Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/07 bl. 4-7
  • Wat gebeur met die kerke?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat gebeur met die kerke?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Europa draai sy rug op die kerke
  • Die bemarking van godsdiens in Noord-Amerika
  • Godsdiens—Watter nut het dit?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Kommer in die Latyns-Amerikaanse Kerk—Waarom breek miljoene weg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom verlaat mense tradisionele godsdienste?
    Ontwaak!—2002
  • Die kerke—Waarheen is hulle op pad?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 2/07 bl. 4-7

Wat gebeur met die kerke?

LATYNS-AMERIKANERS, van Mexiko in die noorde tot Chili in die suide, het baie in gemeen wat kultuur betref. Ouer Latyns-Amerikaners kan die tyd onthou toe daar basies net een godsdiens was, Rooms-Katolisisme. In die 16de eeu het Spaanse veroweraars dit met wapengeweld afgedwing. In Brasilië was die koloniale mag Rooms-Katolieke Portugal. Die Katolieke Kerk het 400 jaar lank die heersende regerings ondersteun in ruil vir ekonomiese ondersteuning en erkenning as die amptelike godsdiens.

Maar in die 1960’s het party Katolieke priesters besef dat steun aan die heersende elite tot die verlies van volksteun lei. Hulle het hulle vir die armes begin beywer deur veral die bevrydingsteologie, soos dit genoem is, te bevorder. Hierdie beweging het in Latyns-Amerika begin as ’n protes teen armoede, waarin so baie Katolieke gedompel was.

Ten spyte van die geestelikes se betrokkenheid by die politieke bewegings van die volk het miljoene mense die Katolieke geloof verlaat en by ander kerke aangesluit. Kerke wat dienste hou waar mense hande klap, gesange met groot emosie sing of waar daar ’n atmosfeer soos dié van ’n rockkonsert is, het gegroei en vermenigvuldig. “Die Evangeliese beweging in Latyns-Amerika is verdeel in tallose afsonderlike Kerke”, sê Duncan Green, in sy boek Faces of Latin America. “Dikwels is dit die persoonlike instrument van ’n enkele pastoor. Wanneer ’n gemeente groei, sal dit dikwels afsplinter en nuwe Kerke vorm.”

Europa draai sy rug op die kerke

Die grootste deel van Europa is meer as 1 600 jaar lank onder die heerskappy van regerings wat beweer dat hulle Christelik is. Floreer godsdiens in Europa namate ons dieper in die 21ste eeu ingaan? In 2002 het sosioloog Steve Bruce, in sy boek God is Dead—Secularization in the West, aangaande Brittanje gesê: “In die negentiende eeu het byna almal in die kerk getrou.” Maar teen 1971 het slegs 60 persent van Engelse troues in die kerk plaasgevind. In 2000 was dit net 31 persent.

Die godsdienskorrespondent van Londen se Daily Telegraph het oor hierdie tendens kommentaar gelewer en geskryf: “Al die hoofstroomkerke, van die Anglikaanse en die Rooms-Katolieke Kerk tot die Metodistekerk en Verenigde Gereformeerde Kerke, ondervind ’n langtermynafname.” Hy het aangaande een verslag gesê: “Brittanje se Kerke sal teen 2040 aan die uitsterf wees met net twee persent van die bevolking wat dienste op ’n Sondag bywoon.” Soortgelyke opmerkings is al oor godsdiens in Nederland gemaak.

’n Verslag deur die Nederlandse Kantoor vir Maatskaplike en Kulturele Beplanning het gesê: “Dit lyk definitief asof ons land in onlangse dekades meer sekulêr geword het.” “Teen 2020 sal 72% van die bevolking na verwagting hoegenaamd geen godsdiensverband hê nie.” ’n Duitse nuusbron sê: “Al hoe meer Duitsers wend hulle tot toorkuns en die okkulte om die vertroosting te kry wat hulle eens op ’n tyd in kerke, hulle werk en gesin gevind het. . . . Kerke regoor die land moet noodgedwonge hulle deure sluit omdat hulle nie gemeentes het nie.”

Diegene in Europa wat nog kerk toe gaan, doen dit gewoonlik nie om uit te vind wat God van hulle vereis nie. ’n Berig uit Italië sê: “Italianers pas hulle godsdiens aan by hulle lewenstyl.” Een sosioloog in Italië sê: “Ons neem van die Pous wat ons ook al pas.” Dieselfde kan gesê word van Katolieke in Spanje, waar godsdienstigheid vervang is deur verbruikerisme en die soeke na ’n ekonomiese paradys—wat hulle nou dadelik wil hê.

Hierdie tendense vorm ’n skerp teenstelling met die Christelike godsdiens wat Christus en sy volgelinge bekend gemaak en self beoefen het. Jesus het nie “kafeteria”- of “buffet”-godsdiens aangebied, waar ’n mens kan uitsoek waarvan jy hou en verwerp waarvan jy nie hou nie. Hy het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.” Jesus het mense geleer dat die Christelike lewenswyse persoonlike opoffering en inspanning verg.—Lukas 9:23.

Die bemarking van godsdiens in Noord-Amerika

In teenstelling met die situasie in Kanada—waar waarnemers sê dat mense geneig is om skepties oor godsdiens te wees—is die tendens in die Verenigde State dat mense godsdiens ernstig opneem. Volgens party vername meningspeilingsmaatskappye beweer ’n hele 40 persent van respondente dat hulle elke week kerk toe gaan, hoewel die bywoningsyfers daarop dui dat die getal nader aan 20 persent is. Meer as 60 persent sê hulle glo dat die Bybel God se Woord is. Maar hulle entoesiasme vir ’n sekere kerk kan van korte duur wees. Baie kerkgangers in die Verenigde State verander maklik van godsdiens. As ’n prediker sy gewildheid of charisma verloor, kan hy gou sy gemeente verloor—en dikwels ook ’n aansienlike inkomste!

Party kerke bestudeer sakemetodes om te leer hoe hulle hulle kerkdienste beter kan “bemark”. Gemeentes betaal duisende rande om firmas te huur wat raad aan kerke gee. Volgens ’n berig oor sulke firmas het een tevrede pastoor gesê: “Dit was ’n uitstekende belegging.” Megakerke, wat duisende gemeentelede het, doen finansieel so goed dat hulle die aandag trek van saketydskrifte en -koerante, soos The Wall Street Journal en The Economist. Hulle berig dat dit kenmerkend van megakerke is om ’n “‘eenstopdiens’ vir liggaam en siel” te bied. Kerkkomplekse bestaan dalk uit restaurante, kafees, skoonheidsalonne, saunas en sportfasiliteite. Aantreklikhede sluit teaters, besoekende beroemdes en kontemporêre musiek in. Maar wat leer die predikante die mense?

Dit is nie verbasend dat ‘die evangelie van welvaart’ ’n gewilde tema is nie. Daar word vir gelowiges vertel dat hulle ryk en gesond sal wees as hulle milddadige bydraes aan hulle kerk gee. Wanneer dit by sedes kom, word God dikwels as verdraagsaam uitgebeeld. ’n Sosioloog sê: “Amerikaanse kerke is terapeuties, nie veroordelend nie.” Gewilde godsdienste fokus gewoonlik op selfhelpwenke vir ’n suksesvolle lewe. Mense voel al hoe gemakliker in kerke sonder ’n bepaalde geloofsbelydenis, waar leerstellings, wat as verdelend beskou word, beswaarlik genoem word. Maar daar word dikwels duidelik en spesifiek oor die politiek gepraat. Waar dit in onlangse gevalle gebeur het, is party geestelikes in die verleentheid gestel.

Is daar ’n herlewing van godsdiens in Noord-Amerika? In 2005 het die tydskrif Newsweek berig gelewer oor die gewildheid van “dienste waar mense skreeu, flou val en voete stamp” sowel as ander godsdienstige gebruike wat gewild is, maar dit het gesê: “Wat ook al hier aan die gang is, dit is nie ’n toestroming van mense na die kerk nie.” In opnames waarin mense gevra word om hulle kerkverband te gee, is die kategorie wat die vinnigste groei “Geen”. Sekere gemeentes groei slegs omdat ander krimp. “Hordes” mense verlaat glo tradisionele godsdienste met hulle seremonies, orrelmusiek en geestelikes in ampsgewade.

In ons kort bespreking het ons gesien dat kerke in Latyns-Amerika versplinter, dié in Europa hulle gemeentes verloor en dié in die Verenigde State hulle ondersteuning behou deur vermaak en opwinding aan te bied. Daar is natuurlik baie uitsonderings op hierdie algemene tendense, maar oor die algemeen sukkel kerke om hulle gewildheid te behou. Beteken dit dat die Christelike godsdiens sy invloed verloor?

[Venster/Prent op bladsy 6]

‛DIE GODSDIENSSUPERMARK’

Die direkteur van die Nasionale Beroepsdiens van die Franse Katolieke Kerk het volgens berig gesê: “Mense beskou godsdiens deesdae as ’n supermark. Hulle stel ’n godsdiens op die proef, en as hulle nie daarmee saamstem nie, gaan hulle na ’n ander een.” Professor Grace Davie van die Exeter-universiteit in Brittanje het in ’n studie van Europese godsdiens gesê: “Mense ‘kus en keur’ bloot uit die verskeidenheid wat aangebied word. Godsdiens het, soos baie ander dinge, die wêreld van keuses, lewenstyle en voorkeure betree.”

[Prent op bladsy 4, 5]

Graffiti op die ingang van ’n kerk, Napels, Italië

[Erkenning]

©Doug Scott/age fotostock

[Prent op bladsy 4, 5]

In Mexiko het baie mense die Katolieke geloof verlaat

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel