Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 1/8 bl. 18-20
  • Bevry van die kettings van haat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bevry van die kettings van haat
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Daarop uit om wraak te neem
  • Ek vind vryheid—in die tronk
  • Die uitdaging om te verander
  • My familie reageer gunstig
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
    Ontwaak!—1995
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • My keuse tussen twee vaders
    Ontwaak!—1998
  • Ek laat vaar ’n lewe van geweld
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 1/8 bl. 18-20

Bevry van die kettings van haat

SOOS VERTEL DEUR JOSÉ GÓMEZ

EK IS op 8 September 1964 in Rognac, ’n dorpie in die suide van Frankryk, gebore. My ouers en grootouers was Andalusiese Sigeuners, wat in Algerië en Marokko, Noord-Afrika, gebore is. Soos dit in Sigeunerkultuur die gebruik is, het ons ’n groot, uitgebreide familie gehad.

My pa was ’n gewelddadige man, en van my vroegste herinneringe is van hoe hy my ma seergemaak het. Mettertyd het my ma besluit om van hom te skei—iets wat nie sommer onder Sigeuners gebeur nie. Ek, my broer en my suster het saam met my ma na België toe gegaan, waar ons die volgende agt jaar in rus en vrede gewoon het.

Dinge het egter verander. Ons wou ons pa sien, en daarom het my ma ons na Frankryk toe geneem, waar sy met my pa herenig is. Dit was vir my ’n uitdaging om weer by my pa te bly. In België het ons oral saam met my ma gegaan. Maar in my pa se familie het mans net met mans geassosieer. Volgens hulle macho mentaliteit het mans al die regte en vroue al die pligte. Toe ek byvoorbeeld eendag my tante na ete met die skottelgoed wou help, het my oom my daarvan beskuldig dat ek ’n homoseksueel is. In sy familie was dit net ’n vrou se werk om die skottelgoed te was. Uiteindelik het hierdie ongebalanseerde denkwyse my ook beïnvloed.

Dit was nie lank voordat my ma weer eens die slagoffer van my pa se gewelddadige geaardheid geword het nie. ’n Hele paar keer as ek en my broer tussenbeide probeer kom het, moes ons vinnig by die venster uitklim om van my pa se vuishoue af weg te kom. My suster is ook nie gespaar nie. Gevolglik het ek baie min tyd by die huis deurgebring. Op 15-jarige ouderdom was my lewe rigtingloos.

Mettertyd het ek vir my gewelddadige humeur bekend geword. Ek het dit geniet om ander af te knou. Soms het ek ander jong mans doelbewus uitgedaag, maar baie min het die moed gehad om my aan te durf—veral omdat ek dikwels met ’n mes of ’n ketting gewapen was. Ek het kort voor lank motors begin steel en hulle verkoop. Soms het ek hulle net aan die brand gesteek en dit geniet om te kyk hoe brandweermanne die vuur blus. Later het ek by winkels en pakhuise begin inbreek. Ek is ’n hele paar keer in hegtenis geneem. En elke keer het ek tot God vir hulp gebid!

Ja, ek het in God geglo. Terwyl ons in België was, was ek in ’n kerkskool. Ek het dus geweet dat wat ek doen, verkeerd is. Nogtans het my geloof in God geen uitwerking op my gedrag gehad nie. Ek het gedink dat my sondes vergewe sal word as ek net vergifnis vra.

In 1984 is ek vir diefstal tot 11 maande tronkstraf gevonnis. Ek is na die Baumettes-gevangenis in Marseille gestuur. Daar het ek verskeie dele van my liggaam getatoeëer. Een tatoeëermerk het gesê “haat en wraak”. Die gevangenis het my glad nie hervorm nie, maar ek het eerder ’n groter haat ontwikkel vir gesag en die samelewing oor die algemeen. Nadat ek net drie maande in die gevangenis was, is ek vrygelaat en met meer haat as ooit tevore vervul. Toe het ’n tragedie die verloop van my lewe verander.

Daarop uit om wraak te neem

My familie het ’n geskil met ’n ander Sigeunerfamilie gehad. Ek en my ooms het besluit om hulle te konfronteer om die saak op te los. Albei families was gewapen. In die argument wat gevolg het, is my oom Pierre en ’n neef van my pa doodgeskiet. Ek was so ontsteld dat ek, met ’n vuurwapen in my hand, woedend in die straat gestaan en skreeu het. Uiteindelik het een van my ooms my vasgegryp en die vuurwapen by my afgeneem.

Ek was baie hartseer oor die dood van oom Pierre, wat vir my soos ’n pa was. En ek het volgens die gebruike van die Sigeuners oor hom begin rou. Ek het dae lank nie geskeer of enige vleis geëet nie. Ek het geweier om televisie te kyk of na musiek te luister. Ek het gesweer dat ek die dood van my oom sou wreek, maar my familie het gekeer dat ek ’n vuurwapen in die hande kry.

In Augustus 1984 is ek vir militêre diens opgeroep. Op 20-jarige ouderdom het ek by die Verenigde Nasies se vredesmag in Libanon aangesluit. Ek het geweet dat ek my lewe kon verloor. Gedurende daardie tyd het ek baie dagga gerook. Dit het my nie net goed laat voel nie, maar het my ook laat voel dat niks my kwaad kan aandoen nie.

Dit was maklik om wapens in Libanon in die hande te kry, en daarom het ek besluit om ’n paar na Frankryk te stuur sodat ek my plan kon uitvoer om my oom se dood te wreek. Ek het twee pistole sowel as ammunisie by plaaslike inwoners gekoop. Ek het die vuurwapens uitmekaargehaal, in twee radio’s versteek en huis toe gestuur.

Net twee weke voor die einde van my militêre diens het ek en drie van my maats die basis sonder toestemming verlaat. Toe ons na die barak terugkeer, is ons opgesluit. Terwyl ek in die tronk was, het ek woedend geword en ’n bewaarder aangeval. Dit was vir my ondenkbaar om deur ’n payo—iemand wat nie ’n Sigeuner is nie—verkleineer te word. Die volgende dag was ek weer in ’n bakleiery betrokke, dié keer met ’n offisier. Ek is vir die res van my militêre diens na die Montluc-gevangenis in Lyon gestuur.

Ek vind vryheid—in die tronk

Die eerste dag in die Montluc-gevangenis het ’n jong man my vriendelik kom groet. Ek het uitgevind dat hy een van Jehovah se Getuies is en dat hy en ander van sy geloof in die tronk was bloot omdat hulle nie die wapen opgeneem het nie. Dit het my laat wonder. Ek wou meer uitvind.

Ek het gevind dat Jehovah se Getuies God opreg liefhet, en hulle hoë sedelike standaarde het my beïndruk. Maar ek het nog steeds baie vrae gehad. Ek wou veral weet of die dooies deur middel van drome met die lewendes kan kommunikeer—iets wat baie Sigeuners glo. ’n Getuie met die naam Jean-Paul het aangebied om die Bybel met my te studeer met behulp van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe.a

Ek het die boek in een aand verslind, en my hart is geraak deur wat ek gelees het. Hier, in die tronk, het ek ware vryheid gevind! Toe ek uiteindelik uit die tronk vrygelaat is, het ek op die trein geklim en met my sak vol Bybelpublikasies huis toe gegaan.

Ek het na die Koninkryksaal in Martigues gegaan om met die Getuies in my tuisomgewing in aanraking te kom. Daar het ’n jong voltydse bedienaar met die naam Eric my gehelp om my Bybelstudie voort te sit. Binne ’n paar dae het ek opgehou rook, en ek het kontak met my vorige boewemaats beëindig. Ek was vasbeslote om in ooreenstemming met Spreuke 27:11 op te tree, wat sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Jehovah het vir my ’n liefdevolle Vader geword wat ek wou behaag.

Die uitdaging om te verander

Dit was nie vir my maklik om Christelike beginsels toe te pas nie. Ek het byvoorbeeld ’n paar weke lank in my dwelmgewoonte teruggeval. Maar my grootste uitdaging was om ontslae te raak van die begeerte om wraak te neem. Sonder Eric se medewete het ek altyd ’n vuurwapen gedra en nog steeds planne beraam om wraak te neem op diegene wat my oom doodgemaak het. Ek het nagte lank probeer om hulle op te spoor.

Toe ek Eric hiervan vertel, het hy vir my mooi verduidelik dat ek nie ’n goeie verhouding met God kan opbou as ek gewapen is en wraak wil neem nie. Ek moes ’n besluit neem. Ek het lank nagedink oor die apostel Paulus se vermaning in Romeine 12:19: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap.” Dit, tesame met innige gebed, het my gehelp om my gevoelens te beheers (Psalm 55:22). Uiteindelik het ek van my wapens ontslae geraak. Op 26 Desember 1986, nadat ek die Bybel ’n jaar lank bestudeer het, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.

My familie reageer gunstig

Die veranderinge wat ek in my gedrag aangebring het, het daartoe gelei dat my ouers die Bybel begin studeer het. Hulle is weer getroud, en my ma is in Julie 1989 gedoop. Mettertyd het ’n hele paar van my familielede gunstig op die Bybel se boodskap gereageer en Jehovah se Getuies geword.

In Augustus 1988 het ek besluit om ’n voltydse bedienaar te word. Toe het ek verlief geraak op ’n jong suster in ons gemeente met die naam Katia. Ons is op 10 Junie 1989 getroud. Ons eerste jaar van getroude lewe was nie maklik nie, want ek moes nog ’n paar aanpassings maak in my gesindheid teenoor vroue. Dit was vir my moeilik om die woorde van 1 Petrus 3:7 toe te pas, wat mans aanspoor om aan hulle vrou eer toe te ken. Ek moes herhaaldelik bid vir die krag om my trots te sluk en my denkwyse te verander. Dinge het geleidelik beter geword.

My oom se dood is nog steeds vir my baie pynlik, en soms kan ek nie die trane keer wanneer ek aan hom dink nie. Ek worstel nog met sterk gevoelens wanneer herinneringe van sy moord by my opkom. Ek was jare lank, selfs ná my doop, bang dat ek lede van die familie sou raakloop met wie ons voorheen ’n vete gehad het. Wat sou ek doen as hulle my aanval? Hoe sou ek reageer? Sou my ou persoonlikheid oorneem?

Eendag het ek ’n openbare toespraak in ’n nabygeleë gemeente gehou. Daar het ek Pepa gesien, ’n familielid van die mans wat my oom doodgemaak het. Ek moet erken dat dit elke greintjie van my Christelike persoonlikheid op die proef gestel het. Maar ek het my gevoelens beheers. Later, op die dag wat Pepa gedoop is, het ek haar omhels en haar gelukgewens omdat sy besluit het om Jehovah te dien. Ondanks alles wat gebeur het, het ek haar as my geestelike suster aanvaar.

Ek dank Jehovah elke dag dat hy my gehelp het om die kettings van haat te verbreek. Waar sou ek vandag sonder Jehovah se barmhartigheid gewees het? Danksy hom geniet ek ’n gelukkige gesinslewe. Ek het ook ’n hoop vir die toekoms—dat daar ’n nuwe wêreld sonder haat en geweld sal wees. Ja, ek het die volste vertroue dat God se belofte vervul gaan word: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”—Miga 4:4.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 19]

As lid van die VN se vredesmag in Libanon, 1985

[Prent op bladsy 20]

Saam met Katia en my seuns, Timeo en Pierre

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel