Vervul ons Koninkryksbediening met behulp van die Index
1 As toegewyde Christene probeer ons ywerig om ons bediening te vervul. Om ons hiermee te help, het Jehovah oorvloedige riglyne en aanmoediging in ’n omvattende biblioteek van kosbare publikasies voorsien. Kan ons hulle beter gebruik? ’n Vername hulpmiddel om dit te doen, is die Watch Tower Publications Index wat sedert 1961 deurlopend in verskeie tale gedruk word.
2 Hoe kan die Index jou help om jou bediening te vervul? Die Index doen dit deur jou na die uitstekende raad en verduidelikings te verwys wat reeds voorsien is. Die Index is voorberei met die wêreldwye broederskap in gedagte. Kinders sowel as grootouers, nuwe Bybelstudente sowel as ouere manne kan almal verwysings vind wat hulle vir enige nuttige doel nodig het.
HOE OM TE VIND WAT JY NODIG HET
3 As jy in die betekenis van ’n sekere vers of reeks verse belangstel, sal dit die beste wees as jy eerste na die Skrifindeks agter in die boek gaan. Gestel iemand het Johannes 10:30 aangehaal om die Drie-eenheidsleer te probeer bewys. Die Skrifindeks sal jou na materiaal verwys wat verduidelik waarom Jesus hierdie woorde gesê het. Die Skrifindeks sal ons persoonlike Bybellees verryk namate ons die uitlegging van tekste soek wat moeilik of vaag lyk.
4 Die onderwerpindeks verskaf verskillende maniere om by dieselfde nuttige informasie uit te kom. Byvoorbeeld, jy het dalk informasie nodig oor wat om te doen as ’n ongelowige huweliksmaat daarteen beswaar maak dat jy jou kinders na die vergaderinge neem. Om die antwoord te kry, kan jy blaai na die opskrifte “Husbands”, “Wives”, “Children”, “Opposition” of “Meetings”. As dit wat jy in verband met enige onderwerp soek nie onder die eerste opskrif is waarna jy blaai nie, probeer ’n ander opskrif. Vra jou af: ‘Wie is hierby betrokke? Is ’n spesifieke plek belangrik? ’n Besondere eienskap of vaardigheid? ’n Oorheersende emosie? ’n Doelwit?’ As jy ’n hoofopskrif vind wat reg lyk, moet jy eers die kruisverwysings direk daaronder vlugtig lees. Dit spaar dikwels tyd deur ’n ander opskrif te kry wat meer ter sake is.
5 As ons die Index vaardig gebruik, kan dit baie bydra tot die welslae wat ons behaal wanneer ons ons heilige verantwoordelikhede vervul. Ons gesinne, ons Bybelstudente en ons gemeentes sal daarby baat vind wanneer ons hierdie instrument bekwamer gebruik. Toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening sal spesifieke gebiede ondersoek waar die Watch Tower Publications Index ’n onskatbare hulpmiddel kan wees sodat ons ons Koninkryksbediening kan vervul.