’n Behoefte wat ons almal het
JY HET KOS NODIG. Jy het water nodig. Jy het lug nodig. Jy het skuiling en beskutting teen die elemente nodig. Dit is nie net elke mens wat hierdie behoeftes het nie, maar ook miljarde ander lewende wesens op hierdie planeet. Daar is egter een behoefte wat eie is aan die mens. Wat is dit?
Die Kanadese sosioloog Reginald W. Bibby het geskryf: “Mense het behoeftes wat net deur godsdiens bevredig kan word.” En die tydskrif American Sociological Review het in sy uitgawe van Februarie 2000 ’n artikel gepubliseer wat gesê het: “Geestelike belange sal waarskynlik altyd deel van die mens se denke wees.”
Ja, mense het deur die geskiedenis heen nog altyd ’n behoefte daaraan om te aanbid. Eeue lank al wend die meeste hulle tot georganiseerde godsdiens om daardie behoefte te vervul. Maar dinge is aan die verander. In talle nywerheidslande—soos Noord-Amerika en Noord-Europa—verlaat al hoe meer mense hulle kerke. Dui hierdie tendens aan dat die einde van godsdiens in sig is? Glad nie.
“Berigte oor die einde van godsdiens word grootliks oordryf”, sê die Sweedse koerant Svenska Dagbladet. Waardeur word die tradisionele kerke dan vervang? Die koerant gaan voort: “Die nuwe tendens is dat ons aan geen kerk behoort nie. Ons kan eerder kies en keur en uit die wêreldwye godsdiensmark ’n aanvaarbare mengsel saamstel. . . . Dit kan enigiets insluit van kristalle wat genesende krag het tot die mantel van ’n Boeddhistemonnik. Wanneer jy moeg word vir wat jy gekies het, kan jy sonder veel moeite en soos dit jou pas, na iets anders oorskakel.”
Navorsers van godsdienssosiologie verwys na hierdie tendens as “persoonlike godsdiens” of “onsigbare godsdiens”. Die sosioloog Bibby, wat vroeër aangehaal is, het die uitdrukking “a la carte-godsdiens” geskep. Ander sê dat sulke gelowe “na die individu se smaak” is. In party tradisionele Christenlande bestaan die grootste godsdiensgroep nou uit mense wat eintlik hulle eie persoonlike godsdiens het.
Kyk byvoorbeeld na die resultate van ’n opname wat gedoen is in Swede, een van die wêreld se mees gesekulariseerde lande. Die opname het getoon dat 2 uit 3 mense hulleself as Christene “op hulle eie persoonlike manier” beskou het. Party het gesê: “Ek het my eie beskouing van die Christelike geloof”, “Ek voel ongemaklik in die kerk”, “Ek hou nie daarvan om kerk toe te gaan en na die priesters te luister nie” of “Ek kan in my binnekamer ingaan en op my eie bid.” Baie het aan reïnkarnasie of die noodlot geglo. Die meeste het gesê hulle glo dat die een of ander goddelike krag dalk bestaan, maar dat hulle dit nie kon definieer nie.
’n Ander opname het gevind dat baie mense alleenlik bewus is van God wanneer hulle buite is en die aarde se natuurskoon geniet. ’n Jong vrou wat boer, het gesê: “Ek dink ’n mens is die naaste aan God wanneer jy daarbuite in die natuur is.” ’n Ander respondent wat homself nie as godsdienstig beskou nie, het verduidelik: “Wanneer ek in die woud is, voel dit of ek in ’n groot tempel is. . . . Ek weet nie wie daaroor toesig hou nie, maar ek kan dit aanvoel.” Sommige het die natuur as heilig, goddelik en ontsagwekkend beskryf en gesê dat dit hulle hernieude krag, vrede en gemoedsrus gee wanneer hulle daarin is. Een ondervraer het ter opsomming van sy verslag gesê: “God het na die woud verhuis.”
Hierdie tendens kan vandag in baie wêrelddele gesien word. Thomas Luckmann, ’n Amerikaanse spesialis op die gebied van godsdienssosiologie, het gesê dat kerkgeoriënteerde godsdiens in die industriële samelewing opsy gestoot word en deur ’n “soort maatskaplike godsdiens” vervang word. Die individu vorm in werklikheid ’n lewensfilosofie deur idees oor geestelike sake uit te kies en dit dan te kombineer en sy eie persoonlike godsdiens daarvan te maak.
Jy wonder dalk: ‘Speel die gevestigde godsdienste en kerke werklik ’n al hoe kleiner rol in ons samelewing? Indien wel, waarom?’ Hierdie vrae word in die volgende artikel bespreek.
[Prent op bladsy 3]
In ’n kommentaar oor die onlangse tendens om geestelikheid in die natuur te soek, het ’n navorser gesê: “God het na die woud verhuis”