Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/8 bl. 10-14
  • Hoe jy kan help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy kan help
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om dit te aanvaar
  • Die neiging om iemand die skuld te gee
  • Gee ondersteuning
  • Wat is die oorsake?
    Ontwaak!—2001
  • Help terneergedruktes om hul vreugde te herwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
    Vertroosting vir dié wat aan depressie ly
  • Depressie onder tieners—Waarom? Wat kan help?
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 9/8 bl. 10-14

Hoe jy kan help

“Kinders wat aan depressie ly, het hulp nodig. Maar kinders kan nie op hulle eie daardie hulp kry nie. ’n Volwassene moet eers die probleem identifiseer en dit ernstig opneem. Dis die moeilike deel.”—Dr. Mark S. Gold.

WAT kan jy doen as jy vermoed dat jou tiener aan depressie ly? In die eerste plek moet jy nie ’n oorhaastige gevolgtrekking hieroor maak nie. Die simptome kan immers op iets heeltemal anders dui.a Daarbenewens is alle jongmense nou en dan buierig. Maar as die toestand voortduur en dit lyk of dit meer as net ’n tydelike gevoel van terneergedruktheid is, sal dit dalk raadsaam wees om ’n dokter te raadpleeg. In hierdie verband is dit goed om Jesus se woorde in gedagte te hou: “Die gesondes het nie ’n geneesheer nodig nie, maar die siekes het wel.”—Matteus 9:12.

Wees openhartig met jou dokter en voorsien hom van enige nuttige inligting wat jy kan, insluitende onlangse veranderinge in die tiener se lewe wat moontlik tot sy of haar lusteloosheid bydra. Maak seker dat die dokter genoeg tyd neem om na die simptome te luister voordat hy ’n diagnose maak. “Dit is onmoontlik om in ’n enkele sessie van twintig minute al die nodige inligting te kry om ’n kind ten volle te evalueer”, waarsku dr. David G. Fassler.

Moenie aarsel om die dokter enige vrae te vra wat jy moontlik het nie. As die dokter byvoorbeeld van mening is dat jou tiener aan kliniese depressie ly, sal jy hom dalk wil vra waarom hy ander diagnoses uitsluit. As jy oor die dokter se diagnose twyfel, sê vir hom dat jy ’n tweede mening wil kry. Geen eerlike en opregte dokter sal jou tog afraai om dit te doen nie.

Hoe om dit te aanvaar

As jou tiener aan kliniese depressie ly, moet jy jou nie oor die situasie skaam nie. Feit is dat depressie die beste jongmense kan raak. Trouens, die Bybel toon dat pynlike emosies party geraak het wat hulle bes probeer doen het om God te dien, ongeag wat hulle ouderdom is. Beskou die geval van getroue Job, wat gevoel het dat God hom verlaat het, en gevolglik het sy lewe hom gewalg (Job 10:1; 29:2, 4, 5). Hanna was ’n kneg van God wat so “bitter bedroef” geword het dat sy nie kon eet nie (1 Samuel 1:4-10). Dan was daar die godvrugtige man Jakob, wat ná die dood van sy seun baie dae lank gerou het en ‘geweier het om hom te laat troos’. Jakob het selfs gesê dat hy na sy seun in die graf wou gaan! (Genesis 37:33-35). Emosionele foltering is dus nie altyd die gevolg van ’n geestelike tekortkoming nie.

Depressie by ’n tiener kan nietemin groot druk op ouers plaas. “Ek loop op ’n emosionele spandraad”, sê die moeder van een tiener wat aan depressie ly. “Ek is besorg, bang, vyandig, kwaad en uitgeput.” ’n Ander moeder erken: “Ek het al uitgegaan en ’n ma gesien wat saam met haar tienerdogter inkopies doen, en dit het my hart gebreek omdat ek gevoel het dat ek dit met [my dogter] verloor het en dit nooit weer sou terugkry nie.”

Sulke gevoelens is normaal. Maar soms kan dit oorweldigend raak. As dit gebeur, sal dit goed wees om ’n goeie vriend in jou vertroue te neem. Spreuke 17:17 sê: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.” Moet ook nie gebed nalaat nie. Die Bybel verseker ons dat God ons sal onderskraag as ons ons sorg op hom werp.—Psalm 55:23.

Die neiging om iemand die skuld te gee

Baie ouers van tienerdepressielyers word baie mismoedig en voel dat die situasie op die een of ander manier hulle skuld is. “Wanneer jou kind aan depressie ly”, erken een ouer, “voel jy wel skuldig, en niemand kan jou anders laat voel nie. Jy bly wonder: ‘Wat het ons verkeerd gedoen? Wat was die keerpunt? Hoe het ek hiertoe bygedra?’” Hoe kan ouers in hierdie verband gebalanseerd bly wat hulle denke betref?

Dit ly geen twyfel dat ’n onaangename atmosfeer in die huis ’n negatiewe uitwerking op ’n kind kan hê nie. Die Bybel vermaan vaders tereg: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Dit sal dus goed wees as ouers die manier waarop hulle hulle kinders behandel, kan ontleed en veranderinge kan aanbring waar nodig.

Maar depressie is nie altyd die gevolg van slegte ouerskap nie. Trouens, die siekte kan in die liefdevolste gesinne gevind word. Gevolglik moet ouers wat alles in hulle vermoë doen om hulle kinders te help, nie skuldig voel nie.

Dit is net so belangrik om nie die tiener wat depressief is, die skuld te gee nie. Hy of sy het immers min beheer oor die siekte. “Ek sou hom nooit die skuld gee as hy waterpokkies of longontsteking kry nie”, sê een moeder. “Maar met depressie”, erken sy, “is dit tog wat ek gedoen het. Ek het my kind die skuld gegee omdat hy siek geword het—wat my verskriklik laat voel.” Om depressie as ’n siekte te beskou en nie as ’n swakheid nie, sal ouers en ander help om te konsentreer op hoe hulle die lyer kan ondersteun.

Dit kan groot druk op die verhouding tussen die ouers plaas om ’n tienerdepressielyer groot te maak. “Ons het mekaar die skuld gegee”, sê een vrou, “veral wanneer ons gedink het aan die lewe wat ons verwag het om te lei en die lewe wat ons toe wel gelei het weens ons seun.” Tim, wie se dogter aan depressie ly, erken: “Dis maklik om jou huweliksmaat die skuld te gee. As ouers huweliksprobleme het voor die kind tekens van depressie begin toon, kan die kind se raaiselagtige gedrag die laaste druppel wees wat die emmer laat oorloop.” Moenie toelaat dat ’n kind se depressie ’n skeuring in julle huwelik veroorsaak nie! Min word werklik bereik deur iemand die skuld te gee—hetsy dit jy self, jou kind of jou huweliksmaat is. Die belangrike ding is om die depressielyer te ondersteun.

Gee ondersteuning

Die Bybel vermaan Christene: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). As die jong depressielyer deur ’n swak gevoel van eiewaarde geteister word, kan jy help. Hoe? Beslis nie deur veroordelende stellings te maak soos: “Jy moenie so voel nie” of “Dit is die verkeerde gesindheid om te hê” nie. Probeer eerder om empatie te hê deur ‘meegevoel te betoon’ (1 Petrus 3:8). Paulus het Christene aangespoor om te “huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). Onthou iemand wat werklik depressief is, kry waarlik seer. Die pyn is nie denkbeeldig nie, en dit word ook nie versin net om aandag te kry nie.

Nadat jy geluister het, moet jy die lyer probeer vrae vra. Vra waarom hy of sy so voel. Help die tiener dan liefdevol en geduldig om te sien waarom so ’n swak gevoel van eiewaarde nie geregverdig is nie. Jy kan die lyer se angs help verlig deur hom van God se liefde en barmhartigheid te verseker.—1 Petrus 5:6, 7.

Daar is moontlik verdere praktiese stappe wat jy kan neem. Jy sal byvoorbeeld moet seker maak dat jou tiener wat depressief is, genoeg slaap, voeding en oefening kry (Prediker 4:6). As medisyne voorgeskryf word, sal dit verstandig wees om die tiener te help om te sien hoe belangrik dit is dat hy dit neem. Moet nooit ophou om ondersteuning te gee nie, en moet nooit ophou om liefde te betoon nie.

Depressie by ’n tiener kan weliswaar ’n martelende ondervinding wees, vir die lyer sowel as die res van die gesin. Op die ou end sal geduld, volharding en liefde ’n grondslag voorsien om tienerdepressielyers te help.

[Voetnoot]

a Na bewering kan party mediese toestande—insluitende klierkoors, suikersiekte, bloedarmoede, skildkliertekort en bloedsuikertekort—simptome soos dié van depressie voortbring.

[Lokteks op bladsy 11]

Iemand wat werklik depressief is, kry waarlik seer. Die pyn is nie denkbeeldig nie

[Venster op bladsy 13]

AS JY ’N TIENER IS WAT AAN DEPRESSIE LY

Jy is nie alleen nie, en jou situasie is geensins hopeloos nie. Jou depressie hou dalk óf verband met (1) ’n biochemiese wanbalans óf (2) omstandighede in jou lewe waaroor jy min of geen beheer het nie. Hoe dit ook al sy, jou toestand is nie jou skuld nie. Maar wat kan jy daaromtrent doen?

Die Bybel sê “daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Hoekom vind jy nie so ’n vriend en stort jou hart teenoor daardie persoon uit nie? Een van jou ouers of ’n ander ervare volwassene kan jou grootste steunpilaar in die stryd teen depressie wees.

As jou ouers vermoed dat jy aan kliniese depressie ly, sal hulle jou moontlik na ’n dokter toe neem wat ondervinding in die behandeling van die siekte het. Dit sal verstandig wees, want depressie kan dikwels grootliks verlig word met behandeling, waar dit beskikbaar is. Wanneer dit byvoorbeeld ’n chemiese wanbalans behels, kan ’n antidepressant voorgeskryf word. As dit met jou die geval is, moet jy nie skaam voel omdat jy medisyne moet neem nie. Dit herstel eenvoudig die balans van jou liggaam se chemiese samestelling, en dit kan die sleutel wees om jou te help om ’n mate van vreugde en stabiliteit in jou lewe terug te kry.

Baie depressielyers het vertroosting daarin gevind om die Bybel te lees en nader aan God te kom deur gebed. Die Bybel verseker ons: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.”b—Psalm 34:19.

[Voetnoot]

b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek vir iemand vertel dat ek terneergedruk is?”, in die Ontwaak! van 22 Oktober 2000, vir meer inligting.

[Venster/Prent op bladsy 14]

HULP EN HOOP VIR DEPRESSIELYERS

Aangesien depressie ’n ingewikkelde onderwerp is, kon nie al die kante van die saak in hierdie kort reeks bespreek word nie. Die uitgewers van die Ontwaak! is nietemin vol vertroue dat die punte wat genoem is, tieners en hulle ouers kan help om hierdie aftakelende siekte te verduur.

Jy het moontlik opgelet dat baie van die wenke in die vorige artikel op die Bybel gebaseer is. Dit is weliswaar ’n ou boek. Maar die raad daarin is vandag net so prakties as toe dit geskryf is. Waarom? Want hoewel tye verander het, het die menslike natuur nie verander nie. Ons het met dieselfde basiese kwessies te kampe as waarvoor vorige geslagte te staan gekom het. Die verskil is dat hierdie probleme vandag groter en verreikender is.

Daar is egter nog ’n rede waarom die Bybel baie prakties is: Dit is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). As ons Skepper weet hy wat ons nodig het om werklik die lewe te geniet.

Die Bybel is natuurlik nie ’n mediese handboek nie. Daarom is dit nog steeds noodsaaklik om gepaste behandeling vir siektes, soos depressie, te vind. Die Bybel bevat nogtans beginsels wat ons kan help om lyers te vertroos. Daarbenewens bevat dit God se belofte dat hy binnekort al ons kwale gaan genees (Psalm 103:3, NW). Ja, dit is Jehovah se voorneme om ‘die hart van die verbryseldes te laat herlewe’.—Jesaja 57:15.

Wil jy graag meer omtrent hierdie wonderlike hoop uitvind? Kom gerus in aanraking met Jehovah se Getuies in jou omgewing of skryf aan hulle by die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif.

[Prent op bladsy 10]

Probeer om meegevoel te betoon

[Prent op bladsy 11]

As ’n tiener neerslagtig bly, sal dit verstandig wees om ’n dokter te raadpleeg

[Prente op bladsy 12]

As ’n ouer moet jy nie te haastig wees om jouself, jou huweliksmaat of jou tiener die skuld te gee nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel