’n Tyd toe sedes drasties agteruitgegaan het
WANNEER, sou jy sê, het die drastiese sedelike verval begin? In jou leeftyd of dalk in dié van ouer familielede of vriende? Party sê dat die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, ons era van ongeëwenaarde sedelike verdorwenheid ingelui het. Robert Wohl, ’n professor in geskiedenis, het in sy boek The Generation of 1914 geskryf: “Diegene wat die oorlog oorleef het, kon nooit die gedagte afskud dat een wêreld in Augustus 1914 geëindig het en ’n ander een begin het nie.”
“Die sosiale gedragstandaarde—wat reeds besig was om agteruit te gaan—is oral vernietig”, sê die geskiedkundige Norman Cantor. “Aangesien die politici en generaals die miljoene onder hulle sorg behandel het soos diere wat na die slagpale gestuur is, watter godsdiens- of etiese beginsels sou mense dan daarvan kon weerhou om mekaar met die wreedheid van oerwouddiere te behandel? . . . Die slagting van die Eerste Wêreldoorlog [1914-18] het veroorsaak dat menselewe sy waarde heeltemal verloor het.”
In sy uitvoerige werk The Outline of History het die Engelse geskiedkundige H. G. Wells opgemerk dat dit ná die aanvaarding van die evolusieteorie was dat “’n werklike demoralisasie plaasgevind het”. Waarom? Sommige was van mening dat die mens maar net ’n hoër vorm van dierelewe is. Wells, wat ’n evolusionis was, het in 1920 geskryf: “Die mens, het hulle besluit, is ’n sosiale dier soos die Indiese wildehond . . . , daarom het dit vir hulle reg gelyk dat die groot honde van die mensetrop moet baasspeel en onderwerp.”
Ja, soos Cantor gesê het, het die Eerste Wêreldoorlog ’n vernietigende uitwerking op mense se sedelikheidsgevoel gehad. Hy het verduidelik: “Daar is neergesien op alles omtrent die ouer geslag—hulle politiek, hulle kleredrag, hulle seksuele standaarde.” Die kerke, wat Christelike leringe verderf het deur die evolusieteorie goed te keur en die strydende kante aan te hits, het grootliks bygedra tot die sedelike verval. Die Britse brigadier-generaal Frank Crozier het geskryf: “Die Christelike Kerke is die beste aanstigters van bloeddorstigheid wat ons het, en ons het vryelik van hulle gebruik gemaak.”
Sedewette word verwerp
In die dekade ná die Eerste Wêreldoorlog—die sogenoemde Jolige Twintigerjare—is ou waardes en sedelike beperkings opsygestoot en vervang met ’n “alles is veroorloof”-benadering. Die geskiedkundige Frederick Lewis Allen sê: “Die tien jaar ná die oorlog kan gepas die Dekade van Slegte Maniere genoem word. . . . Saam met die ou orde van dinge het ’n stel waardes verdwyn wat die lewe sinryk en betekenisvol gemaak het, en dit was nie maklik om waardes te vind wat dit kon vervang nie.”
Die Groot Depressie, wat die wêreld in die 1930’s getref het, het baie mense tot besinning gebring deur hulle in volslae armoede te dompel. Maar teen die einde van daardie dekade was die wêreld in nog ’n oorlog gewikkel, een wat selfs meer verwoestend was—die Tweede Wêreldoorlog. Kort voor lank het nasies vreesaanjaende wapens van vernietiging gemaak, wat die wêreld uit die Depressie geruk het, maar dit terselfdertyd in ondenkbare lyding en ellende gedompel het. Teen die einde van die oorlog het honderde stede in puin gelê; twee in Japan is verwoes, elkeen deur ’n enkele atoombom! Miljoene het in afgryswekkende konsentrasiekampe omgekom. Altesaam het die konflik die lewens van sowat 50 miljoen mans, vroue en kinders geëis.
Onder die haglike toestande wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog geheers het, het mense hulle eie gedragskode aangeneem, en nie gebly by lank gehuldigde, tradisionele standaarde van aanvaarbare gedrag nie. Die boek Love, Sex and War—Changing Values, 1939-45 het gesê: “Seksuele selfbeheersing is blykbaar vir die duur van die oorlog afgeskaf, terwyl die tradisionele bandeloosheid van die slagveld die tuisfront binnegedring het. . . . Die dringendheid en opwinding van oorlogstyd het sedelike beperkings kort voor lank ondermyn, en lewe op baie tuisfronte het net so goedkoop en kort soos lewe op die gevegsfront gelyk.”
Die voortdurende gevaar van die dood het mense se begeerte na emosionele verhoudings versterk, al was hulle van korte duur. Een Britse huisvrou het ter verdediging van die seksuele permissiwiteit gedurende daardie onstuimige jare gesê: “Ons was nie regtig onsedelik nie; daar was ’n oorlog aan die gang.” Een Amerikaanse soldaat het erken: “Volgens die meeste mense se standaarde was ons onsedelik, maar ons was jonk en kon môre sterf.”
Baie mense wat daardie oorlog oorleef het, het gely as gevolg van die gruwels wat hulle aanskou het. Party, insluitende dié wat destyds kinders was, kry tot vandag nog terugflitse en voel dat die trauma weer plaasvind. Baie het hulle geloof en terselfdertyd ook hulle sedelike kompas verloor. Omdat daar geen respek was vir enige gesag wat standaarde van reg en verkeerd kon vasstel nie, het mense alles as relatief begin beskou.
Nuwe sosiale norme
Ná die Tweede Wêreldoorlog is studies aangaande menslike seksuele gedrag gepubliseer. Een van hierdie studies wat gedurende die 1940’s in die Verenigde State gepubliseer is, was die Kinsey-verslag, wat uit meer as 800 bladsye bestaan het. As gevolg hiervan het baie mense openlik begin praat oor seksuele sake, wat voorheen nie so algemeen bespreek is nie. Hoewel daar later erken is dat die statistieke in daardie verslag aangaande dié wat aan homoseksuele of ander afwykende seksuele gedrag deelneem, oordryf was, het die studie die drastiese sedelike verval wat ná die oorlog plaasgevind het, aan die lig gebring.
Daar is ’n tyd lank ’n poging aangewend om die skyn van welvoeglikheid te behou. Onsedelike inhoud is byvoorbeeld op radio, in rolprente en op televisie gesensor. Maar dit het nie lank gehou nie. William Bennett, ’n voormalige Amerikaanse minister van onderwys, het verduidelik: “Teen die 1960’s het Amerika egter ’n drastiese en ononderbroke agteruitgang begin beleef, en dit het gelei tot ’n toestand wat onbeskawing genoem kan word.” Dit was in talle ander lande ook die geval. Waarom het die sedelike verval in die 1960’s versnel?
Daardie dekade het amper tegelykertyd die begin van die vrouevryheidsbeweging en die seksuele revolusie, met sy sogenoemde nuwe moraliteit, beleef. Doeltreffende voorbehoedpille is ook ontwikkel. Toe mense seks kon hê sonder die vrees van swangerskap, het “vrye liefde”, of “geslagsomgang sonder enige verbintenis deur die betrokke partye”, algemeen geword.
Terselfdertyd het sedelike standaarde in die pers, in rolprente en op televisie verslap. Later het Zbigniew Brzezinski, ’n voormalige hoof van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad, die volgende gesê aangaande waardes wat op TV uitgebeeld word: “Dit is duidelik dat dit selfbevrediging verheerlik, intense geweld en wreedheid normaal laat voorkom [en] seksuele promiskuïteit bevorder.”
Reeds teen die 1970’s het videomasjiene gewild geword. Mense kon nou in die privaatheid van hulle huis na onsedelike, seksueel eksplisiete materiaal kyk waarna hulle nooit in ’n openbare rolprentteater sou gaan kyk het nie. Onlangser het die veragtelikste soort pornografie deur middel van die Internet in lande regoor die wêreld beskikbaar geword aan enigiemand wat ’n rekenaar het.
Die gevolge is in baie opsigte skrikwekkend. ’n Tronkbewaarder by ’n Amerikaanse gevangenis het onlangs gesê: “Tien jaar gelede kon ek nog met die jongmense wat van die straat af ingekom het, oor reg en verkeerd praat. Maar dié wat nou inkom, het geen idee waarvan ek praat nie.”
Waar kan leiding gevind word?
Ons kan nie na die wêreld se kerke gaan vir sedelike leiding nie. In plaas daarvan om regverdige beginsels te handhaaf, soos Jesus en sy eerste-eeuse volgelinge, het die kerke deel geword van hierdie wêreld en sy euwels. Een skrywer het gevra: “Watter oorlog is al ooit geveg waarin daar nie gesê is dat God aan elke kant is nie?” Aangaande die handhawing van God se sedelike standaarde het ’n geestelike in New York-stad jare gelede gesê: “Die kerk is die enigste organisasie in die wêreld waarvoor die toelatingsvereistes laer is as om op ’n bus te klim.”
Dit is duidelik dat daar dringend aandag geskenk moet word aan die drastiese agteruitgang in die sedes van hierdie wêreld. Maar wat moet gedoen word? Watter verandering is nodig? Wie kan dit teweegbring, en hoe sal dit gedoen word?
[Lokteks op bladsy 5]
“Die slagting van die Eerste Wêreldoorlog [1914-18] het veroorsaak dat menselewe sy waarde heeltemal verloor het”
[Venster op bladsy 6]
DEUGDE TEENOOR WAARDES
Voorheen was deugde duidelik omskryf. Iemand was óf eerlik, lojaal, kuis en eerbaar óf nie. Nou het die term “waardes” die term “deugde” vervang. Maar dit skep ’n probleem, soos die geskiedkundige Gertrude Himmelfarb in haar boek The De-Moralization of Society skryf: “’n Mens kan nie van deugde sê wat jy van waardes kan sê nie, . . . dat elkeen ’n reg het om sy eie deugde te hê nie.”
Sy sê dat waardes “oortuigings, menings, gesindhede, gevoelens, gewoontes, gebruike, voorkeure, vooroordele en selfs eienaardighede kan wees—enigiets waaraan enige individu, groep of gemeenskap, op enige tyd en om enige rede waarde heg”. In die huidige bevryde samelewing voel mense dat dit hulle reg is om hulle eie waardes te kies, net soos hulle kruideniersware in ’n supermark sou kies. Maar wat gebeur met ware deug en sedelikheid wanneer dit die geval is?
[Prent op bladsy 7]
Verdorwe vermaak word al hoe meer toeganklik