Binnekort ’n einde aan kinderuitbuiting!
“IN DIE Universele Verklaring van Menseregte, het die Verenigde Nasies verklaar dat kinders geregtig is op spesiale sorg en ondersteuning”, sê die inleiding tot die Konvensie oor die Regte van die Kind. Aangaande die belangrikheid van die gesin voeg dit by: “Die kind moet ter wille van die volle en gebalanseerde ontwikkeling van sy of haar persoonlikheid in ’n gesinsmilieu grootword, in ’n atmosfeer van geluk, liefde en begrip.” Maar hierdie ideaal is nog lank nie verwesenlik nie.
Dit is nie genoeg om net oor ’n beter wêreld vir kinders te praat nie. Sedelike verval is aan die orde van die dag, en baie mense beskou die situasie as normaal. Die algemene verdorwenheid en hebsug kan nie deur wetstoepassing beheer word nie. Selfs ouers dra dikwels by tot die klimaat van permissiwiteit, pleks van liefde te betoon en hulle kinders te beskerm. Watter hoop is daar dus dat kinderprostitusie tot ’n einde sal kom?
Hoewel hierdie korrupte stelsel nie daarin geslaag het om alle kinders ’n liefdevolle tuiste en ’n veilige toekoms te gee nie, sal ons Skepper binnekort ’n einde maak aan alle vorme van perversiteit en promiskuïteit, insluitende kinderprostitusie. Jehovah God sal binnekort, tot verbasing van die wêreld, deur middel van sy Koninkryk in menseaangeleenthede ingryp. Mense wat ander sedelik verderf en uitbuit, sal nie God se oordeel vryspring nie. Net mense wat hulle medemens liefhet, sal tot in God se nuwe wêreld behoue bly. “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.
Stel jou die verligting voor wanneer kinders sowel as volwassenes sal kan lewe sonder om verneder en seksueel misbruik te word! Selfs die emosionele en fisiese leed wat veroorsaak is deur uitbuiting en geweld sal eenvoudig nie meer bestaan nie. Mense wat slagoffers van seksuele uitbuiting was, sal die lewe sonder ontstellende herinneringe of nagevolge kan geniet. “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.”—Jesaja 65:17.
Dan sal geen kind wat gebore word, mishandel of seksueel misbruik word nie. Geluk, liefde en begrip sal nie meer net ’n droom wees nie. Jesaja 11:9 sê oor die bewoners van God se nuwe wêreld: ‘Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig nie.’
Ja, wat ’n vreugde sal dit tog wees wanneer armoede, dwelmmisbruik, ongelukkige gesinne en sedelike verdorwenheid nie meer bestaan nie! Vrede, regverdigheid en veiligheid sal aan die orde van die dag wees. “My volk sal in ’n vreedsame woonplek en in wonings van volle vertroue en in ongestoorde rusplekke woon.”—Jesaja 32:18.
[Venster/Prente op bladsy 9]
Ouerlike sorg kan gesins-verbrokkeling voorkom
● “My ouers het my aangespoor om my skooljare goed te gebruik en vir ’n beroep te kwalifiseer. Hulle het nie hulle voorkeure op my probeer afdwing nie, maar hulle het my gehelp om skole te kies wat die vakke aangebied het wat ek nodig sou hê.”—Tais.
● “Wanneer ek en my suster inkopies gaan doen het, het my ma saamgegaan. Sy het ons nie net gehelp om spaarsamig te wees nie, maar ook om uitspattige of onthullende klere te vermy.”—Bianca.
● “Wanneer ons na partytjies gegaan het, wou my ouers altyd weet wie daar gaan wees, watter soort musiek gespeel gaan word en wanneer die partytjie gaan begin en eindig. By die meeste partytjies was ons almal saam as ’n gesin.”—Priscila.
● “Gedurende my kinderjare en adolessensie was daar altyd baie goeie kommunikasie tussen my en my ouers. ’n Skoolmaat het dit opgemerk en gesê: ‘Ek beny jou die gemak waarmee jy met jou ouers oor enigiets kan praat. Ek het nie eers die vrymoedigheid om met my ma te praat nie, en wanneer ek iets wil weet, moet ek dit dikwels by ander mense probeer uitvind.’”—Samara.
● “Ek was ’n gelukkige adolessent. Ek het niks slegs in mense gesien nie en het altyd gelag. Ek was op my gemak by my vriende en het dit geniet om grappe saam met hulle te maak. My ouers het verstaan dat dit my persoonlikheid is, en hulle het nie probeer om my te verander nie. Maar hulle het my vriendelik gehelp om te verstaan dat ek versigtig moet wees en gepas moet optree teenoor die ander geslag.”—Tais.
● “Soos die meeste ander jongmense het ek in die ander geslag begin belangstel. My pa het ’n sekere ouderdom vasgestel waarop ek kon begin afsprake maak. Ek was nie ontevrede hieroor nie. Ek het eerder besef dat my ouers besorg was oor my en my wou beskerm.”—Bianca.
● “Ek het die huwelik as iets goeds gesien, veral weens die voorbeeld van my ouers. Hulle het altyd ’n goeie verhouding gehad en openlik gekommunikeer. Ek onthou dat my ma, toe ek met ’n mansvriend begin uitgaan het, my raad gegee het oor hoe ek onder sekere omstandighede moet optree en verduidelik het hoe dit my huwelik sou raak.”—Priscila.
[Prent op bladsy 10]
In God se nuwe wêreld sal geen kind ooit mishandel word nie