Op soek na ’n plek wat hulle hulle eie kan noem
“Oos wes, tuis bes.”—John Howard Payne.
EERS was daar die oorlog, ’n oorlog wat nooit geëindig het nie. Toe kom die droogte, ’n droogte wat nooit opgehou het nie. Kort ná die droogte het die hongersnood gekom. En mense het hulle laaste uitweg gekies—hulle het hulle huise verlaat op soek na water, kos en werk.
Duisende het by die grenspos opgedaag. Maar in onlangse jare is ’n miljoen vlugtelinge reeds in die land toegelaat, en die buurland sou nie nog aanvaar nie. Grenspolisie met knuppels het seker gemaak dat niemand deurglip nie.
’n Plaaslike immigrasiebeampte het prontuit die redes verstrek waarom die toenemende instroming van vlugtelinge gekeer word. “Hulle betaal nie belasting nie. Hulle verniel die paaie. Hulle kap die bome af. Hulle gebruik al die water op. Nee, ons wil nie nog vlugtelinge hê nie.”a
Sulke tragiese tonele word alte dikwels gesien. Ontworteldes vind dat dit al hoe moeiliker is om ’n plek te vind wat hulle hulle eie kan noem. “Namate die aantal mense wat beskerming soek, toegeneem het, het state ook al hoe onwilliger geword om daardie beskerming te verleen”, verduidelik ’n onlangse verslag deur Amnestie Internasionaal.
Die gelukkiges wat dit wel regkry om ’n vlugtelingkamp te bereik, vind dalk ’n mate van veiligheid, maar dit voel selde soos hulle huis. En die omstandighede in die kamp is dalk alles behalwe ideaal.
Lewe in die vlugtelingkampe
“[By die huis] sterf jy miskien weens ’n koeël, maar hier [in die vlugtelingkamp] sal jou kinders van die honger omkom”, het een vlugteling in Afrika gekla. Soos hierdie desperate vader uitgevind het, is daar in baie kampe ’n voortdurende tekort aan kos en water, sowel as ’n gebrek aan higiëniese toestande en voldoende blyplek. Die redes is eenvoudig. Ontwikkelende lande wat skielik deur duisende vlugtelinge oorval word, sukkel dalk reeds net om hulle eie burgers te voed. Hulle kan nie baie doen om die menigtes te help wat skielik by hulle grense opdaag nie. En die ryker lande, wat hulle eie probleme het, is moontlik onwillig om die baie vlugtelinge in ander lande te help onderhou.
Toe meer as tweemiljoen mense in 1994 uit een Afrikaland gevlug het, het die haastig geboude vlugtelingkampe uiteraard nie genoeg water en behoorlike sanitêre geriewe gehad nie. Gevolglik is duisende aan cholera dood voordat dit uiteindelik onder beheer gebring is. Om sake te vererger, het gewapende soldate tussen die burgerlike vlugtelinge gebly en gou die verspreiding van noodlenigingsvoorrade oorgeneem. Dit was nie ’n geïsoleerde geval nie. “Die teenwoordigheid van gewapende elemente onder vlugtelingbevolkings het burgerlikes aan meer gevare blootgestel. Dit het hulle kwesbaar gemaak vir intimidasie, teistering en gedwonge werwing”, sê ’n verslag deur die Verenigde Nasies.
Plaaslike inwoners ly moontlik ook as gevolg van die geweldige instroming van honger vlugtelinge. Party amptenare in die gebied van die Groot Mere in Afrika het gekla: “[Die vlugtelinge] het ons voedselreserwes uitgeput, ons landerye vernietig, ons vee doodgemaak, ons natuurreservate verwoes, hongersnood veroorsaak en epidemies versprei . . . [Hulle] vind baat by voedselbystand, terwyl ons niks kry nie.”
Maar die neteligste probleem is die feit dat talle tydelike vlugtelingkampe op die ou end permanente nedersettings word. In een land in die Midde-Ooste is daar byvoorbeeld sowat 200 000 vlugtelinge in ’n kamp ingeprop wat oorspronklik vir ’n kwart van daardie getal gebou is. “Ons het geen heenkome nie”, het een van hulle wanhopig gesê. Hierdie vlugtelinge wat al lank ly, het te kampe met streng beperkings op werksgeleenthede in hulle nuwe land, en daar word gereken dat tot 95 persent werkloos is of te min werk het. “Ek weet werklik nie hoe [hulle] die pot aan die kook hou nie”, het ’n vlugtelingbeampte erken.
Maar as toestande in die vlugtelingkampe sleg klink, is dit dalk selfs erger vir die ontworteldes wat nie hulle eie land kan verlaat nie.
Die ellende van ontworteling
Volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge “het die skaal en omvang van hierdie probleem, die menselyding wat daartoe aanleiding gee, sowel as die impak wat dit op internasionale vrede en veiligheid het, die ontworteling van mense binne hulle landsgrense tereg ’n groot internasionale kwessie gemaak”. Om verskeie redes is hierdie haweloses gewoonlik kwesbaarder as vlugtelinge.
Geen internasionale organisasie sien om na die welsyn van ontworteldes nie, en hulle ellendige toestand kry selde enige aandag in die media. Hulle eie regerings, wat in die een of ander militêre konflik gewikkel is, is dalk onwillig of nie in staat om hulle te beskerm nie. Gesinne word dikwels geskei wanneer hulle uit die gevaarsones vlug. Omdat hulle baie maal geen ander keuse het as om te voet te reis nie, oorleef party ontworteldes nie eers die lang tog na ’n veiliger plek nie.
Baie van hierdie ontworteldes vlug na die stede toe, waar hulle in krotbuurte of verlate geboue ’n karige bestaan moet voer. Ander bly in tydelike kampe, wat soms onder gewapende aanvalle deurloop. Die sterftesyfer onder hulle is gewoonlik hoër as dié van enige ander groep in die land.
Selfs welmenende noodlenigingspogings wat georganiseer word om die lyding van hierdie ontworteldes te verlig, kan boemerang. The State of the World’s Refugees 2000 verduidelik: “Gedurende die laaste dekade van die 20ste eeu het humanitêre organisasies in oorloggeteisterde lande duisende lewens gered en baie gedoen om menselyding te verlig. Maar een van die belangrikste lesse van die dekade was dat humanitêre optrede in konfliksituasies baie maklik deur strydende partye gemanipuleer kan word, en as ’n onbedoelde gevolg kan dit die posisie versterk van die magte wat vir die skending van menseregte verantwoordelik is. Noodlenigingsvoorrade wat deur humanitêre organisasies voorsien word, kan ook die oorlogsekonomie versterk, wat help om die oorlog te steun en uit te rek.”
Die soeke na ’n beter lewenstyl
Benewens vlugtelinge en mense wat in hulle eie land ontwortel is, is daar al hoe meer ekonomiese vlugtelinge. Daar is verskeie redes hiervoor. Die kloof tussen die ryk en die arm lande van die wêreld word al hoe groter, en televisieprogramme spog daagliks met die weelderige lewenstyle van sekere lande by van die armste mense in die wêreld. ’n Mens kan nou makliker om die wêreld reis en grense oorsteek. Burgeroorloë sowel as etniese en godsdiensdiskriminasie dien ook as ’n kragtige aansporing vir mense om na welvarender lande te verhuis.
Maar hoewel party emigrante—veral dié wat reeds familielede in nywerheidslande het—suksesvol verhuis, verwoes ander uiteindelik hulle lewe. Diegene wat in die hande van kriminele handelaars val, stel hulle veral aan baie gevare bloot. (Sien die bygaande vensters.) Dit sal goed wees as ’n gesin hierdie gevare noukeurig oorweeg voordat hulle om ekonomiese redes emigreer.
In 1996 het ’n ou boot in die Middellandse See omgeslaan, en 280 mense het verdrink. Die slagoffers was emigrante van Indië, Pakistan en Sri Lanka wat tussen R50 000 en R70 000 vir hulle reis na Europa betaal het. Voor hulle skipbreuk gely het, was hulle alreeds weke lank honger en dors en is hulle fisies mishandel. Hulle “reis na voorspoed” het in ’n nagmerrie ontaard wat op ’n tragedie uitgeloop het.
Feitlik elke vlugteling, ontwortelde of onwettige immigrant het sy eie nagmerrie om te vertel. Om watter rede hierdie mense ook al uit hulle huise gevlug het—hetsy dit weens oorlog, vervolging of armoede is—hulle lyding laat die vrae ontstaan: Sal hierdie probleem ooit opgelos word? Of sal die eindelose stroom vlugtelinge net bly toeneem?
[Voetnoot]
a Die bogenoemde voorval het hom in Maart 2001 in ’n Asiatiese land afgespeel. Maar soortgelyke probleme het ook in party Afrikalande ontstaan.
[Venster/Prent op bladsy 8]
Die benarde situasie van onwettige immigrante
Buiten vlugtelinge en ontworteldes is daar tussen 15 miljoen en 30 miljoen “onwettige immigrante” regoor die wêreld. Die meeste van hulle is mense wat na ryker lande gaan in die hoop om armoede—en miskien ook vooroordeel en vervolging—te ontvlug.
Aangesien die moontlikheid vir wettige immigrasie in onlangse jare afgeneem het, het ’n nuwe soort onwettige handel in immigrante ontstaan. Trouens, die handel in immigrante het nou ’n winsgewende bedryf vir internasionale misdaadsindikate geword. Party speurders meen dat dit winste van R104 miljard per jaar oplewer, sonder dat dit veel gevaar vir die handelaars inhou. Pino Arlacchi, ’n ondersekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het dit “die snelgroeiendste misdaadmark in die wêreld” genoem.
Onwettige immigrante het feitlik geen wetlike beskerming nie, en hulle paspoorte word sonder uitsondering deur die handelaars gekonfiskeer. Sulke immigrante werk dalk in fabrieke wat net ’n hongerloon betaal, as huishulpe, in die visbedryf of as plaaswerkers. Party word uiteindelik prostitute. As hulle deur die owerheid gevang word, sal hulle waarskynlik sonder enige geld na hulle vaderland teruggestuur word. As hulle teen hulle moeilike werksomstandighede beswaar maak, kan hulle geslaan of seksueel misbruik word of word hulle gesinne in hulle vaderland selfs met geweld gedreig.
Misdaadbendes lok dikwels potensiële immigrante deur vir hulle goed besoldigde betrekkings te belowe. Gevolglik verpand ’n arm gesin dalk al hulle besittings om net een gesinslid na Europa of die Verenigde State te stuur. As die immigrant nie sy uitgawes kan betaal nie, word daar van hom verwag om die skuld in te werk, wat tot R346 000 kan wees. Die ‘nuwe lewe’ wat hy belowe is, is op die ou end meer soos slawearbeid.
[Prent]
Onwettige vlugtelinge in Spanje
[Venster/Prent op bladsy 9]
Haar onskuld is vernietig
Siri se gesin het in die heuwels van Suidoos-Asië gewoon, waar haar ouers hulle ryslande bewerk het. Eendag het ’n vrou vir haar ouers gesê dat sy vir Siri ’n goed besoldigde werk in die stad kon kry. Haar aanbod van ongeveer R17 000—’n klein fortuin vir die boere in die heuwels—was moeilik om van die hand te wys. Siri het egter kort voor lank as ’n slaaf in ’n bordeel gewerk. Haar eienaars het vir haar gesê dat sy hulle R70 000 moes terugbetaal om haar vryheid te verdien. Siri was toe 15 jaar oud.
Dit was onmoontlik vir Siri om hierdie skuld af te betaal. Sy is geslaan en seksueel misbruik om haar samewerking te gee. So lank as wat sy nuttig was, sou sy nooit vrygelaat word nie. Die harde werklikheid is dat baie van hierdie prostitute uiteindelik vrygelaat word—maar net sodat hulle na hulle dorpies kan terugkeer om aan vigs te sterf.
’n Soortgelyke bedryf floreer in ander dele van die wêreld. ’n Verslag vir 1999 met die titel International Trafficking in Women to the United States het geskat dat daar elke jaar met tussen 700 000 en 2 000 000 vroue en kinders handel gedryf word, baie van hulle vir prostitusie. Party word moontlik bedrieg, ander word eenvoudig ontvoer; maar feitlik almal van hulle word gedwing om teen hulle sin te werk. ’n Tiener van Oos-Europa wat uit die hande van ’n prostitusiebende gered is, het van haar ontvoerders gesê: “Ek het nooit gedink dat dit moontlik is nie. Hierdie mense is soos diere.”
Party ongelukkige slagoffers is selfs uit vlugtelingkampe geneem, waar beloftes van werksgeleenthede en baie geld in Europa of die Verenigde State onweerstaanbaar kan wees. Vir tallose vroue het die soeke na ’n beter lewe hulle in seksuele slawerny laat beland.
[Venster/Prente op bladsy 10]
Bereken die koste voordat jy om ekonomiese redes emigreer
Omdat daar baie misdaadbendes is wat handeldryf met emigrante en dit moeilik is om wettig na lande van die ontwikkelde wêreld te emigreer, moet mans en vaders die volgende vrae noukeurig oorweeg voordat hulle ’n besluit neem.
1. Is ons ekonomiese situasie werklik so sleg dat ’n gesinslid of die hele gesin na ’n land moet trek waar hoër lone betaal word?
2. Hoeveel skuld sal ons maak om vir die reis te betaal, en hoe gaan ons die skuld afbetaal?
3. Is dit die moeite werd om die gesin te skei weens ekonomiese voordele wat dalk onrealisties kan wees? Talle onwettige immigrante vind dit feitlik onmoontlik om ’n vaste werk in ontwikkelde lande te kry.
4. Moet ek die stories glo oor hoë lone en maatskaplike voordele? Die Bybel sê “die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe”.—Spreuke 14:15.
5. Watter waarborg het ek dat ons ons nie in die hande van ’n misdaadorganisasie sal laat beland nie?
6. As so ’n misdaadgroep wel die reis gereël het, besef ek dat my vrou—of my dogter—heel moontlik gedwing kan word om as ’n prostituut te werk?
7. As ek ’n land as ’n onwettige immigrant binnegaan, besef ek dat ek miskien nie ’n vaste werk sal kan kry nie en dalk teruggestuur kan word en sodoende al die geld kan verloor wat ek aan die reis bestee het?
8. Wil ek dit oorweeg om ’n onwettige immigrant te word of om oneerlik te wees sodat ek toegang tot ’n ryker land kan verkry?—Matteus 22:21; Hebreërs 13:18.
[Diagram/Kaart op bladsye 8, 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Beweging van vlugtelinge en trekarbeiders
Gebiede met ’n groot bevolking vlugtelinge en ontworteldes
→ Vernaamste beweging van trekarbeiders
[Erkennings]
Bronne: The State of the World’s Refugees; The Global Migration Crisis; and World Refugee Survey 1999.
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 7]
’n Vlugteling wag om hervestig te word
[Erkenning]
UN PHOTO 186226/M. Grafman