Jongmense vra . . .
Hoe kan ek nee sê vir seks by die skool?
“Die kinders praat elke dag oor seks. Daar is selfs meisies wat seuns nader, en dan het hulle seks sommer daar by die skool.”—Eileen, 16.
“By my skool doen homoseksuele kinders onsedelike dinge oop en bloot en dink niks daarvan nie.”—Michael, 15.a
PRAAT jou klasmaats heeltyd oor seks? Doen party van hulle meer as om net daaroor te praat? As dit so is, voel jy dalk soos ’n tienermeisie wat gesê het dat dit vir haar by die skool voel asof sy “op die stel van ’n seksfliek werk”. Die feit is dat baie jongmense op skool heeltyd blootgestel word aan praatjies oor seks—of selfs geleenthede om seks te hê.
Dalk hoor jy hoe jou klasmaats praat van “bymekaarkom” (hooking up)—’n term wat verwys na seks sonder enige emosionele verbintenis. Daar is gevalle waar jongmense “bymekaarkom” met persone wat hulle skaars ken. In ander gevalle reël hulle ontmoetings vir seks met wildvreemdes wat hulle op die Internet ontmoet het. In albei gevalle is liefde glad nie ter sprake wanneer hulle “bymekaarkom” nie. “Al wat dit beteken, is dat twee mense aan hulle vleeslike begeertes toegee”, sê 19-jarige Danielle.
Dit is geen wonder dat dit ’n gewilde onderwerp in baie skole geword het nie. “Ná elke naweek is dit asof die gange gons met die jongste nuus oor wie ‘bymekaargekom’ het, en dit word in die fynste besonderhede aan vriende oorvertel”, het ’n 17-jarige meisie in haar skoolkoerant geskryf.
As jy volgens Bybelstandaarde probeer lewe, kan jy uitgesluit voel as jy tussen mense is wat blykbaar oor niks anders as seks praat nie. En as jy nie saampraat nie, kan jy ’n maklike teiken van bespotting word. ’n Mens moet dit seker verwag, want die Bybel sê dat ander jou dalk sal “smaad” wanneer hulle nie jou optrede verstaan nie (1 Petrus 4:3, 4). Nietemin hou niemand daarvan om gespot te word nie. Hoe kan jy dus nee sê vir seks by die skool en nog steeds jou standpunt met ’n gepaste mate van trots inneem? Eerstens is dit belangrik om te verstaan waarom seksuele versoeking so kragtig is.
Leer jouself ken
Tydens adolessensie ondergaan jy vinnige veranderinge, fisies sowel as emosioneel. Gedurende hierdie tydperk ervaar jy intense seksuele drange. Wees verseker dat dit heeltemal normaal is. As jy by die skool dus baie aangetrokke voel tot lede van die teenoorgestelde geslag, moet jy nie die gevolgtrekking maak dat jy van nature sleg is of dat jy net nie sedelik rein kan wees nie. Jy kan kies of jy rein wil wees of nie!
Buiten die innerlike stryd wat deel van adolessensie is, is daar iets anders waarvan jy bewus moet wees. Omdat ons almal onvolmaak is, is alle mense geneig tot sonde. Selfs die apostel Paulus het erken: “Ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.” Paulus het gesê dat sy onvolmaakthede hom ‘ellendig’ laat voel het (Romeine 7:23, 24). Maar hy het die stryd gewen, en jy kan ook!
Verstaan jou klasmaats
Soos daar vroeër gemeld is, praat jou klasmaats dalk heeltyd oor seks of spog hulle oor hulle beweerde seksuele ervarings. Wees op jou hoede vir hulle skadelike invloed (1 Korintiërs 15:33). Maar jy hoef nie jou klasmaats as jou vyande te beskou nie. Waarom nie?
Jou klasmaats het dieselfde begeertes as wat jy het. Hulle het ook ’n neiging tot sonde. Maar anders as jy, is sommige van hulle dalk “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”. Of dalk kom hulle uit huise waar daar geen “natuurlike geneentheid” tussen gesinslede is nie (2 Timoteus 3:1-4). Party van jou klasmaats kry dalk nie die liefdevolle dissipline en sedelike opleiding wat goeie ouers voorsien nie.—Efesiërs 6:4.
Sonder die hoër bron van wysheid—God se Woord die Bybel—wat jy tot jou beskikking het, is jou klasmaats dalk onbewus van die skadelike gevolge wat dit kan hê om vrye teuels aan ’n mens se begeertes te gee (Romeine 1:26, 27). Dit is asof hulle ouers hulle ’n vinnige motor gegee het en hulle op ’n besige snelweg laat ry—maar sonder om hulle te leer bestuur. Die rit is dalk ’n ruk lank opwindend, maar ’n ongeluk is onvermydelik. Wat kan jy dus doen as jou klasmaats oor seks begin praat terwyl jy in die geselskap is of as hulle druk op jou uitoefen om, soos hulle, onsedelik te wees?
Verwerp onsedelike gesprekke
As jou klasmaats oor geslagsonsedelikheid begin praat, kom jy dalk in die versoeking om te luister of selfs om saam te praat—net sodat dit nie lyk of jy anders as die res is nie. Maar dink aan watter boodskap dit aan hulle sal oordra. Sal jou belangstelling in hulle gesprek weerspieël watter soort mens jy werklik is of graag wil wees?
Wat moet jy dan doen as jy jou in ’n gesprek oor geslagsonsedelikheid bevind? Moet jy net opstaan en wegloop? Beslis! (Efesiërs 5:3, 4). Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). As jy die gesprek verlaat, is jy dus nie ongeskik nie—jy is skerpsinnig.
Jy hoef regtig nie sleg te voel om ’n onsedelike gesprek te verlaat nie. Daar is beslis ander soorte gesprekke waarvan jy sou wegloop sonder om skaam te voel, veral as jy nie belangstel in wat bespreek word of as jy geen deel daaraan wou hê nie. Veronderstel byvoorbeeld dat ’n groep van jou klasmaats begin praat oor ’n gewapende roof wat hulle wil pleeg. Sal jy daar bly en na die plan luister? As jy dit sou doen, kan jy as ’n medepligtige beskou word. Daarom sou jy wyslik besluit om weg te loop. Doen dieselfde wanneer ’n gesprek oor geslagsonsedelikheid begin handel. Jy kan dikwels die gesprek verlaat sonder om eiegeregtig te lyk en bespotting uit te lok.
Dit is wel nie altyd moontlik om jou uit ’n situasie te verwyder nie. Byvoorbeeld, die jongmense wat naby jou in die klas sit, probeer dalk om jou by ’n gesprek oor seks te betrek. In daardie geval kan jy vir hulle op ’n beleefde maar ferm manier sê om op te hou om jou aandag af te trek. As dit nie werk nie, kan jy doen wat Brenda gedoen het. “Ek het net die onderwyser gevra om my te skuif”, sê sy.
Gebruik onderskeidingsvermoë
Vroeër of later sal van jou klasmaats uit nuuskierigheid wil weet waarom jy nie aan hulle vuil gesprekke deelneem nie. As hulle jou oor jou sedes uitvra, moet jy onderskeidingsvermoë gebruik om te antwoord. Party sal weliswaar vra net om jou te spot en nie omdat hulle jou standpunt wil verstaan nie. Maar as die een wat vra, opreg lyk, moet jy met gepaste trots oor jou geloof praat. Baie jeugdiges het die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gebruik om hulle klasmaats te help besef hoe voordelig dit is om volgens Bybelstandaarde te lewe.b
Wees vasbeslote
Wat moet jy doen as ’n medeleerling astrant genoeg is om aan jou te probeer vat of jou te probeer soen? As jy die persoon toelaat om dit te doen, kan jy hom of haar aanmoedig om met hierdie verkeerde gedrag aan te hou. Die Bybel beskryf ’n jong man wat ’n onsedelike vrou toegelaat het om hom te gryp en te soen. Hy het toegelaat dat sy op ’n seksueel suggestiewe manier met hom praat. Met watter gevolg? “Skielik loop hy agter haar aan, soos ’n bul wat gaan om geslag te word.”—Spreuke 7:13-23.
Kyk daarenteen na die manier waarop Josef ’n soortgelyke situasie hanteer het. Sy heer se vrou het hom aanhoudend probeer verlei, maar hy het haar toenaderings ferm verwerp. Toe sy hom uiteindelik probeer gryp het, het hy daadwerklik opgetree en weggehardloop.—Genesis 39:7-12.
Soos Josef, sal jy dalk daadwerklik moet optree as ’n klasmaat of ’n kennis vatterig begin raak. “As ’n seun aan my probeer vat, sê ek vir hom om op te hou”, sê Eileen. “As hy nie wil hoor nie, skree ek vir hom om sy hande tuis te hou.” Eileen voeg die volgende by oor die jong mans by haar skool: “Hulle sal jou nie respekteer tensy jy respek by hulle afdwing nie.”
Jy sal ook die respek van jou klasmaats afdwing as jy weier om na onsedelike gesprekke te luister, jou sedelike standpunt met respek verduidelik wanneer dit gepas is en onsedelike voorstelle ferm verwerp. ’n Verdere voordeel is dat jy goed omtrent jouself sal voel. Bowenal sal jy Jehovah se goedkeuring hê!—Spreuke 27:11.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Hoe kan jy ’n onsedelike gesprek verlaat?
◼ Wat sal jy sê en doen as ’n klasmaat onsedelike voorstelle maak?
[Prent op bladsy 27]
As ’n gesprek oor ongeoorloofde seks begin handel, moet jy net wegloop
[Prent op bladsy 28]
Verwerp onsedelike voorstelle op ’n ferm manier