Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 4/8 bl. 5-9
  • Die druk waarmee vandag se jongmense te kampe het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die druk waarmee vandag se jongmense te kampe het
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Veranderinge in die gesin
  • Veranderende beskouings van dissipline
  • Aanslag deur die media
  • Tieners en rekenaars
  • Kinders en die Internet—Wat ouers kan doen
    Ontwaak!—2008
  • Wat is die uitdagings?
    Ontwaak!—2009
  • Help jongmense om die uitdaging die hoof te bied
    Ontwaak!—2007
  • Hulp vir vandag se jongmense
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 4/8 bl. 5-9

Die druk waarmee vandag se jongmense te kampe het

ADOLESSENSIE kan ’n onstuimige tyd wees—selfs onder die beste omstandighede. Gedurende die puberteitsjare word jongmense oorval deur nuwe gevoelens en emosies. Hulle ondervind elke dag druk van onderwysers en portuurs. Hulle word voortdurend blootgestel aan die invloed van TV, rolprente, die musiekbedryf en die Internet. ’n Verslag deur die Verenigde Nasies beskryf adolessensie dus as “’n oorgangstydperk wat oor die algemeen gekenmerk word deur stres en angs”.

Ongelukkig is jongmense dikwels te onervare om stres en angs op ’n positiewe manier te hanteer (Spreuke 1:4). Sonder behoorlike riglyne kan hulle maklik in selfvernietigende gedragspatrone verval. Die VN-verslag sê byvoorbeeld: “Navorsing toon dat jongmense dikwels dwelms begin gebruik terwyl hulle adolessente of jong volwassenes is.” Dieselfde kan gesê word van ander vorme van wangedrag, soos geweld en promiskue seks.

Ouers wat sulke dinge ignoreer en meen dat dit net onder “die armes” of sekere etniese groepe plaasvind, misgis hulle dikwels liederlik. Die probleme wat jongmense vandag ondervind, is nie beperk tot sekere ekonomiese, sosiale en rassegroepe nie. “As jy dink ‘jeugmisdadiger’ verwys slegs na ’n 17-jarige van ’n minderheidsgroep uit die binnestad wie se behoeftige ma van die welsynsfonds afhanklik is, was jy die afgelope ruk nie baie oplettend nie”, skryf Scott Walter. “Vandag se probleemkind kan wit wees, hy kan aan ’n gesin uit die middel- of hoër middelklas behoort, hy kan jonger (baie jonger) as 16 wees, en hy kan net sowel ’n sy wees.”

Maar waarom verkeer soveel jongmense in gevaar? Het jongmense van vroeër geslagte nie ook met uitdagings en versoekings te kampe gehad nie? Ja, maar ons lewe in ’n tydperk wat die Bybel beskryf as “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Daar is omstandighede en druk wat uniek is aan hierdie spesifieke tyd in die geskiedenis en ’n uitwerking op jongmense het. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Veranderinge in die gesin

Dink byvoorbeeld aan die veranderinge in die gesin. “Die ouers van meer as ’n derde van Amerikaanse kinders skei voordat [die kinders] 18 is”, berig die Journal of Instructional Psychology. Soortgelyke statistieke kan uit ander Westerse lande gemeld word. Terwyl hulle ouers se huwelik verbrokkel, ondervind jongmense dikwels pynlike gevoelens. “Oor die algemeen”, sê die Journal, “is dit vir kinders wat onlangs ’n egskeiding deurgemaak het, moeiliker om aan akademiese en sosiale verwagtinge op skool te voldoen as vir kinders uit gesinne waar die vader en moeder nog bymekaar is of vir kinders uit gevestigde enkelouer- of stiefgesinne . . . Verder het ouers se egskeiding ’n uitwerking op die kind se gevoel van emosionele welsyn en eiewaarde.”

Die gesinsmilieu het ook verander weens die toenemende aantal vroue wat sekulêr werk. ’n Studie van jeugmisdaad in Japan het aan die lig gebring dat dit moeiliker is vir gesinne wat twee inkomste het, om na hulle kinders om te sien as vir gesinne waar een ouer tuisbly.

Ja, in baie gesinne is twee inkomste nodig net om die pot aan die kook te hou. Twee inkomste kan jongmense ook ’n gemakliker lewenswyse gee. Maar daar is ’n negatiewe kant: Miljoene kinders kom ná skool by ’n leë huis aan. Wanneer die ouers wel tuiskom, is hulle dikwels moeg en is hulle gedagtes nog by die werk. Wat is die gevolg? Baie tieners kry minder aandag van hulle ouers as voorheen. Een jeugdige het gekla: “Ons bring nie as ’n gesin saam tyd deur nie.”

Baie waarnemers meen dat hierdie tendens niks goeds vir jongmense inhou nie. “Ek glo dat die tendense wat oor die afgelope dertig jaar in ouerskap ontwikkel het, daartoe bygedra het dat kinders emosioneel afgeskeie is, nie kommunikeer nie, dit moeilik vind om te leer en onbeheerbaar is”, sê dr. Robert Shaw. “Ouers vind dat hulle slawe is van ’n materialistiese samelewing wat te veel klem lê op prestasie en hulle dwing om soveel tyd by die werk deur te bring en soveel geld te bestee dat hulle nie die tyd kan inruim om die nodige dinge te doen om ’n sterk verhouding met hulle kinders op te bou nie.”

Nog ’n bedreiging vir die welsyn van tieners is dat kinders van werkende ouers dikwels vir lang tye aan hulleself oorgelaat word. ’n Gebrek aan voldoende ouerlike toesig lei dikwels tot probleme.

Veranderende beskouings van dissipline

Veranderende beskouings van ouerlike dissipline het ook ’n uitwerking op vandag se jongmense. Dr. Ron Taffel het reguit gesê dat ouers “nie hulle gesag uitoefen nie”. Wanneer dit gebeur, word jongmense groot met min, indien enige, reëls of riglyne om hulle gedrag te reguleer.

In party gevalle lyk dit asof ouers reageer op die negatiewe ondervindings wat hulle as kinders gehad het. Hulle wil hulle kinders se vriende wees—nie hulle dissiplineerders nie. “Ek was nie streng genoeg nie”, erken een moeder. “My ouers was regtig streng; ek wou my kind anders behandel. Dit was ’n fout.”

Presies hoe ver gaan party ouers? USA Today berig: “’n Nuwe opname onder bykans 600 tieners wat in New York, Texas, Florida en Kalifornië vir dwelmmisbruik behandel word, het aan die lig gebring dat 20% saam met hulle ouers dwelms gebruik het, en dat ongeveer 5% van die tieners in werklikheid die eerste keer dwelms—gewoonlik dagga—by hulle ma’s en pa’s gekry het.” Waarom sou ouers so onverantwoordelik optree? Een ouer het erken: “Ek het vir haar gesê dat sy dit liewer by die huis moet doen waar ek ’n ogie oor haar kan hou.” Ander meen blykbaar dat hulle ’n band met hulle kinders kan smee deur saam met hulle dwelms te gebruik.

Aanslag deur die media

Dan is daar die kragtige invloed van die media. Volgens die navorser Marita Moll het een opname aan die lig gebring dat jongmense in die Verenigde State gemiddeld vier uur en 48 minute per dag voor die TV of rekenaar deurbring.

Is dit noodwendig ’n slegte ding? ’n Artikel wat in die tydskrif Science gepubliseer is, het berig dat “ses groot professionele verenigings in die Verenigde State”, insluitende die Amerikaanse Mediese Vereniging, eenparig tot die slotsom gekom het dat daar ’n verband bestaan tussen geweld in die media en “aggressiewe gedrag by party kinders”. “Ondanks die konsensus onder deskundiges”, het die tydskrif Science gesê, “lyk dit nie asof Jan Alleman die boodskap in die media kry dat geweld in die media tot ’n gewelddadiger gemeenskap lei nie.”

Dink byvoorbeeld aan musiekvideo’s. Ouers word dikwels geskok deur hoe grafies en seksueel eksplisiet van hierdie video’s is. Kan dit werklik ’n uitwerking hê op sommige tieners se gedrag? Volgens een studie onder 500 universiteitstudente “laat gewelddadige lirieke aggressiewe gedagtes en gevoelens toeneem”. Volgens ’n ander onlangse studie “is tieners wat meer tyd daaraan bestee om na die seks en geweld te kyk wat in . . . ‘gangsta’-rapvideo’s uitgebeeld word, meer geneig om hierdie soort gedrag in die werklike lewe te openbaar”. Hierdie studie onder meer as 500 meisies toon dat daar ’n groter moontlikheid is dat diegene wat baie ‘gangsta’-video’s kyk, ’n onderwyser sal slaan, gearresteer sal word en verskeie seksmaats sal hê.

Tieners en rekenaars

In onlangse jare het die rekenaar ook ’n prominente rol begin speel as ’n instrument wat jong verstande vorm. “Die aantal persoonlike tuisrekenaars het in onlangse dekades dramaties gestyg”, sê die tydskrif Pediatrics. “Landwyd [in die Verenigde State] het twee derdes van huishoudings met ’n skoolgaande kind (6-17 jaar oud) ’n rekenaar gehad . . . Die persentasie van kinders tussen 3 en 17 jaar in die Verenigde State in ’n huishouding wat ’n rekenaar besit, het van 55% in 1998 tot 65% in 2000 toegeneem.” Rekenaargebruik het ook in talle ander lande toegeneem.

’n Jongmens hoef egter nie ’n rekenaar te besit om toegang tot een te hê nie. Een navorser beweer dus dat “ongeveer 90% van jongmense tussen die ouderdomme van 5 en 17 rekenaars gebruik, en 59% van hulle gebruik die Internet”. Dit gee jongmense makliker toegang tot inligting as ooit tevore—wat ’n goeie ding is as die rekenaar verantwoordelik gebruik word, met voldoende volwasse toesig. Maar heeltemal te veel ouers laat hulle kinders toe om hierdie medium te gebruik sonder om enige beperkings te stel.

As bewys hiervan skryf die navorser Marita Moll in Phi Delta Kappan dat volgens ’n opname in 2001 oor Internetgebruik “71 persent van ouers gedink het dat hulle ‘baie of redelik baie weet’ van hulle kind se Internetgebruik. Maar toe kinders dieselfde vraag gevra is, het 70% gesê dat hulle ouers ‘baie min of niks’ van hulle aanlynbedrywighede geweet het nie.” Volgens hierdie opname “het 30% van 9- tot 10-jariges gesê dat hulle private kletskamers en kletskamers vir volwassenes besoek het. En die probleem raak net erger, want 58% van 11- tot 12-jariges, 70% van 13- tot 14-jariges en 72% van 15- tot 17-jariges het gesê dat hulle dit doen. . . . In ’n Britse opname van Internetgebruik in die huis het een uit sewe ouers erken dat hulle glad nie weet waarna hulle kinders op die Internet kyk nie.”

Internetgebruik sonder toesig kan jongmense aan pornografie blootstel. Maar dit is nie die enigste risiko nie. Taffel, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ons kinders maak vriende by die skool en in die kuberruimte—en as gevolg daarvan bring hulle tyd saam met kinders deur wat ons dikwels nie ontmoet nie.”

Dit is duidelik dat vandag se jongmense aan druk en probleme blootgestel word wat vorige geslagte nie geken het nie. Dit is dus geen wonder nie dat baie jongmense op verontrustende maniere optree! Is daar enigiets wat gedoen kan word om vandag se jongmense te help?

[Lokteks op bladsy 6]

“Ek glo dat die tendense wat oor die afgelope dertig jaar in ouerskap ontwikkel het, daartoe bygedra het dat kinders emosioneel afgeskeie is, nie kommunikeer nie, dit moeilik vind om te leer en onbeheerbaar is.”—DR. ROBERT SHAW

[Prent op bladsy 6, 7]

Die feit dat meer vroue sekulêr werk, het die gesinsmilieu verander

[Prent op bladsy 7]

Jongmense kan in die moeilikheid beland as daar nie toesig oor hulle gehou word nie

[Prent op bladsy 8]

Navorsers het ’n verband gevind tussen gewelddadige musiekvideo’s en gewelddadige gedrag

[Prent op bladsy 9]

Weet jy waarna jou kinders op die Internet kyk?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel