Fietswedrenne—Die opdraandes en afdraandes
SUKKELEND en hygend het ek sonder ophou getrap. Tog het ek nie regtig moeg gevoel nie, maar was ek seker dat dit alles die moeite werd was. Ná ’n klim van 25 kilometer tot by die bopunt van die Groot Sint Bernard-pas, tussen Switserland en Italië, het ek voorgeloop. My afrigter het uit sy motor vir my gewys dat ek ’n paar minute voor was. Ek kon reeds sien hoe ek dié skof wen en selfs die voorloper se geel trui aantrek.
Met motorfietse en motors agter my het ek teen ’n roekelose spoed aan die ander kant afgejaag. Halfpad ondertoe het ek een van die draaie te skerp gevat. My agterwiel het onder my uitgegly, en ek het van die pad afgeskuif. Ek het die skof in pyn voltooi, maar dit was neusie verby met die geel trui en roem. Ek het nie die Tour de l’Avenir van 1966 gewen nie.
Hoe my passie ontwikkel het
Ek is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Bretagne gebore. In Wes-Frankryk is fietsry baie gewild, en dié streek het al baie kampioene opgelewer. As seun het ek na die plaaslike wedrenne gaan kyk en nooit die Tour de France op televisie gemis nie. Wanneer ek gesien het hoe die ryers hulle inspan teen asemrowende bergpasse uit en teen die steilste hellings afjaag, het hulle vir my soos gode gelyk.
Op 17-jarige ouderdom het ek besluit om dit te probeer. Met die hulp van ’n fietshandelaar het ek my eerste resiesfiets tweedehands gekoop. Ek het ’n besige program gehad: elke Sondagoggend en voor en ná werk gedurende die week het ek geoefen. Net twee maande later het ek met ’n bonsende hart by die wegspringplek van my eerste wedren gestaan. Ek sou dit gewen het as die bondel my nie net 10 meter van die eindstreep af ingehaal het nie! Ek het die res van daardie jaar in amper al my wedrenne tussen die eerste 15 geëindig.
My 1962-seisoen was van korte duur. Ná drie maande se wedrenne en verskeie oorwinnings is ek opgeroep om 18 maande lank diensplig in Algerië te doen. Nadat ek na Frankryk teruggekeer het, het ek 1965 gebruik om weer by fietsry aan te pas. Maar die volgende seisoen was ek vasbeslote om die vreugde te ervaar om weer eens die wenner se ruiker te ontvang.
Van Maart 1966 af het ek die een oorwinning ná die ander behaal. Elke keer wanneer ek eerste of tweede in ’n wedren geëindig het, het ek punte verkry wat my uiteindelik in ’n hoër kategorie sou plaas, waar die mededinging strawwer sou wees. Maar ek het destyds saam met my pa, ’n vloerskuurder, gewerk. Die werk was baie uitputtend en het verhinder dat ek soveel tyd as wat ek graag wou aan fietsry bestee. Wanneer ek dus die nodige aantal punte behaal het om in my kategorie te kon bly, was ek tevrede met die bonusgeld wat ek tydens die oorblywende wedrenne verdien het, maar ek het toegelaat dat ander my wen sodat ek nie in ’n hoër kategorie geplaas sou word nie.
Vinnige vooruitgang
Vanweë my uitslae het drie spanne my ’n wedrenkontrak aangebied. Ek het dit van die hand gewys omdat ek my pa nie in die steek wou laat nie. Maar die afrigter wat die meeste daarop aangedring het, het my pa oorreed om my ’n week verlof toe te staan om aan ’n moeilike wedren in die Pireneëgebergte, al met die Frans-Spaanse grens langs, deel te neem. Ek het ’n goeie plek behaal, en ons het dus voortgegaan na Spanje, waar ek die amateurs se Toer van Katalonië gewen het. ’n Paar dae later het ek aan die Toer van die Baleariese Eilande deelgeneem, die eerste skof gewen en die voorloper se trui aangetrek, maar het dit weer op die laaste dag in ’n tydren verloor omdat my span uitgeval het.
Toe was dit die Route de France in die streek Nice. Ek het in baie van die skofte uitgeblink en die trofee vir opdraandes gewen. Weens sulke goeie uitslae is ek as een van die tien topryers gekies en genooi om Frankryk in die Tour de l’Avenir, die amateurs se ekwivalent van die Tour de France, te verteenwoordig.
Tydens daardie twee maande het die enigste nuus wat my gesin ontvang het uit die koerante se sportbladsye gekom. Toe ek aan my pa dink en die feit dat hy my net ’n week se verlof toegestaan het, het ek die aanbod van die hand gewys en teruggekeer huis toe. Maar my afrigter en ’n sportjoernalis het my pa daarvan oortuig dat ek een van Frankryk se veelbelowende fietsjaers is, en hy het my dus laat meeding. Ek het gedink ek droom! Net ’n paar maande vantevore was ek ’n amateur in die derde of vierde kategorie, en hier is ek nou vir die belangrikste amateurfietswedren ter wêreld gekies! Soos ek aan die begin genoem het, het ’n val my kanse in daardie Tour de l’Avenir van 1966 bederf.
In 1967 het ek omtrent tien tydrenne gewen, aan die Parys-Nice-wedren deelgeneem en vierde in die Tour du Morbihan in Bretagne geëindig. In 1968, op 24-jarige ouderdom, het ek my eerste beroepskontrak onderteken en sodoende by die Nederlandse ryer Jan Janssen se span aangesluit. Ons het aan die Tour de France deelgeneem, en Jan het dit daardie jaar gewen. Intussen het ek, ná ’n tydren in Rennes, Bretagne, Danielle ontmoet, wat soontoe gekom het om na haar eerste fietswedren te kyk. Dit was nie haar laaste wedren nie, want ons is die volgende jaar getroud.
Wat ’n vreugde was daardie dae tog nie—die spangees, die nomadiese lewenswyse, die nuwe dorpe en natuurtonele wat ek elke dag gesien het! Ek het nie baie geld verdien nie, maar dit het nie saak gemaak nie omdat die vreugde wat wedrenne meegebring het so bevredigend was. Ek het in verskeie tydrenne goed gevaar en gehoop om een van die groot wedrenne te wen. Maar ek het begin besef dat ’n geweldige kloof amateurfietsryers van beroepsfietsryers skei.
Die groot kampioene . . . en die ander
Gedurende die 1969-seisoen was ek ’n spanmaat van die beroemde Franse fietsryer Raymond Poulidor. Ek het aan die groot eendaagse wedrenne deelgeneem—die Parys-Roubaix en die Flèche Wallonne in België. Ek het in die bergpasse by die beste fietsryers bygehou en in verskeie skofte taamlik goed geëindig. Tog het ek dit die meeste geniet om voor die skares toeskouers vir wie ek lief was die plaaslike tydrenne in Bretagne te wen.
Maar in teenstelling met my verwagtinge was ek soos baie ander jaers nie met die fisiese vermoëns van ’n groot kampioen geseën nie. In ’n veeleisende skof van die Toer van Spanje moes ek weens sneeu en reën tou opgooi. Daar het ek besef dat die groot kampioene net daardie iets ekstra het, daardie spesiale iets wat hulle in staat stel om skroeiende hitte sowel as ysige koue te verduur. Ek was nie in dieselfde klas as byvoorbeeld Eddy Merckx nie, die Belgiese kampioen wat op daardie tydstip die beste jaer was. Hy het die res van ons ver oortref. Trouens, ek het gedurende die wedrenne waaraan hy deelgeneem het feitlik net sy rug gesien.
Eenheid onder die jaers
Eenheid het selfs onder mededingende spanne bestaan. Ek het dit persoonlik ervaar gedurende een van die moeilikste skofte van 1969 se Tour de France. Ons het die vorige aand uitgeput by ons hotel aangekom ná ’n reeks veeleisende bergskofte. Sewe-uur die volgende oggend het die wekker gelui. Soos gewoonlik het daar drie uur voor die wedren ’n groot ontbyt op ons gewag.
By die wegspringplek was daar omtrent 150 van ons, en elkeen het van sy voor- en teëspoed van die afgelope paar dae vertel, maar was tog versigtig om nie sy span se strategie vir die komende wedren te verklap nie. Dit was ’n moordende dag. Hierdie skof was van Chamonix, aan die voet van Mont Blanc, tot Briançon, met 220 kilometer Alpynse paaie en drie groot bergpasse.
Van die begin af was die pas baie vinnig. Op pad teen die 1984 meter hoë Madeleine-pas uit het ek geweet dat dit nie ’n goeie dag vir my gaan wees nie. Dit het gereën, en namate ons hoër geklim het, het die reën sneeu geword. Bo-op die pas was ses van ons uit verskillende spanne reeds verskeie minute agter die voorlopers. Ons was byna verkluim toe ons met die afdraande begin het, en ons vingers was so styf dat ons skaars kon rem sonder om ’n voet op die grond te sit. Aan die onderkant het ’n beampte uit ’n motor vir ons gewys dat ons laat aankoms ons sonder twyfel sou laat uitval. Die gedagte dat my Tour de France moes eindig op ’n plek waarvoor ek die liefste was, die berge, het my heeltemal moedeloos gelaat.
Hoewel al ons moeite tevergeefs gelyk het, het die mees ervare fietsryer onder ons ons aangemoedig om nie moed op te gee nie. Hy het ons aangevuur, die groep in formasie gebring en voorgestel dat ons beurte maak om voor te ry. Ons het deurgedruk. Toe ons by die kosvoorsieningspunt aankom, was dit reeds gesluit, maar ons het nie omgegee om die bietjie kos wat ons oorgehad het te deel nie.
Terug in die vallei het warm weer ons hernieude krag gegee. Die ure het verbygetik, en daar voor ons was die ander twee groot hindernisse van die dag—die Telegraph- en Galibier-pas, wat onderskeidelik 1670 meter en 2645 meter hoog is. Op pad boontoe het ’n wonderlike verrassing op ons gewag. By ’n draai in die pad kon ons, tussen die toeskouers deur, ’n veelkleurige massa sien. Ja, ons het die ander fietsryers ingehaal. Ons het party moedeloses en ander wat gelyk het of hulle aan die grond vasgenael was, verbygesteek. Ek het gesien hoe een van België se jong, veelbelowende fietsryers sy fiets uitgeput stoot. Ek het my spanleier ingehaal en die skof taamlik goed voltooi.
Dít alles het my ’n belangrike les geleer wat ek nooit vergeet het nie: Terwyl die eindstreep nog nie oorgesteek is nie, is die wedren nie gewen of verloor nie. Ek sal boonop nooit die gees van wedersydse ondersteuning vergeet wat, selfs onder mededingende spanne, bestaan het nie.
Ek kom met die Bybel in aanraking
In 1972 het ek vir die eerste keer die Bybel se boodskap gehoor. ’n Fietsryer genaamd Guy, wat kort tevore as beroepsjaer uitgetree het, het my besoek en oor sy nuwe geloof begin praat. Ek het vir hom gesê dat ek nie belangstel nie en dat elkeen glo dat sy eie bepaalde geloof die beste is. Guy het my ’n paar tekste uit die Bybel getoon en in antwoord op my besware gesê dat dit maklik behoort te wees om verskillende godsdienste se opvattings aan die waarheid van God se Woord te toets, aangesien baie van hulle beweer dat hulle opvattings uit die Bybel kom.
Ek het al tevore van die Bybel gehoor, maar aangesien ek ’n onbedrywige Katoliek was, het ek nie gedink dat dit enigiets met my godsdiens te doen het nie. Tog het ek gevoel dat ons gesprek geleë was omdat een van my vrou se familielede, ’n Katolieke sendeling, ons sou besoek en ons dit alles met hom kon bespreek.
My vrou se familielid het bevestig dat die Bybel waarlik die Woord van God is. Tog het hy vir ons gesê om versigtig te wees omdat Jehovah se Getuies, volgens hom, goeie mense is, maar ander mislei. Toe ek Guy weer sien, het ek hom hieroor uitgevra. Hy het verduidelik dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel, in teenstelling met wat ek in die kerk geleer is, nie in die Bybel voorkom nie (Esegiël 18:4). Hy het ook gevra waarom die familielid nie God se naam, Jehovah, gebruik het nie.—Psalm 83:18, NW.
Ek was verstom toe ek uitvind dat God ’n naam het. Nadat ons hierdie tekste vir my vrou se familielid gewys het, het hy gesê dat die Bybel nie so letterlik opgeneem moet word nie. Ons besprekings met Guy het nie gevorder nie, en hy het teruggekeer na Parys, waar hy gewerk het.
Guy het ’n jaar later na Bretagne teruggekeer en ons besoek. Hy het ons besprekings hervat deur vir ons te toon dat die Bybel ook ’n profetiese boek is. Dit het ons aangespoor om die Bybel noukeuriger te ondersoek. Ons besprekings het gereelder geword. Maar Guy moes baie geduldig met my wees, aangesien fietsry en alles wat daarmee gepaardgegaan het—vriende, ondersteuners, ensovoorts—steeds die middelpunt van my lewe was. Aangesien ons boonop van Bretagne kom, ’n gebied wat aan godsdienstradisies vasklou, was ons families teen ons nuwe belangstelling in die Bybel gekant.
In 1974 is my renloopbaan skielik deur ’n padongeluk beëindig. Dit het ons laat dink aan wat werklik belangrik in ons lewe is. Ek en my vrou het besluit om weg te trek uit ons tuisdorp en van die invloed van ons families af. Op daardie tydstip het ons gereeld vergaderinge by die Koninkryksaal van die Dinan-gemeente begin bywoon. Ons albei het in die waarheid vooruitgang gemaak, en ons is in 1976 gedoop.
Sedertdien het ek die geleentheid gehad om met verskeie fietsryers van my eie ouderdom oor die Bybel te praat. En wanneer ek van huis tot huis preek, herken baie mense my en geniet hulle dit om oor my loopbaan as fietsjaer te gesels. Party is egter nie so geesdriftig wanneer ek oor die Koninkryksboodskap praat nie.
Wanneer ek deesdae lus voel om lekker te oefen, gaan ry ek saam met my gesin. Tydens hierdie oomblikke waardeer ek die juistheid van Paulus se woorde toe hy gesê het: “Die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Timotheüs 4:8.—Soos vertel deur Jean Vidament.
[Venster/Kaart op bladsy 16, 17]
Die Tour de France
Die wêreld se beroemdste padwedren vir fietse, die Tour de France, is in 1903 ingestel. Dit strek oor 4000 tot 4800 kilometer, duur sowat drie weke en eindig nou in Parys. Omtrent 200 beroepsjaers neem aan hierdie wedren deel, wat ’n roete deur die Franse platteland en hier en daar deur ’n buurland volg. Skares toeskouers spoor die jaers al met die roete langs aan.
Elke dag trek die ryer met die kortste algehele tyd die geel trui aan. Die jaer wat op die laaste dag die algehele voorloper is, wen.
Party van die kortste skofte is tydrenne, waartydens individuele jaers of spanne probeer om die wedren in die kortste tyd moontlik af te lê. In die tydrenafdeling vir spanne moet ’n vasgestelde aantal ryers van dieselfde span die skof tegelykertyd as ’n groep voltooi.
[Kaart]
Die Tour de France-fietswedren
Frankryk
ROUBAIX (beginpunt)
PARYS
[Prent op bladsy 16]
In 1968, op 24-jarige ouderdom, het Jean Vidament aan die Tour de France deelgeneem
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Mike Lichter/International Stock