Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 20-24
  • My pa se getroue voorbeeld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My pa se getroue voorbeeld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Oosters-Westerse agtergrond
  • Traumatiese oorlogsjare
  • Geestelike verkwikking
  • ’n Tragiese gesinsverbrokkeling
  • ’n Onvergeetlike Bybelbespreking
  • ’n Uitgebreide bediening
  • My pa en ma se laaste jare
  • Ek het my oë en hart op die prys gevestig gehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Ligdraer vir baie nasies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 20-24

My pa se getroue voorbeeld

DIT was 6 Julie 1947 en ons gesin het ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Londen, Engeland, bygewoon. My pa het trane van vreugde in sy oë gehad toe hy sy hand uithou om my uit die doopbad te help. Ek en my pa is pas gedoop as simbool van ons toewyding aan Jehovah, die Skepper en Universele Soewerein. My ma en drie broers was ook vir hierdie vreugdevolle geleentheid teenwoordig.

Maar ongelukkig sou ons as gesin kort daarna nie meer in Christelike aanbidding verenig wees nie. Maar voor ek hiervan vertel en van watter uitwerking my pa se getrouheid op my gehad het, wil ek julle ’n bietjie van sy jong dae vertel.

’n Oosters-Westerse agtergrond

My pa, Lester, is in Maart 1908 in Hongkong gebore. Sy pa was die assistent-hawemeester. Toe my pa klein was, het sy pa hom saamgeneem wanneer hy per boot ondersoek ingestel het na bedrywighede rondom Hongkong en nabygeleë eilande. My pa was net agt toe sy pa oorlede is. Sy ma het daarna weer getrou en die gesin het na Sjanghai verhuis. In 1920 het my pa se ma hom en sy tienjarige suster, Phyl, vir hulle skoolopleiding na Engeland toe geneem.

My pa het die daaropvolgende jare feitlik in die skadu van die Katedraal van Kantelberg, die setel van die Anglikaanse Kerk, deurgebring. Die kerkdienste wat hy daar bygewoon het, was sy kennismaking met godsdiens. Sy suster Phyl was in ’n kosskool noord van Londen, maar sy en my pa het gedurende daardie jare baie geheg aan mekaar geraak, omdat hulle hulle skoolvakansies saam deurgebring het. Vyf jaar later, in 1925, toe my pa sy skoolopleiding voltooi het, het sy ma na Engeland toe teruggekeer en gesorg dat my pa werk kry. Die volgende jaar het sy toe na Sjanghai teruggekeer en Phyl saam met haar geneem.

Voor my pa se ma vertrek het, het sy hom ’n eksemplaar van ’n boek gegee wat deur sy oupagrootjie geskryf is. Dit was ’n poëtiese verhaal oor die lewe van Boeddha met die titel “The Light of Asia”. Dit het my pa oor die werklike doel van die lewe laat nadink. In Canterbury (Kantelberg) het die prag van die katedraal en die plegtigheid van die godsdiensverrigtinge hom beïndruk, maar die gebrek aan geestelike onderrig het ’n leemte in hom gelaat. Hy het dus gewonder: ‘Het Oosterse godsdienste die antwoord?’ Hy het besluit om ondersoek in te stel. Gedurende die daaropvolgende jare het hy Boeddhisme, Sjintoïsme, Hindoeïsme, Confucianisme en Islam ondersoek. Maar nie een kon sy vrae beantwoord nie.

My pa het by ’n sportklub gewoon wat aan die firma behoort het waarvoor hy gewerk het, en hy het dit geniet om te roei, rugby te speel en aan ander sportsoorte deel te neem. Hy het kort daarna op Edna verlief geraak, ’n aantreklike meisie wat dieselfde liefde vir sport gehad het. Hulle is in 1929 getroud en is gedurende die daaropvolgende tien jaar met vier seuns geseën.

Traumatiese oorlogsjare

Tydens die dertigerjare het die onweerswolke van die Tweede Wêreldoorlog begin saampak, en my pa het dus besluit om van Londen na die platteland te verhuis. Net ’n paar maande voor die oorlog in September 1939 uitgebreek het, het ons verhuis.

Verpligte krygsdiens is ingestel en namate die oorlog voortgesloer het, is daar mettertyd selfs begin om mense bo die ouderdomsgrens op te roep. Pleks van te wag om opgeroep te word, het my pa vrywillig by die Britse lugmag aangesluit, en hy is in Mei 1941 opgeroep. Hoewel hy af en toe met verlof huis toe kon kom, het ses jaar verstryk voor ons weer ’n normale gesinslewe kon geniet. Die verantwoordelikheid om na ons as kinders om te sien—die twee oudstes onder ons was toe reeds in ons tienderjare—het op my ma gerus.

Geestelike verkwikking

Ongeveer twee jaar voor my pa uit die lugmag getree het, het twee van Jehovah se Getuies my ma besoek en ’n Bybelstudie met haar begin. My ma het aan my pa geskryf en hom vertel hoe sy die dinge geniet het wat sy geleer het. Terwyl hy eenkeer met verlof was, het sy hom saamgeneem na ’n gemeentelike Bybelstudie wat in ’n huis gehou is.

My pa het in Desember 1946 uit die leër getree en aan die Bybelbesprekings begin deelneem wat my ma met die twee Getuievroue gehad het. Hulle het sy belangstelling opgemerk en Ernie Beavor, die presiderende opsiener, gevra om my pa te besoek. Broer Beavor het in slegs een aand al my pa se besware met behulp van die Bybel beantwoord. Gedurende die volgende twee weke het my pa die drie boeke wat broer Beavor hom gegee het, gelees terwyl hy elke dag per trein na sy werk in Londen gereis het. Toe broer Beavor my pa weer besoek het, het my pa hom gegroet met die woorde: “Dis die waarheid waarna ek gesoek het! Wat moet ek doen?”

Van toe af het my pa ons seuns na die vergaderinge begin neem. My ma wou egter nie altyd saam met ons kom nie. Haar belangstelling het begin afneem. Nogtans het ons almal in Julie 1947 na die byeenkoms in Londen gegaan waar ek en my pa gedoop is. My ma het daarná net af en toe die vergaderinge bygewoon.

Kort nadat ons gedoop is, het tannie Phyl in Engeland kom kuier en tot my pa se groot vreugde het sy Bybelwaarheid geredelik aangeneem en is sy gedoop. Nadat sy na Sjanghai teruggekeer het, het sy in aanraking gekom met Stanley Jones en Harold King, twee sendelinge van Jehovah se Getuies wat kort tevore daarheen gestuur is. Hierdie sendelinge is later onderskeidelik sewe en vyf jaar lank deur die heersende Kommunistiese regering opgesluit. Hulle het tannie Phyl op geestelike gebied bygestaan tot haar man uit sy werk in China bedank het. Sy en haar man het toe na Engeland toe teruggekeer en het naby ons kom woon.

’n Tragiese gesinsverbrokkeling

Intussen het my ma en pa ernstige kommunikasieprobleme ondervind. My ma het gesien hoe geesdriftig my pa oor sy nuutgevonde geloof was, en omdat sy gedink het dat ons gesin se materiële sekuriteit daardeur bedreig kon word, het sy sy Christelike bedrywighede begin teëstaan. In September 1947 het sy hom uiteindelik gekonfronteer met die ultimatum dat sy hom sou verlaat as hy nie sy Christelike geloof sou prysgee nie.

My pa het gedink dat hy my ma se vrese gestil het deur met haar uit die Skrif te redeneer en vir haar te wys dat haar vrese ongegrond was. Die situasie het egter sonder waarskuwing op 1 Oktober 1947 ’n klimaks bereik. Toe my pa daardie dag van die werk af gekom het, was die huis leeg, en ek het met ons tasse op die drumpel gesit. My ma is met alles daar weg, my drie broers inkluis. Ek het vir my pa gesê dat ek besluit het om by hom te bly. My ma het nie eens ’n nota gelos nie.—Mattheüs 10:35-39.

Ernie Beavor het reëlings getref sodat ons by ’n ouer egpaar kon bly totdat my pa huisvesting kon vind. Hulle was baie goed vir ons en het ons vertroos met die apostel Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 7:15: “As die ongelowige weggaan, laat hom weggaan. Onder sulke omstandighede is ’n broer of ’n suster nie in diensbaarheid nie, maar God het julle tot vrede geroep.”—NW.

Ons het uiteindelik met ons gesin in aanraking gekom en hulle besoek, maar ons het gou besef dat my ma slegs tevrede sou wees as ons ons geloof sou prysgee. Ons het geweet dat Jehovah ons nie sou seën as ons aan haar eise sou toegee nie. My pa het dus met sy sekulêre werk aangehou en in my ma se finansiële behoeftes voorsien sodat sy my broers kon onderhou. Toe ek in 1947 my skoolopleiding voltooi het, het ek deeltyds begin werk, en in Januarie 1948 is ek vir die voltydse diens aanvaar.

’n Onvergeetlike Bybelbespreking

Ek was maar net 17 toe ek eendag in die veldbediening met ’n man in ’n plaashuisie gesels het. Tydens my besoek het Winston Churchill, Brittanje se leier gedurende die Tweede Wêreldoorlog, daar aangekom. My gesprek is onderbreek, maar mnr. Churchill het Die Wagtoring opgemerk en my geprys vir die werk wat ek doen.

’n Paar dae later was ek weer met die predikingswerk besig toe ek die deurklokkie van ’n groot huis gelui het. ’n Hoofbediende het die deur oopgemaak, en toe ek vra om met die huiseienaar te praat, het hy gevra of ek weet wie dit was. Ek het nie ’n benul gehad nie. “Jy is nou by Chartwell”, het hy gesê, “Winston Churchill se huis.” Op daardie oomblik het mnr. Churchill verskyn. Hy het ons vorige ontmoeting onthou en my ingenooi. Ons het ’n rukkie gesels en hy het drie boeke geneem en my genooi om terug te kom.

Later, op ’n warm middag, het ek teruggegaan en is ek weer ingenooi. Mnr. Churchill het vir my limonade aangebied, en nadat hy my vlugtig gegroet het, het hy gesê: “Ek sal jou ’n halfuur gee om my te vertel wat jy dink God se Koninkryk is, maar dan moet jy my toelaat om jou te vertel wat ek dink dit is.” Dit is wat ons gedoen het.

Mnr. Churchill het gemeen dat God se Koninkryk deur godvresende staatsmanne tot stand gebring sou word en dat dit nooit sou kom totdat mense geleer het om in vrede saam te leef nie. Ek kon die Bybelse beskouing oor God se Koninkryk verduidelik en watter seëninge dit sal meebring. Mnr. Churchill was baie vriendelik en het gesê dat hy ons werk respekteer.

Ek kon ongelukkig nooit weer met hom in aanraking kom nie. Maar ek is bly dat ek, alhoewel ek nog ’n tiener was, met die opleiding en aanmoediging wat ek van my pa ontvang het, vir só ’n vername wêreldstaatsman ’n goeie getuienis kon gee.—Psalm 119:46.

’n Uitgebreide bediening

My ma het in Mei 1950 geskryf om te sê dat sy na Kanada emigreer en dat sy John, my jongste broer, saam met haar neem. My broers Peter en David het teen daardie tyd vir hulleself gesorg. My pa het dus, nadat hy 18 jaar by sy firma gewerk het (met inbegrip van die oorlogsjare toe hulle hom op hulle lys van werknemers gehou het), sy bedanking ingedien en vir die gewone pionierdiens aansoek gedoen. Hy het die voltydse bediening in Augustus 1950 betree, nadat hy van die groot internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York af teruggekom het. In November 1951, ’n bietjie meer as ’n jaar later, is my pa as ’n reisende opsiener aangestel en het hy gemeentes begin besoek om hulle aan te moedig. Intussen is ek in die herfs van 1949 uitgenooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Londen, Engeland, te dien.

Toe het ons nog ’n ryk seëning ontvang—ek en my pa is uitgenooi om die 20ste klas van die Gileadsendingskool in New York by te woon. Die klas het in September 1952 begin en ons het die volgende Februarie gegradueer. Ek het daarna by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gedien, terwyl my pa as ’n reisende opsiener na Indiana gestuur is.

Die hele 20ste klas het eers die internasionale byeenkoms in Julie in die stad New York bygewoon voordat ons na ons sendingtoewysings kon gaan. Ek het intussen baie lief geword vir een van my klasmaats, Kae Whitson, en ons het besluit om te trou. Ons is in die reisende werk in Michigan aangestel, en twee jaar later het ons ’n sendingtoewysing in Noord-Ierland ontvang.

Maar net voordat ons per skip moes vertrek, het Kae ontdek dat sy swanger is. Ons het toe met ’n ander toewysing begin, ’n toewysing om ’n seun en drie dogters groot te maak om suksesvolle voltydse bedienaars te word, net soos my pa my grootgemaak het. In November 1953 het my pa na Afrika vertrek en op 4 Januarie 1954 het hy by sy sendingtoewysing in Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) aangekom.

My pa het baie gehad om te leer—’n nuwe lewenswyse, nuwe gewoontes en nuwe beproewinge van sy geloof. In 1954 was Suid-Rhodesië nog nie veel deur westerse gewoontes beïnvloed nie. Nadat my pa ’n jaar lank by die takkantoor gewerk het, is hy as ’n streekopsiener in die reisende werk uitgestuur. Hy is in 1956 na die takkantoor teruggeroep en het tot sy dood op 5 Julie 1991 daar gedien. Hy het die takpersoneel van 5 in 1954 tot meer as 40 sien groei en die getal Koninkryksverkondigers van 9000 tot meer as 18 000.

My pa en ma se laaste jare

My pa en ma is nooit geskei nie. Nadat my ma Engeland verlaat het, het sy ’n rukkie in Kanada gebly en het toe met John na die Verenigde State verhuis. Nie een van my broers het Getuies geword nie. My ma het egter in die middel-sestigerjare met die Getuies in aanraking gekom. In 1966 het sy na Mombassa, Kenia, verhuis waar sy haar studies hervat het. Maar die volgende jaar het sy ’n senu-ineenstorting gehad.

My broers Peter en David het gereël dat sy Engeland toe gaan, waar sy behandeling ontvang het. Sy het herstel en het weer saam met die Getuies begin studeer. Jy kan jou my pa se vreugde voorstel toe my ma aan hom geskryf het dat sy in 1972 by ’n byeenkoms in Londen gedoop sou word. Ek en my vrou het van die Verenigde State af gevlieg om by haar te wees toe sy gedoop is.

Die volgende jaar kon my pa met vakansie gaan, en terwyl hy in Engeland was, het hy die vreugde gesmaak om saam met my ma in die bediening van huis tot huis te werk. Daarna het hy by ons gesin in die Verenigde State kom kuier. My pa en ma het dit oorweeg om weer versoen te raak, maar sy het vir hom gesê: “Ons is al te lank uitmekaar. Dit sou moeilik wees. Kom ons wag vir die nuwe wêreld wanneer alles weer reg sal wees.” My pa het dus na sy toewysing teruggekeer. My ma se siekte in Kenia het haar gesondheid ernstig geskaad en sy moes uiteindelik in ’n hospitaal opgeneem word, waar sy in 1985 oorlede is.

In 1986 het my pa baie siek geword, en ek en my broer Peter het hom dus by sy tuiste in Zimbabwe besoek. Dit het hom baie bemoedig en het hom blykbaar nuwe moed gegee. Die broers daar het my op die hande gedra omdat ek Lester se seun was! My pa se voorbeeld het waarlik ’n positiewe uitwerking gehad op die lewens van almal met wie hy in aanraking gekom het.

Nou is ek self siek. Die dokters sê dat ek net ’n kort rukkie het om te leef. Hulle sê ek het amiloïdose, ’n seldsame en dodelike siekte. Ek is egter bly dat my kinders my voorbeeld volg, soos ek my getroue pa se voorbeeld gevolg het. Hulle almal dien Jehovah nog steeds getrou saam met ons. Wat ’n vertroosting is dit tog om te weet dat ons, of ons nou lewe of sterwe, die onfeilbare hoop het om vir ewig die ryk seëninge van ons liefdevolle, hemelse Vader af te geniet omdat ons sy wil getrou gedoen het! (Hebreërs 6:10).—Soos vertel deur Michael Davey.a

[Voetnoot]

a Op 22 Junie 1993, terwyl hierdie verslag voltooi is, is Michael Davey oorlede.

[Prent op bladsy 21]

Links: My ouers saam met my en my ouer broer

[Prent op bladsy 22]

Ek kon God se Koninkryk breedvoerig met Winston Churchill bespreek

[Erkenning]

USAF photo

[Prent op bladsy 23]

My pa, Lester, kort voor sy dood

[Prent op bladsy 24]

Saam met my vrou, Kae

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel