Die troudag—Gelukkig maar veeleisend
DIE Bybel toon dat Jehovah God —wat mense beter as enigiemand anders ken—die eerste huwelik voltrek het. Hy het die huwelik ingestel as die basiese grondslag van die mensegemeenskap (Genesis 2:18-24). En in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, vind ons verskeie beginsels wat ons kan help wanneer ons ’n troue beplan.
Jesus het byvoorbeeld gesê dat Christene ‘aan die keiser moet terugbetaal wat aan die keiser behoort’ (Matteus 22:21). Hulle moet dus aan die wette van die land gehoorsaam wees. ’n Huwelik wat aan wetlike vereistes voldoen, beskerm die betrokke partye op baie maniere, soos om die verantwoordelikhede teenoor die kinders (insluitende onderhoud en opvoeding) en die reg op ’n erfporsie te omskryf. Daar is ook wette wat bedoel is om gesinslede teen mishandeling en uitbuiting te beskerm.a
Die voorbereidings
Wat is party van die dinge waaraan praktiese oorweging gegee moet word wanneer ’n paartjie besluit het om te trou en daar vasgestel is dat die huwelik aan Bybelwette en -beginsels sowel as die vereistes van die landswette sal voldoen? Hierby ingesluit is die datum en die soort huwelikseremonie wat verlang word.
“Miskien stem die paartjie se idees nie heeltemal met die ouers s’n ooreen nie, en hulle vind dit dalk moeilik om te kies tussen presies wat hulle wil hê en die familietradisies”, sê een boek oor die onderwerp. Wat kan gedoen word? “Daar is nie ’n maklike oplossing hiervoor nie, behalwe om taktvol te luister, oor probleme te gesels en tegemoetkomend te wees. Dit is ’n emosionele tyd vir almal, en ’n bietjie vooruitbeplanning en begrip kan baie daartoe bydra om die reëlings vlotter te laat verloop.”—The Complete Wedding Organiser and Record.
Alhoewel liefdevolle ouers baie kan doen om te verseker dat die dag ’n sukses is, moet hulle die versoeking weerstaan om hulle eie wense op die paartjie af te dwing. Aan die ander kant moet die bruid en bruidegom na welmenende raad luister, al word die finale besluite deur hulle geneem. Wanneer die paartjie besluit watter voorstelle om te aanvaar, sal dit goed wees as hulle die volgende Bybelraad in gedagte hou: “Alles is geoorloof, maar nie alles is voordelig nie. Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie. Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:23, 24.
Voorbereidings sluit verskillende dinge in, van uitnodigings wat uitgestuur moet word tot die onthaal wat gereël moet word. “Hoe meer georganiseerd hierdie voorbereidings is, en hoe beter jy beplan, hoe minder uitgeput en gespanne sal jy wees”, sê H. Bowman in sy boek Marriage for Moderns. “Onder die beste omstandighede”, waarsku hy, “sal ’n mens dalk ietwat uitgeput raak, en dit is verstandig om alles moontlik te doen om dit tot ’n minimum te beperk.”
Reëlings moet getref word en gaste moet onthaal word. Kan vriende of familielede hulle beskikbaar stel om te help? Kan van die dinge wat die bruid en bruidegom nie noodwendig self hoef te doen nie, aan ander verantwoordelike persone gedelegeer word?
Die uitgawes
’n Redelike begroting is noodsaaklik. Dit is nie redelik of liefdevol om te verwag dat ’n paartjie of hulle ouers skuld moet maak om vir ’n troue te betaal wat hulle nie kan bekostig nie. Baie wat ’n swieriger troue kan bekostig, verkies nog steeds om dit eenvoudig te hou. Hoe dit ook al sy, sommige paartjies het dit nuttig gevind om ’n lys te hê van geraamde en werklike uitgawes. Dit kan ook nuttig wees om ’n lys te hê van sperdatums vir alles wat gereël moet word. Om sperdatums te probeer onthou, sal heel waarskynlik spanningsvol wees.
Hoeveel sal die troue kos? Pryse verskil van plek tot plek, maar ongeag waar julle woon, dit sal verstandig wees om julle af te vra: ‘Kan ons alles bekostig waarvoor ons beplan het? Is dit werklik nodig?’ Tina, ’n bruid, het gesê: “Party dinge wat ‘onontbeerlik’ gelyk het, was op die ou end onnodig.” Let op wat Jesus gesê het: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). As jy nie alles kan bekostig wat jy graag wil hê nie, moet jy iets uitlos. Selfs al kan jy meer bekostig, sal jy dalk nog steeds jou troue eenvoudig wil hou.
By ’n skou in Italië waar dienste en produkte vir troues geadverteer is, is ’n paar benaderde syfers aangegee van hoeveel die tipiese Italiaanse bruid moontlik sal bestee. Grimering en hare, R4 000; die huur van ’n luuksemotor, R2 700; ’n video-opname van die dag, R5 500; ’n fotoalbum (foto’s uitgesluit), R1 150-R4 550; blomme, vanaf R5 500; onthaal, R400-R800 per persoon; trourok, oor die R11 000. Aangesien dit so ’n belangrike geleentheid is, is dit te verstane dat ’n mens iets spesiaals wil doen. Maar wat ook al besluit word, dit moet met balans gedoen word.
Hoewel party ’n fortuin bestee, is ander heel tevrede om spaarsaam te werk te gaan—of, hulle doen dit omdat hulle geen ander keuse het nie. “Ons was albei pioniers [voltydse evangeliedienaars], en ons het nie geld gehad nie, maar dit het nie saak gemaak nie”, het een bruid gesê. “My skoonma het materiaal gekoop vir die rok, wat ’n vriendin as ’n trougeskenk vir my gemaak het. My man het die uitnodigings met die hand geskryf, en ’n Christenvriend het vir ons ’n motor geleen. Ons het alles wat vir die onthaal nodig was, gekoop, en iemand het vir ons wyn gegee. Dit was niks uitspattigs nie, maar ons was tevrede daarmee.” Volgens een bruidegom “word uitgawes grootliks besnoei” as familielede en vriende praktiese hulp verleen.
Wat Christenpaartjies se finansiële situasie ook al is, hulle sal enige oordadighede, wêreldsheid of spoggerige vertoon wil vermy (1 Johannes 2:15-17). Hoe hartseer sou dit tog wees as ’n gelukkige geleentheid soos ’n troue veroorsaak dat iemand nie by skriftuurlike beginsels van matigheid bly nie, wat teen oormatige etery en drinkery of enigiets anders waarsku wat kan maak dat ’n mens nie as “onberispelik” beskou word nie!—Spreuke 23:20, 21; 1 Timoteus 3:2.
Vermy die neiging om ’n groter en beter troue as ander te probeer hê. Neem byvoorbeeld die uitspattige sluiers wat twee bruide in een land gedra het—een sluier was 13 meter in deursnee en het ongeveer 220 kilogram geweeg; die ander een was 300 meter lank en moes deur 100 strooimeisies gedra word. Sal dit in ooreenstemming met die Bybel se raad oor redelikheid wees om so ’n uitspattige vertoon na te volg?—Filippense 4:5.
Moet tradisie gevolg word?
Bruilofstradisies verskil van land tot land, daarom is dit onmoontlik om op almal kommentaar te lewer. Wanneer die paartjie besluit of hulle ’n sekere gebruik gaan volg, sal dit goed wees as hulle hulle afvra: ‘Wat is die betekenis daarvan? Hou dit verband met ’n bygeloof waardeur iemand geluk of vrugbaarheid toegewens word—soos om die pasgetroudes met rys te bestrooi? Hou dit verband met valse godsdiens of ander gebruike wat deur die Bybel veroordeel word? Is dit onredelik of liefdeloos? Kan dit ander in die verleentheid stel of laat struikel? Kan dit twyfel laat ontstaan oor die paartjie se motiewe? Getuig dit van swak smaak?’ As daar twyfel bestaan oor enige van hierdie punte, sal dit beter wees om daardie tradisie te vermy en, indien nodig, die gaste voor die tyd oor die besluit in te lig.
Vreugde en emosie
Emosies op die groot dag kan wissel van opgewondenheid tot trane. “Die vreugde was so groot, dit het gevoel soos ’n droom wat bewaarheid word”, sê een bruid. Maar ’n bruidegom sê: “Dit was die ergste maar ook die beste dag van my lewe. My skoonouers het verskriklik gehuil omdat ek hulle oudste dogter van hulle af wegneem, my vrou was in trane omdat haar ouers gehuil het, en ek het op die ou end ook in trane uitgebars omdat ek dit nie langer kon verduur nie.”
Sulke reaksies moet ’n mens nie skok nie—dit is as gevolg van die spanning. Dit behoort ook nie verbasend te wees as gesinsverhoudinge, selfs tussen die paartjie self, soms ’n bietjie gespanne is nie. “Dit is per slot van rekening waarskynlik die eerste keer dat hulle ’n groot geleentheid saam reël, en die opwinding sal heel moontlik op die een of ander manier ’n uitwerking op hulle verhouding hê”, sê The Complete Wedding Organiser and Record. “Dit help nie om ontsteld te raak omdat dinge nie so goed uitwerk soos julle gehoop het nie; dit sal wondere verrig om op so ’n tyd raad en ondersteuning te vra.”
Een bruidegom het gesê: “Wat ek baie sou waardeer het en tot my ewige spyt nie gehad het nie, is ’n raadgewer wat ek in my vertroue kon neem en met wie ek my innerlike gevoelens kon deel.” Wie kan so ’n rol beter vervul as ’n volwasse vriend of gesinslid of ’n ander ervare persoon in die Christengemeente?
Wanneer ouers sien dat hulle kind die huis verlaat, ervaar hulle dalk ’n mengelmoes van gevoelens: vreugde, trots, nostalgie en angs. Maar hulle moet onselfsugtig wees en besef dat die tyd vir hulle kind aangebreek het om ‘sy vader en sy moeder te verlaat’ en sy maat aan te kleef en om ‘een vlees te word’, soos dit die Skepper se voorneme was (Genesis 2:24). ’n Moeder het die volgende gesê oor haar reaksie toe haar oudste seun getrou het: “Ek het gehuil, maar buiten trane van hartseer, was daar ook trane van vreugde omdat ek ’n waarlik dierbare skoondogter ryker geword het.”
Om die geleentheid aangenaam en opbouend te maak, moet ouers—net soos die bruid en bruidegom—Christelike eienskappe soos samewerking, kalmte, onselfsugtigheid en verdraagsaamheid aan die dag lê.—1 Korintiërs 13:4-8; Galasiërs 5:22-24; Filippense 2:2-4.
Party bruide vrees dat iets heeltemal skeef sal loop op hulle troudag—dat die motor ’n pap wiel sal kry en hulle laat by die seremonie sal opdaag, dat hulle slegte weer sal hê of dat die trourok op die laaste oomblik onherstelbaar beskadig sal word. Dit sal waarskynlik glad nie gebeur nie. Wees egter realisties. Alles kan nie volmaak wees nie. Terugslae moet aanvaar word (Prediker 9:11). Probeer om nie jou sin vir humor te verloor wanneer jy voor moeilikhede te staan kom nie, en behou ’n positiewe uitkyk. As iets sou skeef loop, moet jy onthou dat jy jare later dalk daaroor sal lag wanneer jy die verhaal vertel. Moenie toelaat dat klein teleurstellings die vreugdevolle atmosfeer van die troue bederf nie.
[Voetnoot]
a Verskeie lande verbied byvoorbeeld bigamie, bloedskande, bedrog, huweliksgeweld en dat minderjariges trou.
[Lokteks op bladsy 7]
“Party dinge wat ‘onontbeerlik’ gelyk het, was op die ou end onnodig.”—TINA, ’N BRUID
[Venster/Prent op bladsy 7]
’N VOORBEELD VAN ’N LYS NOODSAAKLIKE VOORBEREIDINGSb
6 maande of langer voor die tyd
❑ Bespreek planne met toekomstige man of vrou, skoonouers en ouers
❑ Besluit op die soort troue wat verlang word
❑ Werk ’n begroting uit
❑ Gaan wetlike vereistes na
❑ Bespreek die plek waar die onthaal gehou gaan word
❑ Reël vir ’n fotograaf
4 maande
❑ Kies (uit die klere wat jy reeds het), koop of maak trouklere
❑ Bestel blomme
❑ Kies en bestel uitnodigings
2 maande
❑ Stuur uitnodigings uit
❑ Koop ringe
❑ Verkry die nodige dokumentasie
1 maand
❑ Pas trouklere aan
❑ Bevestig bestellings en afsprake wat gemaak is
❑ Skryf dankiesêbriewe vir enige geskenke wat alreeds ontvang is
2 weke
❑ Begin persoonlike besittings na nuwe blyplek neem
1 week
❑ Maak seker dat al die helpers weet wat van hulle verwag word
❑ Reël dat enigiets wat gehuur of geleen is, terugbesorg word
❑ Delegeer alles wat jy kan aan ander
[Voetnoot]
b Dit kan na gelang van plaaslike wetlike vereistes en persoonlike omstandighede aangepas word
[Prent op bladsy 8]
“Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie”