’n Goue vrug met ’n kleurryke verlede
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FIDJI
DIT is die jaar 1789. Die sewe meter lange oop boot lyk klein op die uitgestrekte see en het baie mans aan boord. Die passasiers is swak van die honger en doodmoeg omdat hulle al dae lank water uitskep en ’n onstuimige see en sterk winde trotseer. Hulle moet nog meer as 5 000 kilometer in onbekende waters vaar waarin daar gevaarlike koraalriwwe is. Kos is skaars—elkeen kry net 30 gram brood (skeepsbeskuit) per dag en ’n bietjie water. Dit lyk of die mans dit dalk nie sal oorleef nie.
Binne net meer as ’n week het die bemanning van hulle skip in opstand gekom, is hulle in ’n bootjie op die oop see gelaat en is een van hulle doodgemaak toe inboorlinge hulle aangeval het. Hulle het ook kwaai donderstorms deurstaan en het naelskraap ontkom toe inboorlinge van wat destyds die Kannibaal-eilande genoem is, hulle met hulle kano’s agternagesit het.
Waarom was hierdie mans in hierdie afgeleë en gevaarlike deel van die Stille Suidsee, so ver van hulle huise in Engeland, ’n land met netjies uitgelegde boorde en tuine? Omdat hulle na die merkwaardige broodvrugboom op soek was. Kom ons verduidelik hoe hierdie pragtige boom en sy voedsame vrug ’n belangrike rol in hierdie verhaal en in vroeëre epiese ontdekkingsreise gespeel het.
Jy het moontlik besef dat die mans in die boot in die bogenoemde verhaal die oorlewendes was van die berugte muitery op die Bounty. Die Britse oorlogskip van 215 ton, die Bounty, het onder kaptein William Bligh van Engeland na Tahiti vertrek. Bligh moes met sy aankoms ’n groep baie ongewone “passasiers” aan boord neem—byna 1 000 jong broodvrugboompies. Hierdie plante sou uiteindelik vir hulle reis kon betaal deur voedsame, goue vrugte voort te bring nadat hulle in hulle nuwe tuiste in die Britse kolonies van die Karibiese Eilande gevestig is.
Die Britse regering, wat destyds dringend op soek was na ’n nuwe voedselbron vir slawe wat op die suikerplantasies gewerk het, het hierdie projek op aanbeveling van sir Joseph Banks aangepak. Banks, wat toe ’n raadgewer vir die Kew- Botaniese Tuin naby Londen, Engeland, was, het as plantkundige saam met kaptein James Cook op sy vroeëre ontdekkingsreis in die Stille Oseaan gevaar.a Hy en Cook het albei groot moontlikhede vir die broodvrugboom gesien.
Banks het Bligh nie persoonlik vergesel nie, maar hy het die instruksies voorsien vir die versorging van die plante gedurende die lang seereis en het veral aandag geskenk aan die feit dat hulle vars water nodig het. Party skrywers meen dat al die aandag en water wat die bome—ten koste van die bemanning—gekry het, moontlik daartoe bygedra het om die ontevrede bemanning tot muitery te dryf. Vroeg die oggend van 28 April 1789 is Bligh en 18 van sy lojale manne naby die kus van Tonga met swaarde in ’n bootjie ingedwing en op die oop see gelaat. Die muiters het die broodvrugboompies waarskynlik oorboord gegooi, bly dat hulle daarvan ontslae kon raak.
Bligh het hom egter nie maklik laat afskrik nie. Hy het ’n reis onderneem wat al “die beroemdste oopbootreis in die geskiedenis van die seevaart” genoem is. In sewe vermoeiende weke het hy meer as 5 800 kilometer ver in hierdie bootjie gevaar, noordwes tussen die eilande deur wat nou as Fidji bekend staan en al langs die ooskus van Nieu-Holland (Australië) totdat hy die eiland Timor veilig bereik het.
Met Bligh se terugkeer na Engeland is nog twee skepe onder sy bevel geplaas, waarna hy na Tahiti teruggekeer het om broodvrugbome te gaan haal. Hierdie keer, in die jaar 1792, het hy dit reggekry om sowat 700 broodvrugboompies na die eilande St. Vincent en Jamaika in Wes-Indië te vervoer. Broodvrugbome floreer vandag nog daar en bring as ’t ware ’n goue oes onder hulle groen, blaarryke kroon voort.
Hoewel Bligh se seereis ongetwyfeld ’n epiese verhaal van oorlewing en ontdekking is, is dit maar ’n onlangse hoofstuk in die broodvrugboom se geskiedenis. Watter verhale sou die broodvrugboom tog kon vertel van ’n tyd duisende jare gelede toe eertydse seevaarders dit op lang ontdekkingsreise saamgeneem het!
Die broodvrugboom se vroeë seereise
Argeoloë meen dat verskeie migrasiebewegings in die westelike deel van die Stille Oseaan plaasgevind het, waarvan die jongste in omtrent 1500 v.G.J. begin het.b Die Lapita-volk het met groot dubbelrompkano’s van Suidoos-Asië af getrek deur lande wat vandag as Indonesië, Nieu-Guinee, Nieu-Kaledonië, Vanuatu en Fidji bekend staan en selfs tot in die middel van die Stille Oseaan. Hierdie reise het werklik buitengewone prestasies op die gebied van navigasie ingesluit, aangesien honderde kilometers soms tussen eilande op die oop see afgelê moes word.
Die Lapitas se seevarende dubbelrompkano’s kon baie mense vervoer, sowel as huisdiere, kos en ’n verskeidenheid sade, steggies en potplante. Namate die Lapitas in die Stille Oseaan versprei het, het hulle die eilande van Melanesië, Polinesië en Mikronesië in die noorde en Nieu-Seeland in die suide ontdek en bevolk. Hulle het soos die golwe van ’n gety versprei en uiteindelik Paaseiland en Hawaii bereik.c Waar hulle ook al gevaar het, was die geharde broodvrugboom van hulle vernaamste “passasiers”.
’n Veelsydige en voedsame kossoort
Soos in baie ander wêrelddele is die broodvrugboom vandag in Fidji van groot waarde as ’n voedsame, goedkoop kossoort. Sommige variëteite van die boom is gehard en vrugbaar en dra tot 50 jaar lank selfs drie keer per jaar vrugte, ook wanneer weerstoestande nie so gunstig is nie. Die vrug het ’n tekstuur soos dié van brood, en die talle variëteite smaak verskillend. Die smaak word gewoonlik beskryf as iets tussen brood en aartappels. ’n Mens kan dit kook, stoom, bak of braai, en ’n nagereg word dikwels daarvan gemaak. Dit kan gedroog en tot meel gemaal word om mee te kook, en wanneer dit verpulp word en gis, bly dit jare lank eetbaar.
Kossoorte soos vis of hoender kan in die blare toegedraai word sodat die vog en geur gedurende die kookproses nie verlore gaan nie. Die afgedopte saad is ook eetbaar en het ’n neutsmaak. Die sap word soms bymekaargemaak en deur kinders as kougom geniet. Wat ’n verskeidenheid gebruike! Dit is nie moeilik om te verstaan waarom party eilandbewoners van die Stille Oseaan baie lief is vir die broodvrugboom nie.
Ledua, wat in Fidji woon, sê dat die woord broodvrug goeie sowel as slegte herinneringe uit haar kinderjare terugbring. Hulle gesin het vyf groot broodvrugbome gehad. Dit was Ledua se werk om die blare in die erf op te tel, iets wat sy gehaat het. Aan die ander kant het sy en haar broers en susters dikwels ná skool die vrugte gepluk en soveel moontlik van deur tot deur verkoop. Hulle ouers het dan die geld gebruik vir wat hulle nodig gehad het om Christenbyeenkomste by te woon, soos kos, busgeld of nuwe skoene.
Miskien woon jy in een van die baie wêrelddele waar hierdie “passasier” wat al baie rondgereis en die indrukwekkende naam Artocarpus altilis het, nou voorkom. Jy het vroeër dalk nie aan hierdie wonderlike skepping as ’n skat of selfs as iets waardevols of pragtigs gedink nie. Maar baie wat in die Stille Oseaan woon, vind dat die woord broodvrug hulle laat dink aan die Lapita-volk en kaptein Bligh se groot prestasies op die gebied van die seevaart en ontdekkingsreise.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die Kew-tuine—verplantingsentrum vir die wêreld” in die Ontwaak! van 8 Januarie 1989.
b Hierdie jaartal is natuurlik net op argeologie gebaseer en neem nie Bybelchronologie in ag nie.
c Party geskiedkundiges meen dat ’n paar van hierdie eertydse reisigers van die Stille Oseaan tot by die Peruaanse kus in Suid-Amerika gevaar het en dat hulle met hulle terugkoms die Suid-Amerikaanse patat aan die eilande van die Stille Oseaan bekend gestel het. As dit waar is, beteken dit dat die patat van eiland tot eiland in die teenoorgestelde rigting as die broodvrugboom geneem is en uiteindelik Suidoos-Asië bereik het waarvandaan die broodvrugboom oorspronklik kom.
[Venster/Prent op bladsy 25]
’n Boom met baie gebruike
Die volwasse broodvrugboom is ’n pragtige immergroen boom. Dit het oorspronklik in die woude van Maleisië voorgekom. As ’n lid van die familie Moraceae is dit verwant aan die vye-, moerbei- en nangkaboom. Wanneer dit volgroeid is, kan dit tot 12 meter hoog wees, en dit bring suiers voort wat afgesny en geplant kan word. Die broodvrugboom bring manlike en vroulike blomme in afsonderlike trosse voort. Uit hierdie blomme, wat in die natuur op klein, vrugtevretende vlermuise vir bestuiwing en saadverspreiding staatmaak, ontwikkel groot ronde of ovaalvormige vrugte, wat ongeveer so groot soos ’n klein spanspek is en aan die buitekant groen en aan die binnekant roomkleurig tot goudgeel is.
Die broodvrugboom het ook baie groot, blink, donkergroen blare, wat welkome skadu bied teen die warm tropiese son. Die sagte, ligte hout word gebruik om meubels en kano’s te maak, terwyl die binnebas soms gebruik word om ’n soort materiaal te maak wat op al die eilande van die Stille Oseaan as tapa bekend staan. Die melkerige sap word vir waterdigting gebruik, en in party plekke is die melksap al as ’n hegmiddel vir beenbreuke gebruik en selfs as ’n gom om voëls mee te vang.
[Prent op bladsy 24]
Skildery deur Robert Dodd wat die muitery op die “Bounty” uitbeeld
[Erkenning]
National Library of Australia, Canberra, Australia/Bridgeman Art Library
[Prente op bladsy 26]
Die broodvrug kan op baie verskillende maniere voorberei word