Onverwagse hulp van die
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BENIN
◼ Toe die 23-jarige Noël besluit het om sy sekulêre studies te staak en ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies te word, het sy familielede getwyfel of hy kop bo water sou kon hou. En hy het wel gesukkel om geskikte deeltydse werk te kry. Toe die tydige artikel “Vyf wenke oor hoe om werk te kry” in die Ontwaak! verskyn het, het Noël dit dus etlike kere sorgvuldig deurgelees.a Het dit hom gehelp? Ja, maar nie op die manier wat hy verwag het nie.
Die hoof van ’n privaat skool het Noël gesien terwyl hy met die predikingswerk van huis tot huis besig was en het hom gevra of hy een van Jehovah se Getuies is. Die skoolhoof het nog ’n onderwyser nodig gehad, en omdat hy opgemerk het dat Jehovah se Getuies bekwame onderrigters is, het hy Noël gevra of hy van iemand weet wat sou belangstel. Toe Noël nee sê, het die skoolhoof gevra: “Wat van jou?”
Noël het nog nooit tevore onderwys gegee nie, en hy het soms gehakkel. Dit is ’n probleem in Benin omdat die onderwysraad vereis dat onderwysers ’n eksamen aflê om te bevestig dat hulle nie hakkel nie. “Kry die sertifikaat”, het die skoolhoof belowe, “en die werk is joune.”
Noël het goeie vooruitgang gemaak in die Teokratiese Bedieningskool, ’n skool wat bedoel is om openbare spreekkuns te verbeter en weekliks in die gemeentes van Jehovah se Getuies gehou word. Hy het selfs openbare toesprake in sy tuisgemeente gehou. Hy was nogtans senuweeagtig toe hy die eksamen moes aflê.
Die eksaminator het vir hom ’n tydskrif gegee en gevra dat hy ’n paragraaf wat in rooi omkring is, hardop lees. Noël se oë het gerek toe hy die artikel “Vyf wenke oor hoe om werk te kry” sien. Hy het die paragraaf vlot gelees en die sertifikaat ontvang.
Die eksaminator het later gesê dat hy die tydskrifte van Jehovah se Getuies gereeld lees. “Hierdie tydskrifte is leersaam en so goed geskryf dat ek dit dikwels vir eksamens gebruik”, het hy verduidelik.
Noël het begin klas gee, en die skoolhoof wou hê dat hy ook die volgende jaar moes aanbly, maar Noël het ander planne gehad. Hy is genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies te gaan werk, en dit is waar hy nou dien.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Julie 2005, bladsye 4-9.