Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 11/22 bl. 16-19
  • Die ontstaan van die moderne diamantbedryf

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ontstaan van die moderne diamantbedryf
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het tot daardie diamantstormloop gelei?
  • ’n Skaapwagter en ’n eerlike boer
  • Die stormloop begin
  • Waarom is diamante so duur?
    Ontwaak!—1997
  • Van klip tot edelsteen
    Ontwaak!—1999
  • Jy kán geestelik vooruitgang maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Waardeer jy Jehovah se aardse organisasie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 11/22 bl. 16-19

Die ontstaan van die moderne diamantbedryf

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

DIT het in Januarie 1871 gebeur. Adrian van Wyk, ’n boer wat lief was vir die Bybel, het saam met sy gesin in die halfwoestynstreek Griekwaland-Wes gewoon. Maar sy vreedsame bestaan het tot ’n einde gekom toe ’n stroom vreemdelinge op sy plaas aangekom en daar kamp opgeslaan het. Terwyl hy hulle van sy stoep af gesit en dophou het, kon Van Wyk sy oë nie glo nie!

Binne ’n paar dae het sy grond gewemel van derduisende mense—so ver as wat hy kon sien! Verbeel jou, party het selfs in sy voortuin kleims afgesteek, sonder sy toestemming en selfs sonder om hom te groet! Wat het gebeur? Waarom was daar soveel opgewondenheid? ’n Nuwe stormloop het begin toe die nuus versprei het dat daar volop diamante op Van Wyk se plaas is.

Wat het tot daardie diamantstormloop gelei?

Sowat 12 jaar vroeër is ’n diamant van vyf karaat naby die Vaalrivier gevind, omtrent 70 kilometer noord van Van Wyk se plaas. Die man wat die diamant gevind het, het dit vir vyf pond verkoop aan die priester wat aan die hoof van die Berlynse Sendinggenootskap gestaan het. Geen verdere verslag is van daardie eerste diamantontdekking gevind nie. Maar namate die nuus daarvan versprei het, het mense begin ondersoek instel.

Ons hervat ons verhaal nege jaar later, op Schalk van Niekerk se plaas langs die Oranjerivier, ’n paar kilometer suid van waar dit met die Vaalrivier saamvloei. Die Jacobs-gesin het ’n huis op Van Niekerk se plaas gehad. Die Jacobs-kinders het dit geniet om ’n speletjie te speel wat hulle vyf klippies genoem het. In hulle versameling het hulle ’n blink klippie gehad wat hulle ouer broer Erasmus opgetel het.

Eendag, vroeg in 1867, het Van Niekerk die Jacobse besoek. Mevrou Jacobs het geweet dat hy in edelstene belangstel, en daarom het sy hom vertel van die blink klippie waarmee haar kinders speel. “Saans skitter dit te pragtig in die kerslig”, het sy gesê. Nadat Van Niekerk dit bekyk het, het hy opgewonde geraak. “Ek dink dis ’n diamant dié!” het hy uitgeroep. Hy het onthou dat hy van ’n manier gelees het om vas te stel of ’n steen ’n diamant is. Hy het dus die steen oor die vensterruit aan die agterkant van die beskeie woninkie getrek. Hy was verbaas toe hy sien dat dit ’n diep merk in die glas gelaat het en het verskoning gevra dat hy dit beskadig het.a Mevrou Jacobs het die steen met graagte vir Van Niekerk gegee en geweier om betaling daarvoor te aanvaar.

Die volgende keer toe hy na die nabygeleë Hopetown gegaan het, het Van Niekerk die steen vir vriende gewys, maar nie een van hulle kon bevestig dat dit ’n diamant is nie. Die steen het deur die een betroubare paar hande na die ander beweeg, totdat dit uiteindelik deur die pos by ’n geneesheer, dr. Atherstone, van Grahamstad, uitgekom het. Hy het die hulp van ’n skoolmeester ingeroep. Toetse is in die skool se laboratorium gedoen om die steen se soortlike gewig te bepaal en daar is gevind dat dit met dié van ’n diamant ooreenstem. Daarna is die steen na ’n plaaslike juwelier geneem, wat tevergeefs probeer het om met sy vyl ’n merk daarop te maak. Ander is geraadpleeg, en almal het tot dieselfde positiewe gevolgtrekking as Van Niekerk gekom. Dr. Atherstone het toe per brief bevestig dat die steen ’n diamant met ’n gewig van 21,25 karaat is. Van Niekerk het 350 pond vir die edelsteen gekry en hy het die geld onmiddellik met mevrou Jacobs gedeel. Die steen word paslik Eureka genoem, ’n uitdrukking wat ’n aanduiding is van “triomf by ’n ontdekking”.

’n Skaapwagter en ’n eerlike boer

Ons hervat ons verhaal twee jaar later, suid van waar die Oranje- en die Vaalrivier saamvloei. Daar het ’n swart skaapwagter met die naam Booi sy skape laat wei toe hy iets blinks op die grond sien lê. Hy het gebuk, ’n blink, okkerneutvormige klippie opgetel en dit in sy sak gesteek. Hy het gehoor dat daar belangstelling was in sekere stene van daardie gebied, en daarom het hy, in sy omswerwinge op soek na werk, dit eers vir ’n boer en toe vir ’n handelaar aangebied. Hulle het hom toe na Van Niekerk se plaas gestuur.

Booi het uiteindelik by Van Niekerk se plaas aangekom en die steen vir hom gewys. Van Niekerk het dadelik besef dat hy moontlik na ’n diamant kyk wat groter en waardevoller is as die een wat mevrou Jacobs vir hom gegee het. Hy het die nederige skaapwagter gevra wat hy in ruil vir die steen wou hê. “Meneer”, het Booi beleefd geantwoord, “Meneer kan vir my gee wat Meneer dink is reg.” Sonder om te aarsel het Van Niekerk amper alles oorhandig wat hy gehad het—500 vetstertskape, 10 osse, die wa wat hy gebruik het om sy groente dorp toe te neem en selfs die opgesaalde perd waarop hy gery het! Wat Booi betref, hy het ongetwyfeld gedink dat hy ’n ryk man is—en dit danksy ’n blink, okkerneutvormige klippie!

Van Niekerk het onmiddellik Hopetown toe gegaan om sy diamant te verkoop. Daar het ’n verwonderde groep sakemanne ooreengekom om hom 11 300 pond te betaal vir die steen van 83,5 karaat. Dit het uiteindelik as die Ster van Suid-Afrika bekend gestaan.b Die geslypte steen het die fokuspunt geword van die pragtige halssnoer wat op hierdie bladsy verskyn. Toe die nuus van hierdie diamant die buitewêreld bereik het, het ongeloof verdwyn, en duisende mense het van uiteenlopende plekke soos Noord- en Suid-Amerika, Engeland, Europa en Australië na Suid-Afrika gestroom om hulle fortuin te soek.

Die stormloop begin

Aanvanklik is daar langs die Oranje- en die Vaalrivier na diamante gedelf. Toe, in 1870, het die nuus versprei dat indrukwekkende vondse gemaak word op plase dieper die binneland in, tussen die twee riviere. Die rivierdelwers het dus hulle stormloop begin na die gebied waar Adrian van Wyk se plaas geleë was. Van Wyk en sy bure was onbewus van die feit dat hulle plase bo-op uitgedoofde vulkane geleë was. Die diamante is in sogenaamde blougrond ontdek, wat in oeroue vulkaniese pype gevind word.

Intussen het tentdorpies soos paddastoele opgeskiet, wat spoedig deur sinkstrukture gevolg is. Met gebrekkige watertoevoer en sonder infrastruktuur was hierdie dorpies maar eenvoudig, om die minste te sê. Die nuwe aankomelinge moes dinge verdra soos stofwolke, swerms vlieë, somerdae warmer as 40 grade Celsius en winternagte waartydens die temperatuur soms tot onder vriespunt gedaal het. Hulle het al dié ongerief verduur in die hoop om ’n fortuin te maak.

Wat het met Adrian van Wyk gebeur nadat sy plaas deur diamantdelwers oorval is? In die begin het hy die delwers toestemming gegee om vir ’n klein maandelikse fooi op ’n gedeelte van sy plaas te delf. Maar toe al hoe meer delwers op sy plaas toegesak het, kon Van Wyk die situasie nie meer beheer nie. Toe ’n mynmaatskappy hom 2 000 pond vir sy plaas aangebied het, het hy dit gretig aanvaar, die dokumente geteken en op ’n rustiger plek gaan woon.

Redelik naby aan Van Wyk se plaas was ’n ander plaas, wat aan twee De Beer-broers behoort het. Hulle naam is gebruik om die De Beers Consolidated Mines te registreer, wat nog steeds die wêreld se grootse diamantprodusent is. Die stad Kimberley omvat die gebied waar daardie nederige plase eens op ’n tyd gestaan het. Die mynbedrywighede op die De Beer-broers se plaas het grootliks toegeneem, en mense het ’n gat gegrawe wat so diep en wyd was dat dit later as die Groot Gat bekend gestaan het.

Voor Suid-Afrika se vroeë diamantontdekkings is hierdie kosbare stene in Indië en Brasilië gemyn. Maar daar was nie genoeg om die wêreldmark te bevredig nie. Met die ontdekking van groot hoeveelhede diamante in Suid-Afrika het die moderne diamantbedryf ontstaan.

[Voetnote]

a Daardie selfde vensterruit met die diep krapmerk kan vandag, meer as ’n eeu later, in die Colesberg-museum gesien word.

b Die naam van hierdie diamant word soms verwar met dié van ’n ander, wat die Ster van Afrika genoem word.—Sien die venster “Die Premiermyn”, op bladsy 16.

[Venster/Prente op bladsy 16, 17]

DIE PREMIERMYN

In 1903 is ’n diamantmyn sowat 30 kilometer oos van Pretoria geopen. Dit is gepas die Premiermyn genoem. Twee jaar later, toe die mynput tien meter diep was, het ’n werker ’n blink voorwerp in die rotsagtige wand uitgewys. Sy bestuurder het versigtig afgeklim en die voorwerp met sy sakmes uitgekrap. In sy hand het hy die grootste ongeslypte diamant gehou wat ooit gevind is; dit was so groot soos ’n man se vuis. Hierdie enorme diamant van 3 106 karaat is na die myn se ontdekker, Thomas Cullinan, vernoem. Toe dit geslyp is, het die Cullinandiamant nege groot stene en 96 kleintjies opgelewer. Een van hierdie dele, die Cullinan I, of die Ster van Afrika, is die grootste geslypte diamant ter wêreld. Dit versier die Britse koninklike septer, wat op hierdie bladsy verskyn. ’n Eeu later hou die Premiermyn nog steeds sy naam hoog deur talle groot diamante van hoë gehalte te lewer.

[Prente]

Die Britse koninklike septer

Die ongeslypte Cullinandiamant, so groot soos ’n man se vuis

[Venster/Prent op bladsy 17]

DIAMANT- FEITE

◆ Diamante is die hardste natuurlike stof wat aan die mens bekend is.

◆ Diamante word van koolstof gevorm, net soos die grafiet in ’n potlood. Maar waarom is diamante hard terwyl grafiet sag is? Die verskil lê in die wyse waarop die koolstofatome gerangskik is.

◆ Diamante se gewig word in karaat bepaal. ’n Karaat is gelyk aan ’n vyfde van ’n gram.

◆ Dikwels moet daar deur sowat 400 ton rots, gruis en sand gewerk word om een karaat diamante te ontgin.

[Venster/Prent op bladsy 18]

DIE GROOT GAT IN KIMBERLEY

Gedurende die vier jaar tussen 1869 en 1873 het die bevolking van die gebied rondom die hedendaagse stad Kimberley van ’n handjievol boere tot ongeveer 50 000 mense gegroei. Baie was fortuinsoekers wat van die uithoeke van die aarde af gekom het. Duisende het 1 000 kilometer van Kaapstad se hawe af tot hier geloop. Met pikke en grawe het hulle ’n heuwel omskep in die grootste gat wat ooit deur mensehande gegrawe is. Toe die delwery uiteindelik opgehou het, was die krater 240 meter diep. Ondergrondse mynwerk het voortgegaan tot ’n diepte van 1 100 meter. Teen 1914, toe alle mynwerk hier tot ’n einde gekom het, is “25 miljoen ton grond” verwyder, volgens die Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Uit al daardie rots en grond, voeg dieselfde bron by, is drie ton diamante ontgin ter waarde van meer as R574 000 000.

[Prent op bladsy 17]

Dr. Atherstone

[Prent op bladsy 17]

Schalk van Niekerk

[Prent op bladsy 17]

Die Eurekadiamant

[Erkenning]

De Beers Consolidated Mines Ltd.

[Prent op bladsy 18]

Die Ster van Suid-Afrika

[Prente op bladsy 18, 19]

Die Groot Gat in 1875. Die toue is deur honderde prospekteerders gebruik om werkers in die put te laat afsak en diamantdraende erts op te hys

[Prente op bladsy 19]

Die diamantstormloop het mynkampe soos paddastoele laat opskiet

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Crown ©/The Royal Collection © 2005, Her Majesty Queen Elizabeth II; Photo: www.comstock.com

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Photo by Fox Photos/Getty Images

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Portrette: From the book The Grand Old Days of the Diamond Fields by George Beet

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Foto’s: De Beers Consolidated Mines Ltd.

[Foto-erkenning op bladsy 19]

Foto’s: De Beers Consolidated Mines Ltd.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel