Van Egipte na stede regoor die wêreld
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
“HULLE het van hulle tuisland af ‘gereis’”, sê die Italiaanse tydskrif Archeo, “en tasbare simbole geword van die grootse beskawing waardeur hulle voortgebring is.” Die meeste het Egipte lank gelede verlaat en is geneem na plekke soos Istanboel, Londen, Parys, Rome en New York. Besoekers aan Rome sal moontlik oplet dat baie van die stad se bekendste pleine daardeur versier word. Wat is dit? Obeliske!
Elke viersydige klipkolom, wat as ’n obelisk bekend staan, word geleidelik dunner en eindig in ’n piramiedvormige punt. Die oudste is ongeveer 4 000 jaar oud. Selfs die jongste een is omtrent 2 000 jaar oud.
Obeliske, wat oor die algemeen van rooi graniet gemaak is, is deur die eertydse Egiptenare as soliede klipblokke uit steengroewe uitgekap en voor grafte en tempels opgerig. Party is geweldig groot. Die grootste een wat nog staan, toring 32 meter bo ’n Romeinse plein uit en weeg ongeveer 455 ton. Die meeste is met hiërogliewe versier.
Die doel van die monumente was om die songod Ra te vereer. Dit is opgerig om hom te dank vir sy beskerming en vir oorwinnings wat aan Egiptiese heersers gegee is sowel as om hom gunste te vra. Hulle vorm is vermoedelik gebaseer op dié van die piramide. Hulle stel sonstrale voor wat op die aarde skyn en dit van hitte en lig voorsien.
Obeliske is ook gebruik om die Farao’s te vereer. Die inskripsies daarop beskryf verskeie Egiptiese heersers as “geliefde van Ra” of “mooi . . . soos Atoem”, wat die songod tydens sononder was. Een obelisk sê van ’n Farao se militêre vaardigheid: “Sy krag is soos dié van Monthoe [god van oorlog], die bul wat ander lande vertrap en rebelle doodmaak.”
Die eerste obeliske is opgerig in die Egiptiese stad Joenoe (die Bybelse On), wat vermoedelik “Stad van die pilaar” beteken en moontlik na die obeliske self verwys. Die Grieke het Joenoe Heliopolis genoem, wat “Stad van die son” beteken, aangesien dit die hoofsentrum van Egiptiese sonaanbidding was. Die Griekse naam Heliopolis kom ooreen met die Hebreeuse naam Bet-Semes, wat “Huis van die son” beteken.
Die Bybel se profetiese boek Jeremia praat van die vernietiging van “die pilare van BetSemes, wat in Egipteland is”. Dit verwys moontlik na die obeliske van Heliopolis. God het die afgodiese aanbidding wat dit voorgestel het, veroordeel.—Jeremia 43:10-13.
Uitgrawing en vervoer
Die grootste van hierdie monumente toon hoe obeliske gemaak is. Dit lê nog naby Aswan, Egipte, waar dit agtergelaat is toe dit uitgekap is. Nadat ’n geskikte stuk rotsgrond gekies en gelykgemaak is, het werkers slote om die deel gegrawe waaruit die obelisk gemaak sou word. Hulle het tonnels onder die rots gegrawe en dit vol houtbalke gepak, totdat die onderkant los was. Die monoliet, wat omtrent 1 170 ton geweeg het—swaarder as enige ander klipblok wat deur die Egiptenare uitgekap is—sou dan na die Nyl vervoer en per vragboot na sy bestemming geneem word.
Op die ou end is die Aswan-obelisk agtergelaat toe die werkers besef het dat dit onherstelbaar gekraak is. As dit voltooi was, sou dit 42 meter hoog gewees het, met ’n voet van 16 vierkante meter. Dit is nog nie bekend hoe obeliske opgerig is nie.
Van Egipte na Rome
In 30 v.G.J. het Egipte ’n Romeinse provinsie geword. Verskeie Romeinse keisers wou hulle hoofstad met indrukwekkende monumente versier, en daarom is tot 50 obeliske na Rome geneem. Om dit te vervoer, moes yslike skepe gebou word wat spesifiek vir daardie doel ontwerp is. In Rome is die obeliske steeds ten nouste met sonaanbidding geassosieer.
Toe die Romeinse Ryk geval het, is Rome geplunder. Die meeste van die obeliske is omgegooi en het vergete daar gelê. Verskeie pouse het egter daarin belanggestel om die obeliske wat tussen die ruïnes van die eertydse stad uitgehaal is, weer op te rig. Die Rooms-Katolieke Kerk het erken dat die obeliske “deur ’n Egiptiese koning aan die Son gewy” is en dat dit eens op ’n tyd “ydele luister verleen het aan godonterende heidense tempels”.
Die heroprigting van die eerste obeliske gedurende die bewind van pous Sixtus V (1585-90) het met duiwelbeswerings en seëninge gepaardgegaan, sowel as die besprinkeling van heilige water en die brand van reukwerk. “Ek besweer jou”, het ’n biskop voor die Vatikaan-obelisk gesing, “sodat jy die heilige Kruis sal dra en afgesonderd sal bly van alle heidense onreinheid en alle aanslae van geestelike verderf.”
Wanneer ’n toeris dus kyk na die obeliske wat vandag in Rome staan, sal hy waarskynlik dink aan die vernuf wat dit geverg het om dit uit te kap, te vervoer en op te rig. Hy sal dalk ook verbaas wees dat monumente wat in sonaanbidding gebruik is, die stad van die pouse versier—inderdaad ’n vreemde kombinasie!
[Prent op bladsy 15]
Luxor, Egipte
[Prent op bladsy 15]
Romea
[Prent op bladsy 15]
New York
[Prent op bladsy 15]
Parys