Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/8 bl. 4-7
  • Waarom soveel mense in vrees lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom soveel mense in vrees lewe
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gevare in stede
  • Die euwel van seksuele teistering
  • Vrees vir verkragting
  • Vrees vir geweld by die huis
  • Beïnvloed vrees die manier waarop jy optree?
  • Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Waarom moet ons God vrees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Neig jou hart om Jehovah te vrees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Leer om genot te vind in die vrees van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/8 bl. 4-7

Waarom soveel mense in vrees lewe

DIE mensdom lewe in ’n klimaat van vrees. Dit is ’n onsigbare maar waarneembare stemming, ’n atmosfeer wat feitlik almal raak, al word dit dikwels nie opgemerk nie. Wat is die oorsaak van hierdie atmosfeer? Waarom voel party mense bang wanneer hulle die huis verlaat? Waarom voel baie onveilig by die werk? Waarom is baie bekommerd oor hulle kinders se veiligheid? Watter gevare maak mense vreesbevange in hulle eie huis?

Hoewel daar natuurlik baie oorsake van vrees is, sal ons vier gevare bespreek wat deurentyd ’n uitwerking op mense kan hê—stedelike geweld, seksuele teistering, verkragting en gesinsgeweld. Kom ons kyk eerstens na geweld in stede. Die onderwerp is veral nou tydig omdat byna die helfte van die mensdom in stedelike gebiede woon.

Gevare in stede

Die eerste stede is waarskynlik vir beskerming gebou, maar baie mense beskou stede deesdae as gevaarlike plekke. Wat vroeër as plekke van veiligheid beskou is, het nou iets angswekkends geword. Oorvol middestede skep ideale toestande vir straatrowers, en in sommige stede is dit gevaarlik om in arm woonbuurte met min straatligte en min polisiemanne in te gaan.

Mense se vrese is nie altyd ongegrond nie; ’n skrikwekkende aantal mense sterf ’n gewelddadige dood. Volgens ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf daar elke jaar 1,6 miljoen mense regoor die wêreld weens geweld. In Afrika sterf daar jaarliks sowat 60,9 uit elke 100 000 mense ’n gewelddadige dood.

Baie mense, plekke en organisasies wat voorheen as veilig beskou is, word nou as ’n bedreiging vir veiligheid beskou. Byvoorbeeld, baie speelgronde, skole en winkels word nou as misdaadgeteisterde gebiede beskou waarheen mense bang is om te gaan. In sommige gevalle het godsdiensleiers, maatskaplike werkers en onderwysers—mense wat beskerming behoort te bied—die vertroue wat in hulle gestel is, misbruik. Berigte dat party van hulle kinders molesteer, laat ouers huiwerig voel om hulle kinders in ander se sorg te laat. Die polisie is veronderstel om mense te beskerm, maar in sommige stede is korrupsie en magsmisbruik iets algemeens. En wat “veiligheidsmagte” betref, in party lande is burgeroorloë nog vars in die geheue van mense wie se geliefdes verdwyn het nadat soldate hulle weggeneem het. In verskeie wêrelddele het die polisie en soldate dus eerder tot die klimaat van vrees bygedra as om dit te verlig.

Die boek Citizens of Fear—Urban Violence in Latin America sê: “Burgers van Latyns-Amerikaanse hoofstede lewe in voortdurende vrees te midde van die gevaarlikste toestande ter wêreld. Elke jaar sterf omtrent 140 duisend mense ’n gewelddadige dood in daardie uitgestrekte gebied, en een uit drie burgers was al direk of indirek ’n slagoffer van geweld.” In ander wêrelddele kom politieke proteste ook dikwels in hoofstede voor. Wanneer sulke proteste gewelddadig raak, maak baie van die geleentheid gebruik om te midde van die wanorde winkels te plunder, en dit lei tot algemene chaos. Mense wat in die stad sake doen, kan hulle maklik in die middel van oproerige skares bevind.

In baie lande het daar ’n groot kloof ontwikkel tussen die lewenstandaard van die rykes en die armes, wat tot smeulende gegriefdheid lei. Hordes mense wat voel dat hulle die basiese lewensbenodigdhede ontsê word, het die deftige buurte van die welgesteldes geplunder. In party stede het dit nog nie gebeur nie, maar die situasie is amper soos ’n tydbom wat gaan ontplof—en niemand weet wanneer nie.

Die bedreiging van diewe en opstandiges lyk dalk reeds erg genoeg, maar daar is ander oorsake van angs wat tot die klimaat van vrees bydra.

Die euwel van seksuele teistering

Vir miljoene vroue is fluitery, vulgêre gebare en wellustige blikke ’n daaglikse nagmerrie. Asia Week sê: “Opnames toon dat een uit vier Japannese vroue al in die openbaar seksueel geteister is, en 90% van die voorvalle vind op treine plaas. . . . Slegs 2% van slagoffers doen enigiets omtrent die teistering. Die meeste het gesê dat vrees vir hulle molesteerders se reaksie die hoofrede vir hulle stilswye is.”

Seksuele teistering het drasties toegeneem in Indië, waar die gebruik eva-plaery genoem word. “Elke keer wanneer ’n vrou haar huis verlaat, word sy bang”, verduidelik ’n joernalis daar. “Met elke tree wat sy gee, hoor sy spottende beledigings en onwelvoeglike aanmerkings.” ’n Verslag uit ’n Indiese stad waar inwoners daarop trots is dat hulle strate redelik veilig is, sê: “[Hierdie stad se] probleem is nie op straat nie, maar in kantore. . . . 35 persent van die vroue met wie ’n onderhoud gevoer is, het beweer dat hulle seksuele teistering by die werk ondervind. . . . 52 persent van die vroue het gesê dat hulle weens vrees vir seksuele teistering by die werksplek verkies om laagbesoldigde werk te aanvaar . . . waar hulle [net] met vroue te doen kry.”

Vrees vir verkragting

Vroue vrees nie net dat hulle hulle waardigheid sal verloor nie. Seksuele teistering hou soms ’n bedreiging van verkragting in. Dit is te verstane dat verkragting ’n misdaad is waarvoor baie vroue ’n selfs groter vrees het as vir moord. ’n Vrou kan haar skielik alleen bevind in ’n plek waar sy vrees dat sy verkrag kan word. Sy sien dalk ’n man wat sy nie ken nie of wat sy nie vertrou nie. Haar hart klop vinniger terwyl sy die situasie angstig probeer opsom. ‘Wat gaan hy doen? Waarheen kan ek hardloop? Moet ek skreeu?’ Herhaalde ondervindinge soos dié takel ’n vrou se gesondheid stelselmatig af. Weens hierdie vrese besluit baie mense om nie in stedelike gebiede te woon nie of verkies hulle om stede nie te besoek nie.

“Die vrees, die angs, die spanning is alles deel van die daaglikse lewe in die stad vir baie vroue”, sê die boek The Female Fear. “Vroue se vrees vir verkragting laat hulle voel dat hulle altyd op hulle hoede, waaksaam en gereed moet wees, ’n gevoel wat ’n vrou laat verstyf van angs as iemand wat agter haar is, te na aan haar loop, veral in die aand. Dit is . . . ’n gevoel wat vroue nooit heeltemal kan afskud nie.”

Geweldsmisdade raak baie vroue. Maar vrees vir geweld raak byna alle vroue. The State of World Population 2000, ’n publikasie van die Verenigde Nasies, sê: “Wêreldwyd is ten minste een uit elke drie vroue al geslaan, gedwing om seks te hê of op ’n ander manier mishandel—meestal deur iemand wat sy ken.” Het die klimaat van vrees selfs dieper gedring? Hoe algemeen is dit vir mense om in hulle eie huis in vrees te lewe?

Vrees vir geweld by die huis

Die verborge gebruik om die onderdanigheid van vrouens met die vuis af te dwing, is ’n ernstige onreg wat wêreldwyd gepleeg word—en op baie plekke is daar eers onlangs erken dat dit ’n misdaad is. Volgens ’n verslag in Indië “word ten mense 45 persent van Indiese vroue deur hulle mans geklap, geskop of geslaan”. Huweliksgeweld is ’n ernstige wêreldwye gesondheidsgevaar. Aangaande vroue tussen die ouderdomme van 15 en 44 in die Verenigde State berig die Amerikaanse Federale Speurdiens dat meer deur gesinsgeweld beseer word as deur motorongelukke, straatroof en verkragting saam. Gesinsgeweld is dus baie ernstiger as ’n argument wat van tyd tot tyd ontstaan en daartoe lei dat ’n paar klappe uitgedeel word. Baie vroue lewe in vrees om by die huis beseer of doodgemaak te word. ’n Landwye opname in Kanada het aan die lig gebring dat ’n derde van vroue wat slagoffers van gesinsgeweld was, op die een of ander stadium vir hulle lewe gevrees het. In die Verenigde State het twee navorsers tot dié slotsom gekom: “Die huis is die gevaarlikste plek vir vroue, en daar word hulle dikwels wreed behandel en gemartel.”

Waarom is soveel vroue in sulke gevaarlike verhoudings vasgevang? Baie mense wonder: ‘Waarom kry hulle nie hulp nie? Waarom gee hulle nie pad nie?’ Die antwoord, in die meeste gevalle, is vrees. Vrees is al die onderskeidende kenmerk van gesinsgeweld genoem. Mans wat hulle vrou mishandel, oefen gewoonlik met geweld beheer oor hulle uit en lê hulle dan deur middel van doodsdreigemente die swye op. Al skraap die mishandelde vrou die moed bymekaar om hulp te soek, kry sy dit dalk nie altyd nie. Daar is ’n neiging, selfs onder mense wat ander vorme van geweld verafsku, om huweliksgeweld te verklein, te ignoreer of te regverdig. ’n Man wat sy vrou mishandel, kom ook dalk buite die huis baie gaaf voor. Vriende kan dikwels nie glo dat hy sy vrou slaan nie. Omdat niemand hulle glo nie en hulle nêrens kan gaan nie, meen talle mishandelde vroue dat hulle geen ander keuse het as om in voortdurende vrees te lewe nie.

Mishandelde vroue wat wel padgee, word soms die slagoffer van ’n ander vorm van teistering, naamlik sluipjagtery (stalking). In Noord-Amerika is daar in ’n onlangse studie van meer as duisend vroue in die staat Louisiana bevind dat 15 persent van hulle gesê het dat hulle al die slagoffer van ’n sluipjagter was. Stel jou hulle vrees voor. Iemand wat jou al gedreig het, maak sy verskyning oral waar jy gaan. Hy bel jou, agtervolg jou, hou jou dop en wag vir jou. Hy maak dalk selfs jou troeteldier dood. Dit is ’n veldtog van verskrikking!

Jy is dalk nie die slagoffer van daardie soort vrees nie. Maar in watter mate het vrees ’n invloed op wat jy elke dag doen?

Beïnvloed vrees die manier waarop jy optree?

Omdat ons gedurig deur vrees omring word, is ons dalk onbewus van hoeveel van ons daaglikse besluite onder die invloed van vrees geneem word. Hoe dikwels beïnvloed vrees die manier waarop jy optree?

Veroorsaak vrees vir geweld dat jy of jou gesin probeer om nie saans alleen by die huis aan te kom nie? Beïnvloed vrees jou gebruik van openbare vervoer? Het die vrees om ’n pendelaar te wees ’n invloed op die soort werk wat jy aanvaar? Of het vrees vir kollegas of vir mense met wie jy kontak sal moet hê, jou keuse van werk beïnvloed? Het vrees ’n invloed op jou sosiale lewe of die vermaak wat jy kan geniet? Miskien woon jy nie sekere sportgeleenthede en konserte by nie omdat jy vrees dat jy onbeheerste dronkaards en oproerige skares sal teëkom? Het vrees ’n invloed op wat jy by die skool doen? Vir baie ouers is vrees dat hulle kinders jeugmisdadigers sal word, ’n faktor wat hulle keuse van skole beïnvloed, en vrees verklaar beslis waarom baie van hulle verkies om hulle kinders by die skool te gaan haal hoewel hulle huis toe kan loop of openbare vervoer kan gebruik.

Ja, die mensdom lewe inderdaad in ’n klimaat van vrees. Maar vrees vir geweld bestaan reeds vir die grootste deel van die mensdom se geskiedenis. Kan ons werklik iets anders verwag? Is vryheid van vrees net ’n droom? Of is daar gegronde rede om uit te sien na ’n toekomstige tyd wanneer niemand enigiets slegs sal vrees nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel