Toe ’n chemiese aanleg ontplof het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK
OP 21 September 2001, net tien dae ná die aanval op die World Trade Center in New York, het ’n ontsaglike, onvoorsiene ontploffing by ’n chemiese aanleg groot skade aangerig in die voorstede van Toulouse, in die suidweste van Frankryk. Die Franse nuustydskrif Le Point het dit beskryf as “Frankryk se ergste nywerheidsramp sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog”.
Sowat 300 ton kunsmis het ontplof en ’n gat van 50 meter in deursnee en 15 meter diep in die grond gemaak. Die ontploffing en die skokgolf wat daarop gevolg het, het die dood van 30 mense veroorsaak en meer as 2 200 beseer. Ongeveer 2 000 huise is verwoes en 27 000 ander binne ’n radius van agt kilometer is beskadig. Paniek het ontstaan omdat mense verkeerdelik aangeneem het dat dit ’n terreuraanval was en dat ’n wolk giftige gas uit die aanleg gelek het.
’n Hele paar van Jehovah se Getuies is in die ontploffing beseer, en baie is op ander maniere daardeur geraak. Christelike liefde het mede-Getuies beweeg om onmiddellik hulp te verleen (Johannes 13:34, 35). Hier volg ’n verslag van die noodlenigingspogings.
“Daar was niks van die gebou oor nie”
Khoudir is een van die oorlewendes wat by die chemiese aanleg gewerk het. Die ontploffing en vlieënde puin het hom bewusteloos gelaat, met ’n gebreekte kakebeen en ’n sleutelbeen wat uit lit was. Benjamin, wat langs die chemiese aanleg gewerk het, is drie meter ver tot teen die muur aan die anderkant van ’n kantoor gegooi. Vlieënde glasstukke het hom op ’n paar plekke gesny en ook sy regteroog beskadig toe dit daarin gesteek het. “Gelukkig was ek nie by my lessenaar nie”, het hy gesê. “Sowat 600 kilogram bakstene het op my stoel geval.”
Alain, ’n onderwyser by ’n skool net 200 meter van die aanleg af, was besig om fotostate te maak toe die ontploffing plaasgevind het. Hy het gesê: “Daar was niks van die gebou oor nie, net stukke staal. Geen mure, geen dak, niks nie. Glasstukke het my getref. My gesig was vol snye. Dit was asof ek met ’n knuppel in die gesig geslaan is.” Alain is blind in die een oog en gedeeltelik doof as gevolg van die ontploffing.
Vinnige noodlenigingspogings
Ouer manne in die 11 gemeentes van Jehovah se Getuies wat deur die ramp geraak is, het so gou moontlik met elke gemeentelid in aanraking gekom om te hoor of enigeen beseer is en watter skade daar is. Vrywilligers is onmiddellik gestuur na dié wat hulp die nodigste gehad het. Die vrywilligers het gou uitgevind dat ongeveer 60 huise van Getuies beskadig is, en hulle het sowat tien van die gesinne gehelp om na ’n ander plek te trek. Vrywilligers het ook gehelp om twee beskadigde Koninkryksale te herstel. Verder het hulle praktiese hulp verleen oor hoe om versekeringseise in te dien.
Catherine en Michel woon net oorkant die aanleg. Catherine het tydens die ontploffing haar motor bestuur. Sy verduidelik: “Dit het aanvanklik vir ons soos ’n aardbewing gevoel. ’n Paar sekondes later het ons die ontploffing gehoor. Toe het ons die rook sien opgaan. Ek het na ons woonbuurt toe gery; dit het soos ’n slagveld gelyk. Al die huise was oopgeruk en die winkelvensters was stukkend. Mense het in die straat gehardloop. Ander het in die pad gesit of gelê en gehuil of geskreeu. By ons huis was al die vensters en selfs die rame uitgeruk, en daar was geen deure oor nie. Ons Christenbroers en -susters was gou daar om ons te help. Teen die middag het ’n span van die gemeente met emmers en besems daar aangekom sowel as met velle harde plastiek om die vensters mee toe te maak.”
Alain en Liliane woon ook langs die aanleg. Die ontploffing het verwoesting in hulle woonstel aangerig. “Alles was stukkend”, sê Alain. “Die mure en teëls was gekraak, en al die vensters, deure en meubels was daarmee heen. Daar was hoegenaamd niks oor nie. Ons Christenbroers het dadelik kom help. Hulle het die puin verwyder en ook ander woonstelle in die gebou help opruim. Ons bure was baie verbaas om te sien dat soveel mense kom help het.” Die oggend van die ontploffing het ’n Bybelstudent Alain gebel en hom gevra om ’n Bybelstudie met hom te kom hou. Liliane moes ook êrens heen gaan. Nie een was dus by die huis toe die ontploffing plaasgevind het nie.
Die Getuies het nie net aan gemeentelede hulp verleen nie. Nadat hulle mekaar gehelp het, het hulle ook hulle bure gehelp deur puin uit woonstelle te verwyder en gebreekte vensters met plastiek toe te maak. Die bure was baie dankbaar en was verbaas dat geen geld gevra is nie.
Hulp is ook aan die plaaslike owerheid verleen, wat deur die omvang van die skade oorweldig is. Getuies het skole en ander openbare geboue opgeruim. In een woonbuurt het die plaaslike owerheid Getuie-vrywilligers van deur tot deur gestuur om vas te stel wat mense se behoeftes is.
Geestelike hulp word voorsien
Baie van die Getuies in die gebied van die ontploffing het nie net materiële hulp nodig gehad nie, maar ook geestelike hulp. Daarom het reisende opsieners sowel as plaaslike ouer manne almal besoek wat deur die ramp geraak is. Hierdie ondersteuning is baie waardeer. Catherine het gesê: “Die ouer manne het ons te hulp gesnel. Hulle het ons kom aanmoedig. Ons het dit in werklikheid nodiger gehad as materiële hulp.”
Die Christelike liefde wat kort ná hierdie ramp betoon is, het tot ’n paar interessante kommentare gelei. ’n Getuie wat ernstig beseer is, het gesê: “Ons weet eenvoudig nie wat môre sal gebeur nie. Ons moet Jehovah altyd dien asof dit ons laaste dag is” (Jakobus 4:13-15). ’n Ander Getuie het tot die slotsom gekom: “Hierdie ondervinding het ons help besef dat ons nie te geheg moet raak aan enige materiële dinge nie. Die dinge wat werklik waardevol is, word onder Jehovah se volk gevind.”
[Prent op bladsy 14]
Benjamin en Khoudir
[Prent op bladsy 14]
Alain
[Prent op bladsy 15]
Toulouse, die dag ná die ontploffing
[Erkenning]
© LE SEGRETAIN PASCAL/CORBIS SYGMA
[Prent op bladsy 15]
Alain en Liliane