Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/07 bl. 8-9
  • Help jongmense om hulle behoeftes te bevredig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help jongmense om hulle behoeftes te bevredig
  • Ontwaak!—2007
  • Soortgelyke materiaal
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Kan die Bybel jou help om jou kinders groot te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 3/07 bl. 8-9

Help jongmense om hulle behoeftes te bevredig

JONGMENSE het iemand nodig met wie hulle kan praat oor hulle doelwitte, verwagtinge en probleme. Hulle het ook goeie vriende nodig. En terwyl hulle tot volwassenheid groei, het jongmense ’n gevoel van identiteit, van individualiteit, nodig. Wanneer ouers hulle kinders help om hierdie behoeftes te bevredig, beskerm hulle hulle teen verhoudings wat skadelik kan wees, insluitende dié wat maklik op die Internet kan ontwikkel.

◼ Jongmense het iemand nodig om mee te praat. Tieners kan die indruk skep dat hulle terughoudend of geheimsinnig is wanneer dit by hulle emosies kom. Maar wees daarvan verseker dat hulle wil praat—ja, met jou, hulle ouer—oor ernstige sowel as alledaagse sake. Die vraag is: Is jy bereid om te luister?—Jakobus 1:19.

Moenie toelaat dat die eise van die lewe jou kosbare geleenthede om met jou kinders te praat, ontneem nie. As jy probleme deurmaak, is dit dalk tyd om ernstig na te dink oor die betroubare Bybelraad: “Maak [seker] van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Wat kan belangriker wees as jou kinders?

Moenie haastig tot die slotsom kom dat jongmense eerder na hulle portuurs wil gaan vir raad as na hulle ouers nie. Tydens een opname is meer as 17 000 leerders tussen graad 6 en 12 gevra om op ’n skaal van 0 tot 5 aan te dui hoeveel invloed hulle ouers, vriende, beroemdes, die media en onderwysers op hulle het. Die antwoord 0 het geen invloed beteken, en 5 die grootste invloed. Byna die helfte het hulle ouers ’n 5 gegee.

Dit is duidelik dat jy as ’n ouer ’n sleutelrol in die vorming van jou kinders se waardes en doelwitte kan speel. “Jy bereik hulle dalk nie met alles wat jy sê nie”, het een ouer gesê. “Maar as jy nie met hulle praat nie, sal jy hulle nooit bereik nie.”

◼ Jongmense het vriende nodig. “Ouers weet gewoonlik nie met wie hulle kinders op die Internet in aanraking is nie, of hulle gee eenvoudig nie om nie”, sê een 15-jarige meisie. Deesdae kan ouers nie bekostig om ongeërg te wees oor hulle kinders se assosiasie nie. Weet jy met wie jou kinders tyd deurbring, hetsy van aangesig tot aangesig of andersins? Die Bybel sê: “Slegte metgeselle bederf ’n goeie karakter” (1 Korintiërs 15:33, Today’s English Version). Ja, daar is goeie rede om jou kind se assosiasie deeglik te monitor.

Liefde behels meer as om jongmense net teen slegte invloede te beskerm. Kinders het die regte soort vriende nodig. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê die Bybel (Spreuke 13:20). Jy moet jou kinders dus help om heilsame vriende te vind—insluitende ander jongmense wat ’n goeie voorbeeld stel deur aan hulle Skepper te dink.—Prediker 12:1.

Jehovah God is selektief wanneer dit kom by die soort mense met wie hy bevriend word, en ons moet hom probeer navolg (Psalm 15:1-5; Efesiërs 5:1). Trouens, een van die waardevolste lewensvaardighede wat jy jou kinders kan leer—deur jou woorde en voorbeeld—is om heilsame metgeselle te kies.—2 Tessalonisense 3:6, 7.

◼ Jongmense het ’n identiteitsgevoel nodig. ’n Noodsaaklike deel van grootword is om ’n identiteit te vorm—’n stel unieke eienskappe wat een kind van alle ander kinders onderskei. ’n Bybelspreuk sê: “’n Kind toon wat hy is deur wat hy doen” (Spreuke 20:11, The Holy Bible in the Language of Today, deur William Beck). Een van jou verantwoordelikhede as ’n ouer is om regte beginsels in jou kinders se harte in te skerp.—Deuteronomium 6:6, 7.

Ter toeligting: Ouers kies gewoonlik die klere wat ’n jong kind van dag tot dag sal dra, in die hoop dat hy of sy sal leer hoe om paslik aan te trek. Maar kan jy jou ’n gesonde, 30-jarige volwassene voorstel wie se ouers nog steeds sy klere kies? Net die gedagte daaraan is belaglik! Die Bybel gebruik klere as ’n vergelyking en moedig ons aan: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid”—’n Christelike persoonlikheid (Kolossense 3:10). Jy kan jou kinders help om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee deur middel van liefdevolle dissipline en “verstandsregulering” (Efesiërs 6:4). Wanneer hulle dan ouer en onafhankliker word, sal hulle waarskynlik ook “die nuwe persoonlikheid” as “klere” kies en dit sien as iets wat waarlik mooi en aantreklik is.—Deuteronomium 30:19, 20.

Vra jou af: ‘Hoe voel my kinders werklik oor die waardes wat in God se Woord geleer word? Hoe kan ek hulle help “om met gesonde verstand . . . te lewe”?’ (Titus 2:12). Jou doel is nie om ’n kind groot te maak wat oppervlakkige gehoorsaamheid toon nie. Sommige kinders blink blykbaar daarin uit om te doen wat vir hulle gesê word sonder om vrae te vra, teë te stribbel of opstandig te raak. Maar ’n kind wat vandag bloot doen wat jy wil hê hy moet doen, kan môre doen wat die wêreld wil hê hy moet doen. Lei jou kinders dus op om hulle “denkvermoë” te ontwikkel (Romeine 12:1). Help hulle om te sien waarom Bybelbeginsels betroubaar is en hoe dit ons almal tot voordeel strek.—Jesaja 48:17, 18.

Ja, dit verg inspanning om jongmense te help om hulle behoeftes te bevredig. Maar die belonings is die moeite werd! As jou kinders volgens regte beginsels lewe wat jy by hulle ingeskerp het, sal jy met jou hele hart kan sê dat kinders waarlik “’n erfdeel van Jehovah” is.—Psalm 127:3.

[Prente op bladsy 9]

Help jou kinders om opbouende Christenvriende te kies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel