Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/8 bl. 26-27
  • Vereis Christelike eenheid eenvormigheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vereis Christelike eenheid eenvormigheid?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eenheid, nie eenvormigheid nie
  • Hoe om verskille te hanteer
  • Verheerlik God “uit een mond”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Christelike eenheid verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hulp om verstandige besluite te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/8 bl. 26-27

Die Bybel se beskouing

Vereis Christelike eenheid eenvormigheid?

DIT wil voorkom of godsdienste van vandag deur onenigheid gekenmerk word. Selfs mense wat aan dieselfde kerk behoort, kan ’n verskeidenheid teenstrydige opvattings hê oor leerstellings en gedrag. Een skrywer het dit so gestel: “Dit is selfs moeilik om twee mense te vind wat in presies dieselfde God glo. Dit lyk deesdae of elkeen glo net wat hy wil.”

In skerp teenstelling hiermee het die apostel Paulus eerste-eeuse Christene in Korinte vermaan om ‘eenstemmig te praat’ en ‘paslik verenig te wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang’ (1 Korintiërs 1:10). Vandag kritiseer party Paulus se vermaning. ‘Mense verskil’, voer hulle aan, ‘en dit is verkeerd om daarop aan te dring dat alle Christene op dieselfde manier moet dink of optree.’ Maar het Paulus werklik bedoel dat hulle soos robotte moet wees wat nie vir hulleself kan dink nie? Laat die Bybel persoonlike vryheid toe?

Eenheid, nie eenvormigheid nie

In een van sy ander briewe het Paulus Christene aangespoor om God met hulle “denkvermoë” te dien (Romeine 12:1). Dan het hy tog sekerlik nie lede van die gemeente in Korinte in robotte probeer verander wat nie vir hulleself kon dink nie. Maar waarom het hy dan gesê dat hulle “paslik verenig [moet] wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang”? Paulus het hierdie raad gegee omdat daar ’n ernstige probleem in die gemeente in Korinte was. Verdeeldheid het ontstaan en party het Apollos as hulle leier beskou, terwyl ander ten gunste van Paulus of Petrus was of net Christus aanvaar het. Hierdie onenigheid kon nie sommer oor die hoof gesien word nie, want dit het die vrede van die gemeente in gevaar gestel.

Paulus wou hê dat die Korintiërs “die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede . . . bewaar”, net soos hy later die Christene in Efese vermaan het (Efesiërs 4:3). Hy het die broers aangespoor om Jesus Christus in eenheid na te volg, en nie in twistende groepe, of sektes, te verdeel nie. Sodoende sou hulle in vrede en met ’n gemeenskaplike doel kon saam werk (Johannes 17:22). Paulus se raad het dus gehelp om die Korintiërs se denke reg te stel en het eenheid bevorder, nie eenvormigheid nie.—2 Korintiërs 13:9, 11.

Eenheid is ook belangrik wanneer dit by leerstellings kom. Voetstapnavolgers van Jesus besef dat daar in werklikheid net “een geloof” is, soos daar net “een God en Vader” is (Efesiërs 4:1-6). Gevolglik maak Christene seker dat wat hulle glo, in ooreenstemming is met die waarheid wat God in sy Woord oor hom en sy voorneme geopenbaar het. Hulle is verenig in hulle beskouing oor wie God is en wat hy vereis. Hulle bly ook by die duidelike sedelike standaarde wat in God se Woord uiteengesit word (1 Korintiërs 6:9-11). Op hierdie manier bly Christene verenig wat leerstellings sowel as sedes betref.

Hoe om verskille te hanteer

Maar dit beteken nie dat daar vir elke Christen gesê word presies hoe hy moet dink en wat hy in elke situasie in die lewe moet doen nie. In die meeste gevalle kan ’n mens self besluit. Beskou ’n voorbeeld. ’n Aantal eerste-eeuse Christene in Korinte het getwyfel of hulle vleis kon eet wat van ’n afgodstempel af gekom het. Party het vas geglo dat dit ’n daad van valse aanbidding sou wees om van die vleis te eet, terwyl ander gevoel het dat dit nie saak maak waar die vleis vandaan kom nie. Toe Paulus hierdie sensitiewe saak hanteer het, het hy nie ’n reël gemaak wat vir Christene gesê het wat om te doen nie. Hy het eerder erken dat mense dalk verskillende besluite oor die saak sou neem.a—1 Korintiërs 8:4-13.

Vandag neem Christene moontlik besluite wat van dié van ander Christene verskil wanneer dit kom by werk, gesondheid, ontspanning of iets anders waarin hulle ’n persoonlike keuse kan maak. Dit kan vir party ’n rede tot kommer wees. Hulle wonder miskien of meningsverskille tot rusies of verdeeldheid in die gemeente aanleiding kan gee. Maar dit hoef nie noodwendig te gebeur nie. Ter toeligting: Komponiste het slegs ’n beperkte aantal note om mee te werk, en tog is daar eindelose moontlikhede om pragtige musiek te maak. Christene maak eweneens keuses binne die grense van Goddelike beginsels. Hulle het egter ’n mate van vryheid wanneer hulle sekere persoonlike besluite neem.

Hoe kan ’n mens Christelike eenheid bewaar en terselfdertyd respek vir persoonlike keuse toon? Die sleutel is liefde. Liefde vir God beweeg ons om ons gewillig aan sy gebooie te onderwerp (1 Johannes 5:3). Liefde vir ons medemens beweeg ons om ander se reg te respekteer om gewetensbesluite in persoonlike sake te neem (Romeine 14:3, 4; Galasiërs 5:13). Paulus het ’n goeie voorbeeld in hierdie verband gestel toe hy hom in ’n leerstellige saak aan die gesag van die eerste-eeuse bestuursliggaam onderwerp het (Matteus 24:45-47; Handelinge 15:1, 2). Terselfdertyd het hy almal aangemoedig om die gewete van mede-Christene te respekteer in sake waaroor ’n mens self kan besluit.—1 Korintiërs 10:25-33.

Dit is duidelik dat niemand veroordeel moet word as hy ’n gewetensbesluit neem wat nie in stryd met Bybelbeginsels is nie (Jakobus 4:12). Aan die ander kant sal lojale Christene nie op hulle regte aandring tot nadeel van ander se gewete of ten koste van gemeentelike eenheid nie. Hulle moet ook nie daarop aandring dat hulle die vryheid het om iets te doen wat uitdruklik deur God se Woord verbied word nie (Romeine 15:1; 2 Petrus 2:1, 19). Liefde vir God moet ons beweeg om ons gewete in ooreenstemming met God se denke te bring. Sodoende sal ons die eenheid tussen ons en ons medegelowiges bewaar.—Hebreërs 5:14.

[Voetnoot]

a Dit is byvoorbeeld moontlik dat party wat afgode aanbid het voordat hulle Christene geword het, dit as ’n daad van aanbidding beskou het om die vleis te eet. ’n Ander geldige rede tot kommer was dat swakker Christene dalk die verkeerde indruk sou kry en gestruikel sou word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel