Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/22 bl. 20-24
  • ’n Les uit ’n pot vet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Les uit ’n pot vet
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Joodse afkoms
  • Nazi-besetting
  • Massa-uittog in paniek
  • Die lewe as vlugtelinge
  • Ons gesin se godsdienskeuse
  • Bediening in ’n nuwe land
  • My pa se getroue voorbeeld
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • “Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/22 bl. 20-24

’n Les uit ’n pot vet

Party van my vroegste herinneringe is van die gruwels van oorlog, veral hoe ons teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog—toe ek maar net vier jaar oud was—vir ons lewe gevlug het. Ons gesin van sewe het in Oos-Pruise, wat toe deel van Duitsland was, gewoon.

EK HET die onheilspellende donkerte ingestaar terwyl ek gehoor het hoe ’n eskader Russiese bomwerpers al hoe nader kom. Skielik het verblindende flitse en oorverdowende ontploffings petrolopgaartenks ’n paar honderd meter daarvandaan laat ontvlam. Die trein waarin ons was, het op die spoor geskud, en mense het geskreeu. Die bomwerpers het egter gou weer vertrek, en ons reis kon voortgaan.

By ’n ander geleentheid het ek uit ’n onrustige slaap wakker geword en ’n skreeuende vrou gesien wat probeer het om uit die veetrok te kom waarin ons gery het. My pa het haar gekeer en weer na binne getrek. Die vrou het met haar baba in haar arms naby die deur aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, het sy ontdek dat die baba verkluim het. Mans het toe die lykie in die sneeu uitgegooi, en die moeder, wat deur verdriet oorweldig was, het die deur probeer oopmaak om uit te spring en daar saam met haar kind te sterf.

’n Stofie is in die middel van ons veetrok geplaas om die snerpende koue te bestry. Die karige voorraad hout aan die een kant van die trok is spaarsaam gebruik om aartappels te kook. Sakke vol aartappels het ook as beddens vir ons gedien, aangesien dit ’n bietjie isolasie teen die bevrore vloerplanke van die veetrok gebied het.

Hoekom het ons vir ons lewe gevlug? Hoe het ons gesin maande lank as vlugtelinge oorleef? Laat ek julle vertel.

Joodse afkoms

Ek is op 22 Desember 1940 as die jongste van vyf kinders in Lyck, Oos-Pruise (nou Elk, Pole), gebore. Godsdiensvervolging het my Joodse voorouers gedwing om Duitsland teen die einde van die agtiende eeu te verlaat. Hulle het tydens een van die groot massamigrasies in die geskiedenis na Rusland getrek. Toe, om van die anti-Semitiese vervolging in Rusland tydens 1917 te ontkom, het my Joodse oupa van sy dorpie naby die Wolgarivier na Oos-Pruise getrek.

My oupa het Duitse burgerskap verkry, en Oos-Pruise het na ’n veilige toevlugsoord gelyk. Mense met Joodse voorname het Ariese name aangeneem. My pa, Friedrich Salomon, het dus van toe af as Fritz bekend gestaan. My ma daarenteen was Pruisies. Sy en my pa, wat ’n musikant was, is in 1929 getroud.

Vir my ouers het die lewe vol geluk en hoop gelyk. My ouma, Fredericke, en oumagrootjie, Wilhelmine (van moederskant), het ’n groot plaas besit wat soos ’n tweede tuiste vir my ouers en ons kinders was. Musiek het ’n groot rol in ons gesinslewe gespeel. My ma het die trom in my pa se dansorkes gespeel.

Nazi-besetting

In 1939 het onheilspellende wolke op die politieke horison begin verskyn. Adolf Hitler se sogenaamde definitiewe oplossing vir die Joodse probleem het my ouers begin kwel. Ons kinders was onbewus van ons Joodse afkoms en het eers daarvan te wete gekom met my ma se dood in 1978—nege jaar nadat my pa oorlede is.

My pa het by die Duitse leër aangesluit sodat niemand sou vermoed dat hy Joods is nie. Hy het aanvanklik in die musiekkorps diens verrig. Maar iemand wat blykbaar bewus was van sy agtergrond het gesê dat hy ’n Jood is, en ons hele gesin is dus ondervra en gefotografeer. Die Nazi-deskundiges het probeer vasstel of ons wel Joodse gelaatstrekke het. Ons het seker vir hulle genoeg na Ariërs gelyk en is dus gelukkig nie gearresteer of in die tronk gesit nie.

Toe Duitsland Pole op 1 September 1939 binnegeval het, het vrees in ons eens rustige streek begin heers. My ma wou onmiddellik na ’n veiliger gebied trek, maar ons gesin is met geweld deur Nazi-amptenare verhinder om dit te doen. Toe, terwyl die Russiese leërs gedurende die somer van 1944 na Oos-Pruise opgemars het, het die Duitsers besluit om Lyck en die omliggende gebied te ontruim. Op ’n dag in Julie is ons net ses uur toegelaat om ons huis te verlaat.

Massa-uittog in paniek

My ma was hewig ontsteld. Wat moes ons saamneem? Waarheen sou ons gaan? Hoe moes ons reis? Sou ons ooit weer terugkom? Elke gesin is streng beperk in wat hulle kon saamneem. My ma het wyslik basiese artikels gekies—waaronder ’n groot erdepot vol beesvet met stukke varkspek—net genoeg vir ons om dit met gemak te dra. Ander gesinne het besluit om hulle kosbare materiële besittings te neem.

Russiese troepe het Oos-Pruise op 22 Oktober 1944 binnegegaan. ’n Skrywer het verduidelik: “Dit was glad nie verbasend dat Russiese soldate wat gesien het hoe hulle eie gesinne vermoor word en hulle eie huise en gesaaides afgebrand word, wraak sou wou neem nie.” Die verwoesting het skokgolwe deur Oos-Pruise gestuur, en die mense het paniekbevange gevlug.

Teen daardie tyd was ons vlugtelinge en het verder wes in Oos-Pruise gewoon. Dit het voorgekom asof die Oossee nou die enigste ontsnappingsroete sou bied; die mense het dus na die hawestad Danzig (nou Gdansk, Pole) gevlug. Dáár is vaartuie gekommandeer om met reddingspogings te help. Ons gesin het die trein verpas wat ons sou neem om die Duitse passasierskip, Wilhelm Gustloff, te haal wat op 30 Januarie 1945 vanaf Gdynia, naby Danzig, vertrek het. Ons het later uitgevind dat Russiese torpedo’s die skip laat sink het en dat ongeveer 8000 passasiers in die ysige water omgekom het.

Met geen see-ontsnappingsroete meer nie, het ons in ’n westelike rigting koers gevat. Terwyl my pa met verlof was, het hy by ons aangesluit vir ’n gedeelte van die treinreis, soos in die inleiding beskryf is. Hy moes egter gou weer terugkeer na die militêre diens, en ons het die lang, gevaarlike reis op ons eie voortgesit. My ma het die pot vet goed opgepas en net ’n bietjie op ’n slag uitgedeel. Dit het enige krieseltjie kos wat ons dalk langs die pad versamel het, aangevul en ons tydens die lang, koue winter aan die lewe gehou. Daardie pot vet was op die ou end meer werd as enige goud of silwer!

Ons het uiteindelik in die dorp Stargard aangekom waar Duitse soldate en die Rooikruis ’n sopkombuis naby die stasie opgerig het. Vir ’n kind wat rasend honger was, het daardie sop heerlik gesmaak. Na verloop van tyd het ons Hamburg, Duitsland, bereik—honger en uitgeput, maar dankbaar dat ons nog lewe. Ons moes saam met Russiese en Poolse krygsgevangenes op ’n plaas langs die Elberivier bly. Ons situasie was baie onseker toe die oorlog in Europa op 8 Mei 1945 ten einde geloop het.

Die lewe as vlugtelinge

My pa is deur die Amerikaners gevange geneem en hulle het hom goed behandel, veral toe hulle uitvind dat hy ’n musikant is. Hulle het van sy musikale vaardighede gebruik gemaak tydens hulle Onafhanklikheidsviering. Kort daarna het hy daarin geslaag om te ontsnap en na Hamburg te reis vir ’n blye hereniging met ons. Ons het ons in ’n kleinerige huisie gevestig, en kort daarna het albei my oumas veilig aangekom en hulle by ons aangesluit.

Die plaaslike inwoners, met inbegrip van ons eie Lutherse Kerk, het egter gaandeweg ’n weersin in die baie vlugtelinge begin kry. Die predikant het ons gesin een aand kom besoek. Hy het blykbaar opsetlik aanstoot gegee deur ’n beledigende aanmerking oor ons posisie as vlugtelinge te maak. My pa, ’n man met ’n fors gestalte, was woedend en het die predikant te lyf gegaan. My ma en oumas het my pa teëgehou. Maar toe het hy die geestelike van die grond af gelig, hom deur toe geneem en uitgestoot. Van toe af het hy enige gesprekke oor godsdiens in sy huis verbied.

Kort ná hierdie voorval het my pa by die Duitse spoorweë werk gekry, en ons het na die buitewyke van Hamburg getrek, waar ons in ’n ongebruikte spoorwa gewoon het. Later het my pa vir ons ’n beskeie huisie gebou. Maar die haat teenoor vlugtelinge het voortgeduur, en as ’n jong kind het ek die teiken van baie liggaamlike en emosionele mishandeling deur die plaaslike kinders geword.

Ons gesin se godsdienskeuse

As kind het ek in dieselfde kamer as my twee oumas geslaap. Wanneer my pa nie tuis was nie, het hulle albei, ten spyte van sy opdrag, gereeld met my oor God gepraat, gesange gesing en hulle Bybels gelees. My belangstelling in geestelike dinge is gewek. Toe ek tien was, het ek dus omtrent 11 kilometer heen en weer begin loop om Sondae kerk toe te gaan. Ek moet egter erken dat ek teleurgesteld was toe baie van die vrae wat ek gevra het, nie tot my bevrediging beantwoord is nie.

Toe, in die somer van 1951, het ’n netjies geklede man aan ons deur geklop en ’n eksemplaar van Die Wagtoring vir my ma aangebied. “Die Wagtoring verskaf insig in God se Koninkryk”, het hy gesê. Ek was so opgewonde, want dit was wat ek graag wou hê. My ma het die aanbod beleef van die hand gewys, ongetwyfeld as gevolg van my pa se teenkanting teen godsdiens. Ek het egter só by haar gepleit dat sy toegegee het en ’n eksemplaar vir my gekry het. ’n Ruk later het Ernest Hibbing teruggekeer en die boek “Laat God waaragtig wees” by ons gelaat.

Omtrent dié tyd het my pa ’n ongeluk by die werk gehad en sy been gebreek. Dit het beteken dat hy, tot sy groot ergernis, in die huis ingehok was. Al was sy been in ’n gipsverband, kon hy darem hinkepink oor die weg kom. Dit het ons dronkgeslaan dat hy gedurende die dag altyd verdwyn het en dan net vir maaltye te voorskyn gekom het. Dit het ’n hele week so aangehou. Ek het opgemerk dat my boek verdwyn het wanneer my pa ook al verdwyn het. Toe, tydens een maaltyd, het my pa vir my gesê: “As daardie man weer kom, wil ek met hom praat!”

Toe broer Hibbing terugkeer, het my pa tot ons verbasing die boek hard op die tafel neergesit en gesê: “Hierdie boek is die waarheid!” ’n Bybelstudie is onmiddellik begin, en ander gesinslede het mettertyd by die studie aangesluit. Broer Hibbing het ’n betroubare raadgewer en ’n ware vriend van my geword. Ek is kort voor lank uit die Sondagskool gesit omdat ek ander van my nuutgevonde oortuiging probeer vertel het. Ek het dus uit die Lutherse Kerk bedank.

In Julie 1952 het ek saam met my dierbare vriend die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis begin verkondig. Broer Hibbing het my elke Sondag gemaan om aandagtig te luister hoe hy die boodskap aan die huisbewoners oordra. Ná ’n paar weke het hy na ’n groot blok geboue gewys en gesê: “Dit is nou jou gebied om alleen in te werk.” Ek het gaandeweg my lugtigheid te bowe gekom en kon met welslae met mense praat en Bybellektuur by hulle laat.

Ek het weldra aan die vereistes voldoen om my toewyding aan Jehovah deur doop te simboliseer. Ek en my pa is albei op 29 Maart 1953 gedoop, en my ma is ook later daardie jaar gedoop. Al ons gesinslede is uiteindelik gedoop, waaronder my suster Erika, my broers Heinz, Herbert en Werner, asook ons baie dierbare oumas, wat toe albei al diep in die 80 was. In Januarie 1959 het ek toe ’n pionier geword, soos voltydse bedienaars genoem word.

Bediening in ’n nuwe land

My pa het my altyd aangemoedig om Duitsland te verlaat, en as ek nou terugkyk, dink ek dat dit weens sy voortdurende vrese oor anti-Semitisme was. Ek het aansoek gedoen om na Australië te emigreer, in die hoop dat dit ’n trapklip na diens as ’n sendeling in Papoea-Nieu-Guinee of op ’n ander eiland van die Stille Oseaan sou wees. Ek en my broer, Werner, het saam op 21 Julie 1959 in Melbourne, Australië, aangekom.

Binne ’n paar weke het ek Melva Peters ontmoet, wat as ’n voltydse bedienaar in die Footscray-gemeente gedien het, en ons is in 1960 getroud. Ons is met twee dogters geseën wat ook vir Jehovah God lief geword het en hulle lewe aan hom toegewy het. Ons het hard probeer om ons lewe eenvoudig te hou sodat ons as gesin geestelike doelwitte in voller mate kon nastreef. Melva het jare lank as ’n pionier gedien totdat gesondheidsprobleme haar verhinder het om daarmee voort te gaan. Ek is tans ’n ouer man en pionier in die Belconnen-gemeente in die stad Canberra.

Ek het uit my ondervindinge in my vroeë kinderjare geleer om tevrede met Jehovah se voorsienings te wees. Ek het tot die besef gekom dat oorlewing nie van goud of silwer afhang nie, maar van die basiese materiële benodigdhede, soos deur my ma se pot vet toegelig is, en, nog belangriker, van die studie van God se Woord, die Bybel, en die toepassing van wat dit ons leer.—Matteus 4:4.

Die betekenisvolle woorde van Jesus se moeder, Maria, is werklik waar: “[Jehovah] het hongeriges volkome versadig met goeie dinge en hy het dié wat rykdom gehad het leeg weggestuur” (Lukas 1:53). Ek is baie bly om te kan sê dat 47 van my familielede, waaronder sewe kleinkinders, op die weg van Bybelwaarheid wandel (3 Johannes 4). Saam met húlle, asook ons talle geestelike kinders en kleinkinders, sien ek en Melva uit na ’n wonderlike toekoms in veiligheid onder Jehovah se liefdevolle sorg en ’n heerlike hereniging met ons ander geliefdes wanneer hulle opgewek sal word.—Soos vertel deur Kurt Hahn.

[Prent op bladsy 21]

Russiese troepe in aantog in Oos-Pruise in 1944

[Erkenning]

Sovfoto

[Prent op bladsy 23]

Ek, voor, en my broer Heinz, suster Erika, my ma en my broers Herbert en Werner

[Prent op bladsy 24]

Saam met my vrou, Melva

[Prent op bladsy 24]

’n Pot vol vet, soos hierdie, het ons onderhou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel