Strale van hoop te midde van ’n ramp
“RONDOM MY HET GEBOUE GESKUD EN VLAMME OPGESKIET. TERWYL EK GEHARDLOOP HET, HET MENSE ORAL GEHUIL, GEBID EN OM HULP GEROEP. EK HET GEDINK DIT IS DIE EINDE VAN DIE WÊRELD.”—G. R., OORLEWENDE VAN ’N AARDBEWING.
ELKE jaar stuur miljoene aardbewings trillings deur die kors van ons woelige planeet. Die meeste kan natuurlik nie gevoel word nie.a Tog is gemiddeld 140 aardbewings per jaar ernstig genoeg om as “sterk”, “groot” of “hewig” geklassifiseer te word. Deur die geskiedenis heen het hulle miljoene sterftes en onberekenbare skade aan eiendom veroorsaak.
Aardbewings het ook ’n baie nadelige emosionele uitwerking op oorlewendes. Nadat twee aardbewings El Salvador byvoorbeeld vroeg in 2001 getref het, het die koördineerder van die raadgewende komitee vir geestesgesondheid van daardie land se gesondheidsdepartement gesê: “Mense gaan ’n stadium van sielkundige probleme in wat deur droefheid, wanhoop en woede gekenmerk word.” Dit is geen wonder nie dat daar volgens gesondheidswerkers in El Salvador ’n toename van 73 persent was in die aantal pasiënte wat aan depressie ly en angs ervaar. Trouens, opnames het getoon dat mense in noodlenigingskampe slegs water nodiger gehad het as geestesgesondheidsorg.
Maar die verhaal van aardbewings gaan oor meer as net dood, verwoesting en neerslagtigheid. In baie gevalle het hierdie rampe mense beweeg om buitengewone welwillendheid en selfopoffering te toon. Ja, party het onvermoeid gewerk om beskadigde geboue te herstel en verwoeste lewens weer op te bou. Sulke strale van hoop het ondanks die haglikste toestande geskyn, soos ons sal sien.
[Voetnoot]
a Dit sluit uiters geringe aardbewings in, waarvan daar elke dag duisende voorkom.
[Prente op bladsy 2, 3]
Bladsye 2 en 3: In Atene, Griekeland, besef ’n ontstelde jong vrou dat haar moeder vasgekeer is in ’n gebou wat inmekaargestort het. Intussen is ’n vader verheug om te vind dat sy vyfjarige dogtertjie gered is
[Erkenning]
AP Photos/Dimitri Messinis