Hulp vir vandag se jongmense
JONGMENSE word vandag groot in ’n wêreld wat by tye skrikwekkend kan lyk. Party kyk hulpeloos toe terwyl hulle ouers uitmekaar gaan of skei. Ander sien hoe hulle skoolmaats betrokke raak by dwelms en misdaad. Baie ondervind druk van portuurs van albei geslagte om by seks betrokke te raak. En amper alle adolessente voel partykeer eensaam, terneergedruk en dat ander hulle nie verstaan nie.
Wat moet jongmense doen om die uitdagings waarmee hulle te kampe het, die hoof te bied? “Kinders het ’n betroubare waardestelsel nodig”, skryf dr. Robert Shaw, “die soort anker wat hulle help om goeie vriende te kies, die regte besluite te neem en ander met empatie te beskou.” Die Bybel voorsien die beste waardestelsel moontlik, want dit bevat die gedagtes van die Skepper. Wie weet meer as Jehovah God oor wat ons nodig het om die moeilike tye waarin ons lewe, die hoof te bied?
Realistiese, praktiese riglyne
Die Bybel se beginsels is realisties en prakties. Dit is van onskatbare waarde vir ouers en ander volwassenes wat jongmense wil help om nie die pad byster te raak terwyl hulle tot volwassenheid groei nie.
Byvoorbeeld, die Bybel is realisties wanneer dit erken dat ‘dwaasheid in die hart van ’n seun vassit’, of soos Today’s English Version dit vertaal, dat “kinders maar van nature dwase, roekelose dinge doen” (Spreuke 22:15). Party adolessente lyk volwasse vir hulle ouderdom, maar hulle is nog steeds onervare jongmense. Daarom is hulle vatbaar vir die onsekerhede, begeertes en onstuimige gevoelens wat deel is van grootword (2 Timoteus 2:22). Hoe kan hierdie jongmense gehelp word?
Die Bybel moedig gereelde kommunikasie tussen ouers en kinders aan. Dit maan ouers: “Praat [oor God se standaarde] wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Sulke gesprekke het twee voordele. Eerstens leer dit die jong persoon van God se weë (Jesaja 48:17, 18). Tweedens hou dit die kommunikasiekanale tussen ouers en kinders oop. Dit is veral noodsaaklik terwyl jongmense deur adolessensie gaan, wanneer hulle teruggetrokke en eensaam kan word.
Natuurlik voel die meeste adolessente soms eensaam. Maar party word chronies eensaam. “Hierdie kinders sê dat dit vir hulle moeilik is om by die skool vriende te maak, dat hulle niemand het om mee te praat nie, dat hulle alleen voel, dat dit vir hulle moeilik is om ander van hulle te laat hou en dat hulle voel dat daar niemand is waartoe hulle hulle kan wend wanneer hulle hulp nodig het nie”, sê een naslaanwerk oor adolessensie.a
Ouers en besorgde volwassenes kan belangstelling toon in tieners en hulle probeer help om hulle probleme die hoof te bied. Hoe? “Die enigste manier om uit te vind wat in tieners se gedagtes aangaan, is om hulle te vra”, skryf die uitvoerende redakteur van ’n tienertydskrif. Dit sal natuurlik tyd en geduld verg om jongmense te kry om oor die bekommernisse van hulle hart te praat. Maar die belonings is die moeite werd.—Spreuke 20:5.
Die behoefte aan redelike perke
Buiten kommunikasie het jongmense redelike perke nodig—en in hulle diepste wese wil hulle dit hê. Die Bybel sê dat “’n seun wat aan homself oorgelaat word, . . . sy moeder in die skande [sal] steek” (Spreuke 29:15). Deskundiges glo dat ’n gebrek aan duidelike perke die oorsaak van jeugmisdaad kan wees. “As ’n kind altyd sy sin kry en nooit die woord ‘nee’ hoor of beperkings opgelê word nie”, sê Shaw, wat vroeër aangehaal is, “het hy nooit die geleentheid om te leer dat ander mense ook ’n lewe, emosies, behoeftes en hulle eie wil het nie. Sonder ’n goed ontwikkelde gevoel van empatie sal die kind nie in staat wees om liefde te betoon nie.”
Dr. Stanton Samenow, wat al baie jare lank met jongmense met gedragsafwykings werk, sê ook: “Party ouers glo dat kinders ongebonde moet wees. Hulle het die naïewe beskouing dat dit ’n onregverdige las op hulle kind sal plaas en hom van sy kinderdae sal beroof as hulle hom verpligtinge oplê. Maar dit kan rampspoedige gevolge hê as hulle nie perke stel nie. Hierdie ouers besef nie dat ’n seun of meisie wat min gedissiplineer word, dit dalk moeilik sal vind om selfgedissiplineerd te wees nie.”
Beteken dit dat ouers eenvoudig streng moet wees? Glad nie. Om perke te stel, is net een aspek van effektiewe ouerskap. As ’n mens te ver gaan en onbuigsame reëls neerlê, kan dit ’n onaangename atmosfeer in die huis tot gevolg hê. Die Bybel sê: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21; Efesiërs 6:4.
Daarom moet ouers van tyd tot tyd die manier waarop hulle hulle kinders onderrig en dissiplineer, hersien, veral wanneer hulle kinders ouer word en tekens van volwassenheid begin toon. Miskien kan sekere reëls of beperkings verslap of aangepas word, afhangende van die jong persoon se vermoë om verantwoordelik op te tree.—Filippense 4:5.
Smee bande
Soos in ons vorige artikel gemeld is, het die Bybel voorspel dat die wêreld te kampe sou hê met “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom” voordat God ingryp om van die boosheid in die wêreld ontslae te raak. Die bewyse toon dat ons in daardie tyd lewe—“die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel van dinge. Soos volwassenes, moet jongmense in ’n wêreld lewe wat gekenmerk word deur mense wat ‘liefhebbers van hulleself, sonder natuurlike geneentheid en sonder selfbeheersing’ is.—2 Timoteus 3:1-5.b
Ouers wat voel dat hulle voeling verloor het met hulle adolessenteseun of -dogter, kan stappe neem om ’n hegter verhouding met hulle te ontwikkel, een gesprek op ’n slag. Dit is prysenswaardig dat baie ouers hard daarna streef om ’n positiewe invloed in die lewe van hulle kinders te wees.
Die Bybel is ’n onontbeerlike hulpmiddel in hierdie verband. Dit het baie ouers gehelp om hulle rol te vervul en het jongmense gehelp om gevaarlike slaggate te vermy (Deuteronomium 6:6-9; Psalm 119:9). Aangesien die Bybel van die Skepper, Jehovah God, af kom, kan ons seker wees dat dit die beste hulp vir vandag se jongmense voorsien.c
[Voetnote]
a Dieselfde naslaanwerk sê dat die chronies eensame tiener, anders as die tiener wat net af en toe eensaam is, die meeste van die tyd en oor ’n relatief lang tydperk afgesonder voel. Hy of sy “glo dat hulle nie vriende het nie en dat dit so gaan bly, dat dit onbeheerbaar is en dat hulle tekortkominge daarvoor verantwoordelik is” en dat die situasie “nie kan of sal verander nie”.
b Sien hoofstuk 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Jehovah se Getuies het gevind dat die Bybelpublikasie Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk baie nuttig is. Elkeen van sy 39 hoofstukke bespreek ’n gedagteprikkelende vraag. Party van die titels is: “Hoe kan ek ware vriende maak?” “Hoe kan ek portuurdwang die hoof bied?” “Hoe kan ek van my eensaamheid ontslae raak?” “Is ek gereed om afsprake te maak?” “Waarom nee sê vir dwelms?” “Wat van voorhuwelikse seks?”
[Prent op bladsy 10]
Praat oor jou bekommernisse met ’n volwassene wat omgee