Kinders en die Internet—Wat ouers moet weet
DIT het ’n tyd lank gelyk asof Internetveiligheid bloot afgehang het van waar die rekenaar staan. Sit die rekenaar waar almal dit kan sien, het mense gedink, en jou kinders sal minder geneig wees om na die donker kant van die kuberruim te dwaal. Hierdie beginsel geld nog steeds—gesonde verstand vereis dat kinders nie Internettoegang in die privaatheid van hulle slaapkamer moet hê nie—maar meer is nodig om jou kinders te beskerm. Deesdae maak draadlose verbindings dit vir jongmense moontlik om die Internet saam met hulle te neem waar hulle ook al gaan. Selfs baie selfone is toegerus met Internettoegang. Dan is daar Internetkafees, Internetkiosks, biblioteke en, die ou staatmaker, ’n vriend se huis. Met soveel keuses is dit maklik om te sien hoe ’n jongmens se Internet-eskapades ’n ouer se radar kan ontwyk.
Kom ons kyk na party van die Internetbedrywighede waartoe baie jongmense aangetrokke is sowel as die moontlike gevare wat dit inhou.
E-pos
Wat is dit? Geskrewe boodskappe wat elektronies gestuur word.
Waarom is dit gewild? E-pos is ’n vinnige en goedkoop manier om met vriende en familie te korrespondeer.
Wat jy moet weet. Ongevraagde e-pos, wat dikwels gemorspos, of spam, genoem word, kan meer as net ’n irritasie wees. Die inhoud daarvan is dikwels suggestief of blatant onsedelik. Skakels wat in boodskappe voorkom, kan die gebruiker—insluitende ’n onskuldige kind—vra om persoonlike besonderhede te verstrek, wat tot identiteitsdiefstal kan lei. Wanneer ’n gebruiker op sulke e-pos reageer—selfs met ’n ferm versoek om die gemorspos te stop—sal dit bevestig dat hy ’n werkende e-pos-adres het, wat tot verdere ongevraagde e-pos kan lei.
Webwerwe
Wat is dit? Versamelings elektroniese blaaie wat geskep en in stand gehou word deur organisasies, opvoedkundige instellings, besighede en individue.
Waarom is dit gewild? Daar is miljoene webwerwe wat jongmense eindelose geleenthede bied om te koop, navorsing te doen, met vriende in aanraking te kom en speletjies en musiek af te laai en te speel.
Wat jy moet weet. Die Web word deur allerhande beginsellose, gewetenlose persone misbruik. Eksplisiete seks word op baie webwerwe uitgebeeld, en dit is maklik vir niksvermoedende mense om per ongeluk daarop af te kom. Byvoorbeeld, volgens ’n opname in die Verenigde State het 90 persent van jongmense tussen die ouderdomme van 8 en 16 gesê dat hulle al toevallig op Internetpornografie afgekom het—in die meeste gevalle terwyl hulle huiswerk gedoen het!
Die Web bied ook maklike toegang tot werwe wat tienerdobbelary bevorder. In ’n opname in Kanada het byna 1 uit 4 seuns in graad 10 en 11 erken dat hulle al sulke webwerwe besoek het, en dit is te verstane dat deskundiges bekommerd is, aangesien Internetdobbelary uiters verslawend is. Dan is daar sogenaamde pro-ana-webwerwe wat “die anorektiese lewenswyse” voorstaan.a Daar is ook webwerwe wat haat saai teen godsdiens- en etniese minderheidsgroepe. Party webwerwe leer ’n mens hoe om bomme te bou, gif te berei en terreuraanvalle uit te voer. Uiterse geweld en grusame tonele is algemeen in Internetspeletjies.
KLETSKAMERS
Wat is dit? Elektroniese ruimtes vir lewende teksgesprekke, gewoonlik oor ’n spesifieke onderwerp of belangstelling.
Waarom is dit gewild? Jou kind kan kommunikeer met ’n aantal persone wat hy dalk nog nooit ontmoet het nie, maar met wie hy ’n sekere belangstelling in gemeen het.
Wat jy moet weet. Pedofiele besoek dikwels kletskamers omdat hulle ’n kind wil verlok om ’n seksuele ontmoeting op die Internet of selfs van aangesig tot aangesig te hê. Kyk wat gebeur het toe een van die skrywers van die boek What in the World Are Your Kids Doing Online? navorsing oor Internetveiligheid gedoen het. As deel van haar navorsing het sy haar op die Internet as ’n 12-jarige voorgedoen. “Byna onmiddellik”, sê die boek, “het iemand haar na ’n privaat kletskamer genooi. Sy het gemaak asof sy nie weet hoe om by die kletskamer uit te kom nie, en haar behulpsame nuwe vriend het haar stap vir stap vertel wat om te doen. Toe wou hy weet of sy [Internet]seks wou hê.”
KITSBOODSKAPPE
Wat is dit? Lewende teksgesprekke tussen twee of meer persone.
Waarom is dit gewild? Wanneer ’n gebruiker ’n kitsboodskap stuur, kan hy uit ’n kontaklys wat hy saamgestel het, kies met watter van sy vriende hy wil gesels. Dit is nie verbasend nie dat 84 persent van 16- en 17-jariges volgens ’n Kanadese studie vir hulle vriende kitsboodskappe stuur en meer as ’n uur per dag daaraan bestee.
Wat jy moet weet. Gesprekke deur middel van kitsboodskappe kan jou kind se aandag aftrek as hy veronderstel is om te studeer of iets anders te doen wat konsentrasie vereis. Wat meer is, hoe kan jy seker wees met wie jou seun of dogter kommunikeer? Jy kan immers nie die gesprek hoor nie.
WEBJOERNALE
Wat is dit? Dagboeke op die Internet.
Waarom is dit gewild? Webjoernale, of blogs, gee jongmense die geleentheid om oor hulle gedagtes, hulle passies en hulle bedrywighede te skryf. Die meeste webjoernale laat lesers toe om kommentare in te skryf, en baie jongmense is opgewonde wanneer iemand reageer op wat hulle geskryf het.
Wat jy moet weet. ’n Webjoernaal kan deur enigiemand gelees word. Party jongmense is nalatig en verstrek inligting wat ander kan gebruik om uit te vind wie hulle gesin is, waar hulle skoolgaan of waar hulle woon. Nog ’n faktor: Webjoernale kan reputasies skaad, ook dié van die skrywer. Byvoorbeeld, party werkgewers gaan kyk na ’n aansoeker se webjoernaal wanneer hulle dit oorweeg om die persoon in diens te neem.
SOSIALE NETWERKE
Wat is dit? Webwerwe wat dit vir jongmense moontlik maak om ’n webblad te skep waarop hulle prente, video’s en webjoernale kan aanbring.
Waarom is dit gewild? Wanneer ’n jongmens ’n webblad skep, stel dit hom in staat om sy identiteit uit te druk. Sosiale netwerke op die Internet bied jongmense die geleentheid om baie nuwe “vriende” te ontmoet.
Wat jy moet weet. “’n Sosiale netwerk is soos ’n partytjie op die Internet”, sê ’n meisie genaamd Joanna. “Uiters vreemde karakters kan daar opdaag.” Die persoonlike inligting wat op sosiale netwerke gesit word, kan deur gewetenlose jongmense en volwassenes misbruik word. ’n Deskundige op die gebied van Internetveiligheid, Parry Aftab, noem sulke webwerwe dus ’n “eenstopwinkel vir seksuele uitbuiters”.
Daarbenewens is vriendskappe wat op die Internet aangeknoop word, gewoonlik oppervlakkig. Party jongmense bou ’n aantal kontakte op hulle webblaaie op wat hulle nog nooit persoonlik ontmoet het nie, net sodat hulle baie gewild kan lyk vir dié wat hulle webblad besoek. Candice Kelsey skryf in haar boek Generation MySpace dat dit daarop neerkom “dat ’n mens se sosiale markwaarde bloot gemeet word aan hoeveel ander mense van hom of haar hou”. Sy voeg by: “Hierdie neiging om vriendskappe soos verbruikersartikels te beskou, verlaag ons kinders tot niemenslike entiteite en plaas geweldige druk op hulle om hulle voor te stel op die manier wat vir hulle meer vriende sal wen.” Die boek What in the World Are Your Kids Doing Online? vra dus ’n pertinente vraag: “Hoe maak jy dit duidelik dat kinders empatie en meegevoel moet ontwikkel wanneer die elektroniese wêreld hulle in staat stel om mense te ontmoet en te verwerp sonder om twee keer daaroor te dink?”
Hierdie ses voorbeelde is net ’n paar van die Internetbedrywighede wat jongmense vandag fassineer. As jy ’n ouer is, wat kan jy doen om jou kinders teen gevare op die Internet te beskerm?
[Voetnoot]
a Baie pro-ana-webwerwe en -organisasies beweer dat hulle nie anoreksie bevorder nie. Maar party werwe beeld anoreksie as ’n lewenstylkeuse uit eerder as ’n versteuring. Forums op sulke webwerwe bied inligting oor hoe om jou ware liggaamsgewig geheim te hou en hoe om ongereelde eetgewoontes vir ouers weg te steek.
[Lokteks op bladsy 4]
In Indië is die skerp toename in die aantal Internetgebruikers—54 persent in net een jaar—hoofsaaklik toe te skryf aan jongmense
[Lokteks op bladsy 7]
“’n Ouer beskou ’n webkamera dalk as ’n maklike en goedkoop manier vir ’n kind om met vriende of familie te kommunikeer, maar ’n pedofiel beskou dit as maklike toegang tot ’n kind se slaapkamer.”—Robert S. Mueller III, direkteur van die Amerikaanse Federale Speurdiens