Polisiebeskerming—Hoop en vrese
VROEG in die 19de eeu was baie mense in Engeland gekant teen voorstelle vir ’n professionele polisiemag in uniform. Hulle het gevrees dat ’n gewapende mag in die hande van die nasionale regering hulle vryheid kan bedreig. Party was bang dat hulle uiteindelik dieselfde soort netwerk van polisiespioene soos die Franse onder Joseph Fouché sou hê. Maar hulle moes hulle noodgedwonge afvra: ‘Wat sal ons sonder ’n polisiemag doen?’
Londen het die grootste en rykste stad in die wêreld geword; misdaad was aan die toeneem en dit het handelsbedrywighede bedreig. Nie die vrywillige nagwagte of die professionele diewevangers, die privaat gefinansierde Bow Street-speurders, was opgewasse om mense en hulle eiendom te beskerm nie. Clive Emsley sê in sy boek The English Police: A Political and Social History: “Mense het al hoe meer begin voel dat misdaad en wanorde nie in ’n beskaafde gemeenskap hoort nie.” Londenaars het dus op die beste gehoop en het ten gunste van ’n professionele polisiemag onder leiding van sir Robert Peela besluit. In September 1829 het konstabels van die Metropolitaanse Polisie, wat in uniforms uitgerus was, hulle rondtes begin doen.
Van die begin van hulle hedendaagse geskiedenis af het die kwessie in verband met die polisie hoop en vrees laat ontstaan—die hoop dat hulle sekuriteit sou bied en die vrees dat hulle dalk hulle mag sou misbruik.
Die ontstaan van die Amerikaanse polisie
In die Verenigde State was New York die eerste stad wat ’n professionele polisiemag gehad het. Namate die stad se rykdom vermeerder het, het die misdaad toegeneem. Teen die 1830’s kon elke gesin die afgryslike berigte oor misdaad lees wat in die nuutgepubliseerde, goedkoop koerante—die penniepers—verskyn het. Die publiek het al hoe sterker protes aangeteken, en in 1845 het New York hulle polisiemag gekry. Sedertdien het New Yorkers en Londenaars nog altyd in mekaar se polisiemag belanggestel.
Soos die Engelse het die Amerikaners ook gevrees vir ’n gewapende mag in die hande van die regering. Die twee lande het egter met verskillende oplossings vorendag gekom. Die Engelse het besluit op ’n polisiemag van goed opgevoede mans, wat in donkerblou uniforms en pluiskuile geklee was. Hulle was slegs met ’n kort, versteekte knuppel gewapen. Tot vandag toe dra Britse bobbies slegs in noodsituasies vuurwapens. Maar soos een verslag sê “word die oortuiging al hoe sterker dat dit net ’n kwessie van tyd is . . . voordat die Britse polisie ’n ten volle gewapende mag word”.
Maar in die Verenigde State het die vrees dat regeringsmag misbruik kon word, gelei tot die aanneming van die Tweede Wysiging tot die Amerikaanse Grondwet, wat “die reg van burgers om vuurwapens te besit en te dra”, waarborg. Gevolglik wou die polisie vuurwapens hê. Mettertyd het dit tot skietgevegte op straat gelei, waarvoor die Amerikaanse polisie en diewe, ten minste in die oë van die publiek, bekend geword het. Nog ’n rede vir die Amerikaanse gesindheid teenoor die dra van wapens is die feit dat die eerste polisiemag in die Verenigde State in ’n wêreld tot stand gekom het wat hemelsbreed verskil het van Londen. New York het chaoties geword as gevolg van die geweldige bevolkingstoename in die stad. Ná die begin van die Burgeroorlog van 1861-65 het duisende hoofsaaklik Europese immigrante en Afro-Amerikaners na die stad toe gestroom, wat tot rassegeweld gelei het. Die polisie het gevoel dat hulle strenger moes optree.
Die polisie is dus dikwels as ’n noodsaaklike euwel beskou. Mense was bereid om die onaanvaarbare gedrag te duld waaraan die polisie hulle van tyd tot tyd skuldig gemaak het, in die hoop dat dit tot ’n mate van orde en sekuriteit sou lei. Maar in sekere wêrelddele het ’n ander soort polisiemag sy verskyning begin maak.
Gevreesde polisie
Vroeg in die 19de eeu, toe die hedendaagse polisiemagte te voorskyn begin kom het, het die meeste mense onder die heerskappy van Europese ryke gelewe. Oor die algemeen was die Europese polisie georganiseer om die heersers te beskerm en nie die gewone mense nie. Selfs die Britte, wat so gekant was teen gewapende, militaristiese polisie in hulle eie land, het blykbaar glad nie geskroom om militêre polisie te gebruik om die kolonies onderworpe te hou nie. Rob Mawby sê in sy boek Policing Across the World: “In byna elke dekade van die koloniale polisiegeskiedenis was daar voorvalle van wreedheid, korrupsie, geweld, moord en misbruik van mag deur die polisie.” Nadat dit gemeld het dat die imperiale polisie wel nuttige dienste gelewer het, het dieselfde boek bygevoeg dat dit “wêreldwyd die indruk geskep het dat die polisie ’n regeringsmag is en nie ’n openbare dienaar nie”.
Despotiese regerings wat opstande vrees, het nog byna altyd geheime polisie gebruik om op hulle burgers te spioeneer. Hierdie polisie verkry inligting deur mense te martel en ruim vermeende ondermyners uit die weg deur hulle te vermoor of hulle sonder ’n verhoor in hegtenis te neem. Die Nazi’s het die Gestapo gehad, die Sowjetunie die KGB en Oos-Duitsland die Stasi. Die Stasi het verbasend genoeg 100 000 offisiere in hulle diens gehad en moontlik ’n halfmiljoen informante om ’n bevolking van nagenoeg 16 miljoen onder hulle beheer te hou. Offisiere het dag en nag na telefoongesprekke geluister en het lêers vir ’n derde van die bevolking gehad. “Stasi-offisiere het geen perke geken nie en was skaamteloos”, sê John Koehler in sy boek Stasi. “Geestelikes, insluitende hooggeplaastes van die Protestantse en Katolieke kerk, is op groot skaal as geheime informante gewerf. Daar was afluisterapparate in feitlik elke kantoor en biegstoel.”
Maar gevreesde polisie word nie net in lande met despotiese regerings gevind nie. Op ander plekke is polisie in die groot stede al daarvan beskuldig dat hulle vrees inboesem omdat hulle die wet op ’n te aggressiewe manier toepas, veral wanneer hulle minderheidsgroepe uitsonder. ’n Nuustydskrif het kommentaar gelewer oor ’n opspraakwekkende skandaal in Los Angeles en gesê dat “wangedrag deur die polisie ’n nuwe vlak van wetteloosheid bereik het en dat dit gelei het tot die algemene gebruik van ’n nuwe woord: polisieboewe”.
Daarom het owerhede begin vra: Wat kan polisiedepartemente doen om hulle beeld te verbeter? In ’n poging om die aandag te vestig op hulle rol as openbare dienaar, het baie polisiemagte die aspekte van hulle werk probeer beklemtoon wat die gemeenskap tot voordeel strek.
Gemeenskapsgeoriënteerde polisie bied hoop
Japan se tradisionele buurtpolisiestelsel het ander lande se belangstelling gewek. Tradisioneel het die Japannese polisie vanuit klein plaaslike stasies gefunksioneer wat beman is deur ongeveer tien beamptes wat in skofte werk. Frank Leishman, ’n Britse lektor in kriminologie wat al lank in Japan woon, sê: “Die omvang van die behulpsame diens wat deur die koban-beamptes gelewer word, is legendaries: hulle help mense om plekke te vind omdat die meeste straatname in Japan nie aangegee word nie; leen onopgeëisde sambrele aan pendelaars wanneer dit reën; maak seker dat besope sararimen die laaste trein huis toe haal en gee raad oor ‘burgerprobleme’.” Die buurtpolisiestelsel het daartoe bygedra dat Japan die benydenswaardige reputasie het dat mense veilig op straat is.
Kan hierdie benadering op ander plekke werk? Party kriminoloë het ’n les hierin begin sien. Moderne vooruitgang in kommunikasie is geneig om die polisie te vervreem van die mense wat hulle dien. In baie stede vandag lyk dit dikwels of die polisie se werk hoofsaaklik daaruit bestaan om op noodsituasies te reageer. Soms wil dit voorkom of die oorspronklike klem wat op misdaadvoorkoming geplaas is, verlore gegaan het. In reaksie hierop het buurtwagte weer eens gewild geword.
Buurtwag
“Dit werk beslis; dit bekamp misdaad”, sê Dewi, ’n polisiekonstabel, aangaande sy werk in Wallis. “Met die buurtwagstelsel spoor ons mense aan om besorg te wees oor mekaar se sekuriteit. Ons reël vergaderinge sodat bure mekaar kan leer ken, name en telefoonnommers kan uitruil en van misdaadvoorkoming kan leer. Ek geniet die projek omdat dit weer ’n gemeenskapsgevoel in die woonbuurte laat posvat. Dikwels weet mense nie eers wie hulle bure is nie. Die stelsel werk omdat dit mense meer oplettend maak.” Dit verbeter ook die verhouding tussen die polisie en die publiek.
Nog ’n stap wat geneem is, was om die polisie aan te moedig om meer simpatiek te wees teenoor slagoffers. Die beroemde Hollandse viktimoloog Jan van Dijk het geskryf: “Polisiebeamptes moet geleer word dat die manier waarop hulle slagoffers behandel net so belangrik is as die manier waarop dokters pasiënte behandel.” Op baie plekke beskou die polisie gesinsgeweld en verkragting nie as ware misdade nie. Maar Rob Mawby sê: “In onlangse jare het die polisie se gesindheid teenoor gesinsgeweld en verkragting aansienlik verbeter. Daar is nietemin nog baie ruimte vir verbetering.” Die polisie se misbruik van mag is nog ’n gebied waaraan byna elke polisiemag aandag kan skenk.
Die vrees vir polisiekorrupsie
Die veronderstelling dat ’n mens deur die polisie beskerm sal word, lyk soms naïef, veral as jy berigte oor polisiekorrupsie hoor. Daar is al sedert die begin van die polisie se geskiedenis sulke berigte. Met verwysing na die jaar 1855 het die boek NYPD—A City and Its Police verduidelik dat “baie New Yorkers gevoel het dat dit moeilik word om tussen die boewe en die polisie te onderskei”. Die boek Faces of Latin America, deur Duncan Green, sê die volgende oor die polisiemagte daar: “Baie mense meen dat hulle deur en deur korrup, onbevoeg en skenders van menseregte is.” Die hoofpersoneelbeampte van ’n Latyns-Amerikaanse polisiemag wat 14 000 man sterk is, het gesê: “Wat kan jy van ’n polisieman verwag wat minder as [R1 200] per maand verdien? As iemand hom probeer omkoop, wat anders sal hy doen?”
Hoe groot is hierdie probleem? Dit hang af wie jy vra. ’n Noord-Amerikaanse polisieman wat jare lank in ’n stad met ’n bevolking van 100 000 patrolliediens gedoen het, sê: “Ja, daar is oneerlike polisiemanne, maar die meeste van hulle is opreg. Dit is beslis wat ek gevind het.” Daarenteen het ’n speurder van ’n ander land met 26 jaar ondervinding gesê: “Ek dink korrupsie kom feitlik oral voor. Daar is baie min polisiemanne wat eerlik is. As ’n polisieman ’n huis deursoek waar daar ’n inbraak was en hy geld vind, sal hy dit waarskynlik vat. As hy gesteelde goedere vind, sal hy ’n deel daarvan vir homself hou.” Waarom word party polisiemanne korrup?
Sommige het aanvanklik hoë beginsels, maar swig dan voor die invloed van korrupte kollegas en die verdorwe standaarde van die misdaadwêreld waarmee hulle te doen het. Die boek What Cops Know haal ’n konstabel van Chicago soos volg aan: “Met alles waaraan polisiebeamptes blootgestel word, het hulle ’n persoonlike kennis van boosheid. Hulle word omring daardeur. Hulle raak daaraan . . . hulle proe dit . . . hulle ruik dit . . . hulle hoor dit . . . hulle moet daarmee werk.” Kontak met sulke verdorwenheid kan maklik ’n negatiewe uitwerking hê.
Hoewel die polisie ’n waardevolle diens lewer, is dit alles behalwe ideaal. Kan ons op iets beters hoop?
[Voetnoot]
a Die Britse polisie het as bobbies bekend geword na aanleiding van die naam van hulle stigter, sir Robert (Bobby) Peel.
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
“Is die Britse bobbies nie wonderlik nie?”
Die Britte was onder die eerstes wat ’n professionele polisiemag kon bekostig. Hulle wou ’n goed georganiseerde gemeenskap hê—soos hulle doeltreffende poskoetsstelsel wat altyd op tyd was. In 1829 het die minister van binnelandse sake, sir Robert (Bobby) Peel, die parlement oorreed om goedkeuring te gee aan die Londense Metropolitaanse Polisie, met die hoofkwartier in Scotland Yard. Aanvanklik was die bobbies ongewild omdat hulle dronkenskap en straatdobbelary hokgeslaan het, maar mettertyd het hulle die publiek se guns gewen.
In 1851 het Londen die wêreld met trots na die Groot Tentoonstelling genooi om die prestasies van die Britse nywerheidswese te bewonder. Die gaste was verbaas oor die ordelike strate en die feit dat daar nêrens dronklappe, prostitute en rondlopers was nie. Flink polisiemanne het skares gerig, besoekers se bagasie vir hulle gedra, mense oor die straat gehelp en selfs bejaarde vroue na hulle huurmotor gedra. Dit is geen wonder nie dat Britte sowel as buitelandse besoekers gesê het: “Is die Britse bobbies nie wonderlik nie?”
Dit het gelyk of hulle misdaad met soveel welslae bekamp dat die hoofkonstabel van Chester in 1873 hom ’n tyd voorgestel het wanneer daar feitlik nie meer georganiseerde misdaad sou wees nie! Die polisie het ook begin om ambulans- en brandweerdienste te organiseer. Hulle het liefdadigheidsorganisasies op die been gebring om skoene en klere vir die armes te voorsien. Party het klubs vir seuns, uitstappies en vakansiehuise gereël.
Die nuwe polisie het natuurlik ook dissiplinêre probleme met korrupsie en wreedheid gehad. Maar die meeste was trots dat hulle die orde kon handhaaf sonder om onnodig hardhandig te wees. In 1853 moes die polisie in Wigan, Lancashire, betogende mynwerkers konfronteer. Die moedige sersant, in bevel van net tien man, het volstrek geweier om die myneienaar se vuurwapens te gebruik. Die gees wat ontwikkel het, word goed toegelig in ’n brief wat Hector Macleod in 1886 ontvang het, toe hy soos sy vader ’n polisieman geword het. Dit word soos volg in The English Police aangehaal: “As jy hardvogtig is, verloor jy die publiek se simpatie . . . Ek het die publiek eerste gestel omdat ’n polisieman die gemeenskap dien, onder wie jy op die oomblik geplaas is, en dit is jou plig om hulle sowel as jou bevelvoerder tevrede te stel.”
Hayden, ’n afgetrede inspekteur van die Metropolitaanse Polisie, sê: “Ons is geleer om onsself te bedwing, want die polisie het die gemeenskap se ondersteuning nodig om suksesvol te wees. Ons kort houtknuppels was die heel laaste uitweg, wat die meeste beamptes nie eers een keer in hulle hele loopbaan sou gebruik nie.” Iets wat ook bygedra het tot die positiewe beeld van die Britse bobby, was ’n gewilde TV-reeks, Dixon of Dock Green, wat 21 jaar lank uitgesaai is en oor ’n eerlike konstabel gehandel het wat almal in sy gebied geken het. Dit het waarskynlik die polisie aangespoor om daardie voorbeeld na te volg, maar dit het beslis die Britte se bewondering vir die polisie laat toeneem.
In die 1960’s het gesindhede in Brittanje verander, en die tradisie van nasionale trots is vervang deur die neiging om gesag te bevraagteken. Berigte van korrupsie en rassisme onder die polisie het in die 1970’s hulle beeld geskend, ondanks hulle pogings om die publiek se ondersteuning deur die buurtwagstelsel te verkry. In onlangser tye, ná verskeie beskuldigings van rassisme en dat hulle bewyse vervals het om mense skuldig te bevind, het die polisie verdere, opregte pogings aangewend om te verbeter.
[Erkenning]
Foto bo: http://www.constabulary.com
[Venster/Prent op bladsy 10]
’n Wonderwerk in New York?
Wanneer die polisie spesiale pogings aanwend, kan die resultate merkwaardig wees. New York is lank as een van die wêreld se gevaarlikste stede beskou, en teen die laat 1980’s het dit gelyk of die gedemoraliseerde polisiemag beheer verloor het. Ekonomiese druk het die stadsowerheid gedwing om lone te vries en die polisiemag af te skaal. Dwelmhandelaars het hulle bedrywighede begin uitbrei en ’n skrikwekkende vlaag van geweld het gevolg. Inwoners van die binnestad het met die geluid van geweervuur bed toe gegaan. Daar was groot rasseonluste in 1991, en die polisie het self hulle griewe luidrugtig in ’n protesoptog gelug.
Maar ’n nuwe polisiehoof het hom daarop toegelê om sy beamptes te motiveer en het gereeld van stasie na stasie gegaan om met hulle te vergader en hulle strategie te bespreek. James Lardner en Thomas Reppetto verduidelik in hulle boek NYPD: “Die hoof van die speurafdeling of van die Narkotikaburo was mense waarvan stasiebevelvoerders net in koerante gelees het, maar wat hulle selde ontmoet het. Nou het hulle ure lank saam in vergaderinge gesit.” Misdaadsyfers het skerp begin daal. Volgens berig het die moordsyfer geleidelik afgeneem van byna 2000 in 1993 tot 633 in 1998—die laagste in 35 jaar. New Yorkers het dit ’n wonderwerk begin noem. Daar was ’n afname van 64 persent in die gerapporteerde misdaad gedurende die afgelope agt jaar.
Hoe het hulle dit reggekry? Volgens The New York Times van 1 Januarie 2002 was ’n sleutel tot hulle sukses Compstat, “’n misdaadontledingstelsel waarmee statistiek van alle stasies elke week ontleed word om probleme te identifiseer en daarop te reageer sodra dit opduik”. Die voormalige polisiekommissaris Bernard Kerik het gesê: “Ons het gekyk waar die misdaad plaasvind, waarom dit plaasvind en het dan ons polisiebeamptes en hulpbronne herorganiseer om te verseker dat ons ons op hierdie gebiede toespits. Dis hoe ’n mens misdaad bekamp.”
[Prent op bladsy 7]
’n Tipiese Japannese polisiestasie
[Prent op bladsy 7]
Verkeerspolisie in Hongkong
[Prent op bladsy 8, 9]
Skarebeheer by ’n Engelse sokkerwedstryd
[Prent op bladsy 9]
Dit is deel van ’n polisieman se werk om ongelukslagoffers te help