. “Belangrike kredietvoorwaardes wat oorweeg moet word”, volgens ’n brosjure wat deur die Federale Reserwestelsel van die Amerikaanse regering gepubliseer word, is “jaarlikse persentasiekoers (JPK), jaarlikse koste en grasietyd”. Ander faktore wat oorweeg moet word, is onder andere die koste van kontantvoorskotte en die koste wanneer die limiet oorskry word sowel as rente op laat betalings.

Bankkoste—Hoe hoog?

Die bankkoste waaraan mense onderhewig is wanneer hulle nie hulle maandelikse saldo’s ten volle betaal nie, kan baie hoër wees as wat die meeste mense besef. Beskou byvoorbeeld die JPK, wat ’n maatstaf is van die ware koste van krediet. Die verhouding van die jaarlikse rentekoers tot die JPK kan soos volg toegelig word. Gestel jy leen R100 aan ’n vriend, en aan die einde van die jaar betaal hy jou R108 terug. In so ’n geval betaal jou vriend jou 8 persent jaarlikse rente. Maar veronderstel dat hy daardie R100-lening in 12 maandelikse paaiemente van R9 elk terugbetaal. Die totaal aan die einde van die jaar is nog R108, maar jy, die uitlener, kon die geld gebruik namate die betalings elke maand gedoen is. Die JPK op so ’n lening kom op 14,5 persent te staan!

Volgens ’n opname wat verlede jaar deur die Amerikaanse Federale Reserwestelsel gedoen is, begin die JPK’s op bankkredietkaarte by 9,94 persent en styg tot 19,80 persent, en dit is oor die algemeen tussen 17 en 19 persent. Hoewel party instellings wel ’n laer aanvangskoers aanbied, gewoonlik 5,9 persent, kan dit verhoog word sodra die aanvangstydperk verby is. Die koers word ook verhoog as die uitreiker vasstel dat daar ’n verhoogde risiko is. Party uitreikers penaliseer diegene wat laat betaal deur hulle rentekoers te verhoog. Diegene wat die limiet oorskry, word ook gepenaliseer.

In Asiatiese lande kan die jaarlikse persentasiekoers op kaarte baie hoog wees. Party bankkaarte hef byvoorbeeld 24 persent rente in Hongkong, 30 persent in Indië, 36 persent in Indonesië, 45 persent in die Filippyne, 24 persent in Singapoer en 20 persent in Taiwan.

Dit is duidelik dat kredietkaarte maklike maar baie duur krediet voorsien. Om in ’n winkel in te gaan en kredietkaartskuld te maak wat jy net in paaiemente kan afbetaal, is soos om by ’n bank in te stap en geld teen ’n buitensporige rentekoers te leen. Tog is dit presies wat nagenoeg 3 uit 4 kredietkaarthouers in die Verenigde State doen! Hulle dra finansieel ’n onbetaalde saldo waarop hulle hoë rente betaal. In die Verenigde State was die gemiddelde maandelikse saldo verlede jaar op beide Visa en MasterCard $1825 (R7940), en baie mense skuld so ’n bedrag op verskeie kredietkaarte.

’n Strik wat van jou ’n slaaf kan maak

Ruth Susswein, die uitvoerende direkteur van die Bank Cardholders of America, sê dat kaartgebruikers nie besef in watter finansiële moeilikheid hulle kan beland nie. Sy wys daarop dat dit ’n kaartgebruiker wat die minimum bedrag betaal—$36 (R157) per maand—op ’n kredietkaartsaldo van $1825 (R7940) meer as 22 jaar sal neem om die skuld af te betaal.a As gevolg van die bykomende rente wat betaal word, sal die verbruiker in daardie tyd ongeveer $10 000 (R43 500) vir die skuld van $1825 (R7940) betaal! En dit is as hy nooit enigiets anders op daardie kaart gekoop het nie! As jy dus ’n neiging het om te veel te bestee, kan kredietkaarte in jou beursie ’n strik word.

Hoe raak mense verstrik? Robert, wat in die eerste artikel gemeld is, sê: “Ons het dinge gekoop wat ons nie nodig gehad het nie. Ons het by ’n gesondheidsklub aangesluit wat ons nooit gebruik het nie. Ons het ’n woonwa gekoop, en ons het duisende dollars daaraan bestee om dit op te knap sonder om in ag te neem of dit die moeite werd is. Ons het nooit werklik nagedink oor die gevolge van ons skuld nie.”

Reena, wat ook in die vorige artikel gemeld is, verduidelik wat met haar en haar man, Michael, gebeur het: “Ons het net in die skuld beland. Nadat ons getroud is, het ons met ons kredietkaarte alles gekoop wat ons nodig gehad het. Vir gesondheidsversekeringspremies en aankope waarvoor ons nie die kredietkaarte kon gebruik nie, het ons die kontantvoorskotopsie op ons kredietkaarte gebruik. Binne ’n jaar was ons skuld $14 000 [R60 900]. Ons oë het oopgegaan toe ons besef dat die meeste van ons maandelikse kredietkaartbetalings net die rente betaal het.”

Moet jy kredietkaarte hê?

Party antwoord dalk nee nadat hulle die finansiële verknorsing beskou het waarin kredietkaarte miljoene mense laat beland het. Daphne, wat 32 jaar oud is, sê: “My ouers het nooit ’n kredietkaart gehad nie, en hulle wil nie een hê nie.” In werklikheid gebruik net 1 uit 4 Amerikaanse kredietkaarthouers sy kredietkaarte verstandig. Hy kry die voordele sonder om gebuk te gaan onder buitensporige hoë rente. Maria is so ’n persoon. “Ek hou van die gerief”, sê sy. “Ek hoef nie baie kontant saam met my te dra nie. As ek iets op ’n uitverkoping sien wat ek nodig het, kan ek dit koop.”

Maria sê voorts: “Ek maak altyd seker dat ek genoeg geld het om vir die aankope te betaal. Ek het nog nooit die kontantvoorskotopsie gebruik nie. En ek het nog nooit enige bankkoste betaal nie.” Dit is gerieflik om ’n kredietkaart te gebruik wanneer ’n mens ’n gewaarborgde hotelbespreking doen, en in die Verenigde State is ’n kredietkaart ’n noodsaaklikheid wanneer jy ’n motor huur.

Party mense is egter meer impulsief wanneer dit by inkopies kom. Hulle kan koop moontlik ’n meer bewustelike daad maak deur hoofsaaklik kontant te bestee. Michael en Reena wou nie ’n lewenswyse daarvan maak om skuld te hê nie. Hulle het dus besluit om vyf jaar lank geen kaarte te gebruik nie—behalwe in ’n noodgeval.

Elkeen moet self besluit of hy kredietkaarte wil gebruik. As jy dit wel doen, moet jy dit versigtig gebruik. Gebruik dit om die lewe geriefliker te maak. En vermy dit ten alle koste om jou skuld te laat oploop. Om die hoeveelheid wat jy met jou kredietkaart bestee onder beheer te hou, is ’n belangrike stap as jy jou finansies met welslae wil behartig. Lees verder oor wat jy nog kan doen.

[Voetnoot]

a Die minimum paaiement kan $10 (R44) wees of kan ’n bedrag wees wat gelyk is aan ’n klein persentasie van die nuwe saldo, watter een ook al die grootste is.

[Prent op bladsy 7]

Dit is nie pynlik om kredietkaarte te gebruik nie—totdat ’n mens die rekeninge kry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel