Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Luukse water
  • Franse dieetgeheime
  • Pas jou boeke op
  • Einde van die Unitariërs?
  • Hoe ouer hoe korter
  • Tweetalige kinders
  • ’n Lewensbelangrike vloeistof—Water
    Ontwaak!—2003
  • Raak die wêreld se water op?
    Ontwaak!—2001
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Hoe kan ek gewig verloor?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Luukse water

“Dit is ’n teken van die tyd”, sê die Duitse tydskrif Natur+Kosmos. “Cool studente het altyd hulle gebottelde water byderhand. In New York ontmoet modebewustes in waterkroeë. En vyfsterhotelle met ’n kelnerdiens bied ’n verskeidenheid van mineraalwater met internasionale handelsname en ’n gehaltegradering wat gewoonlik net vir wyne van die beste jare gebruik word.” Die water is nie goedkoop nie. “Mense betaal ten duurste vir hulle mineraalwater, wat hulle in ontwerpersbottels saam met hulle dra”, sê die artikel. In sommige hotelle kan ’n liter water van ’n uitgesogte bron tot R480 kos. Hoewel gebottelde water met ’n handelsnaam ’n teken van individuele styl onder kieskeurige verbruikers geword het, beteken dit nie dat dit beter is vir jou nie. Sommige vervaardigers belowe verstandelike en liggaamlike welsyn, gesondheid en skoonheid. Maar volgens baie deskundiges is dit geensins beter as gewone water nie. In Duitsland is die gehalte van die kraanwater byvoorbeeld net so goed, indien nie beter nie, as die mineraalwater van halfpad om die aarde, beweer die artikel. En kraanwater hoef nie in plastiekbottels gesit te word of duisende kilometers ver vervoer te word nie.

Franse dieetgeheime

“Die Franse eet baie versadigde vet”, sê die UC Berkeley Wellness Letter. “En tog is hulle skraler as Amerikaners en baie minder geneig om aan vetsug te ly. Die sterftesyfer onder hulle weens hartsiekte is die helfte van dié van Amerikaners en laer as enige ander land in die [Europese Unie].” Waarom die paradoks? Dit is dalk omdat die Franse “minder kalorieë inneem”, sê die Wellness Letter. Navorsing wat in restaurante in Parys en Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, gedoen is, het getoon dat die Franse porsies baie kleiner is. Kookboeke verskil ook. Franse kookboeke gee byvoorbeeld kleiner porsies vleis aan. “Die indrukwekkendste bevinding is miskien dat dit die Franse baie langer neem om hulle kleiner porsies te eet”, sê die artikel. “Dit neem die gemiddelde Fransman daagliks byna 100 minute net om te eet, terwyl Amerikaners hulle daaglikse brood (en wie weet wat nog) in slegs 60 minute afsluk.” Wat kan ons daarvan aflei? Hou jou kalorieë dop. Eet redelike hoeveelhede gesonde kos. Neem tyd om die kos te geniet. As jy groot porsies voorgesit word, deel dit met ’n metgesel of neem die helfte daarvan huis toe. En “maak maaltye by die huis ’n aangename ondervinding”.

Pas jou boeke op

“Tyd en klammigheid is [boeke se] grootste vyande”, sê ’n artikel in die Mexikaanse tydskrif Día Siete. Om jou boeke in ’n goeie toestand te hou, beveel die artikel aan dat jy dit ten minste een keer per jaar afstof. Maar maak seker dat jy die boek stewig vashou terwyl jy dit afstof sodat stof nie tussen die bladsye beland nie. In ’n vogtige omgewing kan klammigheid onder beheer gehou word deur ’n bietjie talkpoeier op elke bladsy te sprinkel, iets swaars ’n paar dae lank op die boek te plaas en die poeier dan met ’n kwas te verwyder. As skimmel weens klammigheid ontwikkel, kan dit liggies met ’n lemmetjie afgeskraap en daarna met alkohol skoongemaak word. Moenie ’n boek van ’n rak afhaal deur dit boaan die rug te trek nie. Die beste manier om ’n boek af te haal, is om dit in die middel van die rug met twee vingers te neem, dit van die ander boeke los te wikkel en dit versigtig af te haal. Boeke wat baie groot is, veral as hulle oud is, kan deur hulle eie gewig beskadig word. Dit kan voorkom word deur hulle plat op die boekrak neer te sit.

Einde van die Unitariërs?

“Een van [Brittanje se] oudste denominasies . . . gaan onkeerbaar agteruit en sal binne dekades verdwyn het”, sê The Times van Londen. Die Unitariese beweging het minder as 6 000 lede in Brittanje. Die helfte van hulle is ouer as 65. Peter Hughes, ’n senior predikant van die denominasie, het voorspel dat die beweging tot niet sal gaan. Hughes het hulle oudste kapel in Liverpool as ’n voorbeeld gebruik en gesê: “Hulle het sedert 1976 nie ’n predikant nie en die Unitariese beweging daar het in werklikheid tot niet gegaan.” Die benaming “Unitariër” word sedert 1673 in Brittanje gebruik, sê The Times. “Baie Engelse Presbiteriane het in die 18de eeu Unitariërs geword toe hulle beweeg is om geloof in die Drie-eenheid te verwerp tydens ’n teologiese debat oor die goddelikheid van Christus wat ’n krisis in die Anglikaanse Kerk veroorsaak het.” Die koerant voeg by: “Maar noudat dit nie meer onwettig is om ’n nie-Trinitariese geloof aan te neem nie, en baie kerke hulle oë sluit vir ‘gelowiges’ met liberale beskouings oor tradisionele leerstellings, is daar nie meer so ’n groot behoefte aan die Unitariese beweging soos vroeër nie.”

Hoe ouer hoe korter

Namate mense ouer word, word hulle gewoonlik ook korter. “Dit het baie te doen met swaartekrag”, berig The Daily Telegraph van Australië. ’n Mens se lengte wissel gedurende die dag as gevolg van swaartekrag. Jy bereik weer jou volle lengte terwyl jy slaap. “Maar wanneer ons liggaam ouer en effens swakker word, begin ons permanent korter word”, sê die koerant. “Wanneer mense ouer word, verloor hulle spiermassa en vet. Dit is deel van die natuurlike verouderingsproses en het baie [te] doen met hormoonveranderinge. Die werwels kan in werklikheid begin degenereer en ingee—wat die ruggraat met meer as 2,5 cm kan laat krimp.” Die feit dat mense krimp, kan waarskynlik toegeskryf word aan osteoporose.

Tweetalige kinders

“Wanneer kinders met geduld en sensitiwiteit grootgemaak word, kan veeltaligheid hulle, hulle gesin en die samelewing grootliks tot voordeel strek”, sê die koerant Milenio van Mexiko-stad. In studies is “gevind dat kinders wat twee tale praat, beter vaar op skool as dié wat net een taal praat”. Soms is ouers bekommerd wanneer hulle kinders woorde uit twee tale in een sin meng of foute begaan deur die reëls van een taal op die ander toe te pas. “Maar hierdie grammatikale ‘foute’ is onbeduidend en word gou oorkom”, sê professor Tony Cline, ’n sielkundige wat in die taalontwikkeling van kinders spesialiseer. As kinders van geboorte af die tale van albei ouers geleer word, word dit eenvoudig geabsorbeer, en mettertyd sal hulle al twee tale reg praat.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel