Wat maak mense gelukkig?
’n Groep navorsers regoor die wêreld maak al twee dekades lank ’n stelselmatige studie van geluk. Wat is hulle bevindinge? “Geluk hang blykbaar nie juis van uiterlike omstandighede af nie”, berig die tydskrif Scientific American.
Hierdie wetenskaplike tydskrif het ook gesê: “Rykdom is ook geen waarborg vir geluk nie. Mense het nie gelukkiger geword namate hulle gemeenskappe welvarender geword het nie. . . . In die meeste nasies bestaan daar maar ’n geringe verband tussen inkomste en geluk.”
Die studies dui op vier kenmerkende eienskappe van gelukkige mense: Hulle is lief vir hulleself en het baie selfrespek, hulle voel in beheer van hulle persoonlike lewe, hulle is optimisties en hulle is ekstroverte. Daarbenewens dra goeie huwelike en hegte persoonlike verhoudinge tot ’n gelukkige lewe by en lei dit tot verbeterde gesondheid en ’n langer lewensduur.
Dit is interessant dat die Scientific American berig het: “Mense wat op godsdiensgebied bedrywig is, sê ook dat hulle gelukkiger is. ’n Gallup-opname het bevind dat die kanse twee keer groter is dat mense wat diep godsdienstig is, sal sê dat hulle baie gelukkig is as dié wat die minste by godsdiens betrokke is. Ander opnames, waaronder ’n studie wat 16 nasies gesamentlik gemaak het van 166000 mense in 14 lande, het bevind dat mense se geluk en tevredenheid met die lewe toeneem wanneer hulle baie betrokke is by godsdiens en hulle dienste vir aanbidding gereeld bywoon.”
Lank gelede het die psalmis Dawid gesê dat persoonlike geluk nou verband hou met verenigde aanbidding van Jehovah God en geskryf: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!”—Psalm 122:1.
Dit is geen wonder dat die apostel Paulus mede-Christene aangespoor het nie: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie”! (Hebreërs 10:24, 25). Dit is inderdaad ’n vreugdevolle geleentheid vir liefhebbers van Bybelwaarheid om saam met ander van dieselfde kosbare geloof byeen te kom om God te aanbid. Miljoene Getuies van Jehovah het gevind dat dit waar is, en hulle nooi jou uit om dit self te ondervind deur saam met hulle te aanbid by ’n Koninkryksaal in jou omgewing.