Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/06 bl. 4-7
  • Waarom dit moeilik is om ware liefde te vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom dit moeilik is om ware liefde te vind
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die liefde ‘sal verkoel’
  • Fantasie of die ware Jakob?
  • Storieboekliefde teenoor ware liefde
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoe om opregte liefde aan te kweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 3/06 bl. 4-7

Waarom dit moeilik is om ware liefde te vind

Daar is geen tekort aan raad oor romantiese liefde nie. Terapeute en beraders bied voorligting. Geselsprogramme op televisie bespreek dikwels die onderwerp.

OP DIE Internet beweer tallose webwerwe dat hulle lig werp op hoe om liefde te vind. Hulle vertel jou dalk dat jy “fassinerende en ongelooflike geheime” sal ontdek en sal leer by “professionele maatsoekers”, “verhoudingsdeskundiges” en “liefdesdokters”, om nie eens te praat van psigoterapeute, sielkundiges en astroloë nie.

Die onderwerp van liefde verkoop ook boeke en tydskrifte, waarvan party buitensporige beloftes maak. Byvoorbeeld, een boek kan jou glo wys “hoe om enigiemand op jou verlief te laat raak”. ’n Ander een sê dat dit jou die geheim sal leer om “binne net ’n maand die volmaakte maat” te vind. En as ’n maand te lank is? Dan openbaar ’n ander hoe jy dit “binne 90 minute of minder” kan regkry om iemand se liefde vir ewig te wen.

Aan baie van die raad is daar ’n prys verbonde. En baie mense betaal twee keer. Hulle betaal om die raad te ontvang. Dan, wanneer die raad nie werk nie en sake nie na verwagting verloop nie, soos dikwels die geval is, betaal hulle ’n emosionele prys.

Daar is egter een bron van raad wat nooit faal as dit toegepas word nie. Bowendien praat dit die waarheid oor die onderwerp, sonder om wilde bewerings en onrealistiese beloftes te maak. Hoewel dit lank gelede geskryf is, raak die raad daarin nooit verouderd nie. Die Outeur daarvan is ongeëwenaard in wysheid en weergaloos in liefde. Dalk besit jy reeds ’n eksemplaar van hierdie spesiale boek—die Heilige Bybel. Ongeag ons omstandighede of agtergrond, die Bybel leer ons wat ons oor die liefde moet weet. En die raad daarin is gratis.

Sal die Bybel ons in staat stel om ’n goeie verhouding met almal te hê? Nee. Party mense sal nie tot ons aangetrokke voel nie, ongeag hoe hard ons probeer. En opregte liefde kan nie afgedwing word nie (Hooglied 8:4). Maar deur die Bybel se raad toe te pas, sal ons meer geleenthede kry om liefdevolle verhoudings met ander aan te kweek, al verg dit dalk tyd en inspanning. Hierdie aspek van die liefde sal in die volgende artikel bespreek word, maar kom ons kyk eers waarom dit vandag al hoe moeiliker word om ware liefde te vind.

Die liefde ‘sal verkoel’

In sy groot profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge” het Jesus die toestande en tendense van ons dag akkuraat voorspel. Hy het gesê dat die wêreld gekenmerk sou word deur wetteloosheid en oorloë—presies die teenoorgestelde van liefde! Hy het ook gesê dat ‘baie mekaar sal verraai en mekaar sal haat’ en dat “die liefde van die meeste [sal] verkoel” (Matteus 24:3-12). Stem jy nie saam dat die wêreld ’n killer plek geword het nie en dat daar, selfs in gesinne, ’n gebrek aan ware liefde is nie?

Buiten wat Jesus gesê het, het die apostel Paulus as ’t ware ’n breedvoerige sosiale profiel van “die laaste dae” gegee. Hy het geskryf: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-4). In baie lande het daardie karaktertrekke baie algemeen geword.

Dink hieroor na: Voel jy aangetrokke tot hoogmoedige, ondankbare mense, tot diegene wat dislojaal is, wat jou sal beskinder of verraai? Hou jy van mense wat net vir hulleself, vir geld of vir genot lief is? Omdat egosentriese mense toelaat dat hebsug en persoonlike begeertes hulle verhoudings kenmerk en beïnvloed, toon hulle waarskynlik slegs om selfsugtige redes belangstelling in ander. Die Skrif gee hierdie wyse raad: “Keer jou van hierdie mense af.”—2 Timoteus 3:5.

Let ook op die stelling dat mense wat in die laaste dae lewe, “sonder natuurlike geneentheid” sal wees, of, soos ’n ander vertaling dit stel, “’n gebrek aan normale geneentheid vir hulle familie sal hê”. Dit is hartseer dat al hoe meer kinders in sulke huise grootword. Wat hierdie jonges van liefde weet, het hulle dikwels deur die media geleer. Maar skets die media ’n juiste beeld van die liefde, een wat waarlik tot beter verhoudings sal lei?

Fantasie of die ware Jakob?

In ’n sekere mate word die meeste van ons deur die media beïnvloed. Een navorser het geskryf: “Van kleins af word ons gebombardeer met sprokiesagtige uitbeeldings en kragtige stereotipes van seks, liefde en romanse in die popkultuur—rolprente en televisie, boeke en tydskrifte, radio en musiekopnames, reklame en selfs die nuus.” Sy het ook verduidelik: “Die manier waarop seks, liefde en romanse gewoonlik in die massamedia uitgebeeld word, vorm of versterk onrealistiese verwagtings wat die meeste van ons nie heeltemal kan ignoreer nie. Dit maak ons ontevrede met ons maat sowel as met onsself.”

Ja, boeke, rolprente en liedjies dra selde ’n juiste beeld van die liefde oor. Hulle hoofdoel is immers om te vermaak, nie om te onderrig nie. Gevolglik bring skrywers ’n nimmereindigende stroom materiaal voort vol fantasie en romanse, wat geld sal inbring. Maar ongelukkig is dit maklik om sulke fiksie met die werklikheid te verwar. Daarom is mense dikwels teleurgesteld wanneer hulle verhoudings nie soos dié van fiktiewe karakters is nie. Hoe kan ons dus onderskei tussen fantasie en die werklikheid, tussen mediaromanse en ware liefde? Kyk na die volgende vergelykings.

Storieboekliefde teenoor ware liefde

Liefdesverhale, hetsy in boeke, rolprente of toneelstukke, verskil dalk, maar die basiese samestelling, of formule, daarvan verander nie juis nie. Die tydskrif Writer sê: “Die meeste liefdesverhale volg nog steeds ’n vasgestelde patroon. Daar is ’n rede hiervoor. Die man-ontmoet-meisie/man-verloor-meisie/man-kry-meisie-terug-formule is ’n beproefde model waarna lesers keer op keer terugkeer, ongeag die agtergrond of era.” Kom ons beskou hierdie gewilde formule van naderby.

Man ontmoet meisie: ’n Aantreklike prins ontmoet ’n pragtige meisie en hulle raak verlief. ’n Suksesvolle skrywer gee aspirantskrywers van liefdesverhale die volgende raad: “Vandat [die paartjie] mekaar die eerste keer sien, moet dit vir jou leser duidelik wees dat hierdie twee mense bymekaar hoort.”

Die idee dat mense met die eerste oogopslag op mekaar verlief kan raak, dra die gedagte oor dat ware liefde net ’n gevoel is—’n sterk emosie wat jou oorweldig wanneer jy die regte persoon ontmoet—dat sulke liefde sommer net ontstaan en min inspanning of kennis van die ander persoon verg. Maar ware liefde is veel meer as ’n gevoel. Gevoelens is weliswaar betrokke, maar liefde is ’n diepgewortelde band tussen mense wat ook beginsels en waardes insluit en wat, solank dit behoorlik gekoester en in stand gehou word, nooit ophou groei nie.—Kolossense 3:14.

Verder neem dit tyd om ’n ander persoon te leer ken. Om met die eerste oogopslag te besluit dat jy die volmaakte maat gevind het, is blote fantasie en lei gewoonlik tot teleurstelling. As jy daarbenewens vinnig tot die slotsom kom dat jy ware liefde gevind het, sluit jy dalk jou oë vir bewyse dat die teendeel waar is. Om ’n geskikte maat te kies, verg meer as ’n sterk gevoel wat deur ’n vlaag van verliefdheid beïnvloed is. Moet dus nie oorhaastig wees nie. Trouens, baie studies het al getoon dat ’n slegte keuse van ’n huweliksmaat ’n negatiewe uitwerking kan hê op werkverrigting, geestes- en fisiese gesondheid en selfs lewensduur.

Man verloor meisie: ’n Bose graaf ontvoer die pragtige meisie en vlug uit die kasteel. Die prins onderneem ’n gevaarlike soektog om haar te vind. ’n Woordvoerster vir Liefdesverhaalskrywers van Amerika sê: “Die vernaamste intrige van die liefdesverhaal moet handel oor twee mense wat verlief raak en sukkel om die verhouding te laat werk.” In die meeste romans sal die verhouding werk—die lesers weet dit. Struikelblokke, dikwels van ’n eksterne aard, word oorkom.

In die werklike lewe is daar gewoonlik probleme van ’n eksterne en interne aard. Dit kan geld, werk, familie en vriende insluit. Probleme ontstaan ook wanneer een persoon nie aan die ander se verwagtings voldoen nie. Fiktiewe karakters se tekortkominge is gewoonlik gering, maar dit is nie altyd die geval in die werklike lewe nie. Verder dra ware liefde ons nie moeiteloos deur beproewinge of verskille in beskouing, agtergrond, begeertes en persoonlikheid nie. Liefde behels eerder samewerking, nederigheid, sagmoedigheid, geduld en lankmoedigheid—eienskappe wat nie altyd van nature of maklik aan die dag gelê word nie.—1 Korintiërs 13:4-7.

Man kry meisie terug: Die prins red die pragtige meisie en verdryf die graaf. Die paartjie trou en lewe lank en gelukkig saam. ’n Redakteur van liefdesverhale gee hierdie raad aan aspirantskrywers: “Daar moet ’n gelukkige einde wees. . . . Die leser moet tevrede wees dat die paartjie mekaar gevind het en gelukkig is.” Liefdesverhale beeld selde hulle karakters ná jare van getroude lewe uit. Gedurende daardie tyd het meningsverskille en talle ander uitdagings en probleme moontlik al die verhouding getoets. Soos egskeidingsyfers toon, deurstaan baie huwelike later nie die toets nie.

Ja, storieboekliefde is relatief maklik; ware liefde verg inspanning. As jy die verskil tussen die twee verstaan, sal dit jou teen naïewe, onrealistiese verwagtings beskerm. Dit sal ook keer dat jy halsoorkop ’n verbintenis aangaan en dan later dalk spyt kry. Die volgende artikel sal bespreek hoe jy ware, onselfsugtige liefde kan aankweek en hoe jy ’n meer geliefde mens kan word.

[Lokteks op bladsy 5]

Mense wat minder liefhet, is minder geliefd

[Lokteks op bladsy 7]

Storie- boek- liefde is relatief maklik; ware liefde verg inspanning

[Venster/Prent op bladsy 6]

Die helde en heldinne van liefdesverhale

Elke jaar in die Verenigde State word liefdesverhale ter waarde van meer as ’n miljard dollar (6,5 miljard rand) verkoop. Ongeveer die helfte van die fiksie in sagtebandformaat wat in daardie land verkoop word, is liefdesverhale. Volgens statistiek wat deur Liefdesverhaalskrywers van Amerika uitgegee is, moet helde gespierd, aantreklik en intelligent wees—dit is die drie vernaamste kenmerke waarna lesers, waarvan sowat 90 persent vroue is, in helde soek. Die drie gewildste vereistes vir heldinne is dat hulle intelligent, sterk van karakter en aantreklik moet wees.

[Prente op bladsy 6, 7]

Die media dra selde ’n juiste beeld van die liefde oor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel