Die Tour de France—100 jaar van fietsry se grootste toets
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK
IN November 1902 was Henri Desgrange, die direkteur van die sportblad L’Auto, op soek na ’n idee om die mededingende koerant Le Vélo op sy neus te laat kyk. “Wat daarvan as ons ’n fietswedren deur Frankryk reël?” het Géo Lefèvre, een van L’Auto se jong joernaliste, voorgestel. Die idee het aanvanklik onrealisties geklink, maar dit het gou vorm aangeneem. Op 1 Julie 1903, om presies 3:16 nm., het 60 professionele en amateurfietsryers op die eerste Tour de France uit Parys vertrek wat oor drie weke en 2 428 kilometer sou strek.a
“Slawe van die pad”
Die wedren was onmiddellik gewild onder die publiek. Regoor Frankryk het groot skares uitgekom om die “slawe van die pad”, soos die Franse joernalis Albert Londres hulle genoem het, te sien en toe te juig. Gedurende die eerste klompie jare van die wedren was toestande, om die minste te sê, primitief—eenvoudige toerusting, paaie vol slaggate, nimmereindigende skofte en nagtelike vertrektye.
Behalwe by beheerpunte is fietsryers verbied om enige tegniese hulp te kry, en dié wie se fietse gebreek het, moes hulle fietse, wat 20 kilogram geweeg het, self regmaak. Die ongelukkige Eugène Christophe moes byvoorbeeld twee keer, in 1913 en 1919, sy fiets se voorwielvurke by ’n dorpie se smidswinkel regmaak!
Vindingrykheid en mediadekking
Om belangstelling in die wedren lewendig te hou, moes die organiseerders van jaar na jaar vindingryk wees. Veranderings het onder meer die volgende behels: meer en korter skofte, kort gedeeltes van die roete deur buurlande, nasionale of geborgde spanne, individuele en spantydtoetse en dat die eindstreep na die Champs-Élysées, in Parys, verskuif is. ’n Mylpaal is in 1919 bereik toe die algehele voorloper van elke dag ’n spesiale trui toegeken is wat dieselfde kleur was as die geel bladsye van L’Auto—die gesogte maillot jaune, of geel trui. Om die gebeurtenis te finansier, het Desgrange in 1931 die publisiteitskaravaan begin wat die bondel met ’n uur vooruitgeloop en die entoesiasme van die skare langs die roete opgebou het.
Verkope van L’Auto—nou L’Équipe—het skerp toegeneem. In 1903 is ’n spesiale uitgawe van die tydskrif uitgegee sewe minute ná Maurice Garin, die wenner van die eerste Tour de France, die wedren voltooi het. Die 130 000 eksemplare wat daarvan gedruk is, is dadelik van die rakke af opgeraap. Met beeldmateriaal wat deesdae in meer as 150 lande uitgesaai word, is die Tour de France naas die Olimpiese Spele en die Wêreldbekersokkertoernooi die sportgebeurtenis wat die grootste mediadekking ter wêreld kry. Die wedren was so gewild dat Spaanse parlementslede in 1987 hulle debat onderbreek het om hulle landgenoot, Pedro Delgado, se oorwinning in die 21 s-draaie van die moordende Alpe d’Huez-bergskof te volg!
Die berge word aangedurf
Eers het die wedren hoofsaaklik op gelyke terrein plaasgevind. Toe, in Junie 1910, het Alphonse Steinès, ’n joernalis vir L’Auto, ’n telegram aan Desgrange van die Pirenieë gestuur om te sê dat die bergpaspaaie heeltemal begaanbaar is. Steinès se verslag was nie eintlik waar nie. Hy het die hele nag lank op ’n hoogte van 2 200 meter in die sneeu verdwaal! Nogtans het die taaiste fietsryers die volgende maand hierdie uitdaging aanvaar. Hoewel die Fransman Gustave Garrigou nie eerste gekom het nie, het hy teen die Tourmalet-pas in die Pirenieë opgery sonder om eenkeer ’n voet neer te sit. Ander bergpasse in die Alpe en die Pirenieë is sedertdien by die wedrenroete gevoeg.
Op die afdraandes behaal die fietsryers duiselingwekkende snelhede van tot 100 kilometer per uur, en hulle val dikwels. In 1951 het die Hollander Wim van Est, wat die geel trui gedra het, in ’n kloof geval wat 50 meter diep is, en is hy met ’n aanmekaargeflansde tou van fietsbinnebande uitgetrek. Ander het tragieser ongelukke gehad. In 1935 is die Spanjaard Francisco Cepeda dood nadat hy in die Galibier-pas in die Alpe geval het. In 1995 het die Italianer Fabio Casartelli ’n noodlottige ongeluk gehad op ’n helling van 17 persent op die Portet d’Aspet in die Pirenieë.
Wedywering in die berge
In 1964 was twee Fransmanne, Jacques Anquetil en Raymond Poulidor, in ’n onvergeetlike kop-aan-kop-stryd gewikkel teen die hange van die Puy-de-Dôme in die Auvergne-gebergte. Poulidor, wat dikwels tweede gekom het, het die stryd gewen, maar hy het sy kans om die geel trui te kry met net ’n paar sekondes verbeur.
In 1971 het die Belg Eddy Merckx en die Spanjaard Luis Ocaña om die eerste plek meegeding. Op 12 Julie op die afdraande van die Mente-pas in die Pirenieë het Ocaña geval. Die Spanjaard is beseer en kon die wedren nie voltooi nie. Ter ere van sy mededinger het Merckx gevra om nie vir die begin van die volgende dag se skof die geel trui te dra nie.
Deelnemers het al by ander geleenthede hulle sportmanskap in die berge getoon. Toe die Italiaanse aartsmededingers Gino Bartali en Fausto Coppi byvoorbeeld in 1949 teen die Izoard in die Alpe opgery het, het hulle hulle vyandigheid opsygesit om mekaar te ondersteun.
’n Spansport
Dit is opwindend wanneer ’n fietsryer ’n hele ruk lank van die bondel af wegbreek. Dit het byvoorbeeld in 1951 gebeur toe die Switser Hugo Koblet vir ’n ongelooflike 140 kilometer weggebreek het in die Brive-Agen-skof. Maar dit verg gewoonlik spanwerk om te wen. Daar is gewoonlik 20 professionele spanne met nege fietsryers elk. Spanlede gee hulle volle ondersteuning aan hulle spanleier en is altyd gereed om hom by te staan as sy fiets breek, hy moeg word of val.
Die voorbeeld van die 20-jarige Franse fietsryer René Vietto in 1934 lig hierdie spangees goed toe. Al het hy ’n goeie kans gestaan om die skof te wen, het hy nie gehuiwer om weer teen die pas op te ry waarteen hy so pas afgery het nie om sy fiets vir sy spanleier, Antonin Magne, wie se fiets gebreek het, te gee.
Fietsrylegendes
Om die wedren meer as een keer te wen, is ’n buitengewone prestasie. Tot nou toe het vier fietsryers elk vyf keer gewen: Jacques Anquetil (Frankryk, 1957, 1961-64), Eddy Merckx (België, 1969-72, 1974), Bernard Hinault (Frankryk, 1978-79, 1981-82, 1985) en Miguel Indurain (Spanje, 1991-95). Maar wie weet hoeveel keer die Belg Philippe Thys (wenner in 1913, 1914, 1920) sou gewen het as die eerste wêreldoorlog, waarin verskeie voormalige kampioene gesterf het, nie die kompetisie onderbreek het nie?
Baie meen dat Eddie Merckx, wat Die Kannibaal genoem is, die beste fietsryer nog was. Met ’n rekord van 34 skofoorwinnings het hy op alle gebiede uitgeblink—tydtoetse, naelry, afdraandes, gelyktes en bergskofte. “Hy los net die krummels vir ons”, het sy moedelose mededingers gekla. Ander beskou Fausto Coppi, wat twee keer gewen het, as die mees professionele en stylvolste fietsryer van alle tye.
Wen tot elke prys
Dit was nog altyd ’n versoeking om tydens die wedren oneerlik te wees. In 1904 is die eerste vier fietsryers gediskwalifiseer omdat hulle onder andere ongemagtigde kortpaaie gekies het of in ’n motor gery het.
Maar opkikkers bly nog die grootste probleem van fietswedrenne. In die vroeë jare is vreemde brousels vir party fietsryers gegee, en in 1920 het L’Auto ’n artikel gepubliseer wat die gebruik van opkikkers onder mediese toesig veroordeel het. In 1924 het die Pélissier-broers erken dat hulle “dinamiet”, oftewel gevaarlike middels, gebruik het. Deur die dekades heen is verskeie verdagte ongelukke aan opkikkers toegeskryf, soos die tragiese dood van die Britse fietsryer Tom Simpson terwyl hy in 1967 teen Mont Ventoux opgery het.
In 1998 was daar groot opslae in die nuus oor fietsryers wat opkikkers onder mediese toesig gebruik het. Ongeveer 400 dosisse opkikkers, insluitende eritropoiëtien, is in ’n spanmasseerder se motor ontdek. Een span is gediskwalifiseer en ’n ander het hulle onttrek. Verlede jaar het ’n skandaal die reputasie geskend van die fietsryer wat in die derde plek geëindig het. Die direkteur van die Tour de France, Jean-Marie Leblanc, skryf in die voorwoord van die gedenkboek 100 ans de Tour de France (100 jaar van die Tour de France), uitgegee deur L’Équipe, dat “opkikkers, die feit dat die wedren te groot word en geld” die voortbestaan van die wedren bedreig.
Ondanks die probleme het die atlete glad nie hulle liefde en geesdrif vir die wedren verloor nie. Lance Armstrong van Texas, wat dit al vier keer gewen het en die onbetwiste gunsteling is om die eeufeeswedren in 2003 te wen, wat basies dieselfde roete as die wedren in 1903 volg, het gesê: Die Tour de France “het ’n reputasie, ’n geskiedenis en ’n styl wat geen ander wedren kan ewenaar nie. Kom wat wil, dit sal nooit net nog ’n wedren wees nie.” Elke professionele fietsryer se droom is om die Tour de France te wen.
[Voetnoot]
a Die wedren dek gewoonlik ’n afstand van ongeveer 3 600 kilometer in 20 skofte van een dag elk.
[Diagram/Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die eeufeesroete 5-27 Julie 2003
–– Tydtoetse
—— Vervoer tussen skofte
• Beginpunt
○ Eindpunt
• PARYS
-- ——
○ Sedan
-- ——
○ Saint-Dizier
-- ——
○• Nevers
--
○• Lyon
--
○ L’Alpe d’Huez
--
○ Marseille
——
• Narbonne
--
○• Toulouse
-- ——
○ Cap’ Découverte
-- ——
○ Bayonne
-- ——
○• Bordeaux
-- ——
○ Nantes
——
• Ville d’Avray
--
○ PARYS
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 22]
1903 Maurice Garin, die eerste wenner van die Tour de France
1927 Fabriekswerkers onderbreek hulle werk om na die wedren te kyk
[Erkenning]
100 ans de Tour de France, L’Équipe, 2002 © L’Équipe/Presse Sports
[Prent op bladsy 23]
1910 Octave Lapize, met ekstra binnebande om sy nek, stoot sy fiets in die Pirenieë
[Erkenning]
100 ans de Tour de France, L’Équipe, 2002 © L’Équipe/Presse Sports
[Prente op bladsy 24]
1951 Die Italianer Fausto Coppi, wat twee keer gewen het
1964 Anquetil en Poulidor in ’n aangrypende stryd
[Erkenning]
100 ans de Tour de France, L’Équipe, 2002 © L’Équipe/Presse Sports
[Prente op bladsy 24, 25]
1991-95 Miguel Indurain (Spanje), met die geel trui, het die Tour de France vyf keer gewen
1999 Lance Armstrong in ’n tydtoets
[Erkenning]
100 ans de Tour de France, L’Équipe, 2002 © L’Équipe/Presse Sports