Hoe oorlog kinderlewens verwoes
DIE geveg, een van baie in Sierra Leone se burgeroorlog, het vroeg in 1995 plaasgevind. Toe die skietery ophou, het die vierjarige Tenneh, wie se ouers reeds in die oorlog dood is, gewond gelê. ’n Koeël het in haar kop vasgesit, agter haar regteroog, en die gevaar het bestaan dat die koeël infeksie sou veroorsaak wat na haar brein toe sou versprei en haar dood sou veroorsaak.
Sestien maande later het ’n Britse egpaar daarin geslaag om Tenneh na Engeland toe te laat vlieg vir ’n operasie. ’n Span chirurge het die koeël verwyder, en mense was verheug dat die operasie suksesvol was, dat ’n jong lewe gered is. Maar die verheuging is gedemp deur die wete dat Tenneh nog steeds ’n weeskind is wat glad nie geskiet moes gewees het nie.
Wapens, honger en siekte
Hoewel Tenneh deur ’n verdwaalde koeël getref is, gebeur dit al hoe meer dat kinders nie toevallige slagoffers is nie, maar wel teikens is. Wanneer etniese konflik ontstaan, is dit nie genoeg om net volwassenes dood te maak nie; die kinders van die vyand word as toekomstige vyande beskou. ’n Politieke kommentator in Rwanda het in ’n radio-uitsending in 1994 gesê: “Om die groot rotte dood te maak, moet jy die klein rotte doodmaak.”
Die meeste kinders wat in oorloë doodgaan, is egter nie slagoffers van bomme of van koeëls nie, maar eerder van verhongering en siekte. In oorloë in Afrika het die gebrek aan voedsel en mediese dienste byvoorbeeld die dood van ongeveer 20 keer meer mense veroorsaak as wat deur die eintlike gevegte veroorsaak is. Die afsnyding van noodsaaklike voorraad is ’n oorlogstaktiek wat in hedendaagse tye genadeloos gebruik word. Leërs het groot stukke grond waarop voedsel verbou word met landmyne besaai, graanskure en waterstelsels vernietig en op noodlenigingsvoorraad beslag gelê. Hulle het ook gesondheidsentrums vernietig en sodoende mediese personeel uiteengedryf.
Sulke taktieke tref kinders die hardste. Tussen 1980 en 1988 het daar byvoorbeeld 330 000 kinders in Angola en 490 000 in Mosambiek weens oorlogverwante oorsake gesterf.
Geen huis, geen familie nie
Oorlog maak kinders wees deur ouers dood te maak, maar doen dit ook deur gesinne te versplinter. Wêreldwyd het ongeveer 53 miljoen mense van hulle huise af weggevlug omdat hulle deur geweld bedreig is. Dit is ongeveer 1 uit elke 115 mense op aarde! Ten minste die helfte is kinders. In die paniek wat mense oorval wanneer hulle vlug, word kinders dikwels van hulle ouers geskei.
As gevolg van die konflik in Rwanda was 114-000 kinders teen die einde van 1994 van hulle ouers geskei. Volgens ’n 1995-opname het 1 uit 5 kinders in Angola ’n soortgelyke ondervinding gehad. Vir baie kinders, veral dié wat baie jonk is, is die trauma om nie by hulle ouers te wees nie angswekkender as die chaos van die oorlog self.
Deur landmyne doodgemaak
Regoor die wêreld het honderdduisende kinders buite gaan speel, diere gaan oppas, vuurmaakhout bymekaar gaan maak of gewasse gaan saai, net om deur landmyne opgeblaas te word. Landmyne eis elke maand 800 lewens. In 64 lande is daar altesaam ongeveer 110 miljoen landmyne wat in die grond begrawe is. Kambodja alleen het ongeveer sewemiljoen van hierdie myne, twee vir elke kind.
Meer as 40 lande vervaardig ongeveer 340 soorte myne in ’n wye verskeidenheid vorme en kleure. Party lyk soos klippe, ander soos pynappels en ander soos klein groen skoenlappertjies wat stadig uit helikopters grond toe dryf, sonder om te ontplof. Daar word berig dat party landmyne, wat ontwerp is om soos speelgoed te lyk, blykbaar naby skole en speelterreine gesit word waar vroue en kinders dit sal vind.
Dit kos net ongeveer R13 om ’n antipersoneelmyn te vervaardig, maar dit kos tussen R1300 en R4400 om ’n myn op te spoor en dit uit die grond te verwyder. In 1993 is ongeveer 100 000 landmyne verwyder, maar tweemiljoen nuwes is geplant. Almal is geduldige doders wat nooit slaap nie, wat nie ’n soldaat van ’n kind onderskei nie, wat geen vredesverdrag erken nie en tot 50 jaar lank aktief bly.
In Mei 1996, ná twee jaar van samesprekings in Genève, Switserland, het internasionale onderhandelaars se pogings misluk om ’n wêreldwye verbod op landmyne te plaas. Hoewel hulle party soorte myne onwettig verklaar het en beperkings op die gebruik van ander geplaas het, sal ’n algehele verbod op landmyne nie heroorweeg word tot die volgende hersieningskonferensie wat vir die jaar 2001 beplan is nie. Tussen nou en dan sal landmyne nog 50 000 mense doodmaak en 80 000 vermink. Baie sal kinders wees.
Marteling en verkragting
In onlangse oorloë is kinders gemartel om hulle ouers te straf of om inligting oor hulle ouers te kry. In die wrede wêreld van konflik is daar partykeer geen rede nodig nie en word kinders bloot vir vermaak gemartel.
Seksuele geweld, waaronder verkragting, is iets algemeens in oorlog. In die gevegte in die Balkan was dit ’n beleid om tienermeisies te verkrag en hulle te dwing om die vyand se kind te baar. In Rwanda het soldate eweneens verkragting as ’n wapen gebruik om familiebande te vernietig. In party invalle is byna elke tienermeisie wat ’n burgermagaanval oorleef het, verkrag. Baie meisies wat swanger geword het, is deur hulle families en die gemeenskap verwerp. Party meisies het hulle babas weggegooi; ander het die hand aan hulle eie lewe geslaan.
Emosionele angs
Kinders in oorlog verduur dikwels ondervindinge wat verskrikliker is as die ergste nagmerries van baie volwassenes. In Sarajevo het ’n opname onder 1505 kinders byvoorbeeld getoon dat feitlik almal al artillerievuur ondervind het. Daar is al op meer as die helfte van hulle geskiet, en twee derdes was al in situasies waar hulle verwag het dat hulle doodgemaak sou word.
’n Opname onder 3000 Rwandese kinders het bevind dat 95 persent van hulle geweld en moorde gedurende die volksmoord aanskou het en dat bykans 80 persent familielede verloor het. Sowat een derde het verkragting of seksuele aanranding aanskou en meer as een derde het gesien hoe ander kinders help om mense dood te maak of te slaan. Sulke ondervindings verwoes jong verstande en harte. ’n Verslag oor kinders wat trauma ervaar uit die voormalige Joego-Slawië het gesê: “Herinneringe van die gebeurtenis bly by hulle . . . wat verskriklike nagmerries, daaglikse ontstellende terugflitse van die traumatiese gebeure, vrees, onsekerheid en bitterheid veroorsaak.” Ná die volksmoord in Rwanda het ’n sielkundige by die Nasionale Traumaherstel-sentrum gesê: “Van die simptome wat kinders vertoon, is nagmerries, probleme met konsentrasie, depressie en ’n gevoel van wanhoop oor die toekoms.”
Hoe kan kinders gehelp word?
Baie navorsers glo dat trauma nie weggaan wanneer kinders hulle gevoelens en herinneringe opkrop nie. Herstel begin dikwels wanneer ’n kind slegte herinneringe aandurf deur met ’n simpatieke en ingeligte volwassene te praat oor wat gebeur het. “Die stryd is halfpad gewonne wanneer ’n mens werklik ontstelde kinders kan kry om uit hulle dop te kruip en openhartig te praat”, het ’n maatskaplike werker in Wes-Afrika gesê.
Nog ’n belangrike hulpmiddel om emosionele pyn te genees, is sterk eenheid en ondersteuning van die gesin en die gemeenskap. Soos alle kinders het oorlogslagoffers liefde, begrip en empatie nodig. Maar is daar werklik rede om te glo dat daar hoop is vir alle kinders om ’n rooskleurige toekoms te geniet?
[Venster/Prent op bladsy 8]
Dit het soos ’n bal gelyk
In Laos was ’n meisie en haar broer op pad om waterbuffels te laat wei. Die meisie het ’n voorwerp in ’n sloot gesien wat soos ’n bal gelyk het. Sy het dit opgetel en vir haar broer gegooi. Dit het op die grond geval, ontplof en hom onmiddellik doodgemaak.
[Venster op bladsy 9]
Net een uit duisende
Toe gevegte in hulle omgewing in Angola uitgebreek het, is Maria, ’n 12-jarige weeskind, verkrag en het sy swanger geword. Toe die gevegte hewiger word, het Maria gevlug en 300 kilometer ver na ’n veilige gebied geloop, waar sy na ’n sentrum vir uitgeweke kinders gegaan het. Omdat sy so jonk was, het sy vroeg gekraam en baie moeilik aan ’n vroeggebore baba geboorte gegee. Die baba het net twee weke gelewe. Maria het ’n week later gesterf. Maria is net een uit duisende kinders wat in onlangse oorloë gemartel en verkrag is.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Verwoeste verstande en harte
Hoe kinders dikwels deur geweld geraak word, word goed toegelig deur die agtjarige Sjabana van Indië. Sy het gesien hoe ’n oproerige skare haar vader doodslaan en toe haar moeder onthoof. Haar verstand en hart bly gevoelloos en verberg die afgryse en verlies. “Ek mis nie my ouers nie”, sê sy in ’n toonlose, emosielose stem. “Ek dink nie aan hulle nie.”