Liefde in aksie—’n Maraton-noodlenigingspoging
RICHARD VARA, ’n gesoute redakteur van die Houston Chronicle, word nie maklik beïndruk nie, maar verlede jaar was hy. “Ek het nog nooit so iets gesien nie!” het hy gesê. “Ek kan dit nie glo nie.” Dit is ook hoe Lee P. Brown, die burgemeester van Houston, Texas, VSA, gevoel het. Hy het gesê: “Ek wens dat almal in Houston kon sien wat julle gedoen het. Ek is baie beïndruk.” Waarvan het hulle gepraat? Die redakteur en die burgemeester het gepraat van ’n noodlenigingspoging wat deur Jehovah se Getuies in Houston onderneem is. Wat was daarby betrokke? Waarom was dit nodig? En wat het dit so indrukwekkend gemaak? Kom ons begin by die begin om hierdie vrae te beantwoord.
’n Verwoestende vloed
Vroeg in Junie 2001 het ’n hewige tropiese storm genaamd Allison oor die vlaktes van suidoostelike Texas gewoed. Uiteindelik, op Vrydag, 8 Junie, het een meter reën binne 24 uur oor Houston—die vierde grootste stad in die land—uitgesak.a Dit was nie lank voordat stygende water in winkels, kantore en tienduisende huise ingestroom het nie. Snelweë om die stad het in bruisende riviere verander en oor gestrande motors en groot vragmotors gespoel. Die water was so hoog dat sommige van die oorstroomde paaie selfs vir brandweerwaens en ander noodvoertuie onbegaanbaar was. Helikopters en groot militêre voertuie is gebruik om mense te red.
Toe die weer uiteindelik op Maandag, 11 Junie, opklaar, het dit duidelik geword dat Allison ’n dodelike en duur tol geëis het. Twee-en-twintig mense het hulle lewe verloor, insluitende twee van Jehovah se Getuies: Jeffrey Green, ’n Christen- ouer man, en sy skoonsuster Frieda Willis.b Verder is ongeveer 70 000 huise beskadig, wat hierdie vloed een van die ergste natuurrampe maak wat ’n groot stadsgebied nog getref het. Trouens, deur byna $5 miljard se skade aan eiendom aan te rig, het Allison die duurste tropiese storm in Amerikaanse geskiedenis geword.
’n Vloed van vrywilligers
Mense was geskok. Een noodlenigingswerker het gesê: “Hulle beddens was nat. Hulle matte was nat. Hulle babafoto’s was weg.” Baie van die meer as 16 000 Getuies van Jehovah in die Houston-omgewing het verliese gely. Agt Koninkryksale en honderde huise van Getuies is beskadig. In sommige van hierdie huise was die water ’n hele paar sentimeter diep; by ander was die water tot by die dak. Altesaam is meer as 80 gemeentes van Jehovah se Getuies deur die vloed geraak. Nogtans is hierdie slagoffers nie aan hulle lot oorgelaat nie. Binne dae het ’n vloed—maar hierdie keer ’n vloed van vrywilligers—hulle te hulp gesnel. Hoe het dit gebeur?
Selfs voor die vloedwater begin sak het, het Christen- ouer manne van die gemeentes van Jehovah se Getuies in Houston aan die werk gespring. “Ons het ons broers en susters gebel en besoek”, het een ouer man vertel. “Toe het ons bepaal hoeveel skade aangerig is, en teen Maandag, 11 Junie, het ons ’n volledige verslag saamgestel waarin die slagoffers, die aantal beskadigde huise en die omvang van die skade aangeteken is. Dit is na die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gestuur.” ’n Paar dae later het die Amerikaanse takkantoor van Jehovah se Getuies ’n noodlenigingskomitee, wat bestaan het uit agt Christen- ouer manne van Houston, aangestel en noodlenigingsfondse beskikbaar gestel. Wat moes die komitee doen? Hulle moes die slagoffers help om die trauma te verwerk en ook help om die beskadigde huise van die Getuies te herstel—meer as 700 huise!
‘Hoe gaan ons hierdie ontsaglike taak aanpak?’ het die lede van die pas gevormde Houston-noodlenigingskomitee van Jehovah se Getuies van 2001 gewonder. Hulle het nagte lank tot laat aan ’n plan van aksie gewerk en ’n beroep gedoen op die meer as 160 gemeentes van Getuies in die Houston-omgewing om te kom help. “Die reaksie was oorweldigend”, het die voorsitter van die komitee gesê. “Meer as 11 000 Getuies het hulle tyd, arbeid en vaardighede gratis aangebied.”
Skimmel versus vrywilligers
’n Paar dae ná die vloed het vrywilligers by die slagoffers se huise gaan werk en deurweekte matte, beskadigde vloere en mure, nat kaste, skeef getrekte deure en enigiets anders uitgehaal wat deur die rioolbesmette vloedwater beskadig is. “Ons wou nie net ons broers se huise herstel nie”, het een vrywilliger gesê, “maar was ook besorg oor hulle gesondheid.” Aangesien giftige skimmel vinnig agter mure en binne-in kaste sou begin groei, moes die huise eers deeglik ontsmet word.
Om te leer hoe om die werk veilig te doen, het verskeie Getuies gevra om opgelei te word deur die Federale Agentskap vir Noodoptrede (FEMA), ’n staatsinstansie wat in rampbestuur spesialiseer. Daarna het elke FEMA-opgeleide Getuie tien vrywilligers genooi om saam met hom na ’n beskadigde huis te gaan, waar hulle geleer is hoe om daardie huis behoorlik te ontsmet. Die volgende dag het elkeen van die tien pas opgeleide vrywilligers weer tien ander vrywilligers saam met hulle geneem. “Binne ’n paar dae”, het een vrywilliger vertel, “was daar honderde wat geweet het hoe om hierdie werk te doen.” Die verspreidende skimmel kon eenvoudig nie tred hou met die toenemende aantal vrywilligers nie! Afgetredenes en tieners op skoolvakansie het gedurende die dag gewerk. Saans het ander vrywilligers oorgeneem en verder gewerk. Binne ses weke was al die besmette huise van die Getuies skoon en veilig.
Een hoofsentrum en sewe satellietsentrums
Intussen het die noodlenigingskomitee groot hoeveelhede pleisterbord en tonne ander boumateriaal aangekoop. Maar waar kon dit gestoor word? “Toe die bestuurder van ’n maatskappy uitvind dat ons ’n stoorplek nodig het”, het die woordvoerder van die noodlenigingskomitee vertel, “het hy ’n pakhuis aan ons beskikbaar gestel—met ’n vloeroppervlak van 5 000 vierkante meter—en dít heeltemal verniet!” Behalwe dat die boumateriaal in die pakhuis gestoor kon word, was daar ook plek vir kantore. Kort voor lank het dit die administratiewe sentrum van die noodlenigingspoging geword, waar ongeveer 200 tot 300 vrywilligers dae, nagte en naweke gewerk het.
Aangesien die beskadigde huise oor ’n groot gebied versprei was, is satellietsentrums, of streeknoodlenigingsentrums, in sewe Koninkryksale tot stand gebring. Oor naweke het elke satellietsentrum van vrywilligers gewemel. (Sien die venster “’n Miernes van bedrywighede”.) Baie van hulle het voorheen saam gewerk om Koninkryksale in die gebied te bou. Trouens, vrywilligers met bouvaardighede van 11 verskillende Streekboukomitees in Arkansas, Louisiana, Oklahoma en Texas het gehelp.c In elke satellietsentrum het skrynwerkers, verwers, loodgieters en ander bekwame werkers die leiding geneem en ander opgelei.—Sien die venster “Opleidingsprogramme”.
’n Plan en ’n databasis
Die vrywilligers het ’n werksplan gevolg wat in sewe fases verdeel is. Boumateriaal is in vier besendings by huise afgelewer, en herstelwerk aan elke huis moes oor drie naweke gedoen word. Op hierdie manier sou die hele noodlenigingspoging in sowat ses maande voltooi word.
Om die plan te laat werk, het die komitee 22 departemente tot stand gebring, insluitende logistiek, aankope, huisvesting en vervoer. Alle departemente het staatgemaak op die inligting in ’n uitgebreide databasis wat deur die vrywilligers saamgestel is. Voordat die herstelwerk begin het, het vrywilligers tien dae lank inligting ingevoer. “Dit was ’n data-invoer-maraton”, het ’n nuusberig gesê. Maar aan die einde van daardie “maraton” was ’n skat van nuttige feite beskikbaar. Met die kliek van ’n muis het die databasis getoon wanneer die 11 000 vrywilligers beskikbaar sou wees, watter vaardighede hulle het en hoe om met hulle in aanraking te kom. Met nog ’n kliek het dit getoon hoe ver die herstelwerk gevorder het, watter boupermitte nodig was en het dit ander besonderhede oor die beskadigde huise gegee. Die databasis het later as “die hart van die noodlenigingspoging” bekend gestaan.
Diep geraak en dankbaar
Vrywilligers met ’n kennis van bouwerk het huise besoek wat skimmelvry en droog was om vas te stel wat nodig sou wees om die skade te herstel. “Hierdie vrywilligers het presies, tot op die laaste spyker, uitgewerk hoeveel materiaal nodig was”, het ’n woordvoerder gesê. “Ons wou nie enige fondse of geskenkte materiaal mors nie.” Terselfdertyd het ander vrywilligers die nodige boupermitte by stadsamptenare gekry.
Daarna is gesinne wat vloedslagoffers was, genooi om na die pakhuis te gaan waar hulle uit ’n beperkte verskeidenheid matte, kaste, vinielvloerbedekkings en ander artikels kon kies om te vervang wat hulle verloor het. Vloedslagoffers was diep geraak en het dikwels gehuil toe hulle sien watter voorsiening daar vir hulle gemaak is. Slagoffers het ook advies ontvang van vrywilligers wat vertroud is met versekeringsaangeleenthede en regeringsbeleide. Toe is die huise op ’n rooster gesit, en op die presiese dag waarop herstelspanne boumateriaal nodig gehad het, het vrywilligers dit met vragmotors afgelewer. ’n Man wie se beskadigde huis herstel is, het vir sy Getuievrou gesê: “Jou broers is ’n wonder. Sodra die een span klaar is, is die volgende span hier. Hulle werk soos miere!”
Die basiese herstelwerk aan elke huis het ongeveer drie naweke geneem. “Maar soms het dit vyf of selfs agt weke geneem”, het die voorsitter van die komitee gesê. Wanneer mure in ouer huise uitgebreek is, het die vrywilligers dikwels ouer skade opgemerk, en hulle wou nie nuwe mure bou voordat hulle eers hierdie ou probleme reggestel het nie. ’n Vrywillige ambagsman het gesê: “Soms het ons gesien dat die nokke vol termiete was; dan het ons seker gemaak dat die termiete verwyder word. Ons het baie strukturele herstelwerk gedoen. Wanneer ons klaar was, was die huise in ’n goeie toestand.” ’n Vloedslagoffer het die gevoelens van baie ander huiseienaars uitgespreek toe hy met dankbaarheid vir ’n besoeker gesê het: “My huis is nou beter as toe ek dit gekoop het!”
Etes in ’n kits
Om kos aan al die vrywilligers te voorsien, het ’n groep Getuies ’n pakhuis agter ’n Koninkryksaal in ’n voedselvoorbereiding- en verspreidingsentrum omskep. Getuies van regoor die land het yskaste, vrieskaste, skottelgoedwassers, stowe en ander kombuistoerusting geskenk. Elke Saterdag en Sondag het 11 kokke en sowat 200 ander vrywilligers duisende etes in die sentrum voorberei. Die vrywilliger wat oor hierdie kombuis toesig gehou het, het gesê: “Ons berei al 19 jaar lank etes vir Koninkryksaalbouprojekte voor, maar hierdie projek was groter as wat ons ooit kon dink.”
Die etes is in 120 groot houers gepak. Dit is in 60 voertuie gelaai, wat die etes by al die satellietsentrums en die administratiewe sentrum afgelewer het. Intussen het elke span wat in ’n huis gewerk het, een vrywilliger na hulle toegewese satellietsentrum gestuur om die etes vir die hele span te gaan haal. Die vrywilligers het hulle etes in die huise geëet en dadelik weer begin werk.
Die einde van die maraton!
Uiteindelik, in April 2002, het die 11 700 vrywilligers een van die langste noodlenigingspogings voltooi wat ooit deur Jehovah se Getuies onderneem is. Die vrywilligers het 1 000 000 uur daaraan bestee om altesaam 8 Koninkryksale en 723 huise te herstel of te herbou. Een vloedslagoffer het die gevoelens van baie ander uitgespreek toe hy met trane van dankbaarheid in sy oë gesê het: “Ek dank Jehovah en die vrywilligers vir al hulle hulp. Dit is baie vertroostend om aan ’n liefdevolle broederskap te behoort!”
[Voetnote]
a Die stede New York, Los Angeles en Chicago het groter bevolkings. Houston se stadsgebied en omstreke het sowat 3 500 000 inwoners en is ’n bietjie kleiner as Gauteng.
b ’n Gedenkdiens is deur 1 300 vriende van Jeffrey en Frieda bygewoon. Abigail—Jeffrey se vrou en Frieda se suster—het groot vertroosting geput uit die ondersteuning wat sy daar ontvang het.
c Streekboukomitees koördineer gewoonlik die oprigting van Jehovah se Getuies se vergaderplekke.
[Venster/Prent op bladsy 21]
’N MIERNES VAN BEDRYWIGHEDE
Dit is Saterdag, 7:00 vm. by satellietsentrum nr. 4 in die noordoostelike deel van Houston. Vrywilligers in die Koninkryksaal is besig om te gesels, te lag, koffie te drink en doughnuts te eet. Party het honderde kilometers van hulle tuisdorp af gery om hier te wees. Maar teen 7:30 vm. hou die lewendige gesprekke op, en die opsiener van die satellietsentrum begin ’n Bybelteks bespreek. Hy kondig ook aan dat ’n Wagtoring-studie op Sondag om 7:30 vm. gehou sal word voordat die vrywilligers na hulle werkstoewysings gaan, en hy moedig almal aan om aan die studie deel te neem deur in Engels of Spaans te antwoord. Hy lees ’n boodskap van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, waarna almal hande klap.
Die opsiener van die satellietsentrum bring die vrywilligers dan op hoogte van die noodlenigingspoging en bedank hulle hartlik vir hulle gewillige gees. Hy vra: “Is daar enigiemand hier wat nie weet wat hy moet doen of waarheen hy vandag moet gaan nie?” Niemand steek hulle hand op nie. “Hoeveel etes het ons nodig?” Almal se hande gaan op, en hulle bars uit van die lag. Uiteindelik word ’n gebed gedoen, en die 250 vrywilligers—mans, vroue, jonk en oud—is op pad, gereed vir nog ’n lang dag se harde werk.
Dieselfde verrigtinge vind plaas by die ander ses satellietsentrums en by die pakhuis. Intussen staan ander vrywilligers in die sentrale kombuis alreeds voor die kospotte—teen twaalfuur vandag sal meer as 2 000 honger vrywilligers in Houston immers gereed wees vir ’n warm ete!
[Venster/Prent op bladsy 22]
OPLEIDINGSPROGRAMME
Tydens die noodlenigingspoging het vrywillige vakmanne klasse aangebied om ongeskoolde vrywilligers vir spesifieke take op te lei. Party is opgelei om huise te ontsmet. Ander het geleer hoe om mure te bou en kaste te installeer. Nog ander het geleer hoe om te pleister en te verf. Hierdie opleidingsklasse is op videoband opgeneem, en die video’s is daarna by die satellietsentrums gebruik om ander vrywilligers op te lei. “Deur middel van hierdie klasse”, het ’n lid van die noodlenigingskomitee gesê, “het ons verseker dat die herstelwerk van ’n hoë gehalte is.”
[Prent]
Vakmanne bied klasse aan
[Venster op bladsy 24]
“DIE WERKLIKE DAAD VAN GOD”
“Versekeringsmaatskappye noem natuurrampe dade van God”, het ’n lid van die noodlenigingskomitee gesê. “Maar”, het hy bygevoeg, “die vrywilligers wat al daardie maande hier gewerk het, is die werklike daad van God. Ons broederskap is ’n wonderwerk!” Gedurende hierdie noodlenigingspoging het 2 500 of meer vrywilligers oor naweke kom werk. Die voorsitter van die komitee het gesê: “Daardie onbetaalde vrywilligers het vakansieplanne gekanselleer, hulle gesin se roetine aangepas en ander persoonlike sake uitgestel om met een van die grootste noodlenigingspogings te help wat Jehovah se Getuies nog onderneem het.”
Die lang noodlenigingspoging het opofferings geverg. Een vrywilliger wat die werk van die begin tot die einde ondersteun het, het 50 uur per week sekulêre werk gedoen. En tog het hy elke week 40 uur aan noodlenigingswerk bestee. “Jehovah het my die krag gegee”, het hy gesê. “Mense wat my ken, vra my: ‘Word jy daarvoor betaal?’ My antwoord aan hulle is: ‘Jy sal my nie met al die geld in die wêreld hiervoor kan betaal nie.’” Oor naweke, ná ’n hele week van sekulêre werk, het ’n gesin van die staat Louisiana 800 kilometer heen en weer gery om met die noodlenigingswerk te help. Baie het van vroegdag tot laat in die middag gewerk en dan huis toe gery. Een groep van 30 opgeleide vrywilligers, wat sewe tot tien uur na die gebied gery het, het gesê: “Dit is beslis die moeite werd.” ’n Ander vrywilliger het tot 3:30 nm. sekulêre werk gedoen en dan tot 10:00 nm. by die administratiewe sentrum gewerk. Sy het ook oor naweke gehelp. “Dis baie bevredigend”, het sy gesê.
Ja, hierdie en alle ander vrywilligers was bereid om te help omdat hulle hulle broers liefhet—die kenmerk van ware Christene (Johannes 13:35). Nadat Houston se burgemeester die administratiewe sentrum van die noodlenigingspoging besoek het, het hy vir ’n groep Getuies gesê: “Julle doen werklik wat God vir ons sê om te doen. Julle pas toe wat julle glo.”
[Prent op bladsy 20, 21]
Houston word oorstroom, 9 Junie 2001
[Erkenning]
© Houston Chronicle
[Prent op bladsy 21]
Snelweë het in riviere verander
[Prent op bladsy 21]
Water het in huise ingestroom
[Prente op bladsy 23]
Van die duisende Getuies wat as vrywilligers gewerk het
[Prent op bladsy 24]
Die kombuisspan het meer as ’n kwartmiljoen etes voorberei!
[Foto-erkenning op bladsy 19]
NOAA