Jehovah se Getuies in Rusland
’n Teoloog se beskouing
IN DIE eerste eeu het Joodse gemeenskapsleiers in Rome die volgende oor die Christelike godsdiens gesê: “Wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word.” Wat het daardie leiers gedoen? Dit is prysenswaardig dat hulle na die apostel Paulus, wat toe onder huisarres was, gegaan en gesê het: “Ons dink dat dit gepas is om van jou te hoor wat jy dink” (Handelinge 28:22). Hulle het eerder na ’n ingeligte Christen geluister as na diegene wat hulle teen die Christelike godsdiens uitgespreek het.
Sergei Iwanenko, ’n gerespekteerde Russiese teoloog, het iets soortgelyks gedoen. Hoewel hy baie van die negatiewe berigte geglo het wat in Rusland oor Jehovah se Getuies rondgegaan het, het hy besluit om die takkantoor van die Getuies net buite St. Petersburg vir inligting te kontak. Hy het ’n uitnodiging aanvaar om die fasiliteite te besoek, vrae te vra en die Getuies eerstehands waar te neem.
Toe mnr. Iwanenko in Oktober 1996 daar aangekom het, was die fasiliteite wat die byna 200 lede van die takkantoorpersoneel van Jehovah se Getuies in Rusland huisves amper voltooi. Hy is die daaropvolgende drie dae die geleentheid gebied om die konstruksieterrein te besigtig, maaltye in die eetsaal te nuttig en onderhoude te voer met wie hy ook al wou.
’n Artikel wat mnr. Iwanenko oor die Getuies geskryf het, is in die gewilde Russiese weekblad Moscow News van 16-23 Februarie 1997 gepubliseer. Die artikel, met die titel “Moet ons bang wees vir Jehovah se Getuies?”, het ook in die Engelse uitgawe van die Moscow News van 20-26 Februarie verskyn. Aangesien baie lesers van die Ontwaak! besonder belangstel in die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Rusland, publiseer ons, met vergunning, die grootste deel van hierdie artikel. Mnr. Iwanenko het met die volgende ondervinding begin, wat in vetgedrukte letters verskyn het:
“‘Sektariërs, gee pad uit Rusland!’ het die plakkaat gelui wat omhoog gehou is deur lede van Zhirinowski se LDPR-party wat teen ’n vergadering van Jehovah se Getuies betoog het. ‘Wat is dit omtrent hierdie organisasie waarvan jy nie hou nie?’ het ek vir een van die betogers gevra. Hy het vir my ’n afskrif van die Megapolis-Express gegee met die opskrif ‘Uitbreek van godsdienssifilis in Kamtsjatka’. Om die organisasie se geldkoffers vol te maak, het die koerant gesê, doen Jehovah se Getuies koppelaarswerk en bestuur hulle prostitusiesindikate, wat veneriese siektes onder matrose versprei. ‘Is jy ook een van hulle slagoffers?’ het ek simpatiek gevra: ‘Glo jy hierdie inligting?’ ‘Dit maak nie saak nie’, het hy geantwoord. ‘Die hoofsaak is dat hierdie Amerikaanse sekte Rusland se geestelikheid en kultuur vernietig, en ons moet dit keer.’”
Die artikel wat mnr. Iwanenko geskryf het, het gevolg op die outeursreël: “Deur Sergei Iwanenko, teoloog, kandidaat in die filosofie.”
“Sulke eerlikheid is werklik seldsaam, hoewel baie Russe natuurlik nie juis goedgesind teenoor Jehovah se Getuies is nie. ’n Mens hoef net melding te maak van hierdie organisasie en dit lok ’n reeks kommentare uit oor hoe verskriklik fanaties hulle is, die Amerikaanse oorsprong daarvan, oor die blinde geloof van die gewone lede in die organisasie se leiers en die oortuiging dat die einde van die wêreld op hande is. In baie mense lok Jehovah se Getuies ’n mengsel van vrees en nuuskierigheid uit.
“Wat is hierdie godsdiens, en moet ons dit vrees?
“Om dit vir myself uit te pluis, het ek die dorp Solnetsjnoje in die Koeroertnoje-streek, St. Petersburg, besoek, waar die administratiewe sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland geleë is.
***
“[Dit was] voorheen die ligging van ’n vakansiekamp. Teen 1992 was die [oorspronklike] gebou verskriklik bouvallig en is die kinders deur rondlopers en ’n groot klomp rotte vervang. Dit was blykbaar die vervalle toestand van die omgewing wat dit vir Jehovah se Getuies moontlik gemaak het om die stuk grond van sewe hektaar te kry om vir ’n onbepaalde tydperk te gebruik. Hulle het die ou geboue herstel en ook nuwes begin bou, waaronder ’n vierverdieping- administratiewe gebou, ’n [Koninkryksaal] met 500 sitplekke en ’n eetsaal. Jehovah se Getuies is ook besig om nuwe gras (wat spesiaal uit Finland bestel is) en verskillende soorte seldsame bome te plant. Na verwagting sal die werk teen hierdie somer voltooi wees. Die vernaamste taak van die administratiewe sentrum is om die predikingswerk te organiseer en lektuur by plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies af te lewer. Solnetsjnoje het nie sy eie drukfasiliteite nie, en daarom word die Russiese lektuur in Duitsland gedruk en dan na St. Petersburg gestuur, vanwaar dit na die verskillende streke versprei word. Ongeveer 190 mense werk by die sentrum. Hulle is vrywillige werkers, en hoewel hulle nie ’n salaris ontvang nie, word hulle van al hulle lewensnoodsaaklikhede, soos verblyf, voedsel en klere, voorsien.
“Die werk by die sentrum word onder leiding van ’n komitee van 18 ouer manne gedoen. Vasili Kalin is sedert 1992 die koördineerder van die administratiewe sentrum. Hy is in Iwano-Frankowsk gebore. In 1951, toe hy vier jaar oud was, is hy en sy ouers na Siberië verban (in 1949 en 1951 is ongeveer 5000 gesinne deur die owerheid vervolg omdat hulle Jehovah se Getuies was). Hy is in 1965 gedoop en het in die Irkoetsk-streek gewoon. Hy het as ’n voorman by ’n saagmeule gewerk.
“Afgesien van die vrywilligers van die administratiewe sentrum is daar ook 200 vrywillige konstruksiewerkers van Rusland, Finland, Swede en Noorweë wat in Solnetsjnoje bly: Die meeste van hulle het verlof van hulle gewone werk geneem. Daar is ook baie Getuies van Jehovah van die Oekraïne, Moldowa, Duitsland, die Verenigde State, Finland, Pole en ander lande. (Jehovah se Getuies het geen rassevooroordele nie. Ondanks die feit dat Georgiërs, Abchasiërs, Aserbeidjani’s en Armeniërs saamwoon by die sentrum, was daar in vier jaar nie ’n enkele onderonsie nie.)
“Die meeste van die boumateriaal en -toerusting is deur Skandinawiese lande voorsien, en baie daarvan is ook deur medegelowiges geskenk. Ek is ’n stootskraper gewys wat in 1993 deur een van Jehovah se Getuies uit Swede na Solnetsjnoje gebring is. Hy het die heeltyd daarmee gewerk terwyl hy daar was, en voordat hy huis toe gegaan het, het hy dit vir sy broers in die geloof gegee. Die konstruksiewerkers word in gerieflike losies- en kothuise gehuisves. Hulle dag verloop soos volg: 7:00 vm.—ontbyt en gebede; hulle werk van 8:00 vm. tot 5:00 nm. met ’n uur vir middagete. Op Saterdae werk hulle tot etenstyd en Sondag is ’n rusdag.
“Hulle eet gesond en daar is altyd vrugte op die spyskaart. Die godsdiens onderhou hoegenaamd geen vaste of streng beperkinge ten opsigte van voedsel nie. Ná werk gaan baie na die sauna, waarna hulle ’n bier drink en net ontspan en na musiek luister. Daar is geen dronkaards onder Jehovah se Getuies nie, maar alkohol word ook nie verbied nie. Gelowiges word toegelaat om matige hoeveelhede wyn, konjak, vodka ensovoorts te drink. Jehovah se Getuies rook egter nie.
***
“Drie keer per week is daar Bybelstudieklasse, wat meestal deur jongmense bygewoon word. Maar dit is nie ongewoon om diegene te vind wat 30-40 jaar lank Getuies van Jehovah is nie. Byna al die ouer garde het al tyd in gevangenisse, arbeidskampe en in ballingskap deurgebring. Nadat die tydperk van onderdrukking geëindig het, het baie dokters, regsgeleerdes, ingenieurs, onderwysers, sakemanne en studente Jehovah se Getuies geword.
“Die gemeentes probeer ’n atmosfeer van gelykheid onder hulle lede handhaaf. Saans was selfs die koördineerder van die administratiewe sentrum byvoorbeeld skottelgoed wanneer dit sy beurt is. Jehovah se Getuies spreek mekaar op ’n informele wyse aan en sal ook ‘broer’ of ‘suster’ byvoeg wanneer hulle iemand op hulle naam noem.
“Wanneer een van Jehovah se Getuies Bybelleringe oortree en weier om berou te toon, word hy baie ernstig gestraf—hy word uitgesit. Die persoon kan nog steeds vergaderinge bywoon, maar hy word nie meer deur sy medegelowiges gegroet nie. ’n Minder ernstige maatreël is teregwysing.
***
“Ek het Jehovah se Getuies lank dopgehou om te probeer uitvind wat soveel verskillende mense na hierdie godsdiensorganisasie gebring het. Met al die verskille in hulle persoonlikhede, opvoedingsvlakke en persoonlike voorkeure en afkere, [neem Jehovah se Getuies nie deel aan aanbidding met] godsdienste wat kompromisse met die sondige wêreld aangaan nie. Hulle voel ongemaklik in plekke waar [mense] blindelings in gesag moet glo, waar mistisisme toegelaat word, waar mense in die hiërargie en die gehoorsame massas verdeel word.
“Jehovah se Getuies word onderskei deur hulle standvastige oortuiging om volgens die Bybel te lewe. Hulle probeer alles wat hulle doen met die een of ander Bybelbeginsel verantwoord, of deur tekste uit die Ou of Nuwe Testament aan te haal. Jehovah se Getuies glo dat die Bybel en slegs die Bybel die antwoorde op alle vrae bevat. Vir Jehovah se Getuies is die Bybel die grondwet, die burgerlike wetboek en die hoogste bron van waarheid.
“Om hierdie rede is Jehovah se Getuies wêreldwyd bekend as absoluut wetsgehoorsame mense en veral vir hulle nougesette gesindheid teenoor belastingbetaling. Die belasting-inspeksiekantoor doen gereeld inspeksie en is elke keer verbaas om hoegenaamd geen ongeruimdhede te vind nie. Jehovah se Getuies kan natuurlik, soos baie ander, ’n rede probeer vind om belasting te ontduik, maar die Bybel sê ’n mens moet eerlik wees wat die betaling van belasting betref, en vir Jehovah se Getuies is dit die finale uitspraak.
“Maar hulle onbeweeglike gesindheid teenoor die Bybel is dikwels die bron van ernstige botsings tussen Jehovah se Getuies en die regering. Hulle algeheel apolitiese standpunt is ’n groot geskilpunt, en dit word geopenbaar in hulle weiering om in die leër te dien.
“Jehovah se Getuies vertolk Jesus se woorde letterlik oor hoe sy dissipels en sy koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie, en om hierdie rede weier hulle om deel te neem aan die politiek en oorlog, ongeag waar of om watter rede dit gevoer word. Omdat Jehovah se Getuies geweier het om ‘Heil Hitler’ uit te roep en in Hitler se leër te dien, is derduisende gelowiges na Nazi-konsentrasiekampe gestuur, en duisende het gesterf. Elke Duitse Getuie van Jehovah wat met sy lewe betaal het omdat hy geweier het om aan die aggressie teen die Sowjetunie deel te neem, word deur Russe beskou as iemand wat ’n hoogs morele daad gedoen het. Terselfdertyd is baie Russe egter nie geneig om medelye te hê vir daardie [Russiese] Getuies van Jehovah wat tereggestel is omdat hulle geweier het om die wapen op te neem en aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem nie, of wat veroordeel is omdat hulle geweier het om in vredestyd in die leër te dien nie. Maar in albei gevalle het Jehovah se Getuies in ooreenstemming met hulle godsdiensoortuiging opgetree en nie volgens politieke opvattings nie.
“Onlangs het ’n soortgelyke probleem in Japan ontstaan, waar sommige studente wat Jehovah se Getuies is, geweier het om die verweerkuns te bestudeer en moontlik uit die universiteit gesit sou word. In 1996 het Japan se Hooggeregshof ’n beslissing ten gunste van hierdie studente se regte gelewer en hulle toegelaat om alternatiewe klasse by te woon.
***
“Wat is dit omtrent Jehovah se Getuies wat hedendaagse denkers verstom? In die eerste plek is dit hulle volgehoue verkondiging dat die einde van die wêreld op hande is (hulle doen sendingwerk op straat en van deur tot deur). In die laaste tyd het ouer manne verkondigers aangeraai om nie soveel klem te lê op die ‘einde van die wêreld’ en die betreurenswaardige lot wat sondaars sal tref nie, maar dat hulle eerder aan mense moet verduidelik dat Jehovah hulle die geleentheid bied om ‘vir ewig in die Paradys op aarde’ te lewe.
“’n Ander teer punt is die negatiewe gesindheid van Jehovah se Getuies teenoor interkerklike kontak, en hulle verwerping van ekumenisme. Hulle glo dat die Christenwêreld God en die Bybel verloën het, en dat alle ander gelowe ’n rampspoedige fout is. Jehovah se Getuies vergelyk hierdie godsdienste met die ‘hoer van Babilon’ en sê dat dieselfde lot hulle sal tref. ’n Onlangse nommer van die ‘Ontwaak!’ sê dat die einde vir verskeie godsdienste naby is en dat die enigste godsdiens wat sal oorbly die een is wat deur Jehovah se Getuies verkondig word.
“Terloops, Jehovah se Getuies erken elke mens se reg op gewetensvryheid.
***
“’n Aantal lande het reeds hulle kommer uitgespreek oor die vraag of die leringe van Jehovah se Getuies ’n bedreiging vir die samelewing is of nie. Die Appèlhof van die staat Connecticut, Verenigde State (1979), en die Hooggeregshof van Nieu-Suid-Wallis, Australië (1972), die Provinsiale hof van Brits-Columbië, Kanada (1986), en ander howe het verklaar dat daar geen bewyse is dat Jehovah se Getuies ’n maatskaplike bedreiging is of dat hulle ’n bedreiging vir mense se welsyn of emosionele toestand inhou nie. Die Europese Hof vir Menseregte (1993) het Jehovah se Getuies se reg op godsdiensvryheid verdedig, wat in Griekeland en Oostenryk beperk is. Vandag word Jehovah se Getuies in 25 lande vervolg . . .
“Jehovah se Getuies kan as ’n voorbeeld vir hulle medeburgers beskou word vanweë hulle toegewydheid aan Bybelwaarheid en hulle gewilligheid om op so ’n onselfsugtige wyse op te kom vir hulle oortuigings. Maar die vraag ontstaan: Is ons samelewing bereid om grondwetlike waarborge vir gewetensvryheid aan organisasies te verleen wat hulle Bybelse benadering op so ’n radikale en onversetlike manier in alle aspekte van die lewe toepas?”
In hierdie laaste sin het mnr. Iwanenko ’n belangrike vraag geopper. In die eerste eeu het die apostel Paulus, wat regstreeks deur Christus gekies is om as sy verteenwoordiger te dien, onregverdige “gevangenisboeie” verduur. Paulus het dus aan medegelowiges geskryf oor sy pogings om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’.—Filippense 1:7; Handelinge 9:3-16.
Jehovah se Getuies van vandag nooi almal om hulle bedrywighede noukeurig te ondersoek, soos mnr. Iwanenko gedoen het. Ons is seker dat mense wat dit doen, sal vind dat die negatiewe verslae oor die Getuies vals is, net soos sulke verslae oor vroeë Christene ook vals was. Die Getuies is by uitstek gehoorsaam aan die “nuwe gebod” wat Jesus aan sy dissipels gegee het: ‘Julle moet mekaar liefhê; net soos ek julle liefgehad het.’—Johannes 13:34, 35.
[Venster op bladsy 23]
MN-lêer
(Die volgende inligting uit die lêers van die Moscow News is saam met hierdie artikel deur Sergei Iwanenko gedruk.)
“Die Russiese Getuies van Jehovah is deel van ’n wêreldwye Christenorganisasie wat in 233 lande werksaam is en 5,4 miljoen lede het. Jehovah se Getuies volg die geestelike leiding van die Bestuursliggaam in Brooklyn, New York. Die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies het uit ’n Bybelstudieklas ontstaan wat in 1870 deur Charles Taze Russell in Pittsburgh, Pennsilvanië, gestig is. Die organisasie het in 1887 na Rusland gekom. Een van die eerste Russiese Getuies van Jehovah, Semion Kozlitski, is in 1891 uit Moskou na Siberië verban. In 1956 was daar, ten spyte van die vervolging wat die organisasie verduur het, 17 000 Getuies van Jehovah in die Sowjetunie. Dit was eers in Maart 1991 dat Jehovah se Getuies in Rusland erken is, nadat die wet ‘op godsdiensvryheid’ aangeneem is. Vandag is daar meer as 500 gemeenskappe met ongeveer 70000 bedrywige lede in Rusland. Die organisasie versprei eksemplare van die ‘Wagtoring’ (uitgegee in 125 tale met ’n oplaag van 20 miljoen) en die ‘Ontwaak!’ (in 81 tale met ’n oplaag van 18 miljoen).”
[Prent op bladsy 23]
Deel van die takkantoorkompleks in Rusland
[Prent op bladsy 24]
Die Koninkryksaal waar die takkantoorpersoneel in Rusland vir Bybelstudie vergader
[Prente op bladsy 25]
Getuiegesinne studeer en ontspan saam
[Prente op bladsy 26]
Hulle versprei Bybelkennis