Ontmoet die vlieënde eekhoring
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND
EEKHORINGS kom in amper elke deel van die aarde voor. Min van hulle kan egter met die ongewone Europese vlieënde eekhoring vergelyk word.a Maar kan hierdie knaagdiertjie regtig vlieg? Watter soort diertjies is hulle, en waarom word hulle so selde gesien?
Hoe vlieg hulle?
Hoewel alle eekhorings wat in bome bly, van boom tot boom spring, kan nie een van hulle by die vlieënde eekhoring kers vashou nie. Hierdie knaagdiere kan tot 80 meter ver spring! Maar hoe kry hulle dit reg?
Die vlieënde eekhoring het aërodinamiese vliese wat enige vliegtuigingenieur sal verbaas. “Die voorste gedeelte word van die gewrig af deur ’n kraakbeenstafie ondersteun”, sê die boek The World of the Animals. “Hoewel dit lyk of die vlies net twee lae vel is, is daar ’n dun spierlagie wat hierdie eekhorings in staat stel om die vorm van die sweefoppervlak aan te pas sodat hulle die aërodinamiese eienskappe daarvan kan verander.”
Terwyl die eekhoring sweef, lyk dit of hy heeltemal plat is. Wanneer hy nie sweef nie, lyk dit soms of hy ’n grys pelsjas dra wat vir hom te groot is!
Hoe kry die eekhoring dit reg om te vlieg sonder om teen iets te bots? Die eekhoring gebruik sy stert om hom te stuur wanneer hy vlieg. Net voor hy op ’n boom land, maak hy sy “remvalskerm” oop—dit wil sê, hy neem ’n vertikale posisie in. Dit gebeur baie selde dat die eekhoring hom misgis en grond toe val.
Nog iets wat hierdie “swewende pelsjas” help, is die feit dat hy lig is. ’n Uitgegroeide vlieënde eekhoring weeg maar gemiddeld 150 gram en is sonder sy stert ongeveer 20 sentimeter lank. Sy ore is klein en het geen klossies hare aan die punte nie, sodat hulle nie die eekhoring se vlug belemmer nie.
’n Nagvlieënier
Die vlieënde eekhoring het unieke oë, wat na groot swart pêrels lyk. In teenstelling met ander eekhorings is die vlieënde eekhoring ’n nagdier. Gevolglik het hy goeie oë nodig om sy gunstelingkos in die hande te kry—die katjies (’n soort bloeisel) en blare van bladwisselende bome en die uitloopsels van naaldbome. Omdat daar in die winter minder kos beskikbaar is, maak die vlieënde eekhoring klein hoeveelhede katjies in wegsteekplekkies op takke en in boomholtes bymekaar.
In die lente speel sommige vlieënde eekhorings so lekker dat hulle skoon daarvan vergeet om hulle middagslapie te geniet. Die eekhorings het hierdie tyd van die jaar buitendien iets anders op die brein—om te paar. Nadat die wyfie genoegsaam deur die mannetjie se vliegvertoning beïndruk is, is dit tyd om te begin dink aan ’n nes. Die nes sal in ’n mensgemaakte voëlhuis wees, indien een beskikbaar is, of in ’n boomholte. Die vlieënde eekhoring het gewoonlik baie neste. Party word as opgaarplekke vir kos gebruik, terwyl ander as spaarkamers dien. Sommige vlieënde eekhorings sal selfs in ’n skuur nesmaak. In teenstelling met ander eekhorings weier die vlieënde eekhoring egter om in die stad te gaan bly!
Teen laatlente of vroegsomer sal die wyfie geboorte gee aan twee of drie kleintjies. Om hulle magies vol te hou, hou haar besig, selfs gedurende die dag. Wanneer die kleintjies gebore word, is hulle omtrent so groot soos jou vingerpunt; maar teen die einde van die herfs sal hulle al hulle eerste sweefsprong uit die nes gemaak het!
Waarom so selde gesien?
Waarom word die vlieënde eekhoring so selde gesien? Een rede is dat hierdie klein nagdiertjie stilletjies deur die blaredak beweeg en nie baie aandag trek nie. Boonop verkies die vlieënde eekhoring om in die noordelike gemengde woude te woon, wat vanaf die Baltiese See regdeur die Russiese taiga tot by die Stille Oseaan strek.
Dit lyk of die uitgestrekte woude van Siberië die oorlewing van die Europese vlieënde eekhoring sal verseker. Nogtans het hierdie spesie—soos ander diere wat in boomholtes nes maak—as gevolg van ontbossing geskikte nesmaakplekke verloor. In Finland, die westelike deel van sy habitat, word die vlieënde eekhoring deur ’n wet van die Europese Unie beskerm. ’n Konstruksieprojek kan uitgestel of afgestel word as ’n vlieënde eekhoring selfs net skrams in die blaredak gesien word of as sy mis ontdek word.
Vlieënde eekhorings is natuurlik onbewus van die gevolge wat hulle mis kan hê, en dit lyk of niks hulle roetine versteur nie. Teen skemeraand in die noordelike woude, kom daar duisende neusies uit die boomholtes. Lang snorbaarde wikkel, dun takke swaai, en weer eens is die vlieënde eekhorings in aksie!
[Voetnoot]
a Hierdie is net een van die meer as 30 soorte vlieënde eekhorings. Baie van hulle, insluitende die reuse- vlieënde eekhoring wat so groot is soos ’n kat, woon in die woude van Suidoos-Asië. Die stekelsterteekhoring wat in Afrika voorkom, word nie gewoonlik saam met die ander vlieënde eekhorings gelys nie, al lyk hulle baie eenders. Hulle opvallendste kenmerk is hulle stert, wat net aan die punt en aan ’n gedeelte van die stertwortel hare het.
[Prent op bladsy 23]
Katjies, ’n lekkerny van die vlieënde eekhoring
[Prent op bladsy 24]
Baba- Europese vlieënde eekhoring
[Foto-erkenning op bladsy 22]
Ilya Lyubechanskii/BCIUSA.COM
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Eekhorings: Benjam Pöntinen
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Eekhorings: Benjam Pöntinen