Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/07 bl. 12-14
  • Doopkapelle—stille getuies van ’n uitgestorwe gebruik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Doopkapelle—stille getuies van ’n uitgestorwe gebruik
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorsprong en betekenis van doop
  • Argitektuur en watertoevoer
  • Algehele of gedeeltelike onderdompeling?
  • Doopbaddens word kleiner
  • Moet jy gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom moet jy gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Wat is doop?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 9/07 bl. 12-14

Doopkapelle—stille getuies van ’n uitgestorwe gebruik

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

“GEDOOP deur onderdompeling in die Katedraal”, het ’n opskrif in ’n Franse koerant in 2001 gesê. Maar op die foto wat saam met die artikel verskyn het, was daar ’n nuwe bekeerling tot Katolisisme wat kniediep in die water in ’n groot doopbad staan en ’n Katolieke biskop wat water oor die bekeerling se kop uitgiet. Hierdie toneel, wat op baie plekke regoor die wêreld gesien kan word, weerspieël die tendens in die Katolieke Kerk sedert die Tweede Vatikaanse Konsilie om nuwe bekeerlinge deur middel van gedeeltelike onderdompeling te doop. Dit laat die volgende vrae ontstaan: In die lig van die feit dat die meeste Katolieke as babas met ’n paar druppels water gedoop is, watter vorm van doop stem ooreen met die voorbeeld wat deur Johannes die Doper en Jesus se apostels gestel is? Hoe moet Christene vandag gedoop word? Die geskiedenis van doopkapelle sal help om hierdie vrae te beantwoord.a

Oorsprong en betekenis van doop

Christelike doop is oorspronklik deur middel van algehele onderdompeling gedoen. Die Bybelverslag van die Etiopiese amptenaar wat deur Filippus gedoop is, help ons om dit te verstaan. Nadat die amptenaar omtrent die identiteit van die Christus geleer het, het hy, toe hy water gesien het, gesê: “Wat verhinder my om ondergedompel te word?” (Handelinge 8:26-39, The Emphatic Diaglott). Hier is die Griekse grondwoord vir “ondergedompel” ba·ptiʹzo. Dit verwys na algehele onderdompeling. Die feit dat doop met begrawing vergelyk word, beklemtoon hierdie punt (Romeine 6:4; Kolossense 2:12). Interessant genoeg, etlike Franse vertalers van die Bybel (byvoorbeeld Chouraqui en Pernot) noem Johannes die Doper Johannes die Onderdompelaar.—Sien Matteus 3:1, voetnoot in NW.

In die vroegste eeue van die Christelike godsdiens is algehele onderdompeling gedoen waar daar ook al genoeg water was—in riviere, in die see of in private baddens. Maar namate die aantal bekeerlinge toegeneem het, is doopkapelle op baie plekke in die Romeinse wêreld gebou, van Dalmasië tot Palestina en van Griekeland tot Egipte. Een van die oudste doopkapelle wat tot nog toe opgegrawe is, is in Sirië, op die oewer van die Eufraatrivier, en dateer uit omstreeks 230 G.J.

Toe die “Christelike” geloof in die vierde eeu G.J. ’n erkende godsdiens in die Romeinse Ryk geword het, het miljoene mense “Christene” geword en moes hulle gedoop word. Doopkapelle wat vir hierdie doel gebou is, is dus oral openlik opgerig. Teen die sesde eeu is daar in Rome alleen sowat 25 doopkapelle gebou, insluitende een by die St. Johannes Lateraan-basiliek. In Gallië het elke bisdom heel moontlik sy eie doopkapel gehad. Volgens een bron was daar tot 150. Daar was waarskynlik honderde meer op die platteland, naby klein kerke, grafkelders of kloosters.

Argitektuur en watertoevoer

Doopkapelle was dikwels sirkelvormige of veelhoekige monumente wat óf as ’n spesiale en aparte gebou opgerig is, óf deel van ’n bestaande kerk was. Opgrawings toon dat hierdie geboue klein (oor die algemeen minder as 200 vierkante meter) maar pragtig versier was met kolonnades, marmer, mosaïeke en fresko’s, wat soms Bybeltonele uitgebeeld het. Party doopkapelle, soos die een in Mariana, Korsika, het selfs ’n sierlike baldakyn, of troonhemel, bo die bad gehad. Die bad kon vierkantig, rond, seshoekig, langwerpig, kruisvormig of agthoekig wees. Soos gesien kan word uit hulle breedte en diepte, was vroeë doopkapelle klaarblyklik ontwerp vir die doop van volwassenes. Hulle was oor die algemeen groot genoeg sodat ten minste twee mense daarin kon pas. In Lyon, Oos-Sentraal-Frankryk, was die bad byvoorbeeld 3,25 meter breed. Baie baddens het trappies gehad—gewoonlik sewe—waarmee iemand in die water kon afklim.

Die watertoevoer was natuurlik ’n groot oorweging vir ontwerpers. Baie doopkapelle is naby ’n natuurlike fontein of op die ruïnes van warmbaddens gebou, soos die een in Nice, in Suid-Frankryk. Water is dikwels deur middel van pype in en uit die baddens gelei. In ander gevalle is reënwater van ’n nabygeleë reënput aangedra.

Die St. Johannes-doopkapel van Poitiers, in Wes-Frankryk, wat omstreeks 350 G.J. gebou is, is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n vierde-eeuse “Christelike” doopkapel gelyk het. In ’n reghoekige kamer, omring deur etlike bygeboue, was daar ’n groot agthoekige bad met drie trappies. Die bad is 1,4 meter diep en 2,15 meter breed op sy breedste punt. Dit is met ’n akwaduk verbind wat water van ’n nabygeleë fontein na die stad gebring het.

Algehele of gedeeltelike onderdompeling?

Is mense deur algehele onderdompeling in hierdie doopkapelle gedoop? Party Katolieke geskiedkundiges antwoord nee en beweer dat gedeeltelike doop deur besprinkeling (waar water oor die kop uitgegiet word) genoem is as ’n moontlike gebruik wat vroeg in die geskiedenis van die Katolieke Kerk bestaan het. Hulle sê ook dat baie baddens nie meer as een meter diep was nie en dus nie diep genoeg was sodat ’n volwassene ondergedompel kon word nie. ’n Katolieke ensiklopedie sê in verband met die een in Poitiers dat “die selebrant [priester] op die derde trappie kon staan sonder dat sy voete nat word”.

Maar selfs latere kunswerke wat doopplegtighede uitbeeld, stel algehele onderdompeling as die norm voor, waar die kandidaat voor sy doop in water staan wat tot by sy bors of selfs sy nek kom. (Sien foto’s hierbo.) Was algehele onderdompeling moontlik, selfs as die water net tot by die middellyf van ’n volwassene van gemiddelde grootte gekom het? ’n Naslaanwerk gee te kenne dat die dreineringstelsel tydelik toegestop kon word totdat die knielende of hurkende doopkandidaat ondergedompel kon word.b Pierre Jounel, ’n professor van Katolieke liturgie in Parys, sê: Die kandidaat “het tot by sy middellyf in water gestaan. Deur ’n hand op sy kop te plaas, het die priester of diaken hom laat buig totdat hy heeltemal ondergedompel is.”

Doopbaddens word kleiner

Uiteindelik het die eenvoudige doopseremonie van apostoliese tye verander in ’n ingewikkelde ritueel met spesiale drag en gebare, gebede om duiwels te verdryf, die seën van die water, die opsê van die geloofsbelydenis en salwing. Die gebruik van gedeeltelike onderdompeling het aanhou versprei. Baddens in doopkapelle is kleiner gemaak, en sommige is verander sodat hulle tot die helfte of minder van hulle oorspronklike breedte en diepte was. Byvoorbeeld, in Cazères, Suid-Frankryk, was die oorspronklike bad, wat 1,13 meter diep was, teen die sesde eeu net 0,48 meter diep. Later, in omstreeks die 12de eeu, het gedeeltelike onderdompeling uit die Rooms-Katolisisme verdwyn en is dit vervang deur besprinkeling. Volgens die Franse akademikus Pierre Chaunu was dit die gevolg van “die veralgemening van kinderdoop in lande met slegte weer, aangesien dit nie moontlik was om ’n pasgebore baba in koue water te dompel nie”.

Hierdie verwikkelinge het daartoe gelei dat doopfasiliteite al hoe kleiner geword het. In sy studie oor die geskiedenis van doop sê die geskiedkundige Frédéric Buhler: “Argeologie, geskrewe dokumente en die beeldende kunste toon dat doop, oor die algemeen, verander het van die algehele onderdompeling van volwassenes gedurende die vroegste eeue van die Christelike era tot die besprinkeling van babas, met die tussenstadiums wat die gedeeltelike onderdompeling van volwassenes en die algehele onderdompeling van kinders ingesluit het.”

Vandag word die gebruik van gedeeltelike onderdompeling blykbaar al hoe gewilder, en hedendaagse doopkapelle is groter as voorheen. En in ooreenstemming met wat Buhler die nostalgie van onderdompeling genoem het, beveel die hedendaagse liturgie van die Katolieke Kerk, meer as ooit tevore, doop deur algehele onderdompeling aan. Interessant genoeg, die Bybel het nog altyd getoon dat algehele onderdompeling die regte manier is waarop Christene gedoop moet word.

[Voetnote]

a Die term “doopkapel” verwys gewoonlik na ’n kerkgebou of deel van ’n kerk waar doopseremonies gehou word.

b In hedendaagse tye is baie Getuies van Jehovah in klein swembaddens of selfs in baddens deur algehele onderdompeling gedoop.

[Prent op bladsy 13]

Die St. Johannes- doopkapel van Poitiers, Frankryk

[Prent op bladsy 13]

Voorstelling van die vyfde-eeuse doopkapel van Mariana, op Korsika

[Erkenning]

© J.-B. Héron pour “Le Monde de la Bible”/Restitution: J. Guyon and J.-F. Reynaud, after G. Moracchini-Mazel

[Prente op bladsy 14]

UITBEELDINGS VAN CHRISTUS SE DOOP

Die Jordaanrivier kom tot by Jesus se bolyf, en engele bring handdoeke om hom af te droog, negende eeu

[Erkenning]

Cristal de roche carolingien - Le baptême du Christ © Musée des Antiquités, Rouen, France/Yohann Deslandes

Jesus in die Jordaanrivier, met water tot by sy nek. Aan die linkerkant hou twee engele ’n doek, gereed om hom af te droog, 12de eeu

[Erkenning]

© Musée d’Unterlinden-F 68000 COLMAR/Photo O. Zimmermann

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel