Konyne en paddas—Indringers in ’n vasteland
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIE slagveld is ’n geskende, dorre woesteny. Die veld wat voorheen welig was, is nou oortrek met diep gate. Die karkasse van vegters lê oral gestrooi. Hierdie soldate dra nie gekamoefleerde groen uniforms, stewels en bajonette nie, maar het sagte pelse en skerp tande. Hulle is Australië se wildekonyne.
Konyne net waar jy kyk
Europese konyne het in 1859 hulle inval aan die suidoostelike punt van Australië geloods. Hoewel hulle oorspronklik vir plaaslike jagters ingevoer is, is hulle later nie vir sport gejag nie, maar in ’n wanhopige poging om hulle getalle onder beheer te hou.
Die Europese konyn het 900 jaar geneem om Brittanje te koloniseer, maar het binne net 50 jaar ’n gebied in Australië oorgeneem wat meer as die helfte so groot soos Europa is. Aangesien volwasse wyfies tot 40 kleintjies per jaar kry, het konyne teen ’n tempo van tot 100 kilometer per jaar oor die vasteland versprei. ’n Verslag deur die Buro van Landelike Wetenskappe (BRS) sê: “Dit was die vinnigste wat enige soogdier ter wêreld ’n gebied gekoloniseer het.” Die gevolge was verwoestend.
Konyne eet die weiding van inheemse diere en neem hulle gate oor; hulle word daarvoor blameer dat talle spesies plaaslik uitsterf. Hulle word selfs vir die vernietiging van woude verantwoordelik gehou. Soos een navorser verduidelik: “Hulle eet jong plante en wanneer die volwasse bome doodgaan, is daar geen jong bome om dit te vervang nie.” Wanneer hulle op ’n eilandjie kom, kan die resultate rampspoedig wees. “Konyne wat in 1903 na Laysan-eiland gebring is, het teen 1936 drie inheemse voëlspesies en 22 van die 26 plantspesies uitgeroei. . . . In 1923 was die eiland ’n dorre woesteny met ’n paar sukkelende bome”, sê ’n BRS-verslag.
Wapens van massavernietiging word gebruik
In Australië is konyne geskiet, in strikke gevang en vergiftig. Die bekende konynheining—wat 1 830 kilometer ver oor die staat Wes-Australië strek—is opgerig in ’n poging om hulle vooruitgang te stuit.a Maar dit was asof niks die invallende leër kon keer nie.
Toe is ’n teenaanval in 1950 met ’n biologiese wapen—die miksomatose-virus—geloods. Hierdie virus het die konynbevolking drasties verminder, wat volgens skatting op daardie stadium ’n verstommende 600 miljoen bereik het. Miksomatose, wat deur muskiete en vlooie versprei word, tas net konyne aan, en dit het binne net twee jaar 500 miljoen van die indringers uitgewis. Maar die konyne het vinnig ’n weerstand teen die siekte opgebou, en die oorlewendes het verskriklik vinnig aangeteel. Teen die 1990’s het hulle getalle dus tot ongeveer 300 miljoen gestyg. ’n Ander wapen was dringend nodig.
Slegte nuus—goeie nuus
In 1995 is ’n tweede biologiese wapen, konynbloedingsiekte (RHD), in Australië in gebruik geneem. RHD het aanvanklik in 1984 in China verskyn. Teen 1998 het dit na Europa versprei en kort daarna het dit 30 miljoen mak konyne in Italië uitgewis. RHD was slegte nuus vir die Europese konynbedryf maar goeie nuus vir Australiese boere, want binne die eerste twee maande nadat die hase aan die siekte blootgestel is, het tienmiljoen konyne doodgegaan. Dit lyk of die virus net konyne aantas, en hulle gaan 30 tot 40 uur ná besmetting dood, sonder enige tekens van lyding. Teen 2003 het RHD die aantal konyne in talle droër dele van Australië met 85 persent of meer verminder.
Sonder konyne wat aan hulle blare peusel, het inheemse orgideë in een Suid-Australiese nasionale park binne vyf jaar agtvoudig vermeerder. In ander dele van die staat was daar “merkbaar vroeë herstel van inheemse struike . . . in gebiede waar die siekte gereeld voorgekom het”, sê die tydskrif Ecos. Ingevoerde roofdiere, soos vosse en wilde katte, het ook in party gebiede verminder omdat daar nie konyne is nie. Ekoloë sowel as boere is tevrede met die doeltreffendheid van hierdie nuwe wapen, aangesien konyne die Australiese ekonomie tot R2,7 miljard per jaar gekos het. Maar die langtermynuitwerking van hierdie siekte op Australië se taai konynbevolking moet nog vasgestel word.
Eers ’n skitterende ridder, nou ’n lelike padda
Wetenskaplikes het dalk die oorwinning oor die wilde konyne behaal, maar hulle was minder suksesvol met ’n meer onlangse indringer—die strandpadda. Net soos die konyn, het hierdie probleemdier nie stilletjies die land ingekom nie, maar hy is doelbewus ingevoer. Waarom?
Vroeg in die 20ste eeu het twee soorte suikerrietkewers die voortbestaan van Australië se suikerrietbedryf bedreig, wat jaarliks vir die ekonomie negemiljard rand werd is. In 1935 het mense gedink dat Bufo marinus, oftewel die strandpadda, ’n amfibiese dier wat so groot soos ’n mens se vuis is en ’n reputasie het as ’n vraatsugtige kewer-eter, suikerrietboere sou red. Ten spyte van party wetenskaplikes se bedenkinge is die padda van Suid-Amerika via Hawaii ingevoer en in die suikerrietplantasies van Queensland vrygelaat.
Nadat die strandpaddas vrygelaat is, het hulle die suikerrietkewers eenvoudig geïgnoreer en ’n verraaier geword. Hierdie diere is giftig in elke stadium van hulle ontwikkeling, van eier tot volgroeide padda. Terwyl hulle van paddavissie tot padda verander, groei spesiale kliere onder hulle vel wat ’n baie giftige, melkerige slym afgee wanneer hulle geïrriteerd raak. Strandpaddas is daarvoor bekend dat hulle inheemse akkedisse, slange, wilde honde en selfs krokodille doodmaak wat dwaas genoeg is om hulle te eet. Hulle teel baie vinnig aan en het nou al meer as 900 kilometer ver van hulle oorspronklike vrylatingspunte versprei. Bevolkingsdigthede is tien keer hoër as in Venezuela, waar hulle oorspronklik vandaan kom. Net soos ’n Bybelse plaag, val hulle landerye en huise binne en kruip hulle in toiletbakke weg. Hulle het teen ’n tempo van 30 kilometer per jaar versprei, en nou het hulle ’n gebied binnegedring wat as ’n paddaparadys beskryf kan word—die Kakadu- Nasionale Park in die Noordelike Gebied, wat op die Wêrelderfenislys is. Die Australiese regering het al miljoene rande gespandeer om navorsing te finansier wat bedoel is om die padda se vooruitgang te probeer stuit, maar geen doeltreffende metode is al gevind nie. Die stryd is nog nie oor nie, maar tot dusver wen die paddas.
Waarom die konflik?
In ’n onversteurde ekosisteem het organismes hulle eie natuurlike reguleerders wat die bevolkingsgroei onder beheer hou. Maar wanneer hulle nie meer deur die regulerende faktore van hulle inheemse omgewing in toom gehou word nie, kan diere wat onskadelik lyk, so vinnig voortplant dat hulle verwoesting saai.
Die eerste Europese setlaars in Australië het nie besef watter ontsaglike skade onbeheerde bevolkings van ingevoerde diere en plante sou aanrig nie. Baie ingevoerde spesies is weliswaar nuttig. Trouens, Australiërs is nou heeltemal afhanklik van ingevoerde plante en diere—skape, beeste, koring, rys en ander stapelvoedselsoorte. Maar die konyn en die strandpadda is ’n ernstige herinnering aan hoe belangrik dit is om versigtig te wees wanneer mense besluit om die aarde se ongelooflik ingewikkelde web van die lewe te manipuleer.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 2003, bladsy 14.
[Prent op bladsy 26]
’n Held wat ’n verraaier geword het—die strandpadda se inval gaan voort
[Erkenning]
U.S. Geological Survey/photo by Hardin Waddle
[Prent op bladsy 26]
Dors indringers by ’n watergat op Wardang-eiland, Spencer-golf, Suid-Australië
[Erkenning]
By courtesy of the CSIRO
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Konyne: Department of Agriculture, Western Australia; padda: David Hancock/© SkyScans