Stap 4
Lê gesinsreëls neer en pas dit sonder versuim toe
Waarom is hierdie stap nodig? “Die feit is”, sê Ronald Simons, ’n sosioloog aan die Universiteit van Georgia, “dat kinders beter vaar as hulle duidelike reëls het en dissipline konsekwent toegepas word. Sonder ’n vaste struktuur word kinders selfbehep, selfsugtig en ongelukkig—en hulle maak almal om hulle ook ongelukkig.” God se Woord sê eenvoudig: “As jy jou kinders liefhet, sal jy hulle teregwys.”—Spreuke 13:24, New Century Version.
Die uitdaging: Dit verg tyd, inspanning en volharding om redelike perke aan jou kinders se gedrag te stel en dit toe te pas. En dit lyk of kinders van nature hierdie grense op die proef wil stel. Mike en Sonia, wat twee kinders grootmaak, som die uitdaging goed op. “Kinders is klein mensies wat hulle eie wil en begeertes het, asook ’n ingebore neiging om te sondig”, sê hulle. Hierdie ouers is baie lief vir hulle dogters. Maar hulle erken: “Soms kan kinders hardkoppig en selfsugtig wees.”
Die oplossing: Volg Jehovah na in die manier waarop hy met die nasie Israel gehandel het. Een manier waarop hy sy liefde vir sy volk geopenbaar het, was om die wette wat hy verwag het hulle moes volg, duidelik uiteen te sit (Eksodus 20:2-17). Hy het verduidelik wat die gevolge sou wees as hulle daardie wette nie gehoorsaam het nie.—Eksodus 22:1-9.
Jy kan dus gerus ’n lys huisreëls neerskryf wat jy wil hê jou kinders moet gehoorsaam. Party ouers stel voor dat jy so ’n lys tot net ’n paar reëls beperk, miskien vyf of wat. ’n Kort lys goed gekose huisreëls is nie so moeilik om toe te pas nie, en die kanse is groter dat dit onthou sal word. Skryf langs die reëls neer wat die gevolge sal wees as dit oortree word. Maak seker dat die straf redelik is en dat jy bereid is om dit toe te pas. Hersien die reëls gereeld sodat almal—Ma en Pa inkluis—presies weet wat daar van hulle verwag word.
Wanneer die reëls oortree word, moet dissipline sonder versuim op ’n kalm, ferm en konsekwente manier toegepas word. Let wel: As jy kwaad is, wag eers totdat jy gekalmeer het voordat jy enige dissipline toedien (Spreuke 29:22). Moet egter nie uitstel nie. Moenie onderhandel nie. As jy dit doen, sal jou kind dink dat die reëls nie ernstig opgeneem hoef te word nie. Dit is soos die Bybel sê: “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen.”—Prediker 8:11.
Op watter ander manier kan jy jou gesag uitoefen sodat dit jou kinders tot voordeel strek?
[Lokteks op bladsy 6]
“Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.”—Matteus 5:37