Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/8 bl. 11-13
  • Van luukse tot noodsaaklikheid—Die geskiedenis van seep

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van luukse tot noodsaaklikheid—Die geskiedenis van seep
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In die ou tyd
  • Vroeë seepmakery
  • Van tuisnywerheid tot grootskaalse bedryf
  • Seep kry ’n goeie naam
  • Seepmakery vandag
  • Die hardwerkende wassers van Abidjan
    Ontwaak!—2007
  • Seep—’n “Doen-dit-self-entstof”
    Ontwaak!—2003
  • Daar staan geskrywe dat ek hom sal sien
    Ontwaak!—2004
  • 2. Hou dit skoon
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/8 bl. 11-13

Van luukse tot noodsaaklikheid—Die geskiedenis van seep

MIN produkte word so algemeen gebruik of is so nuttig soos seep. Van ons kinderjare af totdat ons oud word, is dit deel van ons daaglikse lewe. Vandat seep vir die eerste keer in die duistere verlede gemaak is, het dit geleidelik verander van ’n luukse-artikel tot ’n daaglikse noodsaaklikheid.

Trouens, ’n 19de-eeuse chemikus het gesê dat die hoeveelheid seep wat deur ’n nasie gebruik word, ’n akkurate aanduiding van hulle rykdom en vlak van beskaafdheid is. Vandag word dit beskou as noodsaaklik vir higiëne en goeie gesondheid. Hoe het hierdie belangrike produk deel van die daaglikse lewe geword?

In die ou tyd

Daar is byna geen bewyse dat seep voor die Gewone Jaartelling vir persoonlike higiëne gebruik is nie. Die King James-vertaling van die Bybel sê wel in Jeremia 2:22: “Julle was julle met salpeter en neem vir julle baie seep.” Tog bestaan daar twyfel of dit ’n verwysing is na seep soos ons dit ken—hetsy as ’n koekie, poeier, of in enige ander vorm. ’n Hedendaagse vertaling van die profeet se woorde lui: ‘Neem vir jou groot hoeveelhede loog’, ’n alkaliese reinigingsmiddel wat heeltemal anders is as die seep wat vandag gebruik word.

Die Grieke en later die Romeine het oor die algemeen geparfumeerde olies gebruik om hulle mee te was. Hulle het moontlik die kuns om seep te maak, by die Kelte geleer. In sy werk Natural History gebruik die eerste-eeuse Romeinse skrywer Plinius die Ouere die Galliese woord saipo, waarvan die woord “seep” na bewering afkomstig is.

In die daaropvolgende eeue was daar min verwysings na die gebruik van seep, hoewel Italië, Spanje en Frankryk tydens die Middeleeue bekend geword het as sentrums waar seep vervaardig is. Maar ondanks pogings om dit op groot skaal te vervaardig, is seep blykbaar nie baie in Europa gebruik nie. Trouens, selfs nog in 1672, toe ’n Duitse edelman ’n geskenkpakkie van Italiaanse seep vir ’n aristokraat gestuur het, het hy dit nodig geag om ’n breedvoerige beskrywing in te sluit van hoe om die vreemde produk te gebruik!

Vroeë seepmakery

Een van die eerste uitvoerige resepte vir seep verskyn in ’n 12de-eeuse versameling van handelsgeheime vir vakmanne. Deur die jare heen het die basiese chemiese vervaardigingsproses nie veel verander nie. Olies en vette uit verskeie bronne is saam met ’n bytalkali-oplossing gekook in ’n proses wat ’n onverwerkte seep voortgebring het. Hierdie reaksie is verseping genoem.

Die gehalte van die seep het natuurlik afgehang van die produkte wat gebruik is. Houtas en dierevet is in vroeë seepmakery gebruik, en met hierdie bestanddele het vroeë setlaars in die Verenigde State ’n bruin, jellieagtige sagteseep vir hulle daaglikse gebruik gemaak. Die hardevet van beeste en skape was destyds die hoofbestanddeel van seep sowel as kerse, en handelaars het dikwels albei gemaak en verkoop. Aan die einde van die kookproses het hulle sout by die seep gevoeg sodat hulle harde, maklik hanteerbare koekies seep daarvan kon maak, wat hulle dan met laventel, wintergroen of komyn gegeur het.

Seep wat in Suid-Europa gemaak is, is oor die algemeen van olyfolie gemaak. Seepmakers in kouer streke het voortgegaan om hardevet te gebruik. Party het selfs visolies gebruik. Hoewel hierdie seep goed genoeg was om klere mee te was, was dit nie juis geskik as badseep nie! Maar vette en olies is nie al wat nodig is om seep te maak nie.

Van tuisnywerheid tot grootskaalse bedryf

Die alkali wat nodig is om seep te maak, is eeue lank verkry van die as van sekere plante, waaronder seewier. In Spanje is die soutbos gebrand, waarvan ’n alkaliese as verkry is wat barilla genoem is. Dit is met plaaslik vervaardigde olyfolie gemeng, en die produk wat dit gelewer het, was ’n wit seep van hoë gehalte wat Spaanse seep genoem is.

Gedurende die 18de eeu was daar ’n toename in die internasionale vraag na potas wat in die vervaardiging van seep, glas en buskruit gebruik is.a Omstreeks 1790 het Nicolas Leblanc, ’n Franse chirurg en chemikus, ’n proses ontwikkel om alkali van gewone sout te vervaardig. Later het chemici daarin geslaag om bytsoda van ’n soutoplossing te maak. Hierdie verwikkelinge het die weg gebaan vir die industrialisering van seepmakery.

Seep kry ’n goeie naam

Die laat 19de eeu was ’n tyd van betekenisvolle hervormings wat gekenmerk is deur pogings om mense bewus te maak van gesondheid en higiëne. Nietemin was die seep wat destyds gebruik is, nog steeds merendeels ’n onaantreklike bruin massa met oorblyfsels van ongesuiwerde alkali wat die vel geïrriteer het. Dit is nog met die hand gemaak en eenvoudig in kookpotte gekook. Dit het die publiek bereik as naamlose stawe seep wat die winkelier in stukke moes sny en by die gewig verkoop is.

Sekere soorte seep het maklik geskuim, maar dit het oliedruppels uitgesweet wat ’n mens se vingers vetterig gemaak het en het mettertyd galsterig geraak. Vervaardigers, wat al hoe meer bewus geraak het van wat die publiek wou hê, het bymiddels soos sitronella begin byvoeg om die aaklige reuk te verbloem met ’n aangename parfuum wat soos suurlemoen ruik.

Verdere verbeteringe was op pad. Plantolieseep, wat geskikter eienskappe gehad het, het gewild geword. Vooruitgang op die gebied van vervoer het seepmakers makliker toegang gegee tot ryk bronne van die beste bestanddele. Wes-Afrika was die tuiste van die oliepalm, en ’n helderkleurige, botteragtige stof wat uit sy vlesige vrug verkry is, het ’n vername bestanddeel in seep en skoonheidsmiddels geword. Van die Pasifiese eilande het kopra gekom, die gedroogde vleis van die kokosneut waaruit klapperolie verkry is. Met eksotiese bestanddele wat van verafgeleë plekke verkry is, het die beeld van seep begin verbeter.

Vervaardigers het verstaan dat mense ’n natuurlike begeerte het om skoon te wees. Verbruikers moes oortuig word dat seep onontbeerlik is. Adverteerders het spoedig hulle produkte en die resultate wat dit opgelewer het, verbind met dinge soos heuning, sonlig en sneeu. Ander het beroemde kunswerke gebruik om aan hulle advertensies—en aan seep—’n beeld van verfyndheid en beskaafdheid te gee. Teen die eeuwisseling was seep ’n produk met ’n wêreldmark. ’n Hele reklamebedryf het daarom ontstaan. In 1894 het slagspreuke wat seep geadverteer het, selfs agterop posseëls in Nieu-Seeland verskyn. Seep het nou ’n goeie naam gehad.

Seepmakery vandag

In vroeër jare is seep in fabrieke gemaak deur die bestanddele in groot oop potte te kook. ’n Bekwame werker het die proses beheer deur van ’n troffel gebruik te maak. Deur te kyk na hoe die seep van ’n verhitte handtroffel afgegly het, kon hy bepaal of die bestanddele of die proses aangepas moes word.

Vandag behels seepmakery drie basiese stappe. Die eerste is verseping, waartydens verskeie olies of vette chemies reageer met alkali om suiwer seep en gliserol voort te bring; hierdie mengsel bevat omtrent 30 persent water. Soms word hierdie stap nog steeds deur middel van die kookpotproses uitgevoer, maar die meeste moderne seepvervaardigers gebruik gerekenariseerde versepingstelsels. Die tweede stap is die droogproses, waartydens hitte-, vakuum- en spuitdroging gebruik word om die suiwer seep in klein balletjies te omskep wat net omtrent 12 persent water bevat. Die derde en laaste stap is die afronding. Die balletjies word met parfuum, kleursel en ander bymiddels gemeng wat die seep ’n onderskeibare kleur gee en dit lekker laat ruik. Stawe word hiervan gemaak en in ’n seeppers in hulle kenmerkende vorm uitgedruk. Verbruikersvraag vereis nou dat huishoudelike seep al hoe meer vrugtegeure en kruie-ekstrakte bevat, wat dit ’n “natuurlike”, verfrissender ondervinding maak om seep te gebruik!

Hoewel merkwaardige vooruitgang gemaak is om die chemiese samestelling van reinigingsmiddels te verstaan en die vervaardiging daarvan ’n omwenteling ondergaan het, het tradisionele seep sy gewildheid behou. Min mense sal ontken dat seep ’n noodsaaklikheid vir higiëne en goeie gesondheid is. En tog is dit ironies dat dit nou, in ’n tyd wat deur sedelike en geestelike onreinheid gekenmerk word, makliker as ooit tevore is om fisies rein te bly. Maar fisiese reinheid is baie waardevoller wanneer dit die reinheid van die innerlike mens weerspieël.

[Voetnoot]

a Potas is die oorblyfsels wat agterbly nadat ’n alkaliese oplossing of loog drooggekook is. Wanneer die potas gebak word totdat al die onsuiwerhede uitgebrand is, word dit ’n fyn wit poeier wat pêrelas genoem word.

[Prent op bladsy 12]

Seepmakery in vroeër jare in Noord-Amerika

[Prent op bladsy 13]

Tradisionele seepmakery waartydens die kookpotproses gebruik word

[Prent op bladsy 13]

“Bubbles”, deur sir John E. Millais, is as ’n seepadvertensie gebruik

[Foto-erkennings op bladsy 13]

Bo: Victoria & Albert Museum, London/Art Resource, NY; onder: © Jeff Greenberg/Index Stock Imagery

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel