Is dit ontwerp?
Die melkomleidingskanaal
◼ As jy al ooit gekyk het hoe ’n skaap, ’n bok of ’n koei geboorte gee, het dit jou waarskynlik verstom om te sien hoe vinnig die pasgebore kleintjie op sy voete kan staan en sy pad na die uier kan vind vir melk. Alle soogdiere voed hulle kleintjies met melk. Maar in die geval van jong herkouers, soos lammers, bokkies en kalwers, is daar ’n ander, onsigbare wonder.
Dink hieraan: Koeie het ’n maag met vier kamers vir die veelvuldige prosesse wat nodig is om gras en voer te verteer. Maar pasgebore kalfies neem net melk in, wat nie al daardie verteringsprosesse nodig het nie. Wanneer die pasgebore kalfie dus melk drink, gaan ’n spesiale omleidingskanaal oop sodat die melk direk na die laaste kamer vloei.
As melk in die eerste kamer, wat die rumen genoem word, sou beland, sou dit sleg wees vir die kalfie, aangesien dit in die rumen is waar moeilik verteerbare voedsel deur bakteriese gisting afgebreek word. Gistende melk stel ’n gas vry waarvan pasgebore kalfies nie ontslae kan raak nie. Wanneer jong herkouers egter melk drink, hetsy van ’n speen of uit ’n emmer, word die ingang tot die rumen met ’n refleksbeweging gesluit.
Dit is merkwaardig dat dit nie gebeur wanneer ’n pasgebore kalfie water drink nie. Hy het baie water in sy rumen nodig sodat bakterieë en mikrobes daar kan vermenigvuldig en dit gereed kan wees vir wanneer die kalf begin voer eet. Hoewel melk direk na die laaste kamer van die maag gaan, gaan gewone water na die rumen. Die kalf se merkwaardige omleidingskanaal is slegs vir melk!
Wat dink jy? Het die melkomleidingskanaal per toeval ontstaan? Of is dit die werk van ’n intelligente Skepper?
[Diagram/Prent op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Melk vloei verby die eerste drie kamers van die kalfie se maag
[Diagram]
Omleidingskanaal
1 Rumen
2 Retikulum
3 Omasum
4 Abomasum (laaste maagkamer)