Die goud wat berge versit het
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
“’n Katedraal van klei met etlike torings is uit die berg gekap. Goud en Rome het die skuld gedra. Tyd en skoonheid het hulle vergewe.”—Pedro García Trapiello.
IN DIE noordweste van Spanje is daar ’n vreemde rotsformasie wat uit goue sandsteen gekap is. ’n Tapyt van groen kastaiingbome laat dit lyk of die ruwe kranse en hoë torings deur die natuurkragte gevorm is. Slegs die teenwoordigheid van tonnelopeninge hier en daar verklap ’n ou geheim. Eens op ’n tyd was hierdie plek, wat nou Las Médulas genoem word, die ligging van die grootste goudmyn van die Romeinse Ryk.
Goud het die mens nog altyd gefassineer sodat mense beweeg is om groot moeite te doen om dit in die hande te kry. Die Bybelboek Job beskryf hoe mense millenniums gelede ‘mynskagte gegrawe het, die fondamente van berge weggegrawe het en tonnels deur rotse gekap het’ op soek na goud, silwer en edelstene.—Job 28:1-10, Today’s English Version.
Eeue later toe Rome oor die wêreld geheers het, was daar steeds ’n groot aanvraag na goud. Keiser Augustus wou ’n bestendige ekonomie hê, en die silwer denarius en die goue aureus was die betroubare munte wat hy nodig gehad het om die ratte van die Romeinse handelstelsel glad te laat loop. Om genoeg munte te slaan, het hy natuurlik goud en silwer nodig gehad. Gevolglik was die goudsoekers kort op die hakke van die verowerende Romeinse legioene.
Toe die legioene uiteindelik noordwestelike Spanje onderwerp het, nie lank voor die begin van die Gewone Jaartelling nie, het hulle nuwe goudreserwes ontdek. Ongelukkig was die kosbare metaal begrawe in bergagtige alluviale afsettings wat nie hulle goud maklik afgestaan het nie. Dit sou twee en ’n half eeue van swoeg en sweet verg om die verborge skat uit te haal.
Niks sou egter in die pad van die Romeine staan nie. Arbeid was goedkoop en die mynboutegnieke van die tyd—ofskoon dit moeitevol was—het die projek uitvoerbaar gemaak. Hulle plan was om die goud te ontgin deur die berg geleidelik weg te was. Met dié doel het hulle meer as 50 kanale asook verskeie groot reservoirs hoog in die berge gebou en tonnels van honderde kilometers gegrawe.
Wanneer ’n netwerk van tonnels binne ’n deel van die berg gebou is, het die ingenieurs dit oorstroom met water wat onder druk was. Die krag van die water het tonne grond laat verbrokkel. Goudhoudende sand en klip het met die berg afgespoel, waar die goud van die gruis geskei kon word deur die gruis te was en te sif. Daarna is die hele proses herhaal met die bou van nog ’n stel tonnels.
Was dit die moeite werd? Die Romeine het geduldig ongeveer 800 ton goud by Las Médulas ontgin. Om al daardie goud te kry, het duisende werkers letterlik berge versit—meer as 240 miljoen kubieke meter grond. En vir elke tien ton grond wat hulle uitgegrawe het, het hulle 30 gram goud gekry.
Behalwe vir die tonnels en die ruwe littekens van die geskeurde berg, wat deur erosie gepoleer en met kastaiingwoude bedek is, bly daar vandag min bewyse hiervan oor. Dit is ironies dat hierdie soet kastaiings wat deur die Romeine na Spanje gebring is veel blywender as die goud was.
[Prent op bladsy 22]
Goue muntstuk (aureus) met die afbeelding van keiser Augustus daarop
[Prent op bladsy 23]
Las Médulas, die ligging van die grootste goudmyn van die Romeinse Ryk
[Prent op bladsy 23]
Deel van die antieke tonnelstelsel
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Alle munte: Musée de Normandie, Caen, France