Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/09 bl. 24-25
  • Vergete slawe van die Stille Suidsee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergete slawe van die Stille Suidsee
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Slawejag in die Suidsee
  • ’n Ommekeer vind plaas
  • Vergete slawe word onthou
  • Jehovah se naam op die eilande van die Stille Oseaan
    Ontwaak!—2003
  • Breek weg na Vanuatu
    Ontwaak!—2007
  • Kaptein James Cook—Onverskrokke ontdekkingsreisiger van die Stille Oseaan
    Ontwaak!—1995
  • Ons het die “pêrel van groot waarde” gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 1/09 bl. 24-25

Vergete slawe van die Stille Suidsee

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FIDJI

GROOT opgewondenheid heers onder die skare terwyl twee skepe by die strandmeer van ’n afgeleë atol in die Stille Oseaan invaar. Jare tevore het ’n skipbreukeling vir elke gesin op die eiland ’n paar blaaie gegee wat hy uit sy Bybel geskeur het. Hierdie nederige mense het daardie blaaie gretig gelees en het sedertdien met afwagting na die koms van ’n Christenonderrigter uitgesien.

Nou belowe hierdie besoekende seemanne om hulle na ’n plek te neem waar hulle meer omtrent God kan leer. Ongeveer 250 niksvermoedende mans en vroue gaan aan boord terwyl baie van hulle hulle kosbare blaaie uit die Bybel styf vashou.

Hulle was egter slagoffers van ’n slim set. Toe hulle eers aan boord is, is hulle vasgebind, in die ruim gegooi en op ’n lang reis na die hawestad Callao in Suid-Amerika geneem. Onhigiëniese toestande het tydens die reis tot baie sterftes gelei. Seksuele uitbuiting was algemeen. Dié wat die reis oorleef het, is verkoop om as slawe op plantasies en in myne te werk of as huishulpe te dien en het nooit weer hulle eilandtuiste gesien nie.

Slawejag in die Suidsee

Die ontvoering van Suidsee-eilanders gedurende die 19de en vroeë 20ste eeue is blackbirding genoem. In die vroeë 1860’s is duisende eilanders deur middel van dié gebruik na Suid-Amerika geneem. Tydens die daaropvolgende dekade is eilanders wes, na Australië, geneem. In 1867 het Ross Lewin, ’n voormalige lid van die Britse vloot, die “beste en hardwerkendste inboorlinge van die eilande teen 7 [pond] per kop” vir suiker- en katoenboere aangebied.

Die Britse Koloniale Kantoor se pogings om slawejag te beveg, was onsuksesvol. Een probleem was dat dit moeilik was om die Britse wet op burgers van ander lande toe te pas. Nog ’n probleem was dat die Engelse wet nie ’n omvattende definisie van slawerny bevat het nie. Slawejagters het dus suksesvol in die hof geargumenteer dat hierdie eilanders—hoewel hulle om die bos gelei en onder dwang geneem is—nie werklik slawe was nie, maar kontrakarbeiders wat betaal sou word en na verloop van tyd huis toe gestuur sou word. Sommige het so ver gegaan om te sê dat hulle hierdie voormalige heidene ’n guns doen deur hulle onder die Britse wet te bring en hulle te leer om te werk! Slawejag het dus, ten minste ’n tyd lank, toegeneem.

’n Ommekeer vind plaas

Namate regverdiggesinde burgers hulle teen slawejag uitgespreek het, het ’n ommekeer begin plaasvind. Hoewel sommige eilanders gewilliglik gewerf is, kon ontvoering nie meer geduld word nie. Mishandeling, soos om arbeiders met ’n sweep te slaan, te brandmerk of om hulle onder haglike toestande te laat lewe en werk, is ook nie meer geduld nie.

Die situasie het selfs meer kritiek geword toe die Anglikaanse biskop J. C. Patteson—’n uitgesproke teenstander van slawejag—vermoor is deur die einste eilanders wat hy wou beskerm. Slawejagters het voor Patteson by ’n eiland aangekom in ’n skip wat doelbewus verander is om soos syne te lyk—’n slim set wat dikwels gebruik is. By hierdie geleentheid is die plaaslike mense aan boord genooi om die biskop te ontmoet. Hulle is nooit weer gesien nie. Toe die regte Patteson daar aankom, is hy ontmoet deur ’n skare wat natuurlik vyandig was, en hy is in ’n daad van misplaaste weerwraak doodgemaak. In reaksie op hierdie voorval—en op die toenemende protes deur die publiek—is Britse en Franse vlootskepe in die Stille Oseaan gestasioneer met bevele om ’n einde aan die misdrywe te maak.

In Australië het die regerings van Nieu-Suid-Wallis en Queensland en die Koloniale Kantoor saamgewerk deur verskeie wette aan te neem om ’n einde aan die misdrywe te maak en om die arbeidsmark vir kontrakarbeiders te reguleer. Inspekteurs is aangestel, en regeringsverteenwoordigers is op werwingskepe geplaas. Hierdie ywerige pogings het vrugte afgewerp, aangesien skuldigbevindings op aanklagte van ontvoering en moord verkry is en nie op grond van die ondoeltreffende wette teen slawerny nie. In die laaste dekade van die 19de eeu het die situasie in die Stille Suidsee begin verander. Die ontvoering van slawe is feitlik beëindig, en teen die begin van die 20ste eeu het die stroom nuwe “kontrakarbeiders” verminder tot net ’n straaltjie.

In 1901 het ’n nuwe nasionale parlement, die Gemenebes van Australië, beheer oorgeneem van alle immigrasieverwante sake in die land. Die beleide daarvan het die mening weerspieël van die publiek, wat teen daardie tyd gegrief begin voel het oor buitelandse arbeiders omdat baie mense gevrees het dat dit plaaslike arbeiders sou benadeel. Hetsy hulle kontrakwerkers was of nie, Suidsee-eilanders was nie meer welkom nie. Duisende is onder dwang gerepatrieer, wat tot meer tragedie gelei het, aangesien sommige wat nou weggeneem is van waar hulle hulle gevestig het, van geliefdes geskei is.

Vergete slawe word onthou

In September 2000 het die regering van die staat Queensland ’n verklaring uitgereik wat permanent ten toon gestel word. Dit erken die rol wat die eilanders van die Stille Suidsee gespeel het in die ekonomiese, kulturele en streekontwikkeling van Queensland. Dit spreek terselfdertyd berou uit oor die wrede behandeling waaraan hulle onderwerp is.

Deur die geskiedenis heen het baie mense geleenthede aangegryp om hulle ten koste van die lewe en vryheid van ander te verryk. Die Bybel belowe dat sulke onregte beslis nie onder die heerskappy van God se Koninkryk sal plaasvind nie. Trouens, die aardse onderdane van daardie hemelse regering “sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie”.—Miga 4:4.

[Diagram/Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Daar was slaweroetes na Australië en Suid-Amerika

STILLE OSEAAN

MIKRONESIË

MARSHALL-EILANDE

Nieu- Guinee

SALOMONSEILANDE

TOEWALOE

AUSTRALIË KIRIBATI

QUEENSLAND VANUATU

NIEU-SUID- WALLIS NIEU-KALEDONIË SUID- AMERIKA

Sydney ← FIDJI → Callao

SAMOA

TONGA

COOK-EILANDE

FRANS-POLINESIË

Paaseiland

[Foto-erkenning op bladsy 24]

National Library of Australia, nla.pic-an11279871

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel