’n Boek teen boeke
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
WAAROM is baie mense bevooroordeeld teenoor die Bybel? In sommige lande hou die antwoord op hierdie vraag moontlik verband met ’n menslike instrument wat bedoel was om “kettery” onder beheer te hou—die Indeks van Verbode Boeke. Hoe kan dit wees?
Die Katolieke Kerk het die uitvinding van die drukkuns geesdriftig verwelkom. ’n Paar pouse het selfs die uitvinding daarvan geprys, en party geestelikes het dit ’n “goddelike kuns” genoem. Maar die kerkowerheid het gou besef dat die drukkuns gebruik word om opvattings te versprei wat met Katolisisme bots. Teen die einde van die 15de eeu is daar dus in ’n aantal Europese bisdomme beperkings daarop opgelê. Die imprimatur (drukverlof) is ingestel, en in 1515 het die Vyfde Lateraanse Konsilie riglyne gegee om drukwerk te reguleer. Oortreders kon geëkskommunikeer word. Maar dit het nie ’n einde gemaak aan die verspreiding van gedrukte materiaal en boeke wat die kerk as ’n bedreiging vir geloof en sedelikheid beskou het nie, veral nie ná die begin van die Hervorming nie. Teen die einde van die 16de eeu is daar dus in Vatikaanse kringe gehoop “dat daar baie jare lank geen drukwerk meer sou wees nie”.
Om “die groeiende walglike vloed van verderflike boeke”—soos ’n Italiaanse Jesuïet dit in 1951 nog beskryf het—teë te hou, wou die kerk ’n lys hê wat vir alle Katolieke bindend sou wees. In 1542 is die Roomse Inkwisisie gestig. Sy eerste openbare daad was blykbaar om ’n edik teen redaksionele vryheid op godsdiensgebied uit te vaardig. Toe die voormalige inkwisiteur-generaal Gian Pietro Carafa in 1555 pous Paulus IV geword het, het hy ’n kommissie onmiddellik opdrag gegee om ’n lys van verbode boeke saam te stel. Die eerste algemene Indeks van Verbode Boeke is gevolglik in 1559 uitgegee.
Watter soort boeke is verbied?
Die Indeks is in drie “klasse” ingedeel. Die eerste deel het ’n lys van outeurs bevat wie se boeke almal verbied is, ongeag die onderwerp. Die tweede deel het bestaan uit ’n lys titels van enkele verbode werke deur outeurs wat andersins nie veroordeel is nie. En die derde deel het ’n lang lys anonieme werke verbied. Die Indeks het ’n lys van 1 107 boeke bevat en het nie net skrywers van godsdienstige onderwerpe geraak nie, maar ook dié van ander soort literatuur. ’n Aanhangsel het ’n lys verbode uitgawes van die Bybel bevat en alle vertalings in omgangstale uitdruklik verbied.
Hoewel daar voorheen plaaslike verbooie bestaan het, “het die kerk met hierdie bepalings wat die hele Katolisisme geraak het, sy eerste amptelike verbod op die druk, lees en besit van die Heilige Boek in die omgangstaal uitgevaardig”, sê Gigliola Fragnito, ’n dosent in hedendaagse geskiedenis aan die Universiteit van Parma, Italië. Die Indeks is net so kwaai teëgestaan deur boekverkopers en redakteurs as deur regerings, wat voordeel getrek het uit drukwerk. Om hierdie en ander redes is ’n nuwe uitgawe aangevra en in 1564, ná die Konsilie van Trent, uitgegee.
’n Spesiale Gemeente van die Indeks is in 1571 in die lewe geroep en die taak opgelê om na die hersiening daarvan om te sien. Op een stadium het tot drie liggame besluit watter werke verbied moet word—die Gemeente van die Heilige Offisie, die Gemeente van die Indeks en die meester van die heilige paleis, ’n pouslike hoogwaardigheidsbekleër. Die oorvleueling van verantwoordelikhede en meningsverskille oor die toekenning van groter mag aan biskoppe of aan plaaslike inkwisiteurs was van die redes waarom die vrystelling van die derde lys van verbode boeke vertraag is. Die Indeks is deur die Gemeente van die Indeks voorberei en in Maart 1596 deur Klemens VIII uitgevaardig, maar die verspreiding daarvan is op versoek van die Heilige Offisie gekeer totdat die Indeks alle Bybellees in omgangstale uitdrukliker verbied het.
Met hierdie uitgawe het die Indeks van Verbode Boeke min of meer ’n standaardvorm aangeneem, hoewel dit voortdurend deur die eeue heen bygewerk is. Baie Protestante, wat gesien het dat hulle werke daarby ingesluit is, het die Indeks beskryf as “die beste gids om die beste boeke te vind”. Daar moet egter bygevoeg word dat die beskouing van die Protestantisme destyds grootliks ooreengekom het met dié van die Katolisisme wanneer dit by boekesensuur gekom het.
Die Indeks het ’n vernietigende uitwerking op kultuur gehad, wat in lande soos Italië “in beklemmende afsondering” verval het, sê die geskiedskrywer Antonio Rotondò. ’n Ander geskiedskrywer, Guido Dall’Olio, sê dat die Indeks “een van die vernaamste redes [was] vir Italië se groot kulturele agterstand in verhouding tot die meeste ander dele van Europa”. Dit is ironies dat party boeke behoue gebly het omdat dit in ’n spesiale plek beland het, die so genoemde inferno, ’n plek in baie kerkbiblioteke waar verbode literatuur agter slot en grendel gehou is.
Maar die nuwe rol van die openbare mening in die era van die verligting het geleidelik bygedra tot die einde van die “indrukwekkendste instrument van onderdrukking wat nog ooit teen redaksionele vryheid gebruik is”. In 1766 het ’n Italiaanse redakteur geskryf: “Rome se beperkings bepaal nie die meriete van boeke nie. Die publiek besluit.” Die Indeks het sy invloed begin verloor, en die Gemeente van die Indeks, wat daarvoor verantwoordelik was, is in 1917 ontbind. Sedert 1966 is die Indeks “nie meer bindend as kerkwet met sy verwante bepalings nie”.
Die Bybel in die omgangstale
Die geskiedenis van die Indeks toon dat veral een van al die “verderflike boeke” die kerkowerheid bekommer het—die Bybel in die omgangstaal. In die 16de eeu het “ongeveer 210 uitgawes van die hele Bybel of die Nuwe Testament” in die Indekse verskyn, verduidelik die kenner Jesús Martinez de Bujanda. Gedurende die 16de eeu was Italianers daarvoor bekend dat hulle ywerige lesers van die Bybel is. Maar die Indeks, met sy streng verbod op die Skrif in die omgangstaal, het hierdie nasie se beskouing van God se Woord ingrypend verander. “Omdat die Heilige Skrif verbied en as ’n bron van kettery verwyder is, het Italianers dit uiteindelik met die geskrifte van ketters verwar”, sê Fragnito, en hy voeg by: “Die weg na redding vir die Katolieke bevolking van Suid-Europa was deur die kategismus”, en “oningeligte mense is bo godsdienstig volwasse mense verkies.”
Eers in 1757 het pous Benedictus XIV magtiging gegee dat ‘Bybelvertalings in die omgangstaal wat deur die Pouslike Stoel goedgekeur is’, gelees kon word. ’n Nuwe Italiaanse weergawe, wat op die Latynse Vulgaat gebaseer is, kon dus uiteindelik voorberei word. Trouens, Italiaanse Katolieke moes tot 1958 wag om hulle eerste volledige Bybelvertaling te ontvang wat regstreeks uit die oorspronklike tale vertaal is.
Vandag, sê Fragnito, is veral nie-Katolieke besig om “die Skrif oral te versprei”. Van die bedrywigstes is ongetwyfeld Jehovah se Getuies, wat al meer as viermiljoen eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Italiaans versprei het. Hulle het sodoende gehelp om ’n liefde vir God se Woord opnuut in die harte van honderdduisende mense aan te wakker (Psalm 119:97). Jy kan gerus beter vertroud raak met hierdie merkwaardige boek.
[Prent op bladsy 20, 21]
Bladsye uit die Indeks van Verbode Boeke
[Erkenning]
Su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali
[Prent op bladsy 22]
’n Sestiende-eeuse Italiaanse Bybel wat die kerk verbied het
[Prent op bladsy 22]
Die “Nuwe Wêreld-vertaling” het baie mense se liefde vir God se Woord opnuut aangewakker