Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 18-19
  • Is sagmoedigheid ’n teken van swakheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is sagmoedigheid ’n teken van swakheid?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sagmoedig maar tog kragtig
  • Harde uiterlike, of innerlike krag?
  • Verkry krag om sagmoedig te wees
  • Ons moet “tere geneentheid vir mekaar hê”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Betoon tere medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Hou aan leer om ander intens lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Betoon “tere medelye”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 18-19

Die Bybel se beskouing

Is sagmoedigheid ’n teken van swakheid?

“’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal.”—2 TIMOTEUS 2:24.

NOG lank voor ons geboorte word ons ontwikkelende vel sensitief vir aanraking. Van geboorte af het ons ’n behoefte aan ons moeder se tere liefkosing. Gedurende ons kinderjare word ons geneigdheid om te glimlag, ons vermoë om emosioneel te ontwikkel en selfs ons begeerte om kommunikasievaardighede te bemeester, beïnvloed deur die hoeveelheid liefde wat ons van ons ouers ontvang.

Die Bybel het egter voorspel dat mense gedurende die laaste dae “ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid” sou wees. Daar sou ’n besondere gebrek aan sagte eienskappe soos goedhartigheid en medelye wees, aangesien mense “liefhebbers van hulleself” en “wreedaardig, sonder liefde vir die goeie” sou wees.—2 Timoteus 3:1-3.

Vandag dink baie mense dat dit nodig is om hard en emosioneel gevoelloos te wees. Hulle beweer dat dit ’n teken van swakheid is om teer, of sagmoedig, teenoor ander op te tree. Maar is dit?

Sagmoedig maar tog kragtig

Jehovah God word as “’n krygsman” beskryf (Eksodus 15:3). Hy is die Bron van alle krag (Psalm 62:11; Romeine 1:20). Maar Jehovah se krag het nie gekeer dat hy “baie teer in geneentheid en barmhartig” was toe hy die getroue man Job beloon het nie (Jakobus 5:11). In sy handelinge met Israel het Jehovah die allerteerste verhouding beskryf deur sy gevoelens te vergelyk met dié van ’n sogende moeder wat haar oor “die seun van haar moederskoot” ontferm.—Jesaja 49:15.

Jesus het ook krag met sagmoedigheid verbind. Hy het die skynheilige godsdiensleiers van sy dag skerp veroordeel (Matteus 23:1-33). Hy het ook die gierige geldwisselaars met mening uit die tempel gedryf (Matteus 21:12, 13). Maar het Jesus se haat vir korrupsie en gierigheid hom gevoelloos gemaak? Glad nie! Jesus was bekend daarvoor dat hy teer in sy handelinge met ander was. Trouens, hy het hom selfs met ’n hen vergelyk wat “haar broeisel kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak”.—Lukas 13:34.

Harde uiterlike, of innerlike krag?

Ware Christene word aangemoedig om Christus na te volg deur hulle met ‘die nuwe persoonlikheid te beklee wat na God se wil geskep is’ (Efesiërs 4:20-24). Ons word aangesê om ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike af te lê’, net soos ’n krap van sy ou dop ontslae raak sodat hy kan groei (Kolossense 3:9). Maar in teenstelling met ’n krap, wie se liggaam gou hard word nadat hy die ou dop verloor het, word ons beveel om ons permanent te beklee met “die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid . . . en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Ons moet dus deur sagmoedigheid gekenmerk word.

Dit is nie ’n teken van swakheid as ons ons met tere eienskappe beklee nie. Inteendeel, dit vereis dat ons “deur middel van [Jehovah se] gees sterk gemaak . . . word in die mens wat [ons] innerlik is” (Efesiërs 3:16). ’n Man genaamd Lee sê byvoorbeeld: “Nie lank terug nie was ek ’n wrede, slegte mens. Selfs my voorkoms was dreigend weens die deursteekjuwele wat ek gedra het. Ek was vasbeslote om baie geld te maak en het nie geaarsel om vuil taal en geweld te gebruik om my sin te kry nie. Ek was glad nie medelydend nie.” Maar Lee het die Bybel met ’n werksmaat begin studeer en het Jehovah God leer ken en hom liefgekry. Hy het sy ou persoonlikheid afgelê en selfbeheersing geleer. Hy toon nou sy liefde vir mense deur sy tyd te gebruik om hulle te help om die Bybel te bestudeer.

Die apostel Paulus was ook voorheen “’n vermetele man” wat na geweld gegryp het om sy doelwitte te bereik (1 Timoteus 1:13; Handelinge 9:1, 2). Maar toe Paulus besef watter barmhartigheid en liefde Jehovah God en Jesus Christus aan hom bewys het, het hy daarop gereageer deur daardie eienskappe te probeer navolg (1 Korintiërs 11:1). Alhoewel Paulus ’n ferm standpunt vir Christelike beginsels ingeneem het, het hy geleer om sagmoedig in sy handelinge met ander te wees. Om die waarheid te sê, Paulus het sy tere geneentheid vir sy broers vryelik betoon.—Handelinge 20:31, 36-38; Filemon 12.

Verkry krag om sagmoedig te wees

Soos ons uit die ondervinding van Lee sowel as dié van die apostel Paulus kan sien, beteken dit nie dat ons swak van karakter moet word wanneer ons leer om ander sagkens te behandel nie. Trouens, die teenoorgestelde is waar. Dit verg ware krag om jou denke en dade te verander en om te stry teen die vleeslike neiging om ‘kwaad vir kwaad te vergeld’.—Romeine 12:2, 17.

Ons kan ook leer om tere medelye te hê deur gereeld God se Woord te lees en te peins oor die liefde en barmhartigheid wat Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, reeds aan ons betoon het. As ons dit doen, sal ons toelaat dat die krag van God se Woord ons harte sag maak (2 Kronieke 34:26, 27; Hebreërs 4:12). Ongeag ons familieagtergrond of hoe hard ons lewensondervindinge was, ons kan leer om ‘teer teenoor almal’ te wees.—2 Timoteus 2:24.

[Prent op bladsy 18]

’n Goeie vader is teer teenoor sy kinders

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel