Geseën omdat ek God eerste gestel het
Soos vertel deur Pierre Worou
“Bonjour!” Ek groet mense al my hele lewe lank met hierdie Franse woord. Maar in November 1975 is ek in hegtenis geneem omdat ek dit gedoen het. Laat ek julle vertel wat daardie gebeurtenis voorafgegaan het en wat sedertdien gebeur het.
EK IS op 1 Januarie 1944 gebore in Malété, ’n voorstad van Savé, in Sentraal-Benin.a My ouers het vir my ’n tradisionele Joroeba-naam, Abiola, gegee. Toe ek nog jonk was, het ek dit verander na Pierre, wat na my mening moderner en gewilder was.
Die dorpsmense het vir al die jonges byname gegee. Hulle het my Pastoor genoem omdat ek by geboorte soos die plaaslike pastoor gelyk het. Ek het egter meer daarin belanggestel om sokker te speel as om katkisasieklasse by te woon.
In 1959 is ek na Sakété toe, ’n stad in die suide van die land, om my skoolloopbaan voort te sit. Ek het by my neef Simon, ’n onderwyser, gewoon, wat kort tevore die Bybel met twee van Jehovah se Getuies begin studeer het. Aanvanklik het ek nie daarin belanggestel om tydens die studie by te sit nie. Later het ek ’n ander neef, Michel, gevra of hy die studie saam met my wou bywoon. Hy het ingestem, en dit was toe dat ek God se naam, Jehovah, vir die eerste keer gehoor het.
Een Sondag het ek, Simon en Michel besluit om nie kerk toe te gaan nie, maar eerder die Getuies se vergadering by te woon. Hoe teleurgesteld was ek tog om te sien dat daar net vyf mense was—die twee Getuies en ons drie neefs. Ons het nogtans besef dat dit die waarheid uit die Bybel is en het aangehou studeer. Michel was die eerste wat sy toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer het. Vandag dien hy as ’n pionier, soos Jehovah se Getuies voltydse bedienaars noem.
Simon het na Kokoro, ’n stad in die noorde, getrek, en ek het saamgegaan. ’n Byeenkoms van die Getuies sou by Ouansougon gehou word. Simon is met ’n taxi soontoe, maar ek het 220 kilometer op my fiets afgelê om dit by te woon. Op 15 September 1961 is ons albei daar gedoop.
Uitdagings in die voltydse bediening
Ek het my onderhou deur prente te skilder en te verkoop en ook ’n stuk grond te bewerk wat ’n goeie opbrengs gelewer het. Toe ’n reisende opsiener, Philippe Zannou, ons gemeente besoek het, het hy gevra of ek al ooit die voltydse pionierbediening oorweeg het. Nadat ek en my vriend Emmanuel Fatunbi die saak bespreek het, het ons albei gesê dat ons in Februarie 1966 kon begin pionier. Ná verloop van tyd het ek as ’n reisende opsiener begin dien en gemeentes besoek waar die tale Fon, Gun, Joroeba en Frans gepraat is.
Later het ek Julienne ontmoet, ’n aantreklike jong Christensuster wat, net soos ek, gehou het van ’n eenvoudige lewe. Sy het op 12 Augustus 1971 my vrou geword en in die reisende werk by my aangesluit. Ons seun Bola is op 18 Augustus 1972 gebore. Wanneer ons van gemeente na gemeente gereis het, het ek die fiets getrap terwyl Julienne agter my gesit het met Bola op haar rug. ’n Plaaslike Getuie het gewoonlik ons bagasie op sy fiets vervoer. Ons het vier jaar lank gemeentes op hierdie manier besoek.
Op ’n dag het Julienne siek geword en die hele nag verskriklik gely. Die volgende dag het ek met die pad langs gestap om hulp te gaan soek. Skielik het ’n taxi verskyn—’n seldsame gesig in daardie gebied. Boonop was dit leeg—selfs meer ongewoon! Ek het die situasie aan die bestuurder verduidelik en gevra of hy ons na Porto Novo, die hoofstad, sou neem, wat omtrent 25 kilometer daarvandaan was. Hy het ingestem. Toe ons daar aankom, het hy geglimlag en gesê: “Ek sal die koste dek. Julle hoef nie ’n sent te betaal nie.”
Julienne moes twee weke lank in ’n Getuie se huis in die bed bly. Die dokter was so gaaf om haar elke dag te kom besoek. Hy het ook die nodige medisyne saamgebring. Toe hy Julienne vir die laaste keer ondersoek het, het ek huiwerig vir die rekening gevra. Ek was stomgeslaan toe hy antwoord: “Daar is geen rekening nie.”
Dramatiese veranderinge
In 1975 het Dahomey ’n Marxistiese regeringsvorm aangeneem. Die land se naam is verander na die Volksrepubliek van Benin. Die daaglikse lewe het ook verander. ’n Nuwe manier van groet is op ons afgedwing: “Pour la révolution?” (Is jy reg vir die revolusie?) Daar is van mense verwag om te antwoord: “Prêt!” (Ek’s reg!) Ons Bybelopgeleide gewetens het ons nie toegelaat om sulke politieke slagspreuke te herhaal nie. Dit het tot baie vyandigheid gelei.
Toe ek een Sondag, aan die einde van 1975, naby St. Michel aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het, is ek in hegtenis geneem. Soos vroeër gemeld is, het ek ’n man wat my met die woorde “Pour la révolution?” gegroet het, geantwoord met “Bonjour!” Ek is na die polisiestasie geneem, waar ek geslaan is. Maar later daardie dag het drie plaaslike Getuies dit reggekry om my vrylating te bewerkstellig.
Ek was die eerste Getuie van Jehovah wat in hegtenis geneem is. Kort daarna is baie ander ook regdeur die land in hegtenis geneem. Die regering het Koninkryksale gekonfiskeer, en sendelinge is gedeporteer. Die takkantoor is selfs toegemaak, en baie Getuies moes uit die land vlug en het wes na Togo of oos na Nigerië gegaan.
Ons gesin groei in Nigerië
Ons tweede seun, Kola, is op 25 April 1976 gebore. Twee dae later het ’n staatsverordening, nr. 111, die werk van Jehovah se Getuies verbied. Ons is na Nigerië, waar ons na ’n Koninkryksaal vol vlugtelinge gegaan het. Die volgende dag is daar reëlings getref om ons na naburige gemeentes te stuur. Sodra een groep vlugtelinge die saal verlaat het, het nog ’n groep daar aangekom. Die nuwe aankomelinge is met vragmotors na gemeentes in ander gebiede geneem.
Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Nigerië het my gevra om al die Getuies uit Benin te besoek. Toe is ek as ’n reisende opsiener aangestel vir ’n groep Joroeba-sprekende gemeentes in Nigerië, en later vir Gun-sprekende gemeentes. Ons het met ’n motorfiets gereis. Bola het voor my gesit, en Kola het tussen my en Julienne gesit.
In 1979 het Julienne swanger geraak met ons dogter, Jemima, wat dit vir ons onmoontlik gemaak het om in die reisende werk te bly. Julienne se jonger suster, wat ons Pépé genoem het, het van Benin af gekom om by ons te kom woon. Ons gesin het bly groei. Twee seuns is gebore: Caleb in 1983 en Silas in 1987. Ons was dus op die ou end ’n gesin van agt. Ek en Julienne wou goeie ouers wees, maar ons wou ook in die voltydse diens bly, indien enigsins moontlik. Hoe kon ons dit doen? Ons het ’n stuk grond gehuur en kasawe, mielies en taro daarop geplant. Toe het ons ’n beskeie huis in die dorpie Ilogbo-Eremi gebou.
Ek en Julienne het soggens die predikingswerk gedoen nadat die kinders skool toe is. Ons was altyd vroeg terug by die huis sodat die gesin saam kon eet. Ná ’n middagslapie het ons dan in die landery gaan werk. Julienne en Pépé het ook die opbrengs op die mark verkoop. Ons het almal baie hard gewerk. Gelukkig was ons gedurende daardie jare selde siek.
Seëninge sonder hoër onderwys
Ons het die kinders nooit aangemoedig om hoër onderwys na te streef nie. Ons het geweet dat hulle ’n suksesvolle lewe sou hê as hulle Koninkryksbelange eerste stel, Christelike eienskappe aankweek en hard werk. Ons het hierdie ideale in ons kinders se harte probeer inskerp. Ek het met hulle gestudeer, en dit het my baie vreugde verskaf om te sien hoe hulle ’n liefde vir Jehovah opbou, hulle lewe aan hom toewy om hom te dien en dit simboliseer deur gedoop te word!
Pépé was ouer as ons kinders en het eerste ons huis verlaat. Vroeër, toe sy by ons kom woon het, het ek haar leer lees. Hoewel sy min formele skoolopleiding gehad het, het sy haar op Bybelstudie en ander geestelike dinge toegespits. Nadat sy ’n tyd lank as ’n pionier gedien het, het sy met ’n reisende opsiener, Monday Akinra, getrou en hom in sy werk vergesel. Hulle het nou ’n seun met die naam Timothy. Pépé en Monday het in die voltydse bediening gebly, en Monday geniet baie verantwoordelikhede by byeenkomste.
Bola het ’n leerlingkok geword in ’n groot maatskappy. Kort voor lank het een van die direkteure sy goeie werksgewoontes, betroubaarheid en ander mooi Christelike eienskappe raakgesien. Mettertyd is hy tot ’n verantwoordelike posisie in die maatskappy bevorder. Maar wat belangriker is, is dat hy ’n goeie man vir sy lieflike vrou, Jane, en ’n goeie vader vir sy drie kinders is sowel as ’n verantwoordelike ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Lagos, Nigerië.
Kola het ’n vakleerling geword by ’n kleremaker en het ook begin pionier. Aangesien hy in Nigerië Engels leer praat het, is hy in 1995 genooi om in die Vertaalafdeling by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Benin te dien. Hy is al die afgelope 13 jaar daar.
Ons bediening in Benin
Ons was opgewonde om te hoor dat die vorige verordening wat ons werk verbied het, op 23 Januarie 1990 nietig verklaar is deur ’n staatsverordening in Benin. Baie vlugtelinge het teruggekeer. Nuwe sendelinge het ook in Benin aangekom, en die takkantoor is heropen. In 1994 het ons gesin na Benin teruggetrek, maar Pépé en Bola en hulle gesinne het in Nigerië agtergebly.
Ek kon deeltydse werk vind. Met die bietjie huurgeld van ons huis in Nigerië en Bola se ruimhartige hulp kon ons vir die vyf van ons ’n huis bou wat nie ver van die takkantoor af is nie. Jemima het meer as ses jaar as ’n pionier gedien en haarself onderhou deur naaldwerk te doen. Toe het sy met Kokou Ahoumenou getrou, en hulle werk nou by die tak hier naby. Caleb en Silas is besig om hulle skoolloopbaan te voltooi. Met God se hulp en die samewerking van ons gesin het ek en Julienne in die voltydse diens gebly—nou meer as 40 jaar lank.
God het die predikingswerk in Benin ryklik geseën. Toe ek in 1961 gedoop is, was daar 871 Getuies van Jehovah wat die Koninkryksboodskap in die land verkondig het. Die jaar toe ek in hegtenis geneem is, het die getal al tot 2 381 gestyg. Teen die tyd dat ons in 1994 na Benin teruggekeer het, het die aantal verkondigers tot 3 858 toegeneem, ondanks die 14 jaar lange verbod op ons werk. Vandag is daar meer as twee keer soveel—meer as 9 000—en in 2008 was die bywoning by die Herdenking van Christus se dood 35 752.
Soms gaan ek na die plek waar ek meer as 30 jaar gelede in hegtenis geneem is en dink ek aan alles wat gebeur het. Ek dank God veral omdat hy my gesin geseën het. Ons het niks kortgekom nie. En ek groet almal nog steeds met “Bonjour!”
[Voetnoot]
a Benin het destyds as Dahomey bekend gestaan en was deel van Frans-Wes-Afrika.
[Lokteks op bladsy 13]
Hy het geglimlag en gesê: “Ek sal die koste dek. Julle hoef nie ’n sent te betaal nie”
[Lokteks op bladsy 14]
Ons het die kinders nooit aangemoedig om hoër onderwys na te streef nie
[Prent op bladsy 15]
In 1970, toe ek as ’n reisende opsiener gedien het
[Prent op bladsy 15]
Saam met ons twee oudste seuns, Bola en Kola, in 1976
[Prent op bladsy 15]
Vandag, omring deur my familie—my vrou, my vyf kinders, my drie kleinkinders en Pépé se gesin