Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/22 bl. 12-13
  • Die Katolieke kerk en evolusie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Katolieke kerk en evolusie
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voor Darwin
  • Waarom “openlike oorlogvoering” ontstaan het
  • “Wapenstilstand” en “gewapende vrede”
  • Waarom die so genoemde vrede?
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Evolusie staan tereg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • ’n Boek skud die wêreld
    Ontwaak!—1995
  • Waarom aanvaar baie evolusie?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/22 bl. 12-13

Die Katolieke kerk en evolusie

Deur Ontwaak!-medewerker in Italië

OP 26 April 1882 is Charles Darwin in die Westminster-abdy, Londen, begrawe. Vir sommige mense was ’n kerk dalk die mees ongepaste plek om die man te begrawe wat daarvan beskuldig word dat hy ‘God onttroon’ het met sy evolusionêre teorie van natuurlike teeltkeuse. Tog is Darwin se graf al meer as ’n eeu daar.

Nadat Darwin se Origin of Species in 1859 uitgegee is, het teoloë se gesindheid geleidelik ten gunste van evolusie verander. Die teoloog Carlo Molari het geskryf oor hoe ’n tydperk van “openlike oorlogvoering” vroeg in hierdie eeu met ’n “wapenstilstand” vervang is. Toe, het hy gesê, was daar ’n “gewapende vrede” in die middel van die twintigste eeu en uiteindelik die huidige “vrede”.

Voor Darwin

Darwin was natuurlik nie die eerste een wat die idee van evolusie voorgestaan het nie. Eertydse filosowe het geteoretiseer oor die transformasie van een lewensvorm in ’n ander. Die eerste hedendaagse evolusionistiese verhandelinge kan na ’n aantal 18de-eeuse natuurkenners teruggevoer word.

Gedurende die 18de en 19de eeu het talle geleerdes verskillende evolusionêre teorieë geopper, hoewel die woord “evolusie” selde gebruik is. Darwin se oupa, Erasmus Darwin (1731-1802), het ’n aantal evolusionistiese idees in een van sy werke geopper, en daardie werk het op die Katolieke Kerk se indeks van verbode boeke verskyn.

Waarom “openlike oorlogvoering” ontstaan het

Sommige in die sekulêre wêreld het gesien dat Darwin se teorie ’n nuttige instrument kon wees om die mag van die geestelikes te ondermyn. ’n Hewige stryd het dus losgebars. In 1860 het die Duitse biskoppe gesê: “Ons voorvaders is regstreeks deur God geskep. Ons verklaar derhalwe dat diegene wat durf sê dat die mens, wat sy liggaam betref, uit ’n onvolmaakte wese deur middel van spontane transformasie ontstaan het, se mening heeltemal in stryd is met die Heilige Skrif en die Geloof.”

In Mei 1877 het pous Pius IX die Franse geneesheer Constantin James insgelyks geprys vir ’n publikasie teen evolusie en ter ondersteuning van die Genesisverslag van die skepping. Die eerste fase van die konflik het ’n klimaks bereik met ’n reeks briewe wat tussen 1905 en 1909 deur die Pouslike Bybelkommissie uitgegee is. In een van hierdie briewe het die kommissie verklaar dat die eerste drie hoofstukke van Genesis geskiedkundig is en as “werklike geskiedenis” beskou moet word.

“Wapenstilstand” en “gewapende vrede”

Maar namate Darwin se teorie in akademiese kringe veld gewen het, het Katolieke teoloë, soos die Franse Jesuïet Teilhard de Chardin, evolusionisme begin aanneem. Hoewel Teilhard se idees van ortodokse evolusioniste verskil het, het hy van 1921 af “biologiese evolusie . . . al hoe meer as die waarheid” beskou. Die geleidelike beweging na versoening tussen die Katolieke geloof en evolusionisme het al hoe duideliker geword.

In 1948 het ’n ander Jesuïet gesê: “Daar is al meer as 20 jaar ’n buitengewone toename in die aantal teoloë, wie se ortodoksheid bo verdenking staan, wat sê dat versoening [tussen evolusie en die Katolieke geloof] moontlik is as dit binne sekere grense gehou word.” Gedurende omtrent dieselfde tyd het die Pouslike Bybelkommissie baie van wat dit in 1909 ter ondersteuning van die Genesisverslag van die skepping gesê het, teruggetrek.

Toe, in 1950, het Pius XII se ensikliek, Humani generis, gesê dat Katolieke geleerdes die evolusieteorie as ’n geloofwaardige hipotese kan beskou. Maar die Pous het gesê: “Die Katolieke geloof verplig ons om te glo dat siele regstreeks deur God geskep word.”

Waarom die so genoemde vrede?

Sedert die ekumeniese konsilie Vatikaan II, sê Carlo Molari, “is besware teen evolusionêre teorieë [met ’n paar uitsonderings] beslis oorkom”. Dit is betekenisvol dat pous Johannes-Paulus II in Oktober 1996 verklaar het: “Vandag, byna ’n halfeeu ná die verskyning van [Pius XII se] ensikliek, erken ons na aanleiding van nuwe kennis dat die evolusieteorie meer is as ’n hipotese. Dit is inderdaad merkwaardig dat hierdie teorie in toenemende mate deur navorsers aangeneem is.”

Die geskiedkundige Lucio Villari het die Pous se verklaring ’n “besliste erkenning” genoem. ’n Opskrif in die konserwatiewe Italiaanse koerant Il Giornale het gelui: “Die Pous sê ons kom dalk van ape.” En die tydskrif Time het tot die slotsom gekom dat die Pous se erkenning “die kerk se aanneming van evolusie weerspieël”.

Wat is die rede vir wat al beskryf is as “hierdie min of meer ontspanne gesindheid teenoor evolusionisme” aan die kant van Katolieke leiers? Waarom het die Rooms-Katolieke Kerk hulle met die evolusieleer versoen?

Dit is duidelik dat baie Katolieke teoloë die Bybel as “die woord van mense” beskou en nie as “die woord van God” nie (1 Tessalonisense 2:13; 2 Timoteus 3:16, 17). Die Katolieke Kerk heg meer waarde aan die woord van hedendaagse evolusioniste as aan dié van God se Seun, Jesus Christus, wat bevestig het dat die Genesisverslag van die skepping juis is deur te sê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” (Matteus 19:4). Aan wie se mening dink jy behoort daar meer waarde geheg te word?

[Venster op bladsy 13]

Jehovah se Getuies en evolusie

Jehovah se Getuies het Christus se lering dat God die eerste mensepaar regstreeks geskep het en hulle “man en vrou gemaak het” konsekwent verdedig (Matteus 19:4; Genesis 1:27; 2:24). In 1886 het Deel I van Millennial Dawn (wat later Studies in the Scriptures genoem is) na Darwinisme verwys as “’n onverdedigbare teorie”, en in 1898 het die boekie The Bible Versus the Evolution Theory die Bybel se skeppingsverslag verdedig. Die Bybel se skeppingsverslag is ook hooggehou in die boeke The New Creation (1904) en Creation (1927) sowel as in vroeë artikels wat in Die Wagtoring en The Golden Age verskyn het.

In die tyd toe pous Pius XII sy ensikliek Humani generis, in 1950, uitgevaardig het, het Jehovah se Getuies Evolution Versus the New World uitgegee. Hierdie boekie bevat wetenskaplike en geskiedkundige bewyse van die Bybel se skeppingsverslag en veroordeel pogings deur party geestelikes om “die Bybel en evolusie te versoen”. Die boek Did Man Get Here by Evolution or by Creation? (1967) verdedig ook die Bybel se skeppingsverslag, so ook die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, wat in 1985 uitgegee is, asook talle artikels in Die Wagtoring en Ontwaak!

Baie is dus deur Jehovah se Getuies gehelp om vertroud te raak met die oorweldigende bewyse dat God “ons gemaak [het], en nie ons ons self nie”.—Psalm 100:3, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel