Vasbeslote om my doelwit te bereik
SOOS VERTEL DEUR MARTHA CHÁVEZ SERNA
Eendag, toe ek 16 jaar oud was, het ek my bewussyn verloor terwyl ek in die huis besig was. Toe ek bykom, was ek in die bed. Ek was verward en het ’n hewige hoofpyn gehad, en ek kon ’n hele paar minute lank nie sien of hoor nie. Ek was bang. Wat het met my gebeur?
MY BEKOMMERDE ouers hy my na ’n dokter toe geneem, wat vitamiene voorgeskryf het. Sy het gesê dat ek die aanval gekry het omdat ek saans te laat gaan slaap het. ’n Paar maande later het ek nog ’n aanval gekry en daarna ’n derde. Ons het ’n ander dokter geraadpleeg, wat gedink het dat ek ’n senusiekte het, en hy het vir my kalmeermiddels gegee.
Maar ek het die aanvalle meer gereeld begin kry. Ek het gewoonlik my bewussyn verloor, op die grond geval en seergekry. Ek het partykeer my tong en die binnekant van my mond stukkend gebyt. Wanneer ek bygekom het, het ek ’n verskriklike hoofpyn gehad en naar gevoel. My hele liggaam het gepyn, en ek kon selde onthou wat voor die aanval gebeur het. Ek moes dikwels ’n dag of twee in die bed bly om te rus en te herstel. Nogtans het ek geglo dat dit net ’n tydelike probleem was—dat ek binnekort weer gesond sou wees.
My doelwit
Toe ek veel jonger was, het ons gesin die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. Ons onderrigters was twee spesiale pioniers, of voltydse bedienaars wat baie ure elke maand daaraan bestee het om Bybelwaarhede aan ander te leer. Ek kon sien dat die bediening van hierdie pioniers hulle vreugde verskaf het. Wanneer ek met my onderwyseres en skoolmaats oor Bybelbeloftes gepraat het, het ek ook daardie vreugde begin ondervind.
Kort voor lank het baie van ons familielede Getuies van Jehovah geword. Hoe het ek dit tog geniet om die goeie nuus te verkondig! Teen die tyd dat ek sewe was, het ek vir my die doelwit gestel om ook ’n spesiale pionier te word. Op 16 het ek ’n groot stap in daardie rigting geneem toe ek gedoop is. Daarna het die aanvalle begin.
Die pionierdiens
Ten spyte van my fisiese probleme het ek nog steeds gevoel dat ek ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies kon word. Maar omdat ek tot twee aanvalle per week gekry het, het party in die gemeente gedink dat ek nie so ’n groot verantwoordelikheid op my moet neem nie. Ek was hartseer en mismoedig. Later het ’n egpaar wat by die takfasiliteite van Jehovah se Getuies in Mexiko dien, egter na ons gemeente toe gekom. Hulle het gehoor van my begeerte om ’n pionier te word en my grootliks aangemoedig. Hulle het my daarvan oortuig dat my siekte my nie hoef te verhinder om te pionier nie.
Ek het dus op 1 September 1988 my toewysing as ’n gewone pionier ontvang in my tuisdorp San Andrés Chiautla, Mexiko. Ek het baie ure elke maand daaraan bestee om die goeie nuus te verkondig. Wanneer ek weens ’n aanval nie in die openbaar kon getuig nie, het ek briewe oor skriftuurlike onderwerpe vir mense in die buurt geskryf en hulle op dié manier aangemoedig om die Bybel te bestudeer.
My toestand word gediagnoseer
Gedurende hierdie tyd het my ouers my, teen groot koste, na ’n neuroloog toe geneem. Dié dokter het my toestand as epilepsie gediagnoseer. Danksy die behandeling wat ek toe ontvang het, het my siekte omtrent vier jaar lank onder beheer gebly. Intussen kon ek die Pionierdiensskool bywoon, en die aanmoediging wat ek daar ontvang het, het my begeerte vergroot om te dien waar meer evangeliedienaars nodig was.
My ouers het geweet hoe graag ek my diens wou uitbrei. Omdat my siekte so te sê onder beheer was, het hulle my toegelaat om na Zitácuaro, in die staat Michoacán, te gaan wat omtrent 200 kilometer van ons dorp af was. My assosiasie met ander pioniers in hierdie toewysing het my gehelp om selfs groter waardering vir die voltydse diens op te bou.
Ná twee jaar in Zitácuaro het ek egter weer aanvalle begin kry. Ek het na my ouers se huis teruggekeer, gefrustreerd en terneergedruk, en ek moes mediese hulp kry. Ek het na ’n neuroloog toe gegaan wat vasgestel het dat die behandeling wat ek gekry het, my lewer beskadig. Ek het na alternatiewe begin soek, aangesien ons nie meer die besoeke aan die spesialis kon bekostig nie. My toestand het vererger, en ek moes my pionierdiens staak. Elke aanval was ’n terugslag. Maar wanneer ek die Psalms gelees het en my in gebed tot Jehovah gewend het, het ek sy vertroosting en krag gevoel.—Psalm 94:17-19.
Ek bereik my doelwit
Gedurende die ergste stadium van my siekte het ek twee aanvalle per dag gekry. Toe het dit ’n keerpunt bereik. ’n Dokter het vir my spesifieke behandeling vir epilepsie gegee, en ek het vir langer tydperke beter begin voel. Ek het dus op 1 September 1995 weer die pionierdiens betree. My gesondheid het gestabiliseer, en toe ek twee jaar lank nie ’n enkele epileptiese aanval gekry het nie, het ek aansoek gedoen om as ’n spesiale pionier te dien. Dit sou meer tyd in die bediening behels, en ek sou moes gaan dien waar hulp nodig was. Stel jou net voor hoe ek gevoel het toe ek my aanstelling ontvang! Ek het uiteindelik die doelwit bereik wat ek as kind gestel het.
Op 1 April 2001 het ek in my nuwe toewysing, ’n nedersetting in die bergreeks van die staat Hidalgo, begin dien. Nou dien ek in ’n dorpie in die staat Guanajuato. Ek moet my medikasie getrou neem en genoeg rus. Ek volg ’n streng dieet, en vermy dinge soos vette, kafeïen en blikkieskos. Ek probeer ook om sterk emosies, soos woede en oormatige kommer, te vermy. Maar ek het baat gevind by hierdie streng roetine. In die tyd dat ek as ’n spesiale pionier dien, het ek nog net een aanval gekry.
Aangesien ek ongetroud en sonder gesinsverantwoordelikhede is, is ek verheug om nog steeds as ’n spesiale pionier te dien. Ek vind vertroosting in die wete dat ‘Jehovah nie onregverdig is sodat hy ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het nie’. Hoe liefdevol is hy tog nie, want hy vereis nie van ons wat ons nie vir hom kan gee nie! Deur hierdie waarheid te aanvaar, is ek gehelp om gebalanseerd in my denke te wees, want as swak gesondheid my sou dwing om weer die pionierdiens te verlaat, weet ek dat Jehovah nog steeds behae sal skep in my heelhartige diens.—Hebreërs 6:10; Kolossense 3:23.
Ek word beslis versterk deur elke dag my geloof aan ander bekend te maak. Dit help my ook om die seëninge wat God in die toekoms gaan bring, altyd voor oë te hou. Die Bybelbelofte is dat daar in die nuwe wêreld geen siekte meer gaan wees nie, “ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4; Jesaja 33:24; 2 Petrus 3:13.
[Prente op bladsy 26]
Omtrent 7 jaar oud (bo); omtrent 16, kort nadat ek gedoop is
[Prent op bladsy 27]
In die predikingswerk saam met ’n vriendin