Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/8 bl. 14-17
  • Norfolk-eiland—van strafkolonie tot toeristeparadys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Norfolk-eiland—van strafkolonie tot toeristeparadys
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Eiland van ellende”
  • Norfolk-eiland en die muitery
  • Van Pitcairn na Norfolk
  • ’n Lughawe en verandering
  • “Watawieh Yuu”
  • “Kom kyk gerus”
  • Australië se berugte gevangene-era
    Ontwaak!—2002
  • Die eiland wat verskyn en verdwyn het
    Ontwaak!—2004
  • Kokos-eiland sy verhale van verborge skatte
    Ontwaak!—1997
  • ’n Eilandparadys van sand
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/8 bl. 14-17

Norfolk-eiland—van strafkolonie tot toeristeparadys

Deur Ontwaak!-medewerker in Nieu-Seeland

DIE meeste van dié wat meer as 150 jaar gelede op die strande van Norfolk-eiland geland het, het onder dwang gekom—as gevangenes. Dit was ’n strafkolonie vir misdadigers wat van Australië af gebring is en het ’n reputasie gehad as een van die wreedste strafinrigtings in die Britse geskiedenis. Vandag besoek meer as 20 000 toeriste per jaar hierdie eilandparadys.

Maar waar is Norfolk-eiland? Hoe het die oorgang van strafkolonie na toeriste-oord plaasgevind? Watter ongewone gebeure het die eiland se geskiedenis gevorm? Watter bekoring hou Norfolk vandag vir besoekers in?

Die navorsing wat ek vooraf oor die eiland se kleurryke geskiedenis gedoen het, het my net meer na my besoek laat uitsien. Ek het uitgevind dat dit in 1774 was dat die beroemde Engelse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook, terwyl hy in die suidwestelike uithoeke van die uitgestrekte Stille Oseaan gevaar het, nie die “Groot Suidelike Kontinent” ontdek het waarna hy op soek was nie, maar ’n klein vulkaniese eiland van vyf by agt kilometer wat deel is van ’n rif wat honderde kilometers suid na Nieu-Seeland strek. Cook het die eiland na die Hertog van Norfolk vernoem.

“Eiland van ellende”

Die boek Norfolk—An Island and Its People sê: “Norfolk het ’n baie kleurryke geskiedenis gehad. Een ding is seker, toe mense op hierdie eiland aangekom het, was onrus, soos stormwolke op die horison, net om die draai.”

Die saadjies van onrus is ongeveer 14 jaar na Cook se ontdekking gesaai toe luitenant Philip King die eiland gekoloniseer het om dit vir die Britse kroon te behou, terwyl sy tweede oogmerk, wat niks goeds voorspel het nie, was om ’n strafkolonie te stig wat die druk op die oorvol Britse tronke sou verlig.

Hoewel die gevangenis in 1814 ontruim is omdat dit te duur was om dit aan die gang te hou, is dit in 1825 weer in gebruik geneem en het dit ’n verskeidenheid misdadigers gehuisves—party was gevaarlik, party was daar weens politieke redes en baie ander is van hulle verafgeleë geboortelande gedeporteer en vir die onbeduidendste oortredinge opgesluit. Wat dus ’n vreedsame Pasifiese paradys kon gebly het, is 30 jaar lank in die “Eiland van Ellende” verander tot dit in 1854 weer ontruim is.

Waarom die “Eiland van Ellende”? Uit die boek Discovering Norfolk Island het ek geleer dat “toestande van die een [gevangenis]-bevelvoerder na die volgende verskil het. ’n Goedgesinde en liberale bewind is dikwels gevolg deur een van uiterste wreedheid en onderdrukking. Die geskiedenis van die tydperk is vol verhale van moord, opstand, verydelde ontsnappings—soms was een suksesvol—met teregstelling en lyfstraf ter vergelding. Hoewel majoor Thomas Bunbury, die bevelvoerder in 1839, beveel het dat vyf mans wat ’n boot gesteel het om mee te ontsnap elk 300 houe moes kry, het hy ook ’n stelsel van belonings ingestel vir gevangenes wat hulle goed gedra het.”

Die strafkolonie, asook die selle, die soldate se barakke en ander geboue wat vandag plek-plek nog staan en tot die eiland se unieke geskiedenis bydra, is met behulp van dwangarbeid gebou. Ek kon tussen hierdie mure en geboue, wat al as van die beste Georgiaanse argitektuur in die Suidelike Halfrond beskryf is, deur loop. Dit het my 150 jaar teruggeneem en in my verbeelding kon ek die klaende geroep van die gevangenis se slagoffers hoor.

Norfolk-eiland en die muitery

’n Wandeling deur Norfolk se begraafplaas het my meer insig in die eiland se buitengewone geskiedenis gegee. Dit het my opgeval hoe dikwels die van Christian op die grafstene voorkom. Gedurende my besoek het ek dikwels gehoor hoe die plaaslike inwoners hulleself “Christians” noem, nie met verwysing na hulle godsdiensverband nie, maar eerder met hulle afkoms in gedagte.

Min mense het nog nie van die skip met die naam Bounty gehoor en van die muitery wat daarop plaasgevind het nie. Dit was al die onderwerp vir tallose boeke en ten minste drie rolprente. Net so goed bekend is die hoofteenstanders, kaptein Bligh en sy jong waarnemende luitenant, Fletcher Christian. Dit was nadat hulle Tahiti in April 1789 verlaat het dat Christian en sy medemuiters Bligh saam met 18 van sy getroue offisiere in ’n bootjie aan hulle eie lot oorgelaat het. Na sewe verskriklike weke ter see, en wat al beskryf is as een van die merkwaardigste navigasie-prestasies in die geskiedenis van seevaart, het Bligh en sy metgeselle op Timor geland, nou deel van Indonesië, byna 6400 kilometer wes van waar hulle agtergelaat is. Bligh het later na Engeland toe teruggekeer om sy verhaal te vertel, en drie muiters is voor die gereg gebring en gehang.

Intussen, nadat hulle op die Bounty na Tahiti toe teruggekeer het, het Fletcher, 8 medemuiters en 19 Tahitiane, wat mans sowel as vroue ingesluit het, weggevaar om weerwraak vry te spring. In 1790 het hulle die afgeleë Pitcairn-eiland bereik, 2200 kilometer suidoos van Tahiti.

Daar kan gesê word dat Pitcairn-eiland vir die muiters ’n soort vergelding was. Die lewe op die eiland was ru. Jaloesie het tot geweld en die dood gelei. Maar ondanks hierdie probleme en die gepaardgaande stryd om op ’n manier ’n bestaan te maak, het die “kolonie” dit oorlewe, en hulle het nooit gedink dat hulle nageslag in 1856 die geleentheid gegee sou word om hulle op Norfolk-eiland, sowat 7000 kilometer wes van hulle, te vestig nie.

Van Pitcairn na Norfolk

8 Junie 1990 het koud en nat op Norfolk-eiland aangebreek. Maar die weer het nie honderde eilandbewoners, wat kleurvol in hulle middel-19de-eeuse drag geklee was, daarvan weerhou om op die kaai bymekaar te kom om die jaarlikse Bounty-dag te vier nie. Ek het as ’n geïnteresseerde waarnemer gekyk hoe die matrose teen die wind en golwe stry om die landing wat 134 jaar vroeër, in 1856, plaasgevind het, op te voer.

Teen daardie jaar het 67 jaar sedert die muitery verloop. Toe is 193 mense van Pitcairn-eiland in ’n nuwe tuiste op Norfolk-eiland hervestig. Party het later teruggekeer, en Pitcairn word dus vandag steeds bewoon.

In plaas van die beeld van wrede, rebelse muiters te weerspieël, het Norfolk se nuwe nedersetters—geharde mense van Europese en Tahitiaanse afstamming—tot ’n hegte, godsdienstige en vriendelike gemeenskap ontwikkel. Boerdery en visvangs was die vernaamste maniere om ’n bestaan te maak. Hulle ondervinding op Pitcairn het hulle goed toegerus vir hulle voortgesette lewe van afsondering en selfstandigheid. Selfs die minimum kontak met die buitewêreld deur verbygaande skepe is bemoeilik omdat daar geen hawe was waar die water diep genoeg was nie.

’n Lughawe en verandering

Soos in die geval van so baie van die eilandstate in die Stille Suidsee het die Tweede Wêreldoorlog verandering vir Norfolk teweeggebring waarvan die belangrikste die bou van ’n lughawe was. Saam met die lughawe het gereelde kontak met die buitewêreld gekom, asook toerisme, wat nou die eiland se vernaamste bron van inkomste is.

Voordat ek en my medereisigers op die Norfolk-lughawe afgeklim het, het ’n plaaslike verteenwoordiger van die Staatsreisburo vir ons gesê dat die vee in die paaie loop en “ons vra julle om versigtig te ry. Die diere het voorrang.” Besoekers wat hoofsaaklik van Australië en Nieu-Seeland af kom, word inderdaad deur die eenvoudige, ongesofistikeerde lewenswyse aangetrek. Ook aantreklik is die natuurlike skoonheid, die feit dat ’n mens belastingvry inkopies kan doen en die unieke historiese verbintenis met die vroeë strafkolonies en die latere muitery op die Bounty.

Alhoewel eilandbewoners hulle afhanklikheid van die toeristebedryf erken, is die huidige groei in toerisme kommerwekkend vir party van Norfolk se ou inwoners wat nostalgies terugkyk op die vroeër dae van groter selfstandigheid. Toe ek een van die inwoners gevra het of sy na die vroeër dae terugverlang, het sy geantwoord: “Ja! O, ja! Baie beslis! Almal het meer tyd gehad om waarlik in ander belang te stel. Mense het hulle opbrengs gedeel. Nou draai alles om geld.”

“Watawieh Yuu”

Dit is die groet wat ek een oggend ontvang het terwyl ek in die huis-tot-huisbediening besig was. “Watawieh yuu” (What a way you) word vertaal: “Hallo; hoe gaan dit met jou?” Hoewel Engels algemeen op Norfolk-eiland gepraat word, het die immigrante van 1856 ’n verruklike taal van hulle eie met hulle saamgebring, ’n mengsel van ou Engels en Tahitiaans wat gedurende hulle verblyf op Pitcairn ontstaan het. “Pitcairn” of “Norfolk” is nie bloot ’n Pidgin-Engels nie, maar ’n komplekse taal in sy eie reg, en dit word met ’n oulike ritme gepraat.

Ek het na nog voorbeelde in die publikasie Speak Norfolk Today gekyk. “Twelw salan goe d’ miiting” beteken “Twaalf mense het na die vergadering toe gegaan”. “Es gud dieh, el duu f’ gu fishen” beteken “Dit is ’n mooi dag, net reg om te gaan visvang”.

“Kom kyk gerus”

Een reisbrosjure sê van Norfolk: “Dit is die vriendelikste, mees idilliese, mees historiese, mooiste, veiligste, aanloklikste, mees ongerepte, merkwaardigste vakansieadres wat die meeste ontspanning en sportaktiwiteite in die wêreld bied.” ’n Plaaslike inwoner het trots vir my gesê: “Ek dink ons is so na aan paradystoestande as wat dit in hierdie stelsel van dinge moontlik is en ek sou dit vir geen ander plek wou verruil nie.”

Hoewel dit in die Stille Suidsee geleë is, is die platteland tipies van lande met ’n gematigde klimaat. Daar is groen, golwende heuwels met talle pragtige bome, struike en blomme. Van elke uitkykpunt af kon ek die uitgestrekte Stille Oseaan sien. Ruim huise word omring deur lieflike tuine. Misdaad bestaan feitlik nie. Mense is nog hardwerkend en hulle het die minimum staatshulp nodig. Die selfstandige, aanpasbare gesindheid bestaan steeds. En selfs op hierdie klein eilandjie verkondig Jehovah se Getuies hulle boodskap van die goeie nuus.

Hierdie unieke eiland se gasvrye mense sê dalk vir jou: “Yorlye cum look orn”—“Kom kyk gerus.” Dit was ’n plesier om die uitnodiging te aanvaar.

[Kaart/Prent op bladsy 15]

Van elke uitkykpunt af is die uitgestrekte Stille Oseaan sigbaar

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Norfolk-eiland

Pitcairn-eiland

Nieu-Seeland

[Prente op bladsy 16]

Administrasiegeboue en gevangenismure; Philip-eiland in die verte

’n Tipiese simmetriese Norfolk-den

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel